Biebouw-resensies | Reviews

 
Du Plessis se Griekwapsalms vol warmte en deernis

Karos orie dyne
Hans du Plessis
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799355314

Koop Karos orie dyne by Kalahari.com

Hans du Plessis se vorige digbundels is Kleinwild (1978), Gewete van glas (1984), Innie skylte vannie Jirre: Griekwapsalms en ander gedigte (2000), Boegoe vannie liefde: Griekwahooglied (2002) en Hie neffens my (2003). Du Plessis is ’n bekende taalkundige wat ook verskeie taalkundige gidse en romans die lig laat sien het. Daar het reeds 70 000 eksemplare van Innie skylte vannie Jirre verkoop, gevolg deur 10 000 eksemplare van Boegoe vannie liefde. Du Plessie se jongste, Karos orie dyne, is ’n splinternuwe bundel met Griekwapsalms: gedigte wat letterlik sing in die aangrypende Afrikaanse dialek van Griekwaland-Wes. Naas Dawidpsalms en gelykenisse, vertel dié gedigte ook van die skepping, die sondeval, die geboorte van Christus, die kruisiging en opstanding, en veral van die Groot Genade.

Die bundel bestaan uit vyf afdelings, naamlik “Inni begin”, “Hy kom!”, Kalaharikrismis”, “Hy kom wee!” en “Einde”. Die alleenstaande gedig heel voor in die bundel, “Die Jirre se pat”, kan as ’n sleutelteks vir baie ander gedigte in die bundel dien. Die gedig vorm dan die credo van die meeste van die verse, en kan saamgevat word in ’n koeplet in die middel van die gedig:

“Vra eers wasie Jirre se pat
voorlat jy jou eie ene vat.”   (Geen bladsyverwysing nie.)

Dit kan as transponering dien van Spreuke 3:6 (1953-vertaling): “Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.” Dwarsdeur die bundel figureer die pad (“pat”) as motief: Die mens moet vashou aan die pad (of riglyne) wat die Here stel.

Die Griekwa-gedigte is egter nie vertalings of omdigtings nie, maar die werk van die digter as skeppende kunstenaar. Dit is transponerings van die taal (Afrikaans) in  tipiese Griekwa-Afrikaans as dialek of variëteit van Afrikaans. Dit is ook die transponering van die omgewing – ’n Bybelse gegewe soos die berg Sion word byvoorbeeld verander na die “Grootdyn”, en derdens word godsdienstige gegewens, byvoorbeeld die bose, getransponeer tot mitiese gedaantes, soos die beerlou of waterslang, wat in die Griekwa-kultuur die bose verteenwoordig. Die bekoring van die gedigte lê in die sterk sintuiglike en konkrete aanbieding. Die oorspronklike teks in Job 26:11 lui byvoorbeeld:

“Die pilare van die hemel wankel en staan verstomd weens Sy dreiging.” (1953-vertaling)
Die Griekwa-Afrikaans van laasgenoemde lees só in die gedig “Die Jirre spannie jimmel” (p. 15):
“Die pale vannie jimmel op elke hoek
sal bewe assie Jirre beginte vervloek.”

Die woorde “koning”, “vors’, “goewerneur” of “keiser” word deurgaans “kaptein” in die gedigte, en die vernuwing van Bybelse metafore reflekteer die lewens- en wêreldbeskouing van die Griekwas van Klaarwater. As die Bybelse berg Sion dan “Grootdyn” word, moet mens in gedagte hou dat daar nie berge in die Kalahari is nie.

In die gedig “Tissennie koring” (p. 23), wat handel oor die bekende gelykenis van die onkruid (Matteus 13:24-30), word die onkruid summier “oliebome”, en by implikasie is die “boer” in die gedig dan die “Here”.  In die kinderlike eenvoud in dié gedigte bly humor nie agterweë nie. Nadat Dawid weggehardloop het vir Absalom (Psalm 3), is die spreker dankbaar wanneer hy sy vyande oorwin:

“U’t hille oppie bek geslat
lattie tanne flenterse spat.”       (Uit die gedig “Seën in onse lyfte” (p. 24))

Soms word ook ’n moderne verwysingsraamwerk in ’n gedig geïnkorporeer. In  “Die wegloopseun” (p. 25), wat sinspeel op die gelykenis van die verlore seun, het laasgenoemde byvoorbeeld in Du Plessis se gedig “geloop trein gevat ver plek toe.” (My kursivering.)

