Die primitiewes

  • 0

Op die rand van ’n woestyn. Etlike eeue voor Christus. Josua en die Israeliete val die Beloofde Land binne. Die heidene se afgode word afgebreek en verbrand. Een na die ander marsjeer hulle die vreemde stede binne, dood vroue en kinders, maak selfs die vee en troeteldiere van kant. Hulle is op ’n heilige sending.

Een oggend vroeg, terwyl die Leviete nog hul oggendgebede sê, daal daar ’n helikopter neer in die middel van die Joodse kamp. Josua val op sy knieë neer en roep uit: “Almagtige Jahwe! Met watse plaag slaan U ons NOU?” Die helikopter se rotors kom tot stilstand, ’n deur gaan oop, en ’n klompie sakemanne klim uit. Hulle is aangetrek in driestukpakke en dra aktetasse. Hulle Italiaanse leerskoene knars oor die manna. Josua maak stadig sy oë oop en kyk bewend na die voorste man, wat besig is om ’n clipboard te bestudeer. Van die ander afgevaardigdes praat op selfone.

“Is jy Josua?” vra die man met die clipboard.

“Ja, my heer,” sê Josua met ’n bewende onderlip.

“Ons is van die Wêreldhof in Den Haag. Ons wil jou en jou guerrilla-weermag aankla van skending van menseregte, volksmoord, en plundery …”

 

*

 

Europa. Iewers in die veertiende of vyftiende eeu. ’n Heks wag op die brandstapel om verbrand te word. Sy is vasgebind aan ’n paal bokant ’n hoop vlambare rommel. Eenkant staan die priester van die dorp met ’n brandende fakkel. Daar is ’n skare jillende Christene om die brandstapel, en hulle moedig die priester aan om die heks te laat brand.

“Jy het nog een kans,” sê die priester. “Het jy swart towerkuns beoefen of nie? Het jy jou siel aan die Duiwel belowe of nie?”

Die heks haal haar skouers op. “Ek is net ’n enkel-ma wat my begroting laat probeer klop,” sug sy.

“Glo jy in Jesus of verloën jy Hom?” roep die priester uit, en staan al dreigender nader met sy fakkel omhoog.

"Ek is nie ’n lid van jou kerk nie!” verweer die vrou haar. “Ek val nie onder julle jurisdiksie nie! Ek kan maak wat ek wil!”

“Daar is mense,” sis die priester, “wat sê hulle het gesien jy verf Satanistiese simbole op ’n stuk papier.”

“Ja, ek skilder in my vrye tyd,” sê sy. “Maar dit was nie Satanistiese simbole nie. Ek is ’n Post-Impressionis, ek eksperimenteer met die spel van lig en kleur. Los my uit, for fuck’s sake!”

“Verbrand haar!” roep iemand uit die skare. “Het ons Heiland nie self gesê die Duiwel doen hom soms voor as ’n engel van die lig nie?”

“Kan jy dit glo,” sug die sogenaamde heks terwyl die eeste vlamme aan haar voete begin lek. “En om te dink al wat ek wou doen, was aftree op die platteland in ’n dorpie waar baie vars lug is en almal mekaar ken …”

 

*

 

Dis ’n Maandagoggend in die jaar 2012. Tuinhuys, Kaapstad. President Zuma sit in sy kantoor en slaan die koerante oop. Die Burger se voorblad lui:

ZUMA STEL WEER VERKIESING UIT              

Op die Cape Times se voorblad staan:

ARE WE HEADING FOR A DICTATORSHIP?

En op Die Son se voorblad, net bokant die stories van Steve Hofmeyr se derde egskeiding, staan in vet letters:

DIE STRUGGLE IS WEER HIER!

Zuma tel sy telefoon op en bel sy polisiehoof, wat onlangs sy job teruggekry het nadat ’n interne ondersoek hom onskuldig bevind het van vorige veroordelings. “Jackie,” blaf hy in die foon. “Man, ek het ’n favour nodig in die Kaap. Kom arresteer asseblief vir my die redakteurs van die volgende koerante …”

 

*

Vrydenkers, humaniste, liberaliste en ander tipiese aanhangers van die idee van Westerse demokrasie is die afgelope ruk diep geskok deur sekere optredes van Suid-Afrikaanse politici.

“Ons is besig om in ’n tipiese barbaarse Afrika-staat te verander,” sê sommige.

“Dan Roodt en Albert Schweitzer was reg: swart mense kan nie ’n land regeer nie; hulle is ’n subspesie,” sê ander.

"Het hierdie mense dan nie ’n werksetiek nie?” vra ’n derde groep.

