LitNet Akademies (Geesteswetenskappe) | Academic

 
Die voorkoms, frekwensie en aard van seksuele misbruik deur jong vroulike seksoortreders in ’n inwoonsorgsentrum

Opsomming 

Alhoewel die seksuele misbruik van kinders deur volwassenes goed in die wetenskaplike literatuur gedokumenteer is, blyk dit dat daar ’n vakuum aangaande die jong vroulike seksoortreder bestaan. Die voorkoms, frekwensie en aard van seksuele misbruik onder vroulike jeugdiges in ’n inwoonsorgsentrum is deur middel van verkennende en beskrywende navorsing vanuit die kwalitatiewenavorsingsparadigma met kwantitatiewe elemente ondersoek om genoemde leemte te help aanspreek. Die steekproef het uit 29 deelnemers bestaan wat volgens ’n gestratifiseerde, doelgerigte steekproef getrek is. Inwoning by ’n spesifieke inwoonsorgsentrum, geslag (vroulik) en ouderdom (7 tot 18 jaar) het as insluitingskriteria gedien. Data is deur middel van gestruktureerde onderhoude ingesamel. Beginsels van die begrondingsteorie is benut om die rou data te prosesseer. Temas wat aangaande die navorsingsverskynsel geïdentifiseer is, omvat die deelnemers se psigososiale agtergrond, die voorkoms, frekwensie en aard van die seksuele handelinge, die tyd en plek waar die seksuele handelinge plaasgevind het, asook inligting rakende die rapportering daarvan en tegnieke wat slagoffers ontwikkel het om hulleself teen die seksuele handelinge te beskerm. Die resultate toon dat die meerderheid van die deelnemers in die inwoonsorgsentrum op die een of ander wyse by die seksuele handelinge betrokke is, enersyds as slagoffer en andersyds as oortreder. Die meerderheid van die oortreders is tussen 13 en 14 jaar oud. Dit het na vore gekom dat die seksuele handelinge in die nag veral in die meisies se slaapkamers plaasvind en gedurende die dag in die TV-vertrekke, badkamers en kombuise van die onderskeie wooneenhede van die kinders en versorgers. Sommige deelnemers beweer dat hulle nie hulp ontvang het met die aanmelding van die seksuele misbruik nie. Hulle het gevolglik strategieë ontwikkel om hulleself daarteen te beskerm. Aanbevelings aangaande beleid, die praktyk en die uitbou van die teorie deur verdere navorsing word ter afsluiting gemaak.

Trefwoorde: seksuele misbruik; jong vroulike seksoortreder; inwoonsorgsentrum



Abstract

The incidence, frequency and nature of sexual abuse by female juvenile sex offenders in a residential care centre

Sexual abuse at the hands of female juveniles is a phenomenon which is apparently on the increase and/or coming to light more and more, but about which relatively little scientific literature exists. The objective is to help address this shortcoming by means of an exploratory and descriptive investigation into the incidence, frequency and nature of sexual abuse among female juveniles admitted to a specific residential care centre. More knowledge of and insight into the psycho-dynamics of the female juvenile sex offender are essential to render preventative therapeutic services, as well as to provide effective therapeutic assistance to the mentioned sex offenders.

From the scientific literature a preliminary profile of female juveniles who sexually abuse other female juveniles has been compiled. The sexual actions that female juveniles commit with other female juveniles include contact as well as non-contact sexual actions. Non-contact sexual actions refer, for example, to pornography and voyeurism, while contact sexual actions include sexual touching or penetration. These actions may take place with or without the permission of the other party. In spite of the fact that the sexual actions take place “with consent”, it is still defined as “abuse” in the context of this article, because it is described as such in the Amendment Act to the Criminal Law relating to Sexual Offences and Related Matters (32/2007).

The purpose of the investigation was not necessarily to criminalise sexualised behaviour among female juveniles, and therefore the phenomenon was investigated from the perspective and elucidation of the ecological systems theory. This is done by referring to the micro, meso-, exo-, macro- and chrono-systems of the ecological systems theory. The sexual offences usually start around the age of 14 or 15 and it transpires that most female juvenile sex offenders are Caucasians. The female juvenile sex offenders usually come from families characterised by family violence, aggressive, emotionally absent fathers and depressed mothers. Most female juvenile sex offenders also have a personal history as victims of sexual abuse. Although some female juvenile sex offenders present with a variety of psychiatric disturbances, they are not necessarily psychotic, and their sexual behaviour can therefore not be linked to a psychotic episode. It transpires from the literature that female juvenile sex offenders start to abuse other children at an earlier age than male juvenile sex offenders do and that they commit the same deeds with their victims that male juvenile sex offenders do. However, their sentences are lighter than those of male juvenile sex offenders.

In order to address the objective of the research, the literature review was supplemented by an empirical investigation. It was done within the context of the qualitative research paradigm with quantitative elements. Twenty-nine participants were identified by means of a stratified, purposive sample to participate in the research project. Permission to undertake the research was obtained from the participants as well as from the management of the residential care centre concerned. Data were collected by means of structured interviews according to the guideline of the “Sixteen steps towards legally sound sexual abuse investigations” protocol. This protocol comprises sixteen steps that can be followed to investigate the possibility of sexual abuse. The data collected were analysed according to the principles of the grounded theory.

From the analysis of the data certain themes were identified. These themes entail, firstly, the categories of knowledge regarding the occurrence of sexual abuse among female juveniles at the specific residential care centre. Secondly, the nature, frequency and number of participants involved in the sexual abuse were discussed as identified themes. The participants’ personal history as victims of sexual abuse is the third identified theme. The fourth theme entails information regarding the place where the actions take place and the incidence of sexual abuse among the female juveniles in the residential care centre. The fifth and last theme deals with the disclosure of the sexual abuse among the female juveniles and techniques they have developed to protect themselves against the sexual abuse. The relatively small sample, and the fact that all the participants in the research project were resident in one specific residential care centre, are regarded as shortcomings. The results cannot, therefore, be generalised to include the broader population of female juvenile sex offenders without further investigation.

Key words: sexual abuse; female juvenile sex perpetrator; residential care centre



 

1. Inleiding

Vroulike persone wat hulle aan seksuele misbruik skuldig maak, word meer rugbaar, maar hierdie verskynsel word min op ’n wetenskaplike wyse bestudeer (Johansson-Love en Fremouw 2009:367). Daar bestaan nie sekerheid of die voorkoms daarvan toeneem of nie en of dit net meer geredelik rapporteer word nie, aangesien die samelewing meer gesensibiliseer is ten opsigte van die verskynsel (Solis en Benedek 2012:173). Volgens Vandiver en Teske (2006:149) is literatuur aangaande jeugdige seksoortreders, en spesifiek literatuur aangaande jong vroulike seksoortreders, beperk. Hendriks en Bijleveld (2006:31) stel dit soos volg: “Of all types of (juvenile) sex offenders, female offenders have received the least attention. Female perpetrators of sexual violence are more or less ignored in research terms.” Klein steekproewe (minder as 30 respondente) is gewoonlik in die bestaande navorsing gebruik (Gibson en Vandiver 2008:117). Die bevindings van die studies kan gevolglik nie veralgemeen word nie.

Die siening van die samelewing dat vroue seksueel passief en onskuldig is, dra by tot die nie-erkenning en die nieherkenning van seksuele misdade deur vrouens gepleeg (Denov 2003:308; Bunting 2007:256). Die relatiewe seldsaamheid van die voorkoms van die verskynsel en die sosiale stigma wat daaraan kleef, is moontlike struikelblokke vir onder andere verdere navorsing (Vick, McRoy en Matthews 2002:8). Min jong vroulike seksoortreders kom ook onder die aandag van assessering- en behandelingsdienste. Dit dra by tot die gebrek aan navorsing oor die verskynsel (Hickey, McCrory, Farmer en Vizard 2008:242).

Soos bo aangedui, word seksuele misbruik deur vrouens meer rugbaar, maar relatief min navorsing, spesifiek oor die jong vroulike seksoortreder, is gedoen. Die uitbreiding van wetenskaplike kennis aangaande die voorkoms, frekwensie en aard van seksuele misbruik van jong vroulike seksoortreders is dus noodsaaklik, onder meer om die psigodinamika van die verskynsel beter te verstaan, om dit te voorkom, asook om effektiewe terapeutiese hulp aan die oortreders te bied. Die navorsingsprobleem wat die studie rig, behels gevolglik ’n ontleding van die voorkoms, frekwensie en aard van seksuele misbruik tussen meisies in ’n inwoonsorgsentrum.

