Bieg | Confess

 
Ek het jou lief, maar jy het iemand anders
Waar sal ek begin? By jou strelende gelaat? Of by jou sagte oë, die vensters na jou siel? Dalk by jou stralende glimlag, wat keer op keer my hart versag?

Wanneer ek jou sien, word ek lam, en dan word my mure meteens deurbreek. Wanneer ek jou vashou. (Ek sou jou vir ewig wou vashou, maar dis my nie geoorloof nie, want jou hart behoort aan ’n ander.)

Ag, wat staan my te doen?! My bloed kook, al raak net ons vingerpunte met 'n groet.

Wanneer ek by jou is, is die lewe reg! Al my smarte verdwyn soos die mis voor die oggendson. Maar dan onthou ek weer: jy behoort aan iemand anders. Ek kan maar net staan kyk, die res moet uit my gedagtes wyk!

Hoe laat ek jou weet: “Jou plekkie in my hart is spesiaal”? Wanneer ek in jou oë kyk, gaan staan tyd stil ... en vir 'n oomblik in die ewigheid staan nét jy voor my ... Ek sou dit wou uitroep oor berg en dal, maar dit sal my niks baat nie!

Vir my sal jy altyd dié man bly, en al kan ek jou nooit kry nie, sal bewondering altyd in my hart bly.

Die lug is blou en die hemel tol, want jy bly heeltyd aan my gedagtes lol; jy vul my dag en laat my van vreugde dans, al weet ek dis hopeloos en daar’s zero kans. Ek besef dis malligheid om so te voel, maar op hierdie oomblik is daar in my geen ander doel. Wys my iemand sterk genoeg om dit te deurstaan sonder om te wroeg. Daar's niks wat ek kan doen om jou weg te toor en elke dag voel ek net nog ’n bietjie meer goor. Sê my daar's niks wat in jou hart aangaan, sodat ek kan weet dis alles net een groot waan.

Ek weet die gevoel gaan nie sommer net verdwyn nie, maar dit maak my dronk soos goedkoop rooiwyn. Hoekom is die liefde tog so hopeloos en dink mens jou elke dag daaroor voos? Woorde ontbreek om die emosie te beskryf, en om jou te sien, is om dit net dieper in te vryf.

Kan jy sien wat in my hart aangaan en dat ek dink jy's die sexyste man? Ek voel ontbloot en soos 'n opperste gek en wens ek kon my met onskuld bedek. My gedagtes draai om en om soos 'n mallemeule rond en al waarna ek smag, is die woorde uit jou mond. Is dit alles net my eie versotte fantasie of kan dit dalk uitloop op 'n wonderlike ekspedisie? Sal jy probeer om die kans te waag of gaan jy wag todat dit vanself vervaag? Dit voel of ek nooit weer nugter gaan wees nie, terwyl die pyn soos 'n meswond deur my vlees steek.

Ek wens ek kon vir jou wees wat sy is. Ek wens ek kon beteken wat sy beteken. Ek wens dinge was anders en ek was nie die een wat smeek nie. Soms wens ek ek kon vergeet en net aanbeweeg. Ek wens jy was hier met jou hand in myne. Ek bid elke dag, maar aan die einde is dit heeltyd ek wat ly!

Kan jy nie net ’n bietjie lief wees vir my nie? Ek haat dit om so te voel; weet jy wat ek bedoel? Kan jy imagine hoe ek met die gedagtes woel?

Party mense noem dit egbreuk; ander noem dit owerspel. Hoe sal mens dan weet wat’s die verskil as jy met iemand se lewensmaat kul? Hoe leef jy saam met die skuldgevoel, of fok jy bloot net voort sonder emosie? Die verbode vrug is dan so verleidelik – so onweerstaanbaar!

Skielik ervaar ek aanvaarding, teerheid en "liefde". Die warmte, die nabyheid van jou lyf dryf my tot ongekende orgasmes, passie en fantasieë – totdat realiteit weer sy draakgesig voor my gooi! Noem dit wat jy wil; veroordeel my as jy wil. Ek noem dit liefde – ongelukkig verbode liefde!

Jy speel met my hart! Jy laat my verbeel dat ek joune is. Ek wens jy was myne, my gister en my môre. Wens ek was jou rede, jou opstaan en 'n baie groter deel van jou lewe. Wens ek kon jou muur afbreek, liefde vir my by jou kweek. Ek wens ek kon jou vir ewig hou.

