Die Oosgrenshipotese as geografiese en teoretiese konstruk

  • 0

 

 Opsomming 

In resente vakliteratuur word Standaardafrikaans dikwels nog beskou as gebaseer op die historiese variëteit Oosgrensafrikaans. Uit die werk van taalhistorici soos Den Besten, Deumert en Roberge blyk egter ’n veel komplekser verlede. In hierdie artikel word die begrip Oosgrensafrikaans vanuit historiese en teoretiese perspektief nader ontleed en aangetoon dat dit mank gaan aan ernstige tekortkominge.

 

Abstract

The “Oosgrens” hypothesis as a geographical and theoretical construct

In recent publications Standard Afrikaans is still often seen as based on the historical variety Oosgrensafrikaans (Eastern Cape Frontier Afrikaans). However, the work of historical linguists such as Den Besten, Deumert and Roberge reveals a much more complex history. In this article the concept of Oosgrensafrikaans is analysed from historical and theoretical perspectives and shown to suffer from some serious defects.

 

1. Inleiding

In een van die mees onlangse Afrikaanse publikasies oor Afrikaans word sonder enige voorbehoud die volgende beweer:

Oosgrensafrikaans is sedert 1836 met die Groot Trek na die Vrystaat en Transvaal geneem. Die Afrikaans van die Noorde is dus gebaseer op Trekkerafrikaans, ’n voortsetting van Oosgrensafrikaans. Hierdie noordelike vorm van Afrikaans het uiteindelik die basis geword van Standaardafrikaans. (Hugo 2009:23-4)

Die werk van navorsers soos Den Besten, Deumert en Roberge oor die ontstaan en standaardisering van Afrikaans, waaruit belangrike nuwe insigte na vore gekom het, word gewoon oor die hoof gesien. Met bogenoemde simplistiese siening oor die ontwikkeling van Standaardafrikaans is ek onlangs weer tydens ’n besoek aan die Afrikaanse Taalmuseum in die Paarl gekonfronteer, waar groot muurkaarte die variëteite Kaapse, Oosgrens- en Oranjerivierafrikaans as ’n historiese fait accompli aanbied. Hier sou ’n mens tog ’n gebalanseerder kyk op sake verwag.

Veral gegewe die nuwe politieke konteks waarbinne Afrikaans hom tans bevind, getuig uitsprake in die pers waaruit blyk hoe die gewone volk sy eie waarheid konstrueer en perpetueer, nie maar net van onkunde nie, maar stempel dit Afrikaans tewens en ten onregte nog eens tot taal van die onderdrukker. Só beweer ’n briefskrywer byvoorbeeld in Beeld van 29 Oktober 1999 dat Oosgrensafrikaans weens die politieke oorheersing later die grondslag gelê het vir die standaardvorm van Afrikaans, want “die werklike inisiatief om te standaardiseer het […] uit die noordelike dele gekom.” In Die Burger van 30 Julie 2009 skemer ’n onvergenoegdheid deur as Leopold Scholtz in sy rubriek “Khoi-invloed dalk oordryfdit het oor die gewaande Vlaamse herkoms van die dubbele ontkenning in Afrikaans: “Dit is uiteraard uiters politiek inkorrek om dit te sê, want deesdae moet Afrikaans mos grotendeels van Khoi en slawe afkomstig wees.”

Die standaardisering van Afrikaans is ’n hoogs komplekse onderwerp maar miskien is dit belangrik om somaar vroeg in hierdie artikel reeds te verwys na ’n opmerking deur Steyn (1991:42-3). Hy wys daarop dat die invloed van die “Kapenaars” so groot was dat Preller en andere daaroor moes kla omdat ’n belangrike spellingkommissie aangestel is “uit manne afkomstig uit éen selfde omtrek van die Kaapse Westelike Provinsie, wat uiteraard nie vertroud kan wees met die ganse Afrikaanse spraakgebied in al sy verskeidenheid, soos minstens éen van hulle self erken het […]”. Steyn stel dit verder onomwonde dat Kaapstad ’n belangrike kommunikasiesentrum was en dat Kapenaars daarom soms die toon aangegee het in taalsake. Die toe-eiening van Standaardafrikaans as Transvaalse telg behoef kennelik in 2010 steeds om opnuut binne groter perspektief geplaas te word.

