Die Suid-Afrikaanse Agri-Expo Kaasfees

  • 0

Kaasfees - 'n kruis tussen Paasfees en Kersfees? Nie op die kerkkalender nie. Maar inderdaad rede om fees te vier. Hier's die wáre inligting oor die Suid-Afrikaanse Kaasfees wat 26–29 April by Sandringham buite Stellenbosch plaasvind. Charlene Nieuwoudt het vir Naomi Meyer hiervan vertel.

Hallo Charlene, die Kaasfees lyk heerlik – en met Tim Noakes wat sê kaas is oukei, is julle seker ook baie bly! Vertel my net gou prakties, asof ek nog nooit daar was nie: Waar is die Kaasfees, wanneer is dit en hoe werk dit?

Feesdriftiges wat beplan om die kaasfees van 26 tot 29 April by Sandringham buite Stellenbosch te besoek, kan uitsien na sóveel meer: meer van jou gunstelingkase, asook ’n groot verskeidenheid ander watertand produkte, en meer om te ervaar, mee te eksperimenteer en te geniet.

Mens koop kaartjies op die internet en almal bo 13 betaal R130, verstaan ek. Wat kry mens vir hierdie geld? En waarvoor betaal mens ekstra?

Senior burgers betaal net R100. Nadat jy by die hekke ingekom het, is alle proeë en vermaak, sowel as bywoning van die sessies in die onderskeie kosteaters, heeltemal gratis. Besoekers sal net hul beursies moet uithaal om ’n middagete uit die Gourmet Laning te geniet, of om dit waarvan hulle die meeste hou, te koop vir later.

Jenny Morris en Nataniël

Ek sien die Kokkedoor-wenners is daar, en Nataniël ook. Hoe weet mens wie tree wanneer op?

Die volledige program – met tye – van die onderskeie teaters en demonstrasiesessies is op die webwerf beskikbaar: www.cheesefestival.co.za. So bars die Afrox Kookpot byvoorbeeld uit sy nate met optredes deur RSG se kuberkok Nina Timm, die MasterChef-sussies Leandri en Seline van der Wat, én Kokkedoor se sjef Nic van Wyk saam met 2013 se wenners, Mynhardt en Tiaan.

Vir die leergieriges is daar ’n vurige proedebat tussen bierghoeroe Lucy Corne en wynliefhebber Cathy Marston – besluit self watter drankie kaas se ideale pasmaat is. SAB broumeester Jeto Jaeger en Suid-Afrika se Meneer Kaas, Kobus Mulder, neem die verhouding tussen bier en kaas ’n stappie verder. Leer ook hoe om die perfekte koffie tuis te maak saam met häzz se barista en knibbel aan ’n handgemaakte koffie-toffie van Sweet Temptations Toffees in ’n daaglikse Toffie & Koffie-sessie. Die vyf daaglikse demonstrasiesessies in die Afrox Kookpot bied kaasopvoeding met ’n lekker skeut pret.

Die Checkers Kaasemporium bied besoekers vanjaar ’n splinternuwe ervaring, waar bekendes soos Nataniël, Giggling Gourmet Jenny Morris, Herman Lensing (Sarie se kosredakteur) en koffiefoendi David Donde van Truth Café jou begelei langs ’n doolhof-tipe gourmet-reis van kaas, biefstuk, whisky, wyn, koffie en meer – dwarsdeur die dag, elke ongeveer 20 minute.

As daar mense is wat nie kaas kan eet nie, moet hulle eerder nie bywoon nie? Of is daar iets wat mense wat sensitief is vir suiwel kan nuttig?

Kaas is natuurlik op sy beste saam met ander watertand lekkernye soos olywe, wyn en ander drankies, sjokolade, charcuterie en brode – en die fees kies die beste artisan-produkte om jou kaasbord op te kikker. Selfs al eet jy nie kaas nie, sal jy wegstap met ’n mandjie vol smullekker produkte.

Wie tree op by die Ladismith Musiekgazebo?

Verwag ’n heerlike verskeidenheid musiek deur die multiinstrument-kunstenaar Werner Denner met sy Sincere Swing and a whole lot of jazz. Michiel Roets, Black Cherry en Jo Martin sal verder sorg dat die atmosfeer feestelik bly.

Foto's voorsien deur Charlene Nieuwoudt Communication.
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top