SêNet-briewe | Letters

 
Die slag van Sodaliet
Sodaliet was 'n kamp in die Noordweste van Suidwes. Die naaste groter plek wat op sommige landkaarte verskyn is Opuwo, waar daar skynbaar ook 'n belangriker militêre basis was. In die tyd wat R hier was, mag hulle nie in briewe genoem het waar hulle hulle bevind nie, maar hy het my dit probeer aan die verstand bring deur te skryf van die blou klippe wat daar rondlê. Ek het nie toe gekliek nie, maar weet vandag dit is die mineraal sodaliet wat in bloukleurige vorm voorkom, maar blykbaar ook in ander kleure.

Ons het tydens die grensoorlog min van hierdie gebied gehoor, dit was seker maar stillerig daar en die "vryheidsvegters" het hul pogings dalk eerder op ander plekke gekonsentreer. Die kamp was ook nie goed voorberei op 'n aanval nie. Daar was bunkers in die grond gegrawe, met balke oor en sandsakke op die balke, maar hierdie bunkers is as onveilig beskou in 'n bomaanval, hetsy weens swak konstruksie, of miskien was dit al verouderd.

Die nag van die mortieraanval op hulle was ons eie mortiere ook glad nie gereed nie, dit was nie gemonteer nie of was in baie gevalle nie in 'n operasionele toestand nie. Die aanval was onverwags, 'n fluitgeluid en dan "woep" soos die mortiere ontplof. Ons soldate was verskrik en het verwoed gehardloop en in die bunkers in geduik. Die donkies in die kamp het beangs begin bulk en rondspring. Offisiere het op die manne geskreeu dat hulle uit die bunkers moes kom en aantree, maar hulle het geweier, R inkluis. 'n Sersant-majoor het uit frustrasie een van die gemonteerde masjiengewere gegryp en verwoed begin skiet in die rigting waar hy gemeen het die vyand was. Die aanval het gevoel soos 'n ewigheid, maar was eintlik relatief gou verby. Daar was geen ongevalle aan ons kant nie, net die soldate en donkies was ontsteld, een tent is skuinsweg getref, maar daar was niemand in nie.

Die volgende oggend is hulle met trokke weg om die spoor te volg, 'n spoorsnyer sit buite voor op die voertuig. Toe ry die voorste trok oor 'n landmyn en die spoorsnyer se bene word afgeruk, en hy is dood. R se trok het tot stilstand geruk en hy het sy kop gestamp teen die visier van sy geweer wat hy voor hom regop gehou het.

Ek onthou hulle het later in die parlement gepraat oor die insident en wyle Vause Raw het, darem seker goedig, gelag vir die soldate wat nie uit die bunkers wou kom nie. Daar is ook met die "terroriste" gespot en gesê hulle het dit net reggekry om die donkies skrik te maak.

R wil nie oor die dinge praat nie en raak vies as ek hom uitvra.

Groete,

Gay ou man

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address