Die skending van die reg op die goeie naam en die reg op privaatheid met verwysing na sosiale media soos Facebook

  • 5

Die drie beslissings en die bespreking daarvan deur Neethling bied skep inderdaad ruimte vir nadenke oor sosiale media en die reg, en veral die potensiële skending van persoonlikheidsregte, soos die reg op die goeie naam en die reg op privaatheid. Ek beoog om enkele interessante punte in die bespreking (en dalk selfs vanuit die beslissings) aan te raak.

Eerstens (want ek dink dis gepas om dit vanuit die staanspoor te sê), iets oor die stelling van regter Willis in Heroldt oor die Romeinse en Hollandse regsgeleerdes en selfs die opstellers van die Grondwet, wat nie die spanning wat moderne verskynsels soos die sosiale media op die regte sou plaas, kon voorsien het nie (Heroldt par 7). Dit is juis die voordeel van ’n stelsel wat op gesonde regsbeginsels gebaseer is dat dit in staat is om in beginsel met enige nuwe ontwikkeling te handel. Dit is bloot nodig om die aktiwiteite van ’n “nuwe verskynsel” soos Facebook te verstaan en om dan die bestaande regsbeginsels daarop toe te pas. Dit is selfs nie nodig “om gevestigde beginsels by die aktiwiteite van die sosiale media aan te pas” nie (par 1 van Neethling se gevolgtrekking). Al wat nodig is, is om vas te stel of die nuwe aktiwiteit (handeling) onregmatig is (in die lig van die boni mores); of dit kousaal verbind is aan die nadeel (of dreigende nadeel vir doeleindes van ’n interdik); en of daar skuld in die vereiste vorm teenwoordig is indien genoegdoening of skadevergoeding verhaal sou word. Die kernpunt is die “verstaan van die aktiwiteit”, en dit is hier waar daar die gevaar bestaan dat dinge kan skeefloop en die regsbeginsels dan verkeerd toegepas kan word.

Hiermee word nie te kenne gegee dat die reg of die boni mores staties is nie; inteendeel, die onregmatigheidskriterium ontwikkel gereeld om aan te pas by die openbare beleid en gemeenskapsopvatting en dit gebeur onder andere onder invloed van die morele waardes wat voorop staan in hoofstuk 2 van die Grondwet (Neethling 2010:21; Loubser 2010:35), in die lig waarvan die gemenereg ontwikkel moet word.

Indien ’n mens moontlike aktiwiteite op Facebook bekyk, die volgende: die aanvanklike plasing van ’n stelling aangaande iemand anders op jou eie of op iemand anders se “muur” is ongetwyfeld publikasie teenoor derdes en so ook die kommentaar (“comments”) wat dan deur “vriende” gemaak word. Indien ’n lasterlike bewering gedeel (“shared”) word, is dit natuurlik verdere publikasie deur die deler. Kyk ’n mens na die kommentare, veral op nuusberigte oor arrestasies van vermeende boosdoeners, sien ’n mens dikwels baie ernstige lasterlike stellings.’n Verdere moontlike aktiwiteit op Facebook is om jou met ’n stelling te vereenselwig deur aan te dui dat jy daarvan hou (dit te “like”). Sodanige optrede dui ook op assosiëring met die tersaaklike stelling, en ’n persoon wat aandui dat hy van ’n lasterlike bewering hou (dit “like”), word dus ook aandadig aan die laster. In Isparta het waarnemende regter Hiemstra bevind dat die tweede verweerder, wat volgens die uitspraak nie self lasterlike bewerings gemaak het nie, maar welke bewerings wel vir sy aandag gemerk (“tagged”) was, ook aanspreeklik is. “The second defendant is not the author of the postings. However, he knew about them and allowed his name to be coupled with that of the first defendant. He is as liable as the first defendant” (par 33). Nie net die lasteraar nie, maar ook persone vir wie se aandag ’n lasterlike bewering gemerk is, kan volgens die hof aanspreeklikheid opdoen, omdat hulle toelaat dat hulle met die bewering geassosieer word en niks doen om hulself daarvan te distansieer nie. Ek meen egter dat blote “tagging” nie genoeg aanduiding sal wees van vereenselwiging met ’n bewering nie. Dit sou wel ’n faktor wees wat, saamgelees met ander faktore, kan dui op vereenselwiging met ’n lasterlike bewering.

Die ander probleemgebied wat aangeraak word, is die reg op privaatheid. Die bekendmaking van persone se e-pos-adresse en ander kontakbesonderhede sal nie noodwendig onregmatig wees nie. Dit sal in elke geval beoordeel moet word in die lig daarvan of die benadeelde ’n regmatige privaatheidswil of privaatheidsverwagting het (Roos in Van der Merwe 2008:355; Bernstein v Bester NNO 1996 (2) SA 751 (CC)). Ek wil betoog dat indien ek persoonlike besonderhede soos ’n e-pos-adres op Facebook aan ’n beperkte groep soos my vriende bekend maak, dit nie noodwendig in stryd sal wees met ’n ongeopenbaarde privaathoudingswil of privaatheidsverwagting (subjektief maar ook objektief) van die “benadeelde” nie. Dit sal telkens van die omstandighede afhang. Kortweg, die vraag sal beantwoord moet word aan die hand van die boni mores of regsoortuiging van die gemeenskap (Neethling 2005:221). In Sookunan blyk die plasing van die besonderhede ongetwyfeld onregmatig te wees, eerstens omdat dit op ’n bykans onbeperkte openbare forum bekend gemaak is, maar miskien word die onregmatigheid van die optrede in die onderhawige geval ook beklemtoon deur die kwaadwilligheid (malice) van die plasing – soos by die animus vicini nocendi van die burereg (Kirsh v Pincus 1927 TPA 199). Ek kan my byvoorbeeld indink dat indien ek op my Facebook-blad sou vra of iemand my van my leraar se kontakbesonderhede kan voorsien, ek waarskynlik ’n hele swerm antwoorde sou kry (op my “muur”). Ek kan my beswaarlik indink dat daar in sulke omstandighede sprake van die skending van die reg op die leraar se privaatheid is. Slotsom: verskeie faktore en omringende omstandighede sal in ag geneem moet word by die beantwoording van die vraag of bekendmaking van persoonlike besonderhede onregmatig is.

