Duinekind

  • 0

“Treffend die dogtertjie met die bos hare deur lig omstraal. En kyk daardie groot blink oë, nè.” Annette is bly dat Frik hierdie foto uitgelig het as een wat hom getref het. Dis een van haar gunstelinge. Hy lewer gereeld kommentaar op die foto’s van haar reis na Marokko wat sy per e-pos aan hom stuur.

“Ongelooflik die wysheid in haar oë. Waar sou dit vandaan kom? Sy lyk of sy ‘n ou siel het,” was haar kommentaar hierop. Dit voel of jy van haar energie kan tap indien jy met haar kan kontak maak. Of sy die taal van jou oë wat na binne kyk sal verstaan.

Die gedagtes maak die onthou in Annette oop. Iets beweeg in haar. ‘n Beeld van ‘n ander klein dogtertjie met die son agter haar kop, haar hare ‘n stralekrans. Maar dis vlietend en vervaag weer.

Die kinders het soos ghekkos oor die duine, asof van nêrens, aangekom. Die dag toe die voortvarende jong Marokkaan die viertrekvoertuig in die sand laat vasval het. Hy wat voor die vrouepassasiers wou afwys hoe bedrewe hy is. En nou so bedremmeld daar staan terwyl die ouer mans hom berispe.

Iewers in hierdie uitgestrekte sandwêreld moet daar tog gehuggies wees waar hulle woon. Nuuskierig en kaal gestroop van pretensie het hulle deur die vensters van die voertuig kom loer. Net daar gestaan en inkyk. Nie gereageer as hulle aangespreek word nie.

Die dogtertjie met die bos hare het net omgedraai en vir Annette gewink. Toe sy uitklim, haar hand gevat en begin aanstap oor die duin. Kort-kort half aanmoedigend opgekyk na haar. Bo-op die duin skielik tot stilstand gekom. En daar voor hulle lê ‘n oase. ‘n Paar palmbome, tipiese swart Berber-tente en baie kamele. Die prentjie kom stadig in Annette se gemoed tot rus.

Sou dit een van die rondtrekkende karavane van die woestynnomades wees? Sy skrik toe die kind aan haar hand rem. Saam stap hulle gly-gly teen die woestynsand af. Die laatmiddag lig sag en rosig oor die tente. Sy wil nog eers ‘n paar foto’s neem om die rustige toneel voor haar vas te vang, maar die kind buk reeds onder die growwe materiaal van die tent in.

Binne verkyk sy haar aan die helderkleurige matte wat oor die sand oopgesprei lê. Die kind beduie na ‘n lae houtstoeltjie met ‘n grasgeweefde sitplek. Sit eers vir haar ‘n kussing daarop van ewe bont geweefde materiaal.

Voor haar sit ‘n vrou met ‘n stil gesig. Sy is geklee in die tradisionele djellaba en kopdoek, haar verrassend ligte oë met kohl omlyn. Haar voete langs die klei kolehouer netjies met kantpatrone van henna al om die sool versier. ‘n Piouterketel, blink gepoets, vol kokende water sis op die kole in die klei kolebak.

Rustig druk die vrou ‘n bossie mentblare in ‘n kleiner piouterteepotjie, en vul dit met kookwater. Onmiddellik vorm ‘n vaalkleurige skuim bo-op. Sy gooi die water en skuim af en vul die pot weer. Kap ‘n brok suiker van die keëlvormige saamgepersde blok af en voeg dit by. Met ‘n vloeiende beweging, die mou van die djellaba soos ‘n swewende voël, word die tee in klein goudversierde glasies wat gereed staan op ‘n skinkbord geskink.

Die kind neem die skinkbord en bied vir Annette daarvan aan. Steeds het niemand ‘n woord geuiter nie. Net die tent wat liggies in die bries flap is hoorbaar. En die vreemde snorkgeluide van die kamele.

Hoewel effe soet, vind Annette die menttee soos voorheen op die reis verfrissend. Maar hoekom so baie glasies?

Die gedagte was skaars gevorm toe vroue uit alle rigtings onder die tentflappe inbuk, van die tee neem en hul plekke op stoeltjies en matte inneem. Net die swiesj-geluid van hul djellabas soos hulle beweeg hoorbaar.

Annette vind dat sy in die vreemde stil atmosfeer in plekke in haar kop ingaan wat vir haar vroeër ontoeganklik was. Sy voel of sy met haar omgewing versmelt. Die atmosfeer amper gewy. Almal stil met hul eie gedagtes besig. Sy wil net hier bly en die vrede indrink saam met die menttee.

Nadat die vroue weer een vir een net so stil verdwyn het, word sy soos met hul aankoms deur die kind aan die hand uitgelei, terug oor die duin. Bo-op die duin los die kind haar hand en gly-stap sy alleen af na die motor wat op haar wag. Onder draai sy terug en kyk vir oulaas in die wyse oë van die kind wat haar vanaf die duin stil staan en betrag, voor sy omdraai en agter die duin in verdwyn.

Vervaard kom Annette orent soos sy skrik vir die motor se gebrul. Besef dadelik dis vanuit die straat voor haar huis. Verbaas kyk sy van die foto van die kind op die rekenaarskerm af na die foto wat sy in haar hand vashou. Die foto van ‘n kind wat geneem is met die son agter haar, haar hare omstraal met lig. ‘n Foto van haarself toe sy klein was. Hoe maklik gebeur dit dat so ‘n reiservaring terug herlei kan word na ‘n aspek van jou eie lewe. Dis asof sy die dag toe sy in die duine verdwaal het by Walvisbaai weer herleef. Hierdie foto van haar is seker geneem nadat haar ouers haar raakgeloop het waar sy verwese in die sand sit en krabbel het. Onbewus van die geharwar wat haar verdwyning veroorsaak het. Is dit waarom die kind spesifiek háár hand kom neem het en haar oor die duin gelei het. ‘n Onsigbare band wat daar tussen hulle was.

Mense se reiservarings is uiteenlopend en vir elkeen beteken dit iets anders. Vir haar, besef Annette, voed dit nie net haar weetgierigheid nie, maar verryk dit haar menswees. Dit laat haar nuut kyk na die lewe. Sy ervaar alles meer bewustelik. Veral as sy soos met hierdie geleentheid so deel van die plaaslike bewoners se lewens kon wees dat sy haar letterlik in hul skoene in kon verbeel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top