In “Erfkjind” (p. 33) is daar naas ’n lofpsalm aan God ook eerbetoon aan Dam. Dam is ’n erenaam vir Adam Kok, die grondlegger van die Griekwavolk:

“Noulattie Jirre ons op niewe patte lei
hoor ek hoe jyg oorle Dam hie in my.”

In die gedig “Josef” (p. 40) is daar ’n eggo van Eybers se bekende “Maria” in die slotreël, maar die aangesprokene in Du Plessis se gedig is Josef.

Naas psalms en gelykenisse, is daar ook lofliedere oor Christus se geboorte. In die gedig “Wyse manne” (p. 44) word Jesus se geskenke van die drie wyse manne deur verbeeldingskrag getransponeer:

“Ennie wyse manne het ok saam gejyg
en laag voorie Koningkjind gebyg
en goud, boegoe en blink diamant
ytgepak vorie krip innie warm sand.”

Karos orie dyne gee ’n vars kyk op Bybelgegewens en die ryk skat van Griekwa-Afrikaans. Die strakke voorspelbaarheid en pretensie wat so dikwels religieuse poësie kenmerk, is hier afwesig. Sosiale kritiek bly ook nie agterweë  nie. In “Die dominee ennie syper” (p. 55), wat sinspeel op die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar, word die dominee getransponeer tot die Fariseër en die “syper” tot die tollenaar. Soos in “Die jammerhartige skeder” (p. 70), word die predikant weer uitgebeeld as ’n (skynheilige, moderne) “fariseër”, en die “ouderling” as ’n “Leviet”. (Dit is dan ook interessant dat Christus se grootste kritiek op aarde dan juis teen die Fariseërs was.)

In “Die goeie geslag” (p. 53) juig die spreker weer oor die Here wat sy “skylte” is, maar die volk Israel word nou getransponeer tot die Griekwavolk, met Dam (Adam Kok) wat uit vreugde  ’n riel uitvoer. Ook met verwysing na Psalm 19 wil die spreker in “Woordeloos” (p. 71) ’n riel van vreugde uitvoer:

“Die Jirre se wet isse gorra virrie siel,                                   
die bevel vannie Jirre is in my hart se riel,
Hy se gebod is sywer oppie oog en God
Se grondwet is hjening op mense se tong.”

(’n “Gorra” is ’n gat in die sanderige grond van ’n droë rivierbedding waardeur water kan syfer.) Die woord “grondwet” verruim bogenoemde gedig se konteks dan tot dié van ’n stem wat vra om binne ’n groter maatskaplike konteks gehoor te word.

“Verdeel my klere” (p. 72) (gebaseer op Psalm 22, wat in der waarheid ’n parodie op Christus se kruisiging is), is ’n lang, gewyde gedig vol piëteit. Maar dit is “Pryslied van Maria” (p. 48) wat vir my een van die hoogtepunte in die bundel is. Hier is strofe een:

 

“Vedag prysag ekkie Jirre hier in my siel,
my hart dans van blygeit hy se eige riel!
Hy’t Hom hyshulp hysvrou gemaak.
Die Jirre hette groot ding vi my gedoen,
my nageslag gat my ok nou heilag noem.”

 Karos orie dyne is ’n bundel wat die leser se hart warm sal laat klop.  Dit is verse vol wysheid en deernis – en kinderlike geloof.

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

Comments 1 Reaksies | 1 Comments
Delete Comment
avatar
Lionel Fortuin
2013-06-25 @15:19
Dis goed om so bietjie van die Griekwa-Afrikaans innie gedigte te lees. 'n Mens wonder net of daar nie meer geskryf is uit die geledere van die Griekwa self nie, of wat ter plaatse opgeteken is deur die vele wat navorsing in die Griekwa-woongebiede gedoen het nie.
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address