Ten slotte: Ek stem in die algemeen saam met die skrywer van die aantekening se gevolgtrekkings. Anders as die skrywer (en ook Roos) meen ek egter dat die plasing van “onskuldige” persoonlike inligting op ’n Facebook-blad nie prima facie onregmatig is nie. Indien sodanige plasing egter met onbehoorlike of kwaadwillige motief gepaard gaan, of in stryd is met ’n privaathoudingsooreenkoms of geopenbaarde of andersins duidelike privaatheidswil, behoort dit onregmatig te wees. Uiteraard sal goeie regsbeleid en regsoortuiging ’n deurslaggewende rol speel by die beoordeling van die onregmatigheidsvraag.

Terloops: ’n Interessante vraag waaraan daar geraak word in Heroldt, is of publikasie op sosiale media soos Facebook aan dieselfde reëls as publikasie op die nuusmedia onderworpe moet wees met betrekking tot aanspreeklikheid vir laster. Die hof meen duidelik dat, ten minste vir doeleindes van die interdik, sosiale netwerke kwalitatief van nuusmedia verskil (Heroldt par 35). Die skrywer hiervan stem saam. Die verdere vraag na die aanspreeklikheid van sosiale media soos Facebook vir berigte wat op sodanige media geplaas word, asook die invloed van wetgewing soos byvoorbeeld die beperking op aanspreeklikheid van diensverskaffers in hoofstuk 11 van die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies (25 van 2002), sowel as die vraag of sosiale media hoegenaamd diensverskaffers is vir doeleindes van die wet, sal nietemin een of ander tyd deur die howe onder die loep geneem moet word.

 

Bibliografie

Loubser, M en JR Midgley (reds). 2010. Deliktereg in Suid-Afrika. Kaapstad: Oxford University Press.

Neethling, J, JM Potgieter en PJ Visser. 2005. Neethling’s law of personality. 2de uitgawe. Durban: LexisNexis.

Neethling-Potgieter-Visser. 2010. Deliktereg. 6de uitgawe. Durban: LexisNexis.

Van der Merwe, Roos, Pistorius en Eiselen. 2008. Information and Communications Technology Law, Durban: LexisNexis.

Lees wat sê die ander kenners.

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 5

Kommentaar

  • ismael haarvoor

    Ek wil graag hoor of ek 'n kriminele klagte kan lê as iemand my persoonlike lewe op die sosiale media versprei.

  • Monique Groenewald

    Hallo, ek wil graag hoor of enigiemand 'n video van jou mag maak as jy geen toestemming gegee het nie.

  • Ek het ’n trourok gekoop by ’n vrou . Sy’t gesê ek kon haar later betaal. Sy wou intussen die rok uitleen alvorens ek in hom trou. Ek’t gesê ek soek nie meer die rok nie en dat sy hom kan terugneem. Sy’t geweier om hom terug te neem. Sy’t die rok by my huis afgelaai. Sy’t begin met smedige SMS’e. Gesê ek’s ’n dief en sy sal sorg dat almal weet van my skelm streke. Sy’t onophoudelik my ge-sms en gesê eks ’n bitch en ’n skelm. Sy’t voorgedoen haar man is n prokureur. Hy is nie. Sy werk by ’n prokureur. Ek’t hom gekontak en gesê ek soek nie meer die rok nie. Ek en my verloofde het die rok aan hom gegee. Ek’t vir hom haar SMS’e gewys. Sy’t ’n SMS ook aan my gestuur waarin sy sê sy’t n saak by SAP gemaak van fraud. Dis is ook toe nie so nie. Sy’t ’n random sms van prokureursfirma gestuur waarin sy se sy’t ’n leër geopen. Haar prokureur vir wie sy werk het gesê as sy verder aangaan moet ek ’n naamskendingsaak open. Sy was egter v twee maande stil. Sy’t twee dae terug op Facebook gesê hoe groot skelm ek is. En hordes mense het lelike kommentaar gelewer soos: Sluit haar toe ... wie’s die skelm vrou? Name and shame die skelm vrou. Ek’t alle lelike kommentaar gescreenshot. Ek’s n besigheidsvrou van twee groot farmaseutiese maatskappye. Wat staan my te doen? My reputasie is geskaad, so ook my menswaardigheid.

  • Mag ’n werkgewer na jou huis toe kom, teen jou valslike aanteigings maak en ’n pin location neem van waar jy woon in jou skoonouers se eindom? Jou dan hele tyd dophou en navraag doen oor jou persoonlike lewe? Famielie? Sensitiewe inligting versprei van die maatskappy? Jou beskuldig van dinge en dan alles ontken? En wil ook he jy moet bedrog pleeg? Dan dreig met jou werk en voordele? Dis mos teen die wet?

  • Wilma Drlport

    My man se eks-vrou en sy oudste dogter het ongelooflike lelike aanmerkings op my as mens en my lyf gemaak op facebook. Wat staan my te doen?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top