Die doel van hierdie navorsingstudie behels ’n verkennend-beskrywende ondersoek na die voorkoms, frekwensie en aard van seksuele misbruik onder meisies in ’n inwoonsorgsentrum. Die doel van verkennende navorsing sentreer om die verkenning van ’n minder bekende verskynsel om ’n basiese kennisraamwerk daaromtrent te ontwikkel (Babbie en Mouton 2001:79). In hierdie geval is dit vroulike jeugdiges wat ander vroulike jeugdiges seksueel misbruik. Die verkenning en beskrywing van die voorkoms, frekwensie en aard van seksuele misbruik onder meisies in ’n inwoonsorgsentrum geskied aan die hand van ’n literatuuroorsig asook ’n empiriese ondersoek. Sekere terme (seksuele misbruik, seksuele handeling en meisie(s)) wat in die literatuuroorsig en empiriese ondersoek gebruik word, word om taalkundige redes (eenvormigheid), en om met sekere Suid-Afrikaanse wette te strook, gekonseptualiseer. Die gebruik van hierdie terme impliseer dus nie noodwendig persoonlike voorkeur nie.

Die empiriese ondersoek is kwalitatief van aard, met kwantitatiewe elemente. Beginsels van die begrondingsteorie is benut om die verskynsel te verken, te beskryf en te verklaar. Die data is deur middel van gestruktureerde onderhoude wat met die meisies in ’n inwoonsorgsentrum gevoer is, ingesamel. Die gestruktureerde onderhoude is volgens sekere stappe gevoer. Hierdie stappe word in afdeling 3 bespreek.

Psigodinamiese aspekte van die jong vroulike seksoortreder word vervolgens in die literatuuroorsig bespreek. In die literatuuroorsig word genoemde verskynsel in die ekologiese-sisteem-benadering gekontekstualiseer.



2. Die jong vroulike seksoortreder

Die jong vroulike seksoortreder val onder die breër sambreelverskynsel van jong seksoortreders. ’n Jong seksoortreder word beskou as ’n minderjarige persoon wat ’n seksuele daad met ’n ander persoon van enige ouderdom pleeg. Dit geskied teen die slagoffer se wil en sonder sy/haar toestemming. Die seksuele dade kan op ’n aggressiewe, uitbuitende of dreigende wyse plaasvind (James en Neil 1996:478). Volgens die Amerikaanse Pediatriese Akademie is die seksuele misbruik van kinders enige seksuele daad met ’n kind wat uitgevoer word deur ’n volwassene of ouer kind (Dove en Miller 2007:22). In die Afrikaanse weergawe van die Kinderwet, artikel 1.1 (38/2005) word die term abuse in die Engelse weergawe van dieselfde wet met die term misbruik vertaal. Dit word soos volg omskryf:

“misbruik”, met betrekking tot ’n kind, enige vorm van leed of mishandeling wat opsetlik toegedien is aan ’n kind, en sluit in –

  1. aanranding van ’n kind of die toediening van enige ander vorm van opsetlike besering aan ’n kind;
  2. seksuele misbruik van ’n kind of om toe te laat dat ’n kind seksueel misbruik word; (ons beklemtoning)
  3. afknouery deur ’n ander kind;
  4. ’n arbeidspraktyk wat ’n kind uitbuit; of
  5. blootstelling of onderwerping van kind aan gedrag wat die kind sielkundig of emosioneel benadeel. (Suid Afrika, Kinderwet, artikel 1.1 (38/2005))

Die fokus van die artikel is punt (b) hier bo van die wet, aangesien dit spesifiek na seksuele misbruik verwys. Seksuele misbruik word egter nie volledig in die genoemde wet omskryf nie. In Artikel 1.1 van die Wysigingswet op die Strafreg, Seksuele Misdrywe en Verwante Aangeleenthede (32/2007) word die terme seksuele handeling en seksuele skending gebruik om seksuele misbruik te omskryf, en wel soos volg:

“seksuele handeling” handeling van seksuele penetrasie of ’n handeling van seksuele skending;
“seksuele skending” ook enige handeling wat –
a. direkte of indirekte kontak tussen die –
i. geslagsorgane of anus van iemand of, in die geval van ’n vrou, haar borste, en enige deel van die liggaam van iemand anders of ’n dier, of enige voorwerp, met inbegrip van enige voorwerp wat die geslagsorgane of anus van iemand of dier voorstel of naboots;
ii. mond van iemand en –
aa. die geslagsorgane of anus van iemand anders of, in die geval van ’n vrou, haar borste;
bb. die mond van iemand anders;
cc. enige ander deel van die liggaam van iemand anders, behalwe die geslagsorgane of anus van daardie persoon of, in die geval van ’n vrou, haar borste, wat –
aaa. in ’n handeling van seksuele penetrasie gebruik kon word;
bbb. seksuele opwekking of prikkeling kon veroorsaak; of
ccc. seksueel daardeur opgewek of geprikkel kon word; of
dd. enige voorwerp wat die geslagsorgane of anus van iemand, en in die geval van ’n vrou, haar borste, of ’n dier, naboots; of
iii. mond van die klaer of klaagster en die geslagsorgane of anus van ’n dier;
b. die masturbasie van iemand deur iemand anders; of
c. die plasing van enige voorwerp wat die geslagsorgane van iemand of ’n dier naboots of voorstel in of verby die mond van iemand anders, veroorsaak, maar nie ’n handeling van seksuele penetrasie nie, en “seksueel skend” het ’n ooreenstemmende betekenis. (Artikel 1.1 van Suid-Afrika, Wysigingswet op die Strafreg, Seksuele Misdrywe en Verwante Aangeleenthede (32/2007))

Hierdie terme, seksuele misbruik en/of seksuele handeling, word in die konteks van meisies gebruik. In hierdie artikels word met meisie(s) vroulike kind(ers) bedoel. Volgens die Kinderwet, Artikel 1.1 (38/2005) is ’n kind “enige persoon onder die ouderdom van 18 jaar”. Seksuele misbruik van meisies deur meisies impliseer dus dat twee minderjarige kinders sekere seksuele handelinge met mekaar uitvoer met of sonder wedersydse toestemming.

James en Neil (1996:478) noem in hulle definisie van seksuele misbruik dat die seksuele handeling teen die slagoffer se wil en sonder sy/haar toestemming geskied. In Artikels 15 en 16 van die Wysigingswet op die Strafreg, Seksuele Misdrywe en Verwante Aangeleenthede (32/2007) word dit egter beskryf dat kinders nie toestemming tot seksuele handelinge kan gee nie:

Handelinge van instemmende seksuele penetrasie met sekere kinders (statutêre verkragting)
15. (1) Iemand (‘‘A’’) wat ’n handeling van seksuele penetrasie met ’n kind (‘‘B’’)
pleeg, is, ondanks die toestemming van B tot die pleeg van sodanige handeling, skuldig aan die misdryf van die pleeg van ’n handeling van instemmende seksuele penetrasie met ’n kind.
(2) (a) Die instelling van ’n vervolging van ’n misdryf in subartikel (1) bedoel, moet skriftelik deur die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings gemagtig word indien beide A en B kinders was ten tyde van die beweerde pleeg van die misdryf: Met dienverstande [sic] dat, in die geval waar die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings die instel van ’n vervolging magtig, beide A en B van die oortreding van subartikel (1) aangekla moet word.

Handelinge van instemmende seksuele skending met sekere kinders (statutêre seksuele aanranding)
16. (1) Iemand (‘‘A’’) wat ’n handeling van seksuele skending met ’n kind (‘‘B’’)
pleeg, is, ondanks die toestemming van B tot die pleeg van sodanige handeling, skuldig aan die misdryf van die pleeg van ’n handeling van instemmende seksuele skending met ’n kind.
(2) (a) Die instelling van ’n vervolging van ’n misdryf in subartikel (1) bedoel, moet skriftelik deur die betrokke Direkteur van Openbare Vervolgings gemagtig word indien beide A en B kinders was ten tyde van die beweerde pleeg van die misdryf: Met dienverstande [sic] dat, in die geval waar die Direkteur van Openbare Vervolgings die instel van ’n vervolging magtig, beide A en B van die oortreding van subartikel (1) aangekla moet word. (Artikels 15.1 en 15.2 en 16.1 en 16.2 van Suid-Afrika, Wysigingswet op die Strafreg, Seksuele Misdrywe en Verwante Aangeleenthede (32/2007))

Die implikasie van bogenoemde wet is dus dat twee kinders van verskillende geslagte of dieselfde geslag van seksuele aanranding aangekla kan word as hulle mekaar, met wedersydse goedkeuring, seksueel liefkoos deur mekaar byvoorbeeld intiem te soen. Dit is nie die doel van hierdie artikel om te debatteer of ’n intieme soen met toestemming tussen twee vyftienjariges ’n kriminele daad is en kriminele vervolging noodsaak al dan nie. Hierdie aspek sal waarskynlik nog toekomstig in die howe getoets word.