 

Dis nou al twee jaar of langer dat ek byna glad nie LitNet lees nie. Ek stuur soms ’n rubriek of gedagte in, maar kyk nooit of dit enige reaksie ontlok nie. Ek weet LitNet is meer as net die briewerubriek, en ek weet mens moenie die babatjie met die badwater uitgooi nie, maar ek is in die loop van 2005 of 2006 – ek kan nie meer presies onthou wanneer nie – so diep gegrief deur die lae vlak van diskoers, deur die persoonlike vetes en maniese literêre masturbasie van die meeste LitNetters dat ek besluit het om my kopspasie te verskuif na ander ruimtes toe.

Dit was in daardie tyd dat my “aanval” op klein Willempie Botha verkeerd verstaan is. Dit was ook in daardie tyd dat ek uit Afrikanerdom bedank het.

Een ding wat my nog meer gepla het as die lae vlak van diskoers, was die feit dat feitlik al die deelnemers aan al die verskillende debatte feitlik deurgaans blank was. Dis nie dat ek aan ’n kwotastelsel glo nie, maar ek het my afgevra: "Ons praat dikwels oor swart mense. Waarom praat swart mense nie vir hulleself nie? Wat sou swartmense DINK van hierdie besprekingsgpunte? Waarheen kan ek gaan om menings van swart mense te hoor?”

’n Terloopse opmerking van Anne-Marie Mischke van Rapport het my eindelik tot aksie aangespoor. Ek het swart koerante begin koop. Mettertyd het ek die enkele swart blogs op 24.com begin besoek, en ook na die Talk Shows op SAFM begin luister, waar die meeste inbellers swart is.

Tot my groot verbasing was die diskoers onder Suid-Afrikaanse swart mense op net so ’n lae vlak as die LitNet-diskoers.

Daar was wel sommige verskille. LitNetters was vol aggressie, maar hul aggressie het ’n fokus gekort. Dus is hulle aggressie meesal in sinlose onderonsies gekanaliseer.

Swart debatvoerders het wel ’n fokus vir hul aggressie. Daar is drie dinge wat die meeste swart debatteerders haat. Hulle haat wit mense. Hulle haat kapitalisme. En hulle haat Thabo Mbeki. Die haat teenoor Mbeki het eers die laaste ruk kop uitgesteek.

Moet egter nie dink dat hulle Mbeki haat om dieselfde redes as wat "ons" hom haat nie, (met “ons” bedoel ek in hierdie rubriek die wit demokrate, want ek skryf hierdie rubriek spesifiek uit daardie perspektief). Ons haat Mbeki omdat hy pelle is met Mugabe. Ons haat Mbeki omdat hy oneffektiewe ministers probeer beskerm en bekwame mense afdank. Ons haat hom omdat hy Vigs op ’n halfhartige manier bestry. Ensovoorts, ensovoorts.

Die swart mense haat Mbeki eenvoudig omdat hy nie links genoeg is nie en omdat hy die sogenaamde “revolusie” verraai het.

Daar is ’n gevoel van oorlog onder die swartes. En, nou dat dit lyk asof hulle nuwe held, Jacob Zuma, die volgende president kan word, is daar ’n gevoel dat die oorwinning naby is, en dat die doelwitte van die sogenaamde “revolusie” eindelik binne bereik is.

Dit is wel nie hoe die meeste swart mense voel nie, maar ek kry die indruk dit is die algemene gevoel. Daar is natuurlik uitsonderings. Daar is mense soos Bantu Holomisa wat al hoe meer krities staan teenoor hierdie soort denke; daar is die oorwegend swart redaksie van koerante soos The Sunday Times, wie se redaksionele artikels meesal ongelooflik professioneel geskryf is, en wie se geveg om geregtigheid en morele hervorming soms vir Martin Luther King Jr na ’n amateur laat klink. Sulke swart dissidente, wat nie deel wil wees van die hernude “revolusie-mentaliteit” nie, word deur die meerderheid verwerp. (Hulle is mos net “coconuts”.) 

Daar is verskeie redes hoekom hierdie mentaliteit vir “ons” onverstaanbaar is. Dit is vir ons self-evident dat die revolusionêre strewe gedoem is tot katastrofe. Wat gaan die sogenaamde massas doen wanneer hulle besef dat ’n Zuma-regering ook nie kan voorsien in basiese dienslewering nie? Dit het reeds begin. Wat gaan hulle doen as die energiekrisis erger word, wanneer plase soos in Zimbabwe gekonfiskeer word en nie meer produktief is nie, wanneer sanksies die land knak en die prys van brood die hoogte in skiet, ensovoorts, ensovoorts?

