"Tree aan!"-seminaar: Die spanning tussen feit en interpretasie

  • 0

 

Lida Krüger spreek die onstabiliteit van Suid-Afrikaanse geskiedenis aan in haar weldeurdagte, beredeneerde artikel “Wie sal ons onthou?”: Die gehoorlid se ongemaklike posisie in Deon Opperman se “Tree aan!”Sy hou dramaturg Deon Opperman voor stok omdat hy die geskiedenis voorhou as iets wat volledig gevorm is, in stede daarvan om die onstabiliteit en onsekerheid rondom geskiedenis as ’n reeks parallelle en dikwels oorvleuelende narratiewe, te erken. Geskiedenis(se), bestaande uit subjektiwiteite, word geken aan die spanning tussen feit en interpretasie (die presiese parameters van elk is dikwels moeilik om vas te stel, en ’n meer gedetailleerde ondersoek hierna val buite die bestek van hierdie gesprek).

Suid-Afrikaanse teater het sedert die politieke oorgang van 1994 dikwels op interessante, aangrypende en opspraakwekkende maniere die verlede aangespreek: dink onder meer aan Ubu and the Truth Commission, waar die Waarheids- en Versoeningskomissie ondersoek is, asook Tom Gouws se nag van die lang messe en Mike van Graan se vele tekste – Green Man Flashing, Mixed Metaphors, en sy Afrikaanse teks Die Generaal – wat (aspekte van) die verlede indringend en op kritiese wyse by die hede betrek. Gouws ondersoek Afrikaner-identiteit terwyl Van Graan wegskram van eenvoudige, maklike antwoorde in veral Green Man Flashing. Opperman het self ’n teateragtergrond wat ’n sosio-politieke bewussyn weerspieël, en Krüger staan veral krities teenoor “Tree Aan!” in die lig van Opperman se meer sosiaal verantwoordelike Môre is ’n lang dag. Die onlangse televisieverwerking van Opperman se Donkerland demonstreer dat Opperman steeds die sosiaal bewuste, kritiese elemente in sy werk behou, wat ’n vermoede dat “Tree Aan!” ’n goed beplande nostalgie-gedrewe kommoditeit is, ondersteun.  

Opperman weet goed wat die vereistes van die kontemporêre Afrikaanse kultuurindustrie is. Wanneer die Afrikaanse kultuurindustrie byvoorbeeld ’n hoë premie op musieksterre plaas, sluit hy bekende sangers in sy rolverdeling in (Lied van my hart, 2012). Hy skep teater wat op ’n minderheidsgehoor gerig is en gebruik ’n haas propagandistiese benadering om munt te slaan uit etnosentrisme. Die geskiedenis en belewenis – in plaas van geskiedenisse en belewenisse – wat “Tree Aan!” voorhou, lewer geskiedenis-as-skouspel (sien ook Ons vir jou). Of soos Anna-Retha Bouwer dit stel in haar resensie: “Hy het ook op ou oorlogsentimente gekapitaliseer in sy Ons vir jou met die Anglo-Boereoorlog as agtergrond”.

’n Aanlyn soektog lei tot plekke waar sommige (vermoedelik manlike – dis mos maklik om agter die anonimiteit van die web weg te kruip en ’n naam soos “Ware Boerseun” as skild en kenteken te gebruik) internetgebruikers hul misnoeë uitspreek oor “Tree Aan!” se soms negatiewe kritiese ontvangs. Wat onrusbarend is van hierdie kommentaar, is die suggestie dat dit problematies is vir vrouens om hulself oor die stuk en sy oorlogskonteks uit te spreek. Benewens die algemene mistasting dat “jy iets moet beleef om dit te kan verstaan” is daar dus ’n onderliggende wantroue in vrou as kritiese denker en kultuurontleder. Anna-Retha Bouwer het dit beleef met haar negatiewe resensie in Beeld, soos Krüger self uitwys. Een anonieme internetgebruiker het neerhalend na Bouwer verwys as ’n “kultuurkoekie”, terwyl die briewe aan Beeld in reaksie op Krüger se stuk in die By sagter verwoord is, maar steeds negatief is.   

Reaksies op “Tree Aan!” was uiteenlopend, interessant en by tye onrusbarend. Dan Roodt se resensie van die toneelstuk is getiteld “’Tree Aan’ [sic] is betrokke teater in die Brecht-styl”. Brechtiaanse teater sou die meganismes van teater wat die illusie van teater onderhou, aan die gehoor openbaar en akteurs sou soms uit en in hul karakters beweeg. Brecht het teater beskou as ’n instrument om kritiese denke by die gehoorlid te stimuleer. Roodt se implikasie dat “Tree Aan!” ’n Brechtiaanse komponent het, is dus problematies in die lig van die stuk se sterk klem op die emosionele belewenis van beide die karakter en die gehoorlid. (Ek vermoed Brecht sou heelparty ideologiese probleme met die toneelstuk gehad het.) Verder wys Krüger self na innoverende Afrikaanse teater soos Die kortstondige raklewe van Anastasia W wat die vierde-muur-konvensie verbreek om sosiale kommentaar te lewer. Wanneer die vierde-muur-konvensie tot ’n mate aan die einde van “Tree Aan!” gebreek word, is dit nie om die gehoorlid te ontnugter of te vervreem (in Brechtiaanse terme) nie, maar om die gehoorlid verder in die viering van patriotisme, en in die intense emosie van die oomblik, in te stik.

Dit is hierdie herbevestiging van die emosionele waarna Krüger duidelik in haar artikel verwys. Krüger is in die kol wanneer sy aanvoer dat teater altyd metadramaties van aard is, sodat die gehoorlid kan vra: wat sê hierdie teater oor teater? Dus, wat sê “Tree Aan!” oor teater?  “Tree Aan!” sê: kom vir die nostalgie, bly vir die emosie. Krüger voer aan dat nostalgie nie noodwendig ’n negatiewe sosiale fenomeen is nie; soos Jacob Dlamini self duidelik stel in Native Nostalgia. Nostalgie kan lei tot die gevoel of belewenis van ’n hegte verbeelde gemeenskap (soos Benedict Anderson sou aanvoer). Die klem hier is op verbeelde: die gehoorlid behoort te besef (en die teaterproduk behoort die gehoorlid daarop attent te maak) dat die gemeenskap van Afrikaners op die verhoog en van die verhoog af ’n verbeelde gemeenskap is. Krüger begryp dat die gehoorlid nie ’n passiewe ontvanger van inligting is nie en vandaar die waarskynlikheid van ongemaklikheid: die gehoorlid gaan heel moontlik ongemaklik wees met die manier waarop die oorlogsinhoud in “Tree Aan!” oorgedra word. 

Krüger lewer sterk kommentaar hierop wanneer sy verwys na gehoorvriendelike gegewens van die toneelstuk. Belangrik hier is die klem op die mimetiese, om in detail te wys wat gebeur in plaas daarvan om die gehoorlid toe te laat om gebeure en oomblikke in te vul. Die mimetiese, in dié geval, spreek tot sekerheid en standvastigheid. Dit is ’n strategie om weg te doen met dubbelsinnigheid en eerder die verhoogruimte te beveilig as om dit oop te maak vir ’n verskeidenheid invalshoeke en kritiese perspektiewe.

Lees die ander kant van die argument hier.


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top