Die ware godsdiens: nog ’n herbesoek
Wouter maak
in sy kommentaar die fout om Joodse met Judaïese te verwar. Onkunde en insiglose vooroordeel verblind die ontdekking van die inherente waarheid.
Daar is vandag, nes toentertyd, báie Jode wat nié Judaïste is nie, maar Christene wie nog steeds die ou Mosaïese wette eerbiedig en gebruik in soverre dit in die hedendaagse konteks gebruik kan word en nodig is om te gebruik, sans die 613 rabbiniese presepte waarop die Judaïsme gefundeer is.
Dít is die verskil – die Judaïsme, soos dit vandag nog daar uitsien, het begin met die 613 rabbiniese presepte wat gedurende die verstrooiing en daarna ingeskryf en bygevoeg is, by die suiwer Joodse/Abrahamiese Godsdiens. Dié presepte onderskei die Judaïsme en die outentieke Joodse, of Abrahamiese/Mosaïese Godsdiens.
Die outentieke Joodse, of Abrahamiese/Mosaïese Godsdiens het sy ontstaan by Adam en dié se verhouding met God (al het dit skeefgeloop) en soos dit ontwikkel het deur Noag, Abraham, Isak, Jakob (Israel) en sy kinders tot vandag toe. Daardie Godsdiens het die Messias verwag en toe die Messias, die HERE Jesus Christus, die profesieë van daardie ware Godsdiens kom bewaarheid en vervul, het daardie Godsdiens Hom onmiddellik aanvaar – maar nié die Judaïste nie – ’n sekte wat tot vandag toe, nié die Messias aanvaar nie.
Dus, ja. Die HERE wás as Jood opgevoed, maar in die are Godsdiens wat deur Hom in vervulling gebring is - juis nié in die presepte, die Judaïsme, nie. Wat Hy gaan onderrig het in die tempel (het al op twaalfjarige ouderdom begin daarmee), was juis die profete, wie gewaarsku het teen dié indringer religie in die ware Godsdiens (wat in Hom verwesentlik word – die Christendom). Daarbenewens het die HERE in soveel woorde met die fariseërs, soos die Judaïste daardie tyd genoem was, verskil oor dié valse rabbiniese religie en hulle kinders van die duiwel daaroor genoem, juis dáároor.
Enige mens met die geringste insig kan dit mos sien, maar dít is waar julle dan mos nou ook uit die bus val.
Chris se stortvloed is die toonbeeld van ontkenning van die werklikheid. Hy projekteer die perspektief van sy piepklein geslote groepie ateïste op die kontrasterende, magtige werklikheid – uit desperasie omdat hy géén sinvolle antwoord kán hê vir sy ewe irrasionele lewensbeskouing nie. Die getuienis, of dit vanuit die geledere van die massiewe geloofskorps is, of vanaf die sekulêre Pew, of die ewe sekulêre Oxford universiteit se studie resultate, dui algar daarop dat die Christendom steeds toeneem en veld wen, selfs en veral waar dit tevore nie ingang had, nie. Verder is daar in Europa ’n aansienlike verskuiwing (wat deur sommige onkundige sekulariste verkeerdelik as verlies aangemerk word) vanaf die tradisionele formele doktrine-georiënteerde kerke na die meer Charismatiese, Gees vervulde kerke en ’n geweldige groei in laasgenoemde, oraloor.
Chris en Angus maak wilde bewerings van Bybel vervalsing – maar lewer géén bewyse nie, al praat Angus van “bewyse” daar ís gewoon nie sulke bewyse nie, want insiglose ontkenning is geen bewys nie – wat ons wél weet, is dat dít, die bewering van vervalsing, juis ’n óú truuk is van agnostici om andersins verdoemende getuienis teen hulle standpunte die hoof te probeer bied – óú nuus, eeue oud al, om die waarheid te sê. Dus net swape soos hulle, van nog daarvoor.
Groete,
Kobus de Klerk