Dis ’n alte bekende patroon wat ons al oor en oor in Afrika gesien het, en dis vir ons baie moeilik om te begryp waarom die inwoners van ’n eerste-wêreldse land soos Suid-Afrika,’n land met ’n puik infrastruktuur, vry media en ’n volwasse regstelsel, ’n land wat sulke reuse soos Oliver Tambo, Steve Biko, Jan Smuts, Nelson Mandela, Chris Barnard en biskop Tutu opgelewer het (om maar net ’n paar te noem), bereid is om hul standaarde in so ’n mate te verlaag. Ons het die beste grondwet, die beste mensemateriaal, en die beste klimaat en natuurlike hulpbronne ter wêreld; waarom sou ons verarm deur die Idi Amin-opsie te kies?

Kortweg, hoe is dit moontlik dat soveel inwoners van een land almal saam so ’n verskriklike denkfout kan maak?

Wanneer ons ons hierdie vraag afvra, vergeet ons soms hoe dikwels dit al voorheen gebeur het. Mens kan maar net onthou hoe bankvas die Duitse volk agter ’n kaartmannetjie soos Adolf Hitler gestaan het. En nog so onlangs soos ’n paar jaar gelede is die Amerikaanse volk verlei deur die stroperige melodrama van George W Bush, ’n man wat alles negeer waarvoor die Amerikaanse grondwet staan.

Ek maak hierdie vergelykings omdat ek wil beklemtoon dat Afrika nie noodwendig meer of minder boos is as ander kontinente in die wêreld nie. Oor Dan Roodt se sienswyse dat swart mense minder intelligent is as wit mense, kan ek ook nie ’n oordeel vel nie, maar ek vermoed dit is onsin. Daar is geen betroubare definisie of maatstaf vir intelligensie wat vir alle kulture geld nie. ’n Boesman uit die Kalahari sal nie kan presteer op die New Yorkse aandelebeurs nie, maar die gemiddelde makelaar uit New York sal nie baie goed vaar as hy moet spoorsny in die Kalahari nie. Touché.

Maar daar IS WEL kulturele verskille tussen swart mense en wit mense, en tussen Afrika en die Weste. Hierdie verskille is nie absoluut nie – dit verskil van mens tot mens, plek tot plek, en tydperk tot tydperk – maar dit bestaan wel. En “ons” (weer eens die sogenaamde wit demokraat wat praat) hou nou al lank genoeg ons oë toe vir hierdie waarheid.

Dit is nou, terugskouend, moeilik om te erken dat ons enorme foute gemaak het in Afrika, nie net met die eksploitasie van die grond en die mense nie, maar ook met die manier waarop onafhanklikwording hanteer is. Toe ons die eerste keer wakker skrik en besef dat slawehandel “uncool” is en dat ons Afrika ’n verskoning skuld, het ons holderstebolder onttrek. En met die onttrekking van die imperialiste het nie net die slegte aspekte van kolonialisme uit die lewens van Afrikane verdwyn nie, maar ook die goeie aspekte. Skole het ophou funksioneer. Hospitale is net so gelos in die hande van onopgeleide toesighouers. En toe, met die malle jaagtog na nuwe “vry” Afrika-state, het ons van die Afrikane verwag om binne een geslag kultureel te vorder op ’n paadjie wat ons as Westerlinge ongeveer tien duisend jaar geneem het: van die ontdekking van die wiel deur die gebruik van die ploegskaar en die esel, die ontwikkeling van die antieke handelsetiek en die regte, die pendulumswaai van kerklike onderdrukking tot die individualistiese Eureka-oomblik van Descartes, die Franse en die industriële revolusies, die metodiek van wetenskaplike navorsing, die emansipasie van vroue, die groei van individualisme, ensovoorts – kortweg, die ganse spektrum van groei, ontdek, lees, skryf, dig, verhoudings herdefinieer, en selfwees najaag wat ons twintigste-eeuse en een-en-twintigste-eeuse beskawing omskryf en nuanseer.

Natuurlik wil ek nie al die skuld op die Weste plaas nie, maar hierdie situasie het ’n geweldige wanbalans geskep, ’n ontsettende lugleegte, en dit is binne hierdie vakuum van verwarring en verkeerde seine dat die een Afrika-leier na die ander die kluts kwyt geraak het en teruggegryp het na die enigste soort regering wat hulle geken het voor imperialisme: die sisteem waar ’n stat of dorp of land nie regeer word deur die wil van die mense nie, maar deur die hoofman en ’n klein goepie “oudstes”, overgeset synde, sy vriende, familie en die res van die regerende elite.

Hierdie kulturele verwarring is lankal nie beperk tot Afrika alleen nie; die hele wêreld word tans bedreig deur konflikte wat veroorsaak word deur groepe met verskillende beskawingsvlakke wat eenvoudig nie mekaar se taal kan praat nie.

"Beskawing” is natuurlik ’n patronising term … Of is dit? Is dit nie dalk ’n baie belangrike begrip wat ons vir lank genoeg ontken het nie?