Die geskiedskrywing met betrekking tot die ontstaan van Afrikaans is in die verlede dikwels teoreties en ideologies te simplisties benader. Dit lyk my daarom belangrik dat die skynbaar steeds gekanoniseerde opvatting van Oosgrensafrikaans as die basisdialek van moderne Standaardafrikaans op die keper beskou word.

Die gebruik van ’n term soos Oosgrensafrikaans veronderstel:

  • die bestaan van ’n betreklik homogene variëteit; en
  • sistematiese verskille ten opsigte van ander variëteite.

As hierdie veronderstellinge gegrond is, sal bevredigend op die volgende vrae geantwoord moet kan word:

  • Wie was die sprekers van Oosgrensafrikaans presies?
  • Wat was die onderskeidende linguistiese kenmerke van Oosgrensafrikaans?
  • Kan daar subvariëteite van Oosgrensafrikaans onderskei word?

Eers as al hierdie vrae bevredigend beantwoord is, kan dié hipotese na waarde geskat word in die rekonstruksie van ’n betroubare historiese beeld van die verlede van Standaardafrikaans.

2. Die historiese juistheid van die begrip

Die sentrale vraag is in hoe ’n mate ’n term soos Oosgrensafrikaans,asook die definisie van hierdie begrip in die literatuur, die werklike aard van die destydse taalopset weerspieël: byvoorbeeld, berus die hipotese dat Oosgrensafrikaans, die latere Transvaalse Afrikaans, die grondslag vorm van Standaardafrikaans (sonder dat die Afrikaans van die bewoners elders in die destydse Kaapkolonie dus vermeld word) op stewige teoretiese en empiriese gronde?

Van Rensburg (1984:514; 1989a:436-67; 1990:66-7;1991 en 1992) beskou Oosgrensafrikaans as ’n hoofsaaklik landelike variëteit van Afrikaans wat tussen 1770 en 1840 aan die destydse Oosgrens gepraat is. Dit beslaan volgens sy geografiese definiëring volgens Kaart 1 die gebied ongeveer tussen die Groot-Brakrivier (George-omgewing) en die Groot-Visrivier (Verre Oos-Kaap). Kaapse Afrikaans beslaan ’n gebied wat strek van Kaapstad tot by die eerste bergreekse.

Kaart 1

Hierdie geografiese situering laat ’n groot en belangrike spraakgebied heeltemal buite rekening. Die taalgebruik van die Afrikaanstaliges van die Noord-Boland, Sandveld, Swartland, Overberg en Klein-Karoo – hier die tussengebied genoem – word dus wesenlik geïgnoreer. Voorts laat die definisie van Kaapse Afrikaans as hoofsaaklik gebesig deur die nakomelinge van veral die vroeë slawegemeenskap aan die Kaap, saamgelees met die geografiese definiëring van Oosgrensafrikaans, ’n verdere probleem, of dan ten minste ’n onduidelikheid, ontstaan: Watter soort Afrikaans is deur die blanke nieslawebevolking (d.w.s. die burgerbevolking) van die Kaapse gebied gepraat? Hoe het dit verskil van, of ooreengekom met, Kaapse Afrikaans en Oosgrensafrikaans?

Hierdie twee groepe sprekers, naamlik dié van die tussengebied hier bo genoem, en die burgerbevolking van die gebied waarin Kaapse Afrikaans gepraat is, het in die tyd van die Groot Trek ’n meer as beduidende deel van die Afrikaanse spraakgemeenskap uitgemaak. Volgens Muller (1987:146) het die Kaapkolonie teen 1834 ’n totale bevolking van ongeveer 150 000 gehad. Hiervan was 70 000 wit en 80 000 bruin (slawe en ander gekleurdes). Slegs ongeveer een derde van die totale bevolking het in die uitgestrekte Oosgrensgebied gewoon. Hiervan was 23 600 wit en 25 000 gekleurd (slawe en Khoi-Khoi. Die wit bevolking van die Oosgrens het ongeveer 4 000 Engelssprekendes ingesluit, sodat slegs ongeveer 28 persent van die Afrikaanssprekende wittes aan die Oosgrens gewoon het. Die orige 72 persent het hoofsaaklik in die vermelde tussengebied en die Boland gewoon. Die Boland beslaan hier min of meer daardie gebied op Kaart 1 hier bo waarin aangedui word dat daar ook Kaapse Afrikaans gebesig is. Hier in die Paarl het die GRA immers die eerste pogings tot die standaardisering van Afrikaans van stapel laat loop.