Op grond van bostaande definisies en die betrokke wette kan die jong vroulike seksoortreder beskryf word as ’n vroulike persoon onder die ouderdom van 18 jaar wat seksuele dade van enige aard met ander persone, met of sonder hulle toestemming pleeg. Alhoewel sekere terme soos jong seksoortreder, seksuele misbruik en kind in die literatuur beskryf word, kom daar nie ’n definitiewe beskrywing van die psigososiale profiel van die jong vroulike seksoortreder in die literatuur voor nie. Navorsers/akademici het egter moontlike psigososiale veranderlikes wat by die jong vroulike seksoortreder teenwoordig is, geïdentifiseer. ’n Tentatiewe psigososiale profiel van die jong vroulike seksoortreder kan dus saamgestel word. Dit behels onder meer die volgende veranderlikes:

Ras en geslag: Die gemiddelde ouderdom waarop die seksoortredings ’n aanvang neem, is 14 en 15 jaar en die meeste jong seksoortreders is Kaukasies (Gibson en Vandiver 2008:117–8).

Geslagsverskille: Gibson en Vandiver (2008:124–5) lig die volgende verskille tussen manlike en jong vroulike seksoortreders uit: (1) Meisies presenteer met meer gedragsprobleme (woede-uitbarstings, diefstal en skoolversuim) as seuns. (2) Meer meisies as seuns was self aan seksuele misbruik onderworpe en word ook meer as seuns as slagoffers beskou. (3) Dit blyk verder dat meisies op ’n jonger ouderdom as seuns ander kinders seksueel begin misbruik (Gibson en Vandiver 2008:124–5 en Miccio-Fonseca 2010:745).

Beide geslagte jong seksoortreders het gemiddeld drie slagoffers wat hulle seksueel misbruik. Vick e.a. (2002:17) het bevind dat die vonnisse van jong manlike seksoortreders strenger is as die vonnisse van jong vroulike seksoortreders en dat jong vroulike seksoortreders se vonnisse bloot simbolies van aard is. Bunting (2007:255–6) het selfs bevind dat polisie en maatskaplike werkers van mening is dat tronkstraf toepaslik vir jong manlike seksoortreders is, maar nie vir jong vroulike seksoortreders nie.

Gesinsdisfunksionering: Gesinsdisfunksionering is ’n gemene deler onder jong vroulike seksoortreders. Met gesinsdisfunksionering word daar na die volgende aspekte verwys: gesinsgeweld; depressiewe moeders met ’n lae selfbeeld, swak grense en afhanklike persoonlikhede wat middels misbruik; gewelddadige, emosioneel afwesige vaders; die voorkoms van fisieke mishandeling en seksuele misbruik in die gesin (Gibson en Vandiver 2008:124).

Seksuele-misbruik-geskiedenis van die jong seksoortreder: Die aard van die seksuele misbruik waaraan seksoortreders in hulle vroeë kinderjare blootgestel was, is volgens James en Neil (1996:481) van hoogste na laagste voorkoms, soos volg: anale penetrasie, masturbasie, orale-genitale seks en betasting. Daar is ’n verskil tussen vroulike en jong manlike seksoortreders se geskiedenis met betrekking tot die fisiese mishandeling en seksuele misbruik waaraan hulle self blootgestel was. Dit blyk dat jong vroulike seksoortreders gedurende hul kinderjare aan ’n ernstiger graad en aan meer omvattende fisiese mishandeling en seksuele misbruik blootgestel word. Daar is ook bevind dat jong vroulike seksoortreders in vergelyking met jong manlike seksoortreders op ’n vroeër ouderdom en deur meer as een oortreder seksueel misbruik is (Schmidt en Pierce 2004:1). Dit blyk ook dat die meeste jong vroulike seksoortreders self slagoffers van seksuele misbruik was (Vick e.a. 2002:3; Gibson en Vandiver 2008:118). In ’n Suid-Afrikaanse studie is byvoorbeeld bevind dat 21,9% van die vroulike deelnemers aan “vroeë ongewenste seksuele ervaringe” blootgestel was (Nicholas 2008:47). Johnson (2004:463) noem dat reaktiewe misbruik (“misbruik van ander kinders deur ’n slagoffer van misbruik”) een van die gevolge van seksuele misbruik is.

Die vraag ontstaan egter waarom nie alle slagoffers van seksuele misbruik in seksoortreders ontwikkel nie. Scott en Telford (2006:181) noem tereg dat dit foutief sou wees om seksuele misbruik van die jong vroulike seksoortreder as ’n voorvereiste vir die seksuele misbruik van ander te beskou, aangesien duisende meisies seksueel misbruik word en slegs ’n beperkte persentasie oortreders word.

Slagoffers: Slagoffers van seksuele misbruik word dikwels deur sowel manlike as vroulike persone seksueel misbruik. Dit is dus moeilik om die impak van manlike en vroulike seksoortreders se seksuele handelinge met kinders te differensieer (Koonin 1995:207; Baker, Curtis en Papa-Lentini 2006:32).

Seksuele misbruik deur jong seksoortreders is selde op volwasse persone gerig. Die tipiese slagoffers van die jong seksoortreder is vyfjarige kinders. Dit blyk dat jong kinders van beide geslagte ’n gelyke risiko vir seksuele misbruik deur jong vroulike seksoortreders loop (Schmidt en Pierce 2004:2). Anekdotiese bewyse kom voor dat die seksuele misbruik dikwels in die konteks van baba-oppas en bloedskande voorkom. In die geval van bloedskande teiken jong vroulike seksoortreders veral hulle jonger sibbe (Gibson en Vandiver 2008:118).

Tipes seksuele dade deur jong vroulike seksoortreders gepleeg: Volgens James en Neil (1996:478) kan die dade waaraan die jong vroulike seksoortreder haar skuldig maak, breedweg in twee kategorieë verdeel word, naamlik niekontak seksuele misbruik en kontak seksuele misbruik. Niekontak seksuele misbruik verwys onder meer na ekshibisionisme en voyeurisme. Kontak seksuele misbruik verwys onder andere na betasting, anale en/of vaginale penetrasie en verkragting. Dit blyk dat die jong vroulike seksoortreder haarself veral aan kontak seksuele misbruik skuldig maak. Die kontak-seksuele misbruik sluit onder meer die betasting van die slagoffer se privaatdele, intieme soen, orale seks en geslagsgemeenskap in. Die tipes seksuele dade, van hoogste na laagste voorkoms, blyk ekshibisionisme, frotteurisme (vryf van geslagsdele teen ander persoon as vorm van masturbasie), masturbasie, anale seks, voyeurisme, vaginale seks, orale-genitale seks en verkragting te wees (James en Neil 1996:483; Scott en Telford 2006:180). Volgens Schmidt en Pierce (2004:2) is die algemeenste seksuele oortredings, soos byvoorbeeld wedersydse seksuele betasting, nie-aggressief van aard. In sommige gevalle speel die oortreder egter ’n “ondersteunende rol” deur ander (‘n) oortreder(s) by te staan om kinders seksueel te mishandel (Gibson en Vandiver 2008:116).

Psigososiale aspekte: Die jong vroulike seksoortreder presenteer dikwels met emosionele probleme soos angs, depressie, swak konsentrasie en gedragsprobleme. Hierdie probleme kom reeds vanaf ’n vroeë ouderdom voor. Seksueel afwykende gedrag kan ’n reaksie wees op onopgeloste psigologiese behoeftes en misplaaste aggressie, of ’n herhaling van slagoffers se eie misbruik (James en Neil 1996:477; Schmidt en Pierce 2004:2). Volgens Vick e.a. (2002:16) kom die volgende psigiatriese versteurings by die jong vroulike seksoortreder in die volgende volgorde voor: posttraumatiese stresversteuring; depressie; As II-versteurings; gedragsversteuring; dissosiatiewe versteuring; selfbesering en middelmisbruik. As II-versteurings sluit sowel persoonlikheidsversteurings as verstandelike beperking in. Dit is ongelukkig nie duidelik of Vick e.a. (2002:8) na albei die aspekte van As II-versteurings verwys of nie. Alhoewel psigiatriese versteurings soos gemoedsversteurings (angs en depressie) en persoonlikheidsversteurings by sommige jong vroulike seksoortreders voorkom, is hulle nie psigoties nie (Saleh, Dwyer en Grudzinskas 2006:26; Gibson en Vandiver 2008:124). Hulle realiteitskontak is onaangetas en die seksuele misbruik kan dus nie aan ’n psigotiese episode toegeskryf word nie. Deur die bespreking van bogenoemde versteurings word daar nie gepoog om die gedrag van die jong vroulike seksoortreder slegs aan individuele psigopatologie te koppel nie.