Deur te ontken dat daar verskillende vlakke van “beskawing” bestaan, deur te ontken dat verskillende gemeenskappe teen verskillende tempo's ontwikkel, het ons in die Weste ons opgesaal met ’n helse klomp politieke probleme waarvan die antwoorde ons konstant ontwyk omdat dit nie “fashionable” is om hierdie dinge in die oë te kyk en te begryp hoe dit werk nie. Ons is bereid om die evolusieteorie te aanvaar, ons erken die ontstaan van planete en die ontploffing van sonne en die polsing van kwasars en die wipplank-ry tussen chaos en orde, maar ons weier om te aanvaar dat ons buurman in Afrika, wat miskien geniaal is wanneer dit kom by reënwater uit ’n volstruisdop drink, nie weet hoe sy eie laptop se binnegoed werk of hoe om die munisipale budget van ’n dorp die size van Ermelo te laat klop nie.

En anyway, hoekom is Afrika-leiers almal antikapitalisties? vra ons ons af (veral ouens soos die rubriekskrywer David Bullard). Ek het nuus vir my kollegas wat hierdie vraag vra. Die kommunistiese idees van Afrika-leiers kom nie oorspronklik van Rusland en Sjina nie. Ek het die geskiedenis nagevors: die eerste Afrika-diktators het almal in Engeland gaan studeer; hulle kry hulle rooi voorkeure van Engeland af, by instansies soos die Marxisties-georïenteerde London School of Economics. Die groot Oosterse moondhede het eers later op die bandwagon gespring. En toe dreig ons ons Afrika-vriende natuurlik met isolasie en sanksies.

Soos ek sê, daar was mixed messages van die begin af. Daarom is daar vandag gekruisde lyne. Die chaos wat vandag heers, is nie alleen die kind van die enkel-ouer Afrika nie; ons is die afwesige pa. Dis hoekom Mamma Afrika so baie onderhoud eis. Dis hoekom Pappa Europa so vreeslik skuldig voel …

*

Daar is twee dinge waaroor die Weste, en wit Suid-Afrikaanse demokrate in die besonder, in “denial” is. Die een ding wat ek reeds genoem het, is die rol wat  beskawingsvlakke speel in Afrika se sukkelende gang na selfbestuur. Die tweede faktor is die rol wat Robert Mugabe van Zimbabwe die afgelope paar jaar gespeel het om die versoeningsproses in Suid-Afrika spesifiek te ontspoor.

Ons wit Suid-Afrikaanse demokrate (en ons “coconut”-vriende) word nou finaal vir die eerste keer daarvan bewus dat ons verneuk is. As ons Thabo Mbeki se ANC teen die einde van hul termyn begin ervaar het soos die ou NP, ervaar ons Zuma-hulle se opkoms soos die AWB. Dit begin nou stadig tot ons deurdring dat, vir hierdie oomblik in die geskiedenis – totdat ekonomiese realiteite hulle begin inhaal – die mag heeltemal in die hande van die revolusionêres is. Met ’n twee-derde-meerderheid wat om die draai vir hulle wag – en as hulle nie daardie meerderheid legitiem kan verkry nie, sal hulle dit afdwing met die een of ander verneukspul – sal die Zumaïete vry wees om die Grondwet te verander. En glo my, hulle sal nie skroom om dit te doen nie. Hulle sal al ons vryhede en voorwaardes en “checks and balances” nek omdraai as dit hulle pas – eenvoudig omdat hulle niks met so ’n proses verkeerd sien nie.

Wie het hierdie verandering van houding veroorsaak? Robert Mugabe van Zimbabwe.

Hoe Mugabe se honger volksgenote ook al oor hom voel, wat sy opposisiepartye ook al van hom dink, vir die grootste deel van Afrika is Robert Mugabe ’n held. Hulle sien hom NIE as ’n swak ou man vol waan-delusies en paranoia nie. Hulle sien hom as die eerste Afrika-leier wat vir die Weste presies gesê het wat hy van hom dink. Die Weste verafgod Mandela as die simbool van ’n Afrika wat vooruitgaan, hand aan hand met Westerse waardes; Afrika vandag verafgod Mugabe as die simbool van ’n Afrika wat die Weste verwerp, wat ook al die prys van vryheid.

Ek weet nou wat Mbeki bedoel het toe hy die ou, byna vergete 1920-term Afrika-Renaissance weer in die lewe geroep het. Aanvanklik was ek naïef en idealisties genoeg om te glo hy bedoel daarmee ’n kulturele ontwaking, ’n oplewing in die kunste. Ek het verwag dat hy die aanvoorwerk wat ons gedoen het met die protesmusiek van Voëlvry, sal raaksien en ons sal help om dit te integreer met ’n herlewing van die gees van Sophiatown ter viering van ’n ware reënboognasie en tot uitbouing van al die kunsvorme en die uitleef van ons land se gesamentlike kultuurerfenis. Dit was ’n baie idealistiese en ietwat vae droom, maar nie meer idealisties en vaag as ons oorspronklike droom van ’n demokratiese Suid-Afrika nie.