As dus aanvaar word dat die burgerbevolking in die gebied van Kaapse Afrikaans nie sprekers van Kaapse Afrikaans was nie, en dat die burgerbevolking en ander lede van die spraakgemeenskap (Khoi-Khoi en slawe) van die tussengebied nie Oosgrensafrikaans gepraat het nie, word ’n, op sy minste, beduidende gedeelte van die Afrikaanssprekende bevolking rondom die tyd van die Groot Trek nie deur die driedialek-hipotese (Kaapse Afrikaans:Oranjerivierafrikaans:Oosgrensafrikaans), soos uiteengesit deur Van Rensburg (1997), verdiskonteer nie. Anders gestel: hierdie siening laat hom in hierdie stadium nie uit oor die aard van die taalgebruik van hierdie deel van die Afrikaanssprekende bevolking nie. Rothmann (1947:11) skryf: “Met die Groot Trek het hierdie distrik [die Swellendamse distrik – HPG] slegs twee persent van sy inwoners prysgegee.”

As ondersteuning vir sy onderskeiding van drie historiese Afrikaanse variëteite voer Van Rensburg (1989a:441) geografiese getuienis aan wat berus op taalgeografiese gegewens van Louw (1948, bylae III). Louw het dialekgrense vasgestel vir die voorkoms van drie variante, te wete nôi/nooi; meule/meul; leegte/laagte en leeg/laag.

As die onderskeie dialekgrense op een kaart (Kaart 2 hier onder) aangebring word, oorvleuel die verskillende dialekgrense weliswaar, maar dit val op dat daar nietemin tussen ’n oostelike en westelike variëteit onderskei kan word. Hierdie verdeling vertoon volgens Van Rensburg opvallende ooreenkomste met sy historiese verdeling tussen Kaapse en Oosgrensafrikaans.

Kaart 2

Hierdie gegewens van Louw dui egter óók op die bestaan van ’n groot tussengebied, te wete daardie gebied op Kaart 2 waar die onderskeie dialekgrense van die genoemde variante mekaar kruis. Ten opsigte van bepaalde variante lê die dialekgrense dus anders as vir ander, met die gevolg dat twee uiterste variëteite onderskei kan word: ’n westelike variëteit waarin konsekwent net westelike variante (nôi, meule, leegte en leeg) voorkom; en ’n oostelike variëteit waarin konsekwent net oostelike variante (nooi, meul, laagte en laag) voorkom. Maar ook ’n beduidende tussengebied kan onderskei word, te wete daardie gebied waarin én westelike én oostelike variante gebruiklik is, maar waar die keuse nietemin geografies bepaal word.

Van Rensburg kon hom nie onbewus gewees het van die bestaan van ’n sodanige geografiese taalstreek nie, nogtans laat sy dialekhipotese hierdie gebied gewoon buite rekening en kan maar net gegis word oor hoe hy die taalgebruik van daardie gebied takseer.

Die bestaan van ’n talig belangrike tussengebied word ook deur Von Wielligh (1925) onderskraag. Hy onderskei ’n spraakgebied genaamd die Suidelike Distrikte wat strek van die distrik Swellendam in die weste tot by die begin van die distrik Port Elizabeth in die ooste. Oor die spraak van dié gebied beweer hy dat dit as gevolg van aansluiting by die Overbergse spraak nader staan aan Bolands as wat die Karoo-spraak aan Bolands is. Dit was trouens tot aan die begin van die 19de eeu dieselfde as Bolands as gevolg van immigrasie uit dié streek. Verder stel hy dit ook dat die Maleierinvloed nie meer so sterk in hierdie gebied teenwoordig is nie. En dan maak hy die volgende belangrike opmerking: vanuit hierdie Suidelike Distrikte versprei Afrikaans volgens hom dan na die noorde.