Die verskynsel van vroulike jeug-seksoortreding is kompleks en verskillende faktore dra by tot die manifestering daarvan. Volgens Hoffman (1987), soos aangehaal deur Schoeman en Ferreira (2000:395), bied die ekologiese-sisteem-benadering ’n denkraamwerk wat menslike behoeftes en probleme interpreteer as die gevolg van interaksionele transaksies. Sodoende kan selfs komplekse probleme ontleed word. In teenstelling met die mediese model, wat neig om op probleme en behoeftes te fokus, bied die ekologiese–sisteem-benadering ’n nieliniêre oorsaaklikheidskonsep wat fokus op die persoon in geheel en nie slegs op individuele patologie nie. Die verskuiwing is dus weg van ’n liniêre denkraamwerk na ’n sirkulêre benadering, waar daar op interaksies en wedersydse beïnvloeding tussen sisteme gefokus word. Die jong vroulike seksoortreder kan in die raamwerk van die ekologiese- sisteem-benadering gekontekstualiseer word. Die ekologiese-sisteem-benadering bestaan uit onderskeie subsisteme, naamlik die mikro-, meso-, makro-, ekso- en chronosisteme.

Die mikrosisteem omsluit die sosiale kontekste waarin die individu in direkte kontak met belangrike ander individue verkeer (Ambrosino, Heffeman, Shuttlesworth en Ambrosino 2005:56). Die mikrosisteme van jong vroulike seksoortreders bestaan onder andere uit hulle biologiese ouers en die persone in hul wooneenhede (huisouers en ander kinders) by die betrokke inwoonsorgsentrum. Dit kan ook die seksoortreders insluit wat hulle seksueel misbruik het. Die mikrosisteem kan ook die liggaam (biologiese sisteme) van die individu omsluit, waaruit sekere patologieë soos depressie kan ontwikkel as gevolg van kontak met ander sisteme. Die interaksie met en tussen die verskillende sisteme, hetsy menslike en/of biologiese sisteme, kan funksioneel of disfunksioneel van aard wees. Die aard van die verhouding (funksioneel of disfunksioneel) met ander sisteme en subsisteme sal weer in die gedrag van die individu manifesteer.

Die mesosisteem omsluit verhoudings tussen die mikrosisteme en die verband tussen gebeure wat in die onderskeie mikrosisteme plaasvind (Ambrosino e.a. 2005:56). Die aard van die verhouding (funksioneel of disfunksioneel) tussen die mikrosisteme kan op mesosistemiese vlak ’n invloed op die individu uitoefen. Die verhouding (mesosisteem) tussen ’n meisie (mikrosisteem) wat seksueel deur haar vader (mikrosisteem) misbruik was en lede van die teenoorgestelde geslag (mikrosisteem) kan disfunksioneel (vermydend of seksueel uitlokkend) wees, as gevolg van die seksuele misbruik waaraan sy blootgestel was.

Die kontekste waaraan ’n individu nie direk deelneem nie, maar waarin besluite aangaande die individu geneem word, word die eksosisteem van daardie individu genoem (Ambrosino e.a. 2005:56). Die eksosisteem van die jong vroulike seksoortreders omsluit onder meer die bestuurs- en die multidissiplinêre professionele terapeutiese span van die betrokke inwoonsorgsentrum in. Hierdie spanne besluit byvoorbeeld oor die aard van die terapeutiese hulpverlening vir die kinders in die sentrum. Die besluite wat geneem word, het ’n direkte impak op die kind, soos byvoorbeeld die jong vroulike seksoortreder, maar die kind neem nie noodwendig aktief aan die besluitnemingsproses deel nie.

Die makrosisteem kan gesien word as ’n bloudruk wat die institusionele bestaan van die gemeenskap definieer en organiseer (Ambrosino e.a. 2005:56). ’n Land se wette wat byvoorbeeld die hantering van seksueel misbruikte kinders deur die regs- en welsynsisteme omskryf, kan as ’n voorbeeld van die makrosisteem dien. Die wette kan ’n impak op al die bogenoemde sisteme hê. Kultuur is ook ’n voorbeeld van een van die aspekte van die makrosisteem wat ’n effek op die individu kan hê. In die konteks van hierdie studie, op ’n veel kleiner skaal, kan die inwoonsorgsentrum ook as ’n makrosisteem vir sy inwoners dien. Daar kan byvoorbeeld ’n subkultuur van seksuele misbruik onder jeugdige meisies in ’n inwoonsorgsentrum ontwikkel.

Die chronosisteem is die vyfde sisteem in die ekologiese sisteem. Die chronosisteem behels die verloop van gebeure en die ontwikkeling in ’n individu se omgewing wat patrone oor tyd vorm (Sigelman en Rider 2006:22). Daar behoort gevolglik gelet te word op die verloop van gebeure in die jong vroulike seksoortreder se lewe om te kan verstaan waarom een gebeurtenis tot ’n ander gebeurtenis kan lei. Meisies wat ander meisies seksueel misbruik, wat self seksueel misbruik was (herhaling van gedrag waaraan hulle oor tyd blootgestel was), kan as voorbeeld dien van interaksionele patrone wat oor tyd ontwikkel.



3. Navorsingsmetodologie

Die navorsingsmetodologie word aan die hand van die navorsingsparadigma, die steekproef, die metode van data-insameling, die metode van dataverwerking, etiese aangeleenthede en die kredietwaardigheid van hierdie navorsingstudie bespreek.

’n Kwalitatiewenavorsingsparadigma met kwantitatiewe elemente is in die ondersoek na die voorkoms, frekwensie en aard van seksuele kontak onder jeugdige meisies in ’n inwoonsorgsentrum benut. Corbin (2008, par. 63), in Corbin en Strauss (2008, par. 63), noem dat wanneer kwalitatiewe navorsing gedoen word, die aard daarvan verduidelik moet word, en sy stel dit soos volg:

Researchers should be very clear at the beginning of a study what they are setting out to do. If the goal is to do description, then fine, do so. [...] However, if the goal is to develop theory, the findings should be integrated to form an overarching theoretical explanatory scheme. Too often persons do description and call it theory, leaving the reader confused about what is theory and what not.

Die doel van die empiriese ondersoek behels primêr die verkryging van inligting aangaande seksuele misbruik tussen jeugdige meisies in ’n inwoonsorgsentrum. Die doel van die navorsing was dus nie noodwendig om nuwe teorie aangaande die verskynsel te ontwikkel nie, maar eerder om die verskynsel binne ’n sekere konteks deur middel van ’n literatuur- en empiriese studie te verken, te beskryf en te verklaar.

’n Gestratifiseerde, doelgerigte steekproef is benut om die deelnemers volgens voorafbepaalde kriteria, relevant tot die navorsingsvraag, te selekteer (Nieuwenhuis 2007:79). In hierdie geval het die volgende kriteria gegeld: die potensiële deelnemers moes inwoners van ’n spesifieke inwoonsorgsentrum wees, en geslag en ouderdom het as verdere insluitingskriteria gedien. Die meisies se ouderdomme het tussen sewe en 18 jaar gewissel. Daar is met 29 uit die beskikbare 38 deelnemers wat potensieel aan die ondersoek kon deelneem, onderhoude gevoer. Nege meisies het om die volgende redes nie aan die ondersoek deelgeneem nie: vyf meisies was uit op naweekbesoeke by hulle ouers ten tyde van die ondersoek; een meisie het nie toestemming tot deelname verleen nie; en ’n verdere drie meisies was nie Engels of Afrikaans magtig nie. Soos bo aangedui, is Gibson en Vandiver (2008:117) van mening dat minstens 30 deelnemers nodig is om akkurate navorsingsbevindings te maak. Hulle merk egter tereg op: “[I]t becomes practically impossible for a researcher to find that many girls who have committed sexual offences” (2008:117). Die aantal deelnemers (29) is dus na aan die ideaal van 30 deelnemers vir die uitvoering van ’n navorsingsprojek.

Data is deur middel van gestruktureerde onderhoude ingesamel. Nieuwenhuis (2007:87) dui aan dat vrae vooraf vir gestruktureerde onderhoude ontwikkel word en dat dit dikwels vir veelvoudige gevallestudies benut word. Die gestruktureerde onderhoude is aan die hand van die “Sixteen steps towards legally sound sexual abuse investigations”-protokol (Hindman 1987:3–42) gevoer. Genoemde protokol bestaan uit sestien stappe wat gevolg kan word om die moontlikheid van seksuele misbruik te ondersoek. Nie al die stappe, soos in Tabel 1 verduidelik word, het per se betrekking op die onderhoud gehad nie. Diepte in die onderhoude word bereik deurdat dat daar verder op die antwoorde van deelnemers onder elke stap ingevra kan word.