Mbeki se ideaal was egter veel strakker en eendimensioneel as dit: in sy kop was ’n Afrika-Renaissance die afgooi van die ideologiese “juk” van die Weste, eens en vir altyd, sodat Afrika op sy eie voete kan leer staan, alleen, selfvoorsienend, uitsluitlik Afrika-gerig en eksklusief swart – die vestiging van ’n reusagtige “Native Club” in Afrika.

Die enigste rede hoekom ons hierdie dinge nie sien kom het nie, was dat ons dit nie verstaan het nie. Ergste van alles, ons het nie die impak van Mugabe op die psige van die ontwakende Afrika begryp nie. Ons ore was doof vir daardie dromslag; slegs die kinders van die oerwoud kon dit hoor. Wat vir ons ’n veraf geraas was, vaagweg vals en bra oninteressant, was vir hulle ’n voed-aar van betekenis. Dit is ’n tromslag waarvan Mbeki deeglik bewus was, hoewel hy huiwerig was om openlik daarop te reageer. Zuma se mense sal dalk nie so skromerig wees nie.

Ek het my teorie oor hoekom ons ontkenning van die rol van “beskawing” chaotiese gevolge op die wêreldpolitiek, en veral in Afrika, gehad het, nou redelik volledig beskryf. Al wat nog ontbreek, is ’n verduideliking van presies wat ek bedoel met beskawing.

 

*

Eerstens wil ek sê wat dit nié is nie.

Om beskawingsvlakke te beskryf, is nie om ’n waarde-oordeel te vel nie. Dit is ook nie ’n morele oordeel nie. En, anders as Albert Schweitzer, Dan Roodt en ander se primitiewe, meganistiese siening wat swart mense vir alle tyd en ewig verdoem tot die status van ’n “subspesie”, is die omskrywing van beskawing altyd relatief, vloeibaar, en dinamies.

Omdat ons om die een of ander rede in hierdie tye van tegnologiese vooruitgang besluit het om die realiteit van beskawingsgroei te ontken, weet ons baie min daarvan. My eie teoretiese raamwerk moes ek kry by twee denkers: M Scott Peck en Nathaniel Branden.

En al wat Branden oor die onderwerp te sê het, is: “When it comes to self-respect, not all cultural traditions are equal.”

Scott Peck se hiërargie van vier vlakke van emosionele of geestelike volwassenheid is so bekend en ook omvattend dat ek dit nie volledig gaan aanhaal nie, maar dit eerder opsom in eenvoudige Afrikaans. Ek moet waarsku dat, hoewel Peck sy hiërargie van vier vlakke as volledig sien, en hoewel hy in die laaste onderhoude voor sy dood ’n paar bisarre uitsprake gemaak het (soos sy standpunt dat ateïste noodwendig op ’n hoër vlak (die Derde Vlak) as gelowiges (Tweede Vlak) is), dit nie raadsaam is om die Vier Vlakke as die finale woord oor die onderwerp te beskou nie; volgens Boeddhisme en sommige ander transendentale dissiplines is daar meer as vier; in sommige gevalle tot tien of elf. Die uiteinde van hierdie proses van toenemende individuasie is moeilik om te beskryf of vas te pen, hetsy dit lei tot die sogenaamde “Übermensch”-idee of die “Atman”. Wanneer ons van die ontwikkeling van volke praat, is dit eintlik slegs die eerste Drie Vlakke wat tel, want dit is waarskynlik onmoontlik dat die mensdom binne ons leeftyd ’n meer gevorderde politieke sisteem as dié van die Derde Vlak sal ontwikkel. ’n Samelewing waarvan al die lede die Vierde Vlak-bewussyn bereik het, sou waarskynlik nie iets soos wette nodig hê nie, maar sou anargisties kon funksioneer. Die beste wat ons tans het, is die Derde Vlak, wat die beste geïllustreer word deur die Amerikaanse en Suid-Afrikaanse Grondwetlike stelsels.

Hoewel die Derde Vlak dus opereer volgens humanistiese reëls, is daar natuurlik individue, hoewel nie ganse volke nie, wat die humanisme getransendeer het en ’n nuwe soort geestelikheid ontdek het wat ateïsme so belaglik laat lyk soos wat vormgodsdiens vir ’n ateïs lyk.

