SêNet-briewe | Letters

 
Ek is 'n Africaander

STB 18/155 NOTARIËLE VERKLARINGE, 1706 – 1708

Die meulenaar van die Kolonie se Meul in Stellenbosch, Andries Schaffer, en Dirk Simonsz, skrywer in die meul, het op 7 Maart 1707 aan Jan Mahieu, Sekretaris van die Landdros en Heemraden, verklaar dat op Sondag 6 Maart 1707 die vier jongmans, Jan Cloete, Hans Cryes, Hendrik Bibault en Matthys Greef Jnr, die meul met ’n groot geraas en lawaai binnegekom het. Hulle was dronk en het skade berokken deur die skaal te neem en dit rond te gooi.

Die meulenaar, Andries Schaffer, het hulle versoek om dit te staak, maar hulle het geantwoord dat hulle dit wil doen omdat die meul ook aan hulle behoort en dat hulle net soveel sê as hy daaroor het. Indien hy van hulle verskil, moes hy buite toe gaan.  Hierdie oproep is ’n paar maal herhaal. Die meulenaar het hulle weer gewaarsku om nie sulke geweld daar te pleeg nie, en bygevoeg dat die landdros daar onder by die rivier is. Jan Cloete het geantwoord dat die landdros hom nie skeel nie.

Dirk Simons, skrywer van die meul, wat toe die meul binnegekom het, vra toe dat hulle die skaal moet laat staan en nie soveel skade daar moet aanrig nie. Hulle het met talle skelwoorde gereageer en gesê dat hulle dit wil doen. Simons het toe in sy kamer ingegaan, terwyl hulle steeds skel en tekere gaan. Hulle het aan sy kamerdeur geklop en sy vrou as ’n dier en ’n hoer uitgeskel.

Jan Cloete het die skrywer uitgedaag om na buite te gaan, hom skel-skel meegedeel dat hy hom sou slaan dat hy ronddraai. Net toe kom die landdros vergesel van veldkornet Bothma die meul binne. Twee van die beskuldigdes het toe op hulle perde gespring en gevlug en die ander twee, waaronder Bibault, wat ook wou vlug, is deur die landdros met ’n rottang geslaan. Hendrik Bibault het van buite af weer die meul binnegekom en gekla dat hy nou slae kry.

Die landdros het hom genader en beveel om stil te bly, en stilletjies weg te gaan, maar hy wou nie. Hy het geantwoord: “Ek wil nie loop nie, ek is ’n Africaander[1], al slaan die landdros my, of al stop hy my in die tronk, ek sal steeds nie swyg nie.”

Die landdros gee hom toe ’n paar houe met die rottang. Hendrik gryp toe die rottang vas om dit te probeer afneem. Die landdros was toe genoodsaak om na sy vuurwapen te gryp. Toe Hendrik dit sien, het hy gelos en gevlug. Kort daarna het die drie ander, tot spyt van die landdros wat in die deur van die meul gestaan het, op volle vaart verbygejaag.

Andries Schaffer het verklaar dat alles genoem in die teks waar is. Heemrade Anthonij van der Lith en Johannes Bockelberg het as getuies geteken. Andries Schaffer en Dirk Simonsz het die verklaring in die teenwoordigheid van Jan Mahieu, Sekretaris, onderteken.

[1] Oorwegend gebruik om te verwys na slawe wat in Afrika gebore is.


Comments 3 Reaksies | 3 Comments
Delete Comment
avatar
Jan Rap
2012-12-12 @09:57
Baie interessante storie Jacobus maar iets klink nie vir my reg nie.  Hoekom sou hy byvoorbeeld verklaar dat hy ’n Africaander was toe die landdros hom beveel het om 'stilletjies weg te gaan'?  Was die landdros nie bewus van die feit dat Bibault ’n Africaander was nie, en dus geregtig was om te bly?  Met ander woorde, Africaanders mag bly, die ander moet weggaan?  En wat wou hy langer in die meul bly, die skaal verder rondgooi en skade aanrig?
Wat het die vier jong mans op ’n Sondag, dronk nogal, by die meul gaan soek?  Verveeld by die huis gewees en vir bietjie pret die skaal gaan rondgooi?
Die storie maak nie sin nie.
Delete Comment
avatar
Kobus Faasen
2012-12-12 @11:59

Oom Jan, die hele identiteitsfondament van die Afrikaner is gevestig op hierdie storie. Dusver beskou die meeste Afrikaners hulself as ’n konglomeraat van verskillende Europese koloniste. Ironies genoeg, weerspreek Bibault dit.

Hy was nie skaam vir die vryslaafbloed in sy are nie, die vars geparste wingerdsap het hom nog meer amoklik kordaat gemaak.

Kobus Faasen

Delete Comment
avatar
Jan Rap
2012-12-12 @16:10

Kobus, die Afrikaneridentiteitsfondamentstorie mag wel so wees en die mate waartoe dit wel so is het ek geen pyn mee nie.  Hoe mens dit gaan kwantifiseer en wat die uiteindelike kwantum gaan wees, is vir ouens of hulle vrouens met meer tyd as wat ek het; ek moet nog ’n sonhorlosie, ’n sementpot of drie, ’n paar skilderye en ’n klomp skaakstelle gaan maak (en nog tussenin lees en kommentaar lewer wat op hierdie werf aangaan).

Nou waar was ek?  O ja, soos ek gesê het dit mag so wees maar of Bibault se meule-eskapade genoegsaam is om uitsluitsel hieroor te gee is gewoon onwaar.

Amoklik kordaat!?  Man, dis nou ’n oulike uitdrukking!

Groetnis

   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address