Tabel 1. Die sestien stappe tot regsgeldige seksuele-misbruik-ondersoeke (Hindman 1987)


Stappe

Beskrywing

1
Voorondersoek-kontrolelys

Tydens hierdie stap doen die onderhoudvoerder selfondersoek, onder andere aangaande sy/haar houding jeens seksuele misbruik en kinders. Voorbereiding ten opsigte van die onderhoudsomgewing en die struktuur van die onderhoud word ook gedoen.

2
Stel die verhouding gelyk

Verskeie tegnieke word benut om die verhouding tussen die onderhoudvoerder en die kind wat na bewering seksueel mishandel is, gelyk te stel. Die kind moet die onderhoudvoerder anders as ander volwassenes ervaar; die onderhoudvoerder moet hom-/haarself as ’n kindvriendelike persoon bekendstel.

3
Bekendstelling van self

Eers nadat die verhouding tussen die onderhoudvoerder en die kind gelykgestel is, stel die onderhoudvoerder hom-/haarself bekend.

4
Plant die saad

In stap vier word daar bondig na die rede vir die onderhoud verwys. Om angs by die kind te voorkom, word daar vinnig wegbeweeg van die doel van die onderhoud deur aan die kind te verduidelik dat verskillende vorme van aanraking bespreek gaan word.

5
Aanraking, aanraking, aanraking

Die onderhoudvoerder bespreek en verduidelik goeie aanraking (byvoorbeeld drukkies), slegte aanraking (byvoorbeeld skop en knyp) en geheime aanraking (betasting van geslagsdele).

6
Toets, toets, 1–2–3

Vervolgens word die kind se begrip van die verskillende tipes aanraking herhaaldelik getoets om te verseker dat die kind én die onderhoudvoerder dieselfde betekenis aan die verskillende vorme van aanraking heg.

7
Die anatomies-korrekte poppe

Anatomies-korrekte poppe kan benut word as hulpmiddel en word op ’n spesifieke wyse aan die kind voorgestel. Indien anatomies- korrekte poppe nie benut word nie, moet die onderhoudvoerder na stap nege beweeg. (Anatomies-korrekte poppe is nie in die onderhoud vir hierdie navorsingsprojek benut nie. Stap agt is dus ook nie hanteer nie.)

8
Die menslike verband

Indien poppe benut word, moet die onderhoudvoerder sekere tegnieke aanwend om die verband tussen ’n nierealistiese modaliteit (poppe) en werklike persone aan die kind te verduidelik. Die kind moet byvoorbeeld verstaan dat ’n pop met swart hare en blou oë ’n persoon met bruin hare en groen oë in die werklike lewe kan voorstel.

9
Aanraking-probleme: Wys my, vertel my

In hierdie stap word die kind gevra om aanrakingsprobleme te demonstreer. (Hierdie is nie ’n leidende vraag nie, aangesien verskillende vorme van aanraking aan die kind in stap vyf verduidelik is.) Verskeie tegnieke kan benut word.

10
Identifiseer – Identifiseer

Indien die kind in die voorafgaande stap seksueel ontoepaslike gedrag aangedui het, moet die identiteit van die oortreder deur die onderhoudvoerder bepaal word.

11
Wat het gebeur? Wat nog?

Die besonderhede van die seksuele aktiwiteite moet deur die onderhoudvoerder verkry word. (Stappe 11 en 12 kan omgeruil word.)

12
Wie? Wat? Wanneer? Waar? Hoe?

Randinligting ten opsigte van die seksuele misbruik word verkry.

13
Wie nog?

Nadat volledige inligting rakende die oortreder, die randinligting en die aard van die seksuele misbruik waaraan die kind blootgestel was, verkry is, moet bepaal word of daar nie enige ander oortreders is nie.

14
Waarheid of leuen?

Die kind se konsep van waarheid en leuen word bepaal en die kind word gevra of sy vertel het “wat regtig gebeur” het.

15
Na-bekendmaking- verpligtinge

Die onderhoudvoerder moet sy/haar gebeurlikheidsplan in werking stel indien die kind seksuele misbruik bekend gemaak het, of dit ontken het, of daar onsekerheid bestaan of die kind seksueel mishandel is, al dan nie.

16
Voorbereiding vir die regsproses

Die onderhoudvoerder volg verskeie substappe om haarself vir die regsproses voor te berei, indien nodig. (In hierdie geval is die kinders na die maatskaplike werker verbonde aan die sentrum verwys en ’n navorsingsverslag is ook geskryf.)


Data wat met die toepassing van die sestien-stappe-protokol verkry is, is volgens die beginsels van die begrondingsteorie (grounded theory) verwerk en geïnterpreteer. Hierdie metode word verkies, aangesien dit ’n benadering is wat navorsers toelaat om ’n relatief onbekende maatskaplike fenomeen te bestudeer waaroor daar nog nie ’n spesifieke teorie bestaan nie (Babbie en Mouton 2001:499).

Aangesien die deelnemers minderjarige kinders was, is eties korrekte optrede as van kardinale belang geag. Etiese aspekte is soos volg aangespreek: Toestemming is van die hoof van die betrokke inwoonsorgsentrum verkry om die navorsing by die betrokke sentrum te onderneem. Die naam van die betrokke sentrum, stad en provinsie waar dit geleë is, word nie geïdentifiseer nie. Sodoende word die identiteit van die deelnemers beskerm. Onderhoude is individueel met die deelnemers gevoer. Die deelnemers is verseker dat deelname nie verpligtend was nie. Weiering om aan die navorsing deel te neem sou die betrokke kind op geen wyse negatief beïnvloed nie. Deelnemers is ook ingelig dat hulle enige tyd aan die onderhoud kon onttrek, selfs al het hulle aanvanklik toestemming tot deelname verleen. Die deelnemers is ook deurentyd die geleentheid gebied om vrae te vra indien hulle onseker of ongemaklik sou voel aangaande enige aspek rakende die onderhoud. Na afloop van die onderhoude is die deelnemers aangemoedig om enige emosionele ongemak wat hulle moontlik weens die onderhoude kon ervaar, met hulle betrokke huismoeders en/of die maatskaplike werker van die sentrum op te neem. Na afloop van die onderhoude is die deelnemers die geleentheid gebied om vrae aan die navorsers te stel om sodoende enige vrese/onduidelikhede te kon aanspreek.

Nadat die navorsingsproses afgehandel is, is ’n volledige navorsingsverslag geskryf en ’n afskrif daarvan aan die hoof van die betrokke sentrum oorhandig. Die hoof van die betrokke sentrum is dus ingelig oor die omvang van die voorkoms van die verskynsel en die betrokke sentrum kon die nodige stappe doen om dit terapeuties aan te spreek.

Etiese aangeleenthede omsluit nie slegs aspekte aangaande die deelnemer nie, maar ook aspekte rakende die navorsingsproses, waaronder objektiwiteit. Die objektiwiteit van die navorsers is ’n veranderlike wat noodwendig verreken behoort te word, veral aangesien daar vanuit ’n kwalitatiewe paradigma navorsing gedoen is. Derhalwe is dit nodig om ’n aantal faktore uit te lig wat tydens die ondersoek ’n rol kon speel in die insameling en interpretering van die data. Hierdie faktore behels onder meer die volgende aspekte: Nie een van die navorsers het ’n persoonlike geskiedenis van blootstelling aan seksuele misbruik nie. Dit verhoog objektiwiteit, aangesien oordrag nie sonder meer geaktiveer kon word nie. Connolly (2008:173) noem ras en geslag as belangrike faktore in navorsing by kinders: die geslag en ras van die navorser kan ’n effek op die kind as deelnemer in die navorsingsproses hê.

Die noodsaaklikheid om bogenoemde faktore in die navorsingsproses te verreken, kan soos volg in die woorde van Connolly (2008:174) opgesom word:

[I]t is impossible to divorce the researcher from the research process itself, as if the latter can be undertaken in a clinical and objective manner. Rather, the research process is inevitably a product of the relationships forged between the researcher and the research participants, and will therefore ultimately reflect the decisions made and approaches taken by the researcher as well as the particular response adopted by the participants to these.