Humanisme is dus die ideale platform vir politieke onderhandeling; maar aan die een kant erken nie alle groepe die waarde hiervan nie, en aan die ander kant kan humanisme nie werklik bydra tot die saligheid van die spreekwoordelike siel nie. Ek is ’n humanis, maar sou ek myself bevind in ’n vallende passasiersvliegtuig, sou ek eerder gryp na geestelike waardes. Enige krisis wat my wesenlike bestaan bedreig, maak humanisme irrelevant. Dis bloot ’n werktuig. Dis die tafel wat ons dek sodat ons onder “normale” omstandighede beskaafd kan eet en gesels en vir mekaar die sout en peper aangee.

Die verabsolutering van humanistiese waardes tot ’n “Nuwe Teologie” is dus gevaarlik, en dit is besig om die Weste te verswak. Geen grondwet kan God vervang nie. Maar geen God wat sy of haar sout werd is, sal ’n Derde-Vlak-grondwet probeer ondermyn nie. Enigiemand wat ’n kruistog of jihad onderneem – hetsy George W Bush of Osama bin Laden - in die naam van ’n geloof, is nog nie op die Derde Vlak werksaam nie, maar op die Eerste of Tweede Vlak.              

Dit is jammer dat iets soos kapitalisme, en selfs demokrasie, vir sommige politici ’n geloof, ’n absolute evangelie geword het, in stede van ’n bloot nuttige modus operandi. Dis is sulke mense wat ’n waarde-oordeel voeg by die idee van beskawing (en dit selfs vervang met intelligensie of menswaardigheid), en wat dan óf ontken dat die Eerste en Tweede Vlakke ook inherent aanvaarbare mense bevat, óf uit skuldgevoel die ganse idee van beskawingsvlakke ontken.

En die erkenning van die realiteit van beskawingsvlakke in vandag se wêreld is die “missing link” in ons Westerse denke, in al ons kognitiewe pogings tot probleem-oplossing. Dis die rede hoekom ons vredesinisiatiewe faal van die Midde-Ooste tot in Afghanistan, van Serbië tot Harare, van The Hood tot die East End van Londen.

Ons het onsself, filosofies gesproke, vasgedruk in die knyptang tussen ’n valse moraliteit en ’n nuttelose, kontraproduktiewe skuldgevoel.
 

*

Hier is my opsomming, in plein Afrikaans, van die Vier Vlakke van Beskawing wat Scott Peck beskryf:

  • Eerste Vlak: Die Primitiewe Mense. Basiese-behoefte-voorsiening: jag, kopulasie, speel. Kinderlikheid. Raka. ’n Bestaan onbewus van goed en kwaad.
  • Tweede Vlak: Gestruktureerde mense. Landbou. Die kerk en al die groot godsdienste soos die Christendom en Islam. Samewerking. Hiërargieë. ’n Bestaan waarin goed en kwaad bepaal word deur die gemeenskap.
  • Derde Vlak: Vrydenkers en Individualiste. Big business. Humanisme, demokrasie, spraakvryheid, wetenskaplike strewe. Goed en kwaad is relatief en word bepaal deur eie verantwoordelikheid.
  • Vierde (en verdere) Vlak: Die “Geestelike” mens. Godsdiens word weer ontdek, maar dit is nie meer onderhewig aan eksterne reëls nie. Hierdie mens is verhewe bo goed en kwaad. Vgl die uitsprake van IL de Villiers en die Bybel: “As niks heilig is nie, word alles heilig” en “Alles is rein vir dié wat rein van hart is.”

Sodra mens hierdie hiërargie verstaan, begin jy om baie van die politieke probleme waarmee hedendaagse mense worstel, deur nuwe oë te sien.

Ek vind dit fassinerend en verstommend om byvoorbeeld te besef dat ’n baie groot deel van die wêreld se bevolking – moontlik die meerderheid – werklik nog lewe in die verwysingsveld van die Ou Testament. Dit geld alle groepe van Islam (insluitende Al Kaïda) en tradisionele Jode tot konserwatiewe Afrikaners. Sulke mense het ’n totaal ander heelalbeskouing as byvoorbeeld die meeste Westerse tienderjariges. Dit veroorsaak wat mense noem ’n “generation gap” – ’n vakuum wat veroorsaak dat baie eerste-wêreldse ouers en kinders mekaar glad nie verstaan nie. Die “generation gap” sal dalk mettertyd vererger in die Moslem-gemeenskap, soos al hoe meer jonges die juk van paternalisme wil afskud, maar is gelukkig besig om te verbeter in die Weste, omdat heelwat ouers van vandag afstammelinge van die sg Baby Boomer-mentaliteit is, en dus ’n beter begrip van Individualisme het.

