Die weë van die agnostikus
Mens moet maar net soms bietjie lae profiel hou en dan die agnostici se skrywery hier dophou om te sien presies hoe verward en rigtingloos hulle is. Soos in die verlede, het Richardt ook weer sy weg na hierdie forum gevind en bars hy daagliks los met talle sinnelose en inhoudlose haelkorrel-briefies oor alles en nog wat, om daardie dwingende behoefte en honger na aandag en erkenning te probeer stil, sonder sukses, natuurlik – meeste ignoreer eenvoudig die snert wat hy oor die algemeen op ongekende skaal kwytraak. Mens wonder soms wat fout is met die mens, maar mens wonder nie vir lank, nie …
Maar Richardt het ook by die koortjie agnostici aangesluit en is daar deesdae heelwat van daardie sinnelose, inhoudlose haelkorrels van hom wat handel oor sake Gods – nie dat die inhoud van daardie tref-en-trap briefies iets sinvol bevat waaroor mens iets te sê wil hê, nie, maar dit is relevant omdat mens dit kan vergelyk met die ander agnostici wat gereeld hulle negatiewe uitbraaksels hier loslaat.
Wanneer ons die agnostici se ‘grondige feite’ waarop elkeen aanspraak maak, egter gadeslaan, kom ens baie vinnig agter dat algar van hulle se aansprake van mekaar verskil as synde die rede vir die sogenaamde nie-bestaan van God of sake Gods. Hulle lees almal min of meer dieselfde materiaal en hulle demonstreer almal ’n totale insigloosheid waar hulle kommentaar lewer oor spirituele sake, al is dit nou sake Gods of oor sake okkulties, soos byvoorbeeld die kabbala, ens (watter verband was daar nog ooit tussen die kabbala en die Evangelie? Net vir die agnostikus in sy versinsels). Tog is elkeen kamstige ‘feite’ waarop hy steun, heeltemal verskillend van die volgende. Daar is geen konsekwensie nie. Dit val op, by gelowiges is die konsekwensie só sigbaar, dat gelowige skrywers dikwels op kinderagtige manier gepoog gekoggel te word dat hulle een en dieselfde persoon, is – duidelik omdat daar net Een Waarheid is.
Dus, wat die agnostici dus slaag om te doen en waartoe Richardt met sy sinnelose snert deesdae mildelik bydra, is die feit dat elkeen van hulle se uiteenlopende weergawes van dieselfde issue, net weereens demonstreer hoe elkeen maar net poog om sy eie onsekerheid en innerlike wroeging oor sake Gods te verwoord, verantwoord en mee te struwel. Hierdie eienaardige optrede en benadering van die agnostici bring ons net weer by daardie ou probleem van hulle uit – daardie persoonlike stryd en obsessie wat vergestalt in die psigose van selfdesepsie wat eenvoudig vereis dat hulle hul oë sluit vir die feite rondom sake Gods - feite wat deur miljoene der miljoene gelowiges oor die aardbol heen geken en geleef en beleef, word - deur hulleself doelbewus op bykans daaglikse basis te probeer wysmaak dat die werklikheid van God se bestaan vir húlle onwerklikheid kan word deur hulself daagliks te peper met hulle eie verfomfaaide interpretasies en versinsels.
As ek só na Richardt se snert kyk en sy onbegrip van hoe dinge werk in die spirituele dimensie, dan kry ek hom eintlik jammer oor sy onkunde waar hy dan aanmerkings wil maak oor Trienie, wie daagliks betrokke is met en by God. Hoe sal hy op aarde kan begryp wat Trienie verduidelik oor aktiwiteit van onreine geeste en die behandeling daarvan en dies meer? Maar sy onkunde en onvermoëns weerhou hom nie van arrogante, sinnelose aanmerkings, nie. Hy is natuurlik nie enig in sy optrede nie en die soort van ding sien ons maar by hulle almal van tyd tot tyd.
Groete,
Kobus de Klerk