Ras, geslag en persoonlike geskiedenis is faktore wat gevolglik in ag geneem is ten einde objektiwiteit te verhoog. Die navorsers is professioneel opgelei om onder andere persone van verskillende ouderdomme, geslagte en rasse terapeuties te hanteer. Sensitiwiteit vir ouderdom, geslag en ras en ouderdom het objektiwiteit waarskynlik verhoog. Aangesien die navorsers wat die onderhoude met die deelnemers gevoer het, vroulik is, het dit die proses waarskynlik vergemaklik. Soos onder aangedui, is ’n aanvaarde gevestigde protokol vir die assessering van kinders wat moontlik seksueel misbruik is, as riglyn benut om die gestruktureerde onderhoude te doen. Hierdie werkswyse is gevolg om objektiwiteit en maksimum effektiwiteit van die verkreë inligting te verhoog.

Volgens Babbie en Mouton (2001:276) en Maree en Van der Westhuizen (2007:38) behels die kristalliseringsproses die benutting van bevindings van verskeie ondersoekers, bronne en metodes wat met mekaar vergelyk word. Die kredietwaardigheid en betroubaarheid van hierdie studie word verhoog deurdat verskeie navorsers onderhoude gevoer het met ’n relatief hoë aantal deelnemers (29) van verskeie ouderdomme en die verkreë data deur middel van die beginsels van die begrondingsteorie se koderingsmetode ontleed en vergelyk is. Sodoende kon kristallisering plaasvind. Daar is egter nie verskillende metodes benut om die data in te samel nie. Slegs die “Sixteen steps towards legally sound sexual abuse investigations”-protokol (Hindman 1987:3–42) is benut as metode om die data in te samel.

3.1 Beperkinge van die studie

Met die bespreking van die resultate behoort in ag geneem te word dat dit nie na die algemene bevolking veralgemeen kan word nie. Verskeie redes bestaan hiervoor. Eerstens is die steekproef relatief klein. Tweedens is die deelnemers almal woonagtig in een spesifieke inwoonsorgsentrum wat in een stad van ’n spesifieke provinsie van Suid-Afrika geleë is. Die deelnemers verteenwoordig dus nie die algemene bevolking nie. Derdens was die spesifieke deelnemers op ’n gegewe tydstip saam in die betrokke sentrum. (Sien die verduideliking van die begrip chronosisteem bo.) Dit impliseer dat die resultate van een navorsingsprojek kan verskil van ander navorsingsprojekte se resultate indien die studie op ’n ander tydstip, wanneer ander meisies in die sentrum opgeneem is, herhaal sou word.



4. Resultate en bespreking

Die aanvanklike fokus van die studie was die bepaling van die voorkoms, frekwensie en aard van moontlike seksuele misbruik onder jeugdige meisies in ’n inwoonsorgsentrum. Met die ontleding van die data is bykomende temas geïdentifiseer. Al die geïdentifiseerde temas word ter wille van volledigheid aangedui.

4.1 Deelnemers se persoonlike geskiedenis as slagoffers van seksuele misbruik

Die meerderheid deelnemers was voor hulle opname in die betrokke inwoonsorgsentrum blootgestel aan een of ander vorm van seksuele misbruik. Die meeste van die oortreders in hierdie gevalle was ’n familielid. Volgens NCFV (2005:3), Hendriks en Bijleveld (2006:35) en Miccio-Fonseca (2010:745) kom daar in die geskiedenis van sommige jong seksoortreders fisieke mishandeling, seksuele misbruik en/of verwaarlosing voor.

4.2 Kategorieë van kennis aangaande die voorkoms van seksuele misbruik

Vier kategorieë is geïdentifiseer waarin die deelnemers verdeel kan word ten opsigte van hulle kennis en gedrag aangaande seksuele misbruik wat in die betrokke sentrum voorkom. Die vier kategorieë behels eerstens deelnemers wat nie kennis dra van enige vorm van seksuele misbruik nie; tweedens, deelnemers wat kennis dra van niekonsensuele seksuele misbruik; derdens, deelnemers wat kennis dra van konsensuele seksuele misbruik; en die laaste kategorie behels deelnemers wat kennis dra van die sogenaamde seksoortreders. Hierdie vier kategorieë word vervolgens kortliks bespreek.

4.2.1 Kategorie een: Deelnemers wat nie kennis dra van enige vorm van seksuele misbruik nie

Ses deelnemers het aangedui dat hulle nie kennis dra van enige vorm van seksuele misbruik wat in die sentrum voorkom nie. Dit het egter gedurende die onderhoude na vore gekom dat die meerderheid van die deelnemers wat aangedui het dat hulle nie kennis dra van enige vorm van seksuele misbruik in die inwoonsorgsentrum nie, deur ander deelnemers as oortreders uitgewys is. Hulle het dus waarskynlik enige kennis aangaande seksuele misbruik onder die meisies ontken om hulleself te beskerm. Volgens die NCFV (2005:2) maak jong seksoortreders selde hulle seksueel-mishandelende gedrag bekend of wend hulle enigsins vanself ’n poging aan om behandeling te kry. Die mening word gehuldig dat die deelnemers wat as oortreders uitgewys is, enige kennis van seksuele misbruik ontken, aangesien hulle moontlik gevrees het dat hulle vir hulle praktyke gestraf sou word.

4.2.2 Kategorie twee: Deelnemers wat kennis dra van niekonsensuele seksuele kontak

Jong seksoortreders gebruik dikwels dwang en dreigemente teenoor hulle portuurgroep of ouer slagoffers in die proses van die seksuele misbruik (NCFV 2005:2). Die meerderheid deelnemers wat by niekonsensuele seksuele kontak betrokke was, het aangetoon dat daar ’n vorm van dwang teenwoordig was. Volgens NCFV (2005:2) verstaan slagoffers dikwels nie wat met hulle gebeur nie, aangesien oortreders hulle mag en gesag misbruik, asook gebruik maak van omkopery, misleiding of afpersing tydens die seksuele misbruik. Die ouer kind sal dus voortgaan met die misbruik, omdat sy die jonger kind se vrees en huiwering om te kla interpreteer as ’n teken van toestemming.

In twee gevalle het deelnemers vertel dat hulle geslaap het tydens die voorvalle van seksuele misbruik. Een van die betrokke deelnemers het byvoorbeeld vertel dat sy die volgende oggend pyn in haar vagina ervaar het. Ander deelnemers het vertel dat hulle persoonlik van hierdie voorvalle waargeneem het. Dit kan dus nie aan die “verbeelding” van die seksuele slagoffers toegeskryf word nie. Die mening word gehuldig dat ’n vorm van dissosiasie by bogenoemde slagoffers kon voorgekom het, omdat hulle aangedui het dat hulle nie bewus van die seksuele misbruik was nie. Volgens Barlow en Durand (2005:188) is dissosiasie ’n gevoel van losmaking van hulself en die omgewing wat individue ervaar. Persone ervaar byvoorbeeld dat hulle in ’n droomstaat leef. ’n Moontlike rede vir die “onbewustheid” van die slagoffers is dus dat die verleentheid en vrees ten opsigte van die misbruik so groot was dat dit dissosiasie veroorsaak het. ’n Skeiding tussen realiteit en bewussyn het dus ontwikkel.

4.2.3 Kategorie drie: Deelnemers wat kennis dra van konsensuele seksuele kontak

Die meeste meisies wat “konsensuele” seksuele aktiwiteite beoefen, was in dieselfde wooneenheid van die betrokke inwoonsorgsentrum woonagtig. Afstand en beskikbaarheid speel dus skynbaar ’n belangrike rol in die beoefening van seksuele aktiwiteite onder die meisies.

Tydens die onderhoude het dit na vore gekom dat beide partye soms “toestemming” verleen om die seksuele dade met mekaar te beoefen en dat van die jonger meisies die seksuele aktiwiteit selfs inisieer. Dit sluit aan by Richardson (2005:267), wat bevind het dat die sogenaamde oortreders ook in die slagoffer-groep val.

4.2.4 Kategorie vier: Deelnemers wat kennis dra van die identiteit van die sogenaamde seksoortreders

Meisies wat deur die ander deelnemers as seksoortreders geag word, val meestal in die ouderdomsgroep van 13 tot 14 jaar. Volgens Gibson en Vandiver (2008:117–8) is die gemiddelde ouderdom waarop die seksoortredings ’n aanvang neem, 14 en 15 jaar. Hierdie bevindings stem dus ooreen met dié van Gibson en Vandiver (2008:117–8).

4.3 Aard, frekwensie en aantal deelnemers betrokke by die seksuele misbruik

Soos in afdeling 2 aangedui, kan seksuele oortredings breedweg in twee kategorieë verdeel word, naamlik niekontak seksuele misbruik en kontak seksuele misbruik. Seksuele praatjies, naaktheid, voyeurisme, ekshibisionisme en pornografie is voorbeelde van niekontak seksuele misbruik, terwyl kontak seksuele misbruik betasting, masturbasie, flagellasie, frotteurisme, pornografie, bestialiteit, orale seks, gesimuleerde/droë omgang en penetrasie insluit (vgl. James en Neil 1996:478; Van Wyk 1999:54–7).

