En Moses op de berg geklimmen … vloog weg
Die ouderling moes die Sondag die diens waarneem. Hy lees uit die heilige boek: “En Moses op de berg geklimmen,” en met swetende hand blaai hy twee bladsye om en lees verder: “vloog weg.” Kopskuddend blaai hy terug en lees weer: “En Moses op de berg geklimmen,” blaai weer om terwyl hy grootoog die gemeente in die gesig staar: “en Broeders en Susters, hy vloog toe so wragtag weg.”
Van kleinsaf ken ons almal die storie van Moses se geboorte, hoe hy met die Nyl afgedrywe het, en later sy volk uit die slawerny uit gelei het. Ons Bybel-onnie op skool het ons verseker dat Moses die eerste vyf boeke van die Ou Testament geskrywe het. Dis eers later jare, toe my oë oopgegaan het , dat ek begin besef het dat dit sommer alles net pure twak is.
Die skrywer van hierdie verhaal van Moses was beslis bekend met die legendes en mites van die songod, Bacchus. Die Griekse digter, Orpheus, besing Bacchus en hoe hy met sy staf wondere kon verrig. Hy kon dit in ’n slang laat verander en het dit gebruik om die Rooisee oop te kloof sodat hy droogvoets met sy leër kon deurstap. Deur die water van die Orontes- en Hydaspusriviere daarmee aan te raak, kon hy ook deurloop sonder om nat te word. Met dieselfde stok kon hy ook water uit ’n droë rots tap, maar meer nog, oral waar hy rondgetrek het, het dit gevloei van melk en heuning.
Dis nie al ooreenkoms wat Moses met Bacchus het nie. Bacchus het ook twee moeders gehad, ’n biologiese ma en ’n stiefma, hy het ook met die rivier afgedrywe gekom in ’n houtkassie, en hy was ’n wetgewer wie se wette op twee kliptablette geskryf is. Bacchus se leёr is gedurende die dag deur die son gelei en snags deur ’n vuurpilaar.
Moses, net soos met Bacchus, word dikwels met horings uitgebeeld. Kyk hier.
Ja-nee, Moses vloog toe so wragtag weg!
Groete
Angus