Die gebied waaroor Von Wielligh dit hier het, omvat ’n uiters belangrike gedeelte van die geïdentifiseerde tussengebied. Volgens Von Wielligh sluit die spraak van hierdie gebied nóú aan by die spraak van die Boland; en uit wat hy opmerk betreffende die verspreiding van Afrikaans vanuit dié gebied na die noorde, sou afgelei kon word dat die spraak van die genoemde gebied (die tussengebied) wesenlik dieselfde moet gewees het as die sogenaamde Oosgrensafrikaans. Indien dit wel die geval was, gee die begrip Oosgrensafrikaans ’n onvolledige beeld van die taaltoestande in die middel van die 19de eeu. ’n Term soos Burgerafrikaans stel die taaltoestande in die 19de eeu miskien juister, naamlik dat daar naas die twee kontakvariëteite van Afrikaans ’n behoudender variëteit (miskien ’n dialekbundel) was wat in ’n hoër mate onderlinge ooreenkomste as verskille getoon het.

Hierdie moontlikheid word ondersteun deur wat Le Roux (1910:32-3) oor dialektiese verskille in Afrikaans opmerk. Hy beweer dat dit

oor die algemeen moeilik is om vir die waargenome variante grense aan te dui, alhoewel sekere klankverskynsels, byvoorbeeld lang e en oe vir ee en oo tog streeksgebonde is; dat die verskille hoofsaaklik daarin geleë is dat sekere vorme in sekere gebiede sosiaal anders beoordeel word en wat dus in een gebied as "onbeskaafd" (ongepas) beskou word, elders geld as "beskaafd" (gepas); dat hierdie verskille reeds vóór die Groot Trek moet bestaan het, en, baie insiggewend, dat die Westelike Provinsie en veral die distrikte Paarl  en Stellenbosch af te skei is van die res van die taalgebied.

Ook Le Roux sou dus saamgestem het met die verdeling van Afrikaans in drie dialekbundels; hy gee byvoorbeeld self voorbeelde van Griekwa-Afrikaans (Oranjerivierafrikaans). Die grens tussen Kaapse Afrikaans en Oosgrensafrikaans sou hy wellig so trek dat Oosgrensafrikaans die grootste gedeelte van die oorspronklike trekboergebied omvat en dus die genoemde tussengebied sou ingesluit het. ’n Verdere belangrike punt is dat hy die variëteitsverskille in Afrikaans sien as eerder sosiaal bepaal as dan wel geografies.

Ten einde die vraag te beantwoord na die mate waarin ’n term soos Oosgrensafrikaans, asook die definisie van hierdie begrip in die literatuur, die werklike aard van die destydse taalopset weerspieël, is dit dus noodsaaklik om groter helderheid te verkry oor die verhouding tussen veral Kaapse Afrikaans en Oosgrensafrikaans. Hierdie kwessie word uitvoerig behandel in Grebe (1997, §4).

Die allesoorheersende algemene gevolgtrekking wat uit die studie van Grebe na vore kom, is dat die Swellendamse data (verteenwoordigend van die reeds vermelde tussengebied) bykans in alle opsigte ’n sterk ooreenkoms toon met wat in die literatuur oor Oosgrensafrikaans beweer word. In nege van die tien kenmerke van Oosgrensafrikaans wat in die Swellendamse data aan ondersoek onderwerp is, het ’n markante ooreenkoms met die toedrag van sake in Oosgrensafrikaans opgeval (vgl. in hierdie verband Grebe 1997:191–231). Voorbeelde van hierdie ooreenkoms betref byvoorbeeld die voorkoms van W-setselskeiding soos in die mense wat ons van praat; die voorkoms van die besitlike voornaamwoord onse; die wisseling tussen byvoorbeeld slaan/sla(a)t en kan/ken; asook die voorkoms van palatalisering, rotasering van /d/ en vokaalwisselinge soos [É™] x [ε]; [Ø] x [œ], [œy] en [e:].

Hierdie mate van ooreenkoms tussen die Swellendamse data en die taalgebruik wat as tiperend van Oosgrensafrikaans beskou word, ondermyn die geldigheid van die siening dat Standaardafrikaans gebaseer sou wees op Oosgrensafrikaans, of laat minstens twyfel ontstaan oor die geldigheid van die definisie daarvan.

Die opvallende ooreenkomste tussen die taalgebruik van die tussengebied en Oosgrensafrikaans was markant. Afgesien van die tiperende Overbergse bry-r kon daar slegs wat betref die kenmerk wat in die literatuur as verhoging beskou word, enige beduidende verskil gekonstateer word. Maar selfs in daardie geval kon aangetoon word dat die verhoging