Die tipes seksuele misbruik waaraan deelnemers blootgestel word, is van hoogste na laagste voorkoms soos volg: betasting, vinger-penetrasie, voyeurisme, liefkosing/intieme soenery, pornografie en droë seks. Bevindings toon dat die frekwensie van vinger-penetrasie, liefkosing/intieme soen, asook voyeurisme bykans op ’n daaglikse basis voorkom. Die hoë frekwensie van die voorkoms van die seksuele handelinge wek kommer, aangesien Miccio-Fonseca (2010:745) aandui dat hoe meer slagoffers die jong seksoortreder het, hoe groter is die kanse dat die gedrag (seksuele mishandeling van ander), herhaal sal word.

Binne hierdie konteks (opname in ’n inwoonsorgsentrum) kan vinger-penetrasie onder meisies moontlik as ’n plaasvervanger vir seks tussen meisies en seuns beskou word, aangesien kontak met seuns nie geredelik moontlik is nie. Daar bestaan dus nie sekerheid of die konteks homoseksuele seksuele handelinge bepaal nie.

Aansluitend by vinger-penetrasie kom betasting op ’n gereelde basis voor: ongeveer drie tot vier keer per week. Dit blyk dus dat daar ’n verband tussen die voorkoms van betasting en die voorkoms van vinger-penetrasie is. In vergelyking met James en Neil (1996:483) se bevindings oor die tipes seksuele misbruik wat plaasvind, is daar slegs een van die vorme van seksuele misbruik wat oorvleuel met dié van die navorsers se bevindings, naamlik voyeurisme.

4.4 Plek en tyd van voorkoms

Die seksuele misbruik het gewoonlik in die slaapkamers van die deelnemers plaasgevind. In uitsonderlike gevalle het die seksuele misbruik in die TV-kamer, badkamer en kombuis van die onderskeie wooneenhede van die betrokke sentrum voorgekom. Uit die onderhoude blyk dit dat die seksuele misbruik gedurende die dag en nag in die slaapkamers voorkom, maar dat dit slegs gedurende die dag in die kombuis, badkamer en TV-kamer plaasgevind het.

4.5 Bekendmaking en selfbeskerming

’n Groot aantal deelnemers is bewus van die seksuele misbruik wat in die inwoonsorgsentrum plaasvind, maar hulle maak dit nie bekend nie. Twee deelnemers het gedurende die onderhoude genoem dat hulle seksuele misbruik aangemeld het, maar dat daar nie op die klagtes gereageer is nie. Van die slagoffers kan dus moontlik ervaar dat daar nie genoegsame emosionele ondersteuning en beskerming met die bekendmaking van die seksuele misbruik gebied word nie, en daarom word dit nie geredelik bekend gemaak nie. Dit blyk dat die bekendmaking van seksuele misbruik ’n komplekse aangeleentheid is wat op verskillende vlakke hanteer behoort te word en dat ’n enkele beleidstuk waarin die anonimiteit van die klaer beskerm word, nie voldoende is nie (Karjane, Fisher en Cullen 2005, par. 180). Volgens Alaggia (2010:36) word bekendmaking beïnvloed deur die kind se karaktereienskappe en persoonlike geskiedenis, gesinsdinamika, die gemeenskapskonteks, asook kulturele en samelewingsfaktore. Dit is dus duidelik dat die bekendmakingsproses van seksuele misbruik ’n multidimensionele, komplekse aangeleentheid is.

Sommige deelnemers poog om die seksuele misbruik te voorkom deur sekere tegnieke te gebruik om hulself en ander te beskerm. Beddens word byvoorbeeld op ’n sekere wyse geposisioneer en slagoffers bad of stort net op sekere tye om sodoende die “oortreder” te vermy.



5. Samevattende gevolgtrekkings

Die volgende samevattende gevolgtrekking word gemaak:

  1. Die meeste deelnemers was reeds voor hulle opname in die inwoonsorgsentrum slagoffers van seksuele misbruik
  2. Sommige deelnemers is slagoffers van seksuele misbruik in die inwoonsorgsentrum; ander deelnemers het met toestemming aan seksuele handelinge deelgeneem, en sekere deelnemers kan as seksoortreders geag word.
  3. ’n Groot aantal deelnemers is aan kontak en/of niekontak seksuele misbruik blootgestel.
  4. Die seksuele misbruik kom gewoonlik in die slaapkamers van die deelnemers voor.
  5. Alhoewel ’n groot aantal deelnemers bewus is van die seksuele misbruik, maak hulle dit nie bekend nie.
  6. Van die deelnemers het genoem dat daar nie op hulle klagtes oor die seksuele misbruik gereageer word nie.
  7. Sommige deelnemers het aangedui dat hulle sekere aksies uitvoer (stort net byvoorbeeld op sekere tye) om aan seksuele misbruik te ontkom.


6. Aanbevelings

Aanbevelings vir beleid, die praktyk, teorie en verdere navorsing volg:

6.1 Aanbevelings ten opsigte van beleid

Aangesien bekendmaking van seksuele misbruik ’n multidimensionele, komplekse proses is, behoort dit op verskillende sistemiese vlakke hanteer te word. Dit behoort in die beleid van sentrums vervat te word dat alle kinderversorgers verplig is om opleiding te ondergaan ten opsigte van die hantering van die bekendmaking van seksuele misbruik, asook om bekendmakings aangaande seksuele misbruik by die bestuur aan te meld. Die vertroulike hantering van bekendmaking van gevalle van seksuele misbruik behoort ook in beleid gewaarborg te word (Karjane e.a. 2005, par. 180).

In beleidstukke behoort ’n werksprotokol uitgestippel te word wat gevolg moet word wanneer seksuele misbruik aangemeld word. Die werksprotokol behoort die hantering van die slagoffer van seksuele misbruik en die hantering van die beweerde oortreder afsonderlik aan te spreek.

6.2 Aanbevelings vir die praktyk

Dit is van kardinale belang is dat alle kinderversorgers in sentrums opgelei moet word in die hantering van bekendmakings aangaande beweerde seksuele misbruik. Kinders moet ervaar dat hulle bekendmaking positiewe gevolge vir hulle sal inhou en dat hulle bekendmaking van die beweerde seksuele misbruik met erns bejeën sal word.

Volgens Walker en McCormick (2004:246) is strafgebaseerde wyses van intervensie, waar die oortreders vir kort periodes in ’n sentrum opgeneem word, nie effektief nie, en is dit is noodsaaklik dat die oortreder sou gou moontlik vir groepspsigoterapie moet inskakel. Aangesien die psigodinamika van die jong vroulike seksoortreder kompleks is, word die mening gehuldig dat vooraf-uitgewerkte terapeutiese programme wat nie die unieke psigodinamika van elke jong vroulike seksoortreder in ag neem nie, liefs vermy behoort te word. Daar word vermoed dat die sukseskoers van die psigoterapeutiese behandeling beter sal wees wanneer die unieke psigodinamika van elke oortreder in ag geneem word. Daar moet dus terapeutiese dienste spesifiek vir die jong vroulike seksoortreder geskep word, aangesien dit volgens Miccio-Fonseca en Rasmussen (2009:121) gewoonlik nie geredelik beskikbaar is nie.

Voorkomingsprogramme ten opsigte van die voorkoming van seksuele misbruik vir die algemene bevolking sowel as vir geïdentifiseerde risikogroepe in inwoonsorgsentrums behoort aangebied te word (Karjane e.a. 2005, par. 180).

6.3 Aanbevelings vir die uitbouing van die teorie deur verdere navorsing

Dit is ooglopend dat hierdie verskynsel (meisies wat ander meisies seksueel misbruik) in meer diepte ondersoek behoort te word. Kwantitatiewe navorsing kan byvoorbeeld in Suid-Afrika gedoen word om die omvang van die verskynsel onder die gewone bevolking, asook onder die bevolking meisies wat in sentrums opgeneem is, te bepaal. Gestandaardiseerde vraelyste kan in die studies benut word.

Daar word vermoed dat die psigodinamika van seksuele misbruik onder meisies in die algemene bevolking en die bevolking meisies in ’n sentrum kan verskil. Kwalitatiewe ondersoeke kan gedoen word na die moontlike nuanseverskille van die psigodinamika van meisies wat ander meisies in die algemene bevolking seksueel misbruik en meisies wat in sentrums opgeneem is wat ander meisies seksueel mishandel. Sodoende kan duidelike profiele van die onderskeie bevolkings saamgestel word. Dit kan ook ’n effek hê op die wyses waarop die verskillende bevolkings terapeuties hanteer word.