Natuurlik is ’n Tweede Vlak-heelal-beskouing nie op sigself verkeerd nie. Dit is ’n waardevolle en onmisbare stadium in die ontwikkeling van volke. Tweede Vlak-mense is vry van die angs en neuroses wat baie Derde Vlak-mense teister, en Tweede Vlak-samelewings is dikwels baie stabiel, tensy hulle in konflik kom met ander Tweede Vlak-samelewings met soortgelyke dog skynbaar opponerende waardes; vergelyk die konflik tussen die Israeli’s en die Palestyne in die Midde-Ooste, of die lang oorlog tussen Katolieke en Protestante in Ierland. Wanneer konflik egter afwesig is, en dissidensie nog nie algemeen nie, skep Tweede Vlak-samelewings vir hul inwoners ’n veilige hawe waarin basiese waarhede nie betwyfel hoef te word nie en waarin almal veilig voel.

’n Nuwe konflik wat al meer voorkom, is natuurlik dié waarby Tweede Vlak-immigrante na Europa betrokke is, want hierdie groepe bevind hulle skielik in hoogs gevorderde Derde Vlak-samelewings. Die spanning tussen die Molukkers en die homogene Nederlanders in groot Europese stede soos Amsterdam het die afgelope paar jaar baie erg geword. Baie eerste-wêreldse lande leef vandag in ’n toestand van voortdurende misverstand met die nuwe intrekkers op hul eie voorstoepe. In Brittanje het dit reeds begin lei tot gevalle van stedelike terreur.

Wat die inwoners van Afrika betref, die meeste van hulle was ook reeds in ’n redelik primitiewe Tweede Vlak-bestaan ingeburger toe die slawehandelaars en imperialiste hul wêreld kom omkeer het. As gevolg van vinnig veranderende omstandighede, soos verstedeliking, ontworteling en die kognitiewe verwarring as gevolg van kennismaking met nuwe standaarde, het baie van hierdie mense teruggeglip na ’n Eerste Vlak-bestaan; vandaar die planneloosheid van baie Afrika-state, die talle burgeroorloë en die ontstaan van chaotiese terreur-en-plunder-bewegings soos die Mau-Mau.

Terugskouend kan mens amper simpatie hê met die droom van Verwoerd, wat met sy obsessie met Bantoestans juis wou keer dat die sogenaamde inboorlinge hul Tweede Vlak-beskawingspeil te vinnig verloor. Natuurlik was die droom onuitvoerbaar en het Apartheid uiteindelik juis die versplintering van hierdie beskawings verhaas. Leiers soos Robert Mugabe verteenwoordig inderwaarheid nie die Tweede Vlak-beskawingspeil van prekoloniale swartes nie, maar is ’n regressie na die Eerste Vlak, want sy bestuurstyl word gekenmerk deur ’n byna kinderlike onvermoë tot langtermyn-beplanning.

Volgens Peck is dit wel moontlik vir mense van al vier hierdie beskawingspeile om in vrede saam te leef, selfs in dieselfde land, maar dit gebeur gewoonlik eers wanneer lede van verskillende groepe saamgegooi word as gevolg van ’n tipe “katarsis" waar hulle as’t ware gedwing word om mekaar “raak te sien” en mekaar te ontmoet op ’n speelveld wat buite hul gewone raamwerk is. Wanneer so iets gebeur, leer mense om mekaar beter te waardeer, hoewel hulle mekaar steeds nie ten volle verstaan nie. Die gevaar van sogenaamde “katarsisse” is natuurlik dat dit nie noodwendig lei tot versoening nie; dit kan, afhangende van hoe die wind waai, ook maar net tot verdere versplintering lei.

Die huidige energiekrisis in Suid-Afrika het, met ander woorde, die potensiaal om mense nader aan mekaar te trek, ongeag kleur en geloof, sodat ons eindelik ’n soort konsensus (ek verkies die woord konsensus bo eenheid) bereik waarin verskillende groepe nouer begin saamwerk, of in tandem met die huidige regering, of as opposisie daarteen.

Natuurlik hoef alle katarsisse nie negatief te wees nie. Die 2010-sokkertoernooi, indien ons dit met ’n redelike mate van sukses hanteer, kan ook dien as positiewe stimulus. En ervaar ons (hierdie keer gebruik ek ons in die algemeen en bedoel ek nie slegs die wit liberale “ons” nie) genoeg sulke stimuli, kan ons dalk net een oggend wakker word en besef dat ons, ten spyte van al die gevare, ten spyte van die misdaad en die meningsverskille en die kragonderbrekings en die ander “kak en hare”, tog ’n soort konsensus as volk bereik het, ’n post-euforiese, niedramatiese sin van onsself as medeburgers van hierdie land.

*

Ek dink ons het by die punt gekom waar ons moet aanvaar dat die beste moontlike toekoms van Suid-Afrika in elk geval tussen twee uiterstes lê. Ons sal nooit ’n reënboognasie wees nie, maar ons hoef nie ’n verpletterde, oorloggeteisterde streek te word nie.