Nou en dan laat ek my drome lewe; af en toe dan reis ek deur ’n wonderland wat ek in my verbeelding, my fantasieë sien. Ek lees jou toekoms in my hand; kom gee jou aan my soos ek my aan jou gee. Maak ons vry, vergeet en geniet dit met my; gee my jou droom vol verlange; gee my jou droom; laat alles anders wees. Voel jy my smeke van verlange? Weet, al is die liefde soms blind, dat ek jou vir altyd bemin.

Laat jou hart ook sonder woorde spreek; dink tog nie altyd oor wat nie kan nie, maar glo in wat jy weet en besef – waarna ons strewe! As dit kan kom, gee jou aan my soos ek my aan jou oorgee; maak jou vry; vergeet en geniet dit met my!

Ek lê op die bed en dink aan jou, my gedagtes om jou gebou. My gedagtes loop in die gange van verbode verlange! In die stilte van die nag het my liggaam so na jou gesmag. As ek niks van jou hoor nie, voel ek kragteloos. Ek droom van jou die mooiste drome ... ons vryf mekaar se lywe met room. Ons steek liefdesvure aan wat hoër brand met die verbygaande ure. My liefde vir jou is soos ’n bruisende vulkaan – ja, my liefde vir jou sal nooit vergaan nie.

Smelt sy ook so vurig presies in jou in, volkome oorgegee, slaafs in jou arms gevange ...? Ek sug en smag, toegevou in eggo’s van jou muskusreuk tussen besmette leë lakens; doringgedagtes steek bloeddruppelrooi wreed tot in my siel se vlees, want ek val my keer op keer nerfaf-stukkend voor die julle in jou.

Ons geheime ure saam is verleidelik, tydloos, ’n soete, verbode vrug gedeel wat ’n bitter nasmaak wrang agterlaat; wens ek kon my van jou af losskeur, my hart teruggryp, uit hierdie vloek bevry, maar jou fluister-asem vol belofte met honger lippe oral teen my vel gesmoor steel alle weerstand uit my weg, hou my onwillig om hierdie vuilspel en my veg vir jou te staak.

Want ek kan my nie keer om steeds te hoop en te begeer en vir meer te vra nie, gekruisig aan die noodlot van die derde veroordeelde vyfde wiel aan die wa, en tog bly my gedagtes voortdurend hinkepink met beelde van afgekampte vrede waar jy en sy gelisensieerd jul begrensde Tuin van Eden bewoon en bewerk.

Waar hy – wat ek ook bemin – soggens die Tuin verlaat en in die tyd tussenin vriendelik maar vals gelykmatig praat en offisieel ordelik funksioneer, maar niemand raai jou Tuin van Eden is 'n gedagte-bordeel met jou orgasmes tussen die afskil van nektarien en die oopbreek van granaat en adamsvy, fisiek soos katjiepiering, waar jy jou stuifmeel bloedbevlek op my en haar paslakens laat, waar jou liefhê-orgies die driehoek-speelveld word van liefdesverraad.

En elke keer as jy oënskynlik huisgenootlik op familiefoto’s sit, wéén hierdie St Joseph’s-lelie oor oomblikke in ’n gesteelde paradys met die wete dat nie jy of ek kan kla nie, want jóú kaartehuis stort by mý ineen, waar jou vreugde soos rose tussen distels woon: die vyfde wiel dra reeds ter heling 'n ander gelapte binneband.

Die nag bly koud vir my, die wind bly waai en die alternatiewe roete tussen eerste en tweede paradys is steeds vir jou onvoorspelbaar, slegs met waarskuwings wat hier en daar na slaggate verwys, en ek wag steeds hier – geurloos verwelk sonder jou – op jou!

Ek is lief vir jou, maar jy't iemand anders!
Comments 1 Reaksies | 1 Comments
Delete Comment
avatar
Handbriek
27 February 2012 @08:44 AM

Ek bewonder jou vir die manier waarop jy dit beskryf - ek hoop hy lees dit sodat hy kan besef hoe seer hy jou maak. As ek my mening kan lug sal ek se dat jy hom liewer moet vergeet want ek dink hy misbruik jou. Jy sal wel iemand vind wat jou al die geluk op die aarde sal gee.
   om te reageer | to comment