Dis skoene, dis selfontdekking, dis lig ... dis Zivaglo

  • 1

Zivaglo is ’n multisensoriese, interaktiewe lig-, woord- en kunsbelewenis.  Dis daagliks die hele dag van 10h00 tot 20h00 te sien, al om die halfuur. Wat op aarde is dit? Emma Kotzé het met Linda Remke, organiseerder van Zivaglo, gesels om uit te vind.

Wat presies behels hierdie “multisensoriese, interaktiewe lig-, woord- en kunsbelewenis”?

Zivaglo is ’n trots Suid-Afrikaanse uitstalling wat die elemente van ’n ligvertoning kombineer met spesiaal-geselekteerde kunswerke, om ’n unieke  kunsinstallasie te skep wat as ’n geheel ’n unieke, inspirerende en interaktiewe verhaal met die besoeker deel. Die uitstalling beoog om elke besoeker op ’n reis te neem deur introspeksie na selfontdekking deur die saad van hoop te plant en te illustreer dat drome nagestreef moet word om lewensvervulling te bekom.

Wat is Zivaglo se visie en missie? Wat is die hartjie van Zivaglo?

Zivaglo se visie en missie is as volg:

Visie             Om kuns, in enige vorm, te gebruik om kreatiwiteit te ontsluit en hoop te bring.

Missie           Om mense te inspireer om hul kreatiwiteit uit te druk en om hul stem by ons storie te voeg.

Om ’n uitstalplatform te skep vir blootstelling.

Om kreatiewe mense te bemagtig en te ondersteun deur sake-kundigheid.

Wat het julle laat besluit om hierdie “produksie”, wat ’n heelwat ander benadering het as jul ander projekte, vanjaar by die Woordfees op die planke te bring?

Eerstens is ons dankbaar dat Dorothea en haar oulike komitee ons ten volle vertrou om Zivaglo tydens die 2013 Woordfees bekend te stel.

Omdat die Woordfees alreeds goed gevestig is, en bekend is vir hul ondersteuning van nuwe projekte, was dit vir ons ’n natuurlike keuse om hulle te nader vir die aangeleentheid. 

Die fees se nabye ligging in Stellenbosch het ons ook gepas, aangesien ons beide voltyds in ons ander gevestigde besighede betrokke is.

Wat is die uitdagings van so ’n produksie?

Daar was baie uitdagings, maar die twee grootstes was:

  • Omdat Zivaglo ’n nuwe konsep is, was die uitdaging om kreatiewe mense te werf en te betrek ’n baie langer proses as wat ons eers gedink het. Die proses het geverg dat ons meer as ses maande elke twee weke met kreatiewe groepe gewerk het om hul te mobiliseer. Die dieper prosesse en uitkoms het wel ons verwagting ver oortref, so dit was alles die moeite werd.
  • Finansiering is altyd ’n uitdaging en omdat die uitvloei van ons visie langer geneem het om te kristalliseer, was dit baie moeilik om dit aan individue sowel as maatskappye te posisioneer. Dit bly nog steeds ’n uitdaging, maar ons het volle vertroue dat, met harde werk en met die regte harte, gaan die eerste uitstalling groot sukses behaal. 

Wat is die aantrekkingskrag van ’n projek soos Zivaglo vir twee suksesvolle sakevroue?

Die oorspronklike visie is deur Nina ontvang en vandaar gedeel met Linda, my besigheidsvennoot. Na maande se harde werk, met die hulp en ondersteuning van ’n fantastiese span kern-rolspelers. is ons besig om hierdie visie te mobiliseer.

Beide van ons is getroue entrepreneurs wat altyd potensiaal in mense en besighede sien.

Hierdie reis saam het vir ons ’n onskatbare leerkurwe beteken. 

Ons het ’n paadjie van vertroue gestap en ongelooflik kreatiewe mense ontmoet met ongelooflike harte. Ons het bewys dat daar ’n groot behoefte is om kreatief te wees in samewerking met mekaar.

Ons beide het ’n passie om kreatiewe mense te bemagtig deur hul te motiveer en ondersteun met besigheid insig en leiding. Sodoende mobiliseer ons hulle om weer ander te bemagtig, en die proses van volhoubare bemagtiging is wat ons glo Zivaglo so uniek maak.

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top