Ek hoop nie dit gebeur weer nie ...
In die eerste toets teen die Engelse gee Hougaard 'n taktiese skoppie met minder as 2 minute speeltyd oor. Natuurlik gee die Engelse nie besit af nie en fase op fase vorder hulle totdat hulle punte aanteken en die Springbokke lyk toe na die wedstryd nie so goed as wat hulle op minuut 78 gelyk het nie.
En jou wrintiewaar, met minder as 2 minute oor in die tweede toets teen die Engelse doen hulle dit weer, gee besit weg in die doodsnikke van die wedstryd, hierdie keer Morné as ek dit nie mis het nie. Weer, fase na fase, vorder die Engelse maar gelukkig maak hulle 'n fout en dis die einde van die wedstryd maar dit was so hittete of hulle het weer punte aangeteken.
Ebersohn en Goosen het al op die manier wedstryde weggegooi. Terloops, Ebersohn was verguis omdat hy 'n strafskop verbrou het so'n paar wedstryde terug maar dit was heeltemal onregverdig; dit was nie sy skuld dat die wedstryd verloor was nie al sou daardie skop 'n oorwinning beteken het. Dit was die feit dat die puntelling sodanig was dat hulle minder as 'n strafskopwaarde voor was en dit was die gevolg van gebrekkige balbesit wat weer die gevolg van taktiese skoppies op die verkeerde tye was.
Nou hoop ek van harte dat met die derde toets hierdie naweek hulle nie WEER in die doodsnikke van die wedstryd besit gaan afstaan nie.
Jan Rap