Die besef van die bestaan van iets soos beskawingsverskille behoort mens by die aanvaarding van ’n soort kompromie-werklikheid te bring, ’n kompromie-werklikheid wat dikteer dat, hoe sterk ek of jy of David Bullard of Trevor Manuel of Helen Zille ook al byvoorbeeld in suiwer kapitalisme glo, ons as gevolg van die geweldige ongelykheid tussen Suid-Afrikaanse gemeenskappe, ’n “gemengde ekonomie” moet aanvaar.

Dieselfde werklikheid sal dikteer dat ons aanvaar – met ’n mengsel van fatalisme en pragmatisme – dat ’n sekere vlak van onbeholpenheid en kleinskaalse korrupsie altyd sal voortduur. Ons hoef nie in vlamme op te gaan soos sommige ander plekke in die derde wêreld nie, maar (soos die Italianers aanvaar het dat hulle ’n chaotiese verkeerstelsel het, en soos die Franse grappies maak oor die oneffektiwiteit van hul eie burokratiese staatsdiens) ons sal moet leer saamleef met, en selfs dankbaar moet wees vir, middelmatige prestasie, want middelmatige prestasie is beter as geen prestasie nie.

Ons sal nie oornag almal in Suid-Afrika kan ophef van Eerste Vlak-burgers na Derde Vlak-entrepreneurs of Vierde Vlak-jogi’s nie. Net soos ek nie my dogtertjie van vyf jaar durf betig dat sy nog nie Graad 12-wiskunde kan doen nie, moet ek leer om soms anderpad te kyk wanneer my medemens nog nie tot dieselfde standaarde verbind is ek nie; of andersom.

Wanneer ’n gemengde groep mense – dus mense wat op verskillende beskawingsvlakke leef – mekaar eindelik "raaksien”, gebeur daar tog ’n soort wonderwerk in die kleine. Vierde Vlak-ghoeroes onthou skielik dat Eerste Vlak-mense hulle kan help om ’n motor se wiel om te ruil. Derde Vlak-sakemanne spandeer ’n bietjie meer tyd by hul gesinne. ’n Tweede Vlak-bankklerk ontdek dat hy graag romans wil lees. Ensovoorts.

Ek het al jare lank ’n probleem met Islam en die Koran. Dit het ’n vakansie in Istanbul gekos om my meer vergewingsgesind teenoor Moslems te maak. Ek verstaan nog steeds nie die Koran nie, maar ek voel nie meer so erg bedreig deur Moslems nie, en vroue met bedekte gesigte is vir my soms mooi. Dit bevestig vir my dat daar koherente gemeenskappe buite my eie bekende kliek is, gemeenskappe waar mense met ’n ander manier met mekaar omgaan en op ’n ander manier vir mekaar omgee. Dit dra by tot die diversiteit en die interessantheid van die lewe. Hoekom moet almal in elk geval soos ek wees?

Deur “ons” standaarde op die hele wêreld af te dwing, het ons gevaar begin loop om, in die oë van die ander, so onverdraagsaam te wees soos wat “hulle” in ons oë is. Dis nie verniet dat die profiel van die moderne wêreld gevorm is deur die nalatenskap van die twee Groot Revolusies – die Franse en die Irannese revolusies – nie. In die geval van die Franse het ’n groep mense met geweld beweeg vanaf ’n Tweede Vlak-samelewing na ’n Derde Vlak-samelewing omdat hulle gereed daarvoor was. In Iran het ’n hele volk spontaan die juk van ’n Derde Vlak-regering omvergewerp en teruggekeer na ’n Tweede-Vlak-samelewing. Ironies genoeg was beide revolusies ’n voorbeeld van demokrasie-in-aksie, want beide revolusies het die wil van die meerderheid vergestalt.

Nogtans is daar beter opsies as revolusie, soos die onmiddellike nadraai van die Franse Revolusie bewys het.

In Iran was die Derde Vlak-ideologie van bo af afgedwing deur ’n korrupte Sjah in samewerking met die Weste.

Ons moet waak teen alle vorme van ideologie wat van bo af afgedwing word van wie ook al, of dit nou van die Weste is of van die ANC.    

Iewers tussen die chaos van stemme wat mekaar weerspreek, iewers tussen die getoeter van minibussies en die getimmer van sokkerstadions en die geraas van lughawens en highways, het die Nuwe Suid-Afrika reeds sy eie vorm begin aanneem, op sy eie terme, en op sy eie tyd, en in tale en dialekte wat sy eie mense kan verstaan.

 

Bronne

               
M Scott Peck, A World Waiting to be Born: Civility Rediscovered
Nathaniel Branden, The Six Pillars of Self-Respect
Martin Meredith, The State of Africa
Karen Armstrong, The Battle for God

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top