7. Slot

Gebrekkige navorsing aangaande jong vroulike seksoortreders kom voor. Gevolglik is ’n navorsingsprojek geloods om ondersoek in te stel na seksuele misbruik onder minderjarige meisies in ’n inwoonsorgsentrum om die vakuum in die navorsing te help aanspreek.

Gestruktureerde onderhoude in die konteks van ’n kwalitatiewenavorsingsparadigma, met kwantitatiewe elemente, is met 29 deelnemers gevoer nadat hulle deur middel van ’n gestratifiseerde doelgerigte steekproef geïdentifiseer is. Die bevindings is aan die hand van die beginsels van die begrondingsteorie ontleed.

Verskeie bevindings is gemaak, waaronder die volgende:

  1. Daar is bevind dat seksuele misbruik onder van die meisies in die inwoonsorgsentrum voorkom.
  2. Die aard van die seksuele dade wissel van voyeurisme (niekontak seksuele misbruik) tot vinger-penetrasie (kontak seksuele misbruik).
  3. Seksuele misbruik kom in veral die slaapkamers van die wooneenhede van die meisies voor, maar dit geskied ook in die TV-vertrekke en kombuise.
  4. Van die slagoffers van die seksuele misbruik het ook tegnieke ontwikkel om aan die misbruik te ontkom deur byvoorbeeld net sekere tye te stort om die oortreder te vermy.


Bibliografie

Alaggia, R. 2010. An ecological analysis of child sexual abuse disclosure: Considerations for child and adolescent mental health. Journal of the Canadian Academy of Child and Adolescent Psychiatry, 19(1):32–9.

Ambrosino, R., J. Heffeman, G. Shuttlesworth en R. Ambrosino. 2005. Social work and welfare: An introduction. 5de uitgawe. Belmont: Thomson.

Babbie, E. en J. Mouton. 2001. The practice of social research. Suid-Afrikaanse uitgawe. Kaapstad: Oxford University Press.

Baker, J.L., P.A. Curtis en C. Papa-Lentini. 2006. Sexual abuse histories of youth in child welfare residential treatment centers: Analysis of the odyssey population. Journal of Child Sexual Abuse, 15(1):29–49.

Barlow, D.H. en V.M. Durand. 2005. Abnormal psychology: An integrative approach. 4de uitgawe. Belmont: Thomson.

Bunting, L. 2007. Dealing with a problem that doesn’t exist? Professional responses to female perpetrated child sexual abuse. Child Abuse Review, 16:252–67.

Christensen, P. en A. James (reds.). 2008. Research with children: Perspectives and practices. 2de uitgawe. New York: Routledge.

Connolly, P. 2008. Race, gender and critical reflexivity in research with young children. In Christensen en James (reds.) 2008.

Corbin, J. en A. Strauss. 2008. Basics of qualitative research: Techniques and procedures for developing grounded theory. 3de uitgawe. Thousand Oaks: Sage. Kindle-uitgawe.

Denov, M.S. 2003. The myth of innocence: Sexual scripts and the recognition of child sexual abuse by female perpetrators. The Journal of Sex Research, 40(3):303–14.

Dove, M.K. en K.L. Miller. 2007. Child sexual abuse: What every educator should know. The Delta Kappa Gamma Bulletin, 73(3):22–5, 45.

Erooga, M. en H. Masson (reds.). 2006. Children and young people who sexually abuse others: Current developments and practices. 2de uitgawe. Londen: Routledge.

Gibson, C. en M. Vandiver. 2008. Juvenile sex offenders. What the public needs to know. Londen: Praeger.

Hendriks, J. en C.C.J.H. Bijleveld. 2006. Female adolescent sex offenders – an exploratory study. Journal of Sexual Aggression, 12(1):31–41.

Hickey, N., E. McCrory, E. Farmer en E. Vizard. 2008. Comparing the developmental and behavioural characteristics of female and male juveniles who present with sexually
abusive behaviour. Journal of Sexual Aggression, 14(3):241–52.

Hindman, J. 1987. Step by step. Sixteen steps toward legally sound sexual abuse investigations. Baker City: Alexandria Associates.

James, A.C. en P. Neil. 1996. Juvenile sexual offending: One-year period prevalence study within Oxfordshire. Child Abuse and Neglect, 20(6):477–85.

Johansson-Love, J. en W. Fremouw. 2009. Female sex offenders: a controlled comparison of offender and victim/crime characteristics. Journal of Family Violence, 24(1):367–76.

Johnson, C.F. 2004. Child sexual abuse. Lancet, 364:462–70.

Karjane, H.M., B.S. Fisher en F.T. Cullen. 2005. Sexual assault on campus: What colleges and universities are doing about it. Washington, DC: National Institute of Justice. Kindle-uitgawe: http://www.amazon.com.

Koonin, R. 1995. Breaking the last taboo: Child sexual abuse by female perpetrators. Australian Journal of Social Issues, 30(2):195–210.

Maree, K. (red.). 2007. First steps in research. Pretoria: Van Schaik.

Maree, K. en C. van der Westhuizen. 2007. Planning a research proposal. In Maree (red.) 2007.

Miccio-Fonseca, L.C. 2010. MEGA: An ecological risk assessment tool of risk and protective factors for assessing sexually abusive children and adolescents. Journal of Aggression, Maltreatment & Trauma, 19(7):734–756.

Miccio-Fonseca L.C. en L.A. Rasmussen. 2009. New nomenclature for sexually abusive youth: Naming and assessing sexually violent and predatory offenders. Journal of Aggression, Maltreatment & Trauma, 18(1):106–128.

NCFV (National Clearing House on Family Violence). 2005. Adolescent sex offenders. Kanada: NCFV Public Health Agency. http//www.phac-aspc.gc.ca/ncfv-cnivf/familyviolence/NCFV.

Nicholas, L.J. 2008. Assessing unwanted early sexual experiences in a South African sample. Journal of Sex and Marital Therapy, 34(1):45–9.

Nieuwenhuis, J. 2007. Qualitative research designs and data gathering techniques. In Maree (red.) 2007.

Richardson, G. 2005. Early maladaptive schemas in a sample of British adolescent sexual abusers: implications for therapy. Journal of Sexual Aggression, 11(3):259–76.

Saleh, F.M., R.G. Dwyer en A. Grudzinskas. 2006. An integrated look at dually diagnosed female sex offenders and the law. Journal of Dual Diagnosis, 3(1):23–32.

Schmidt, S. en K. Pierce. 2004. What research shows about female adolescent sex offenders. Oklahoma: Universiteit van Oklahoma.

Schoeman, H.P. en S.B. Ferreira. 2000. Regverdiging vir ’n ekologiese benadering tot geweld teenoor vroue in saamwoon- en huweliksverhoudings. Social Work/Maatskaplike Werk, 36(4):388–404.

Scott, J. en P. Telford. 2006. Similarities and differences in working with girls and boys who display sexually harmful behaviour: The journey continues. In Erooga en Masson (reds.) 2006.

Sigelman, C.K. en E.A. Rider. 2006. Life-span human development. 5de uitgawe. Belmont: Thomson.

Solis, O.L. en E.P. Benedek. 2012. Female sexual offenders in the educational system: A brief overview. Bulletin of the Menninger Clinic, 76(2):172–88.

Suid-Afrika. 2005. Kinderwet no. 38 van 2005. Afrikaanse en Engelse weergawes. Pretoria: Staatsdrukker.

—. 2007. Wysigingswet op die Strafreg (Wet op Seksuele Misdrywe en Verwante Aangeleenthede) no. 32 van 2007. Pretoria: Staatsdrukker.

Vandiver, D.M. en R. Teske. 2006. Juvenile female and male sex offenders: A comparison of offender, victim, and judicial processing characteristics. International Journal of Offender Therapy and Comparative Criminology, 50(2):148–65.

Van Wyk, C.J. 1999. Terapie met die seksueel gemolesteerde seun in die middelkinderjare-ontwikkelingsfase vanuit ’n Jungiaanse perspektief. Ongepubliseerde MA-verhandeling, Universiteit van Suid-Afrika.

Vick, J., R. McRoy en B.M. Matthews. 2002. Young female sex offenders: Assessment and treatment issues. Journal of Child Sexual Abuse, 11(2):1–23.

Walker, C.E. en D. McCormick. 2004. Current practices in residential treatment for adolescent sex offenders: A survey. Journal of Child Sexual Abuse, 13(3/4):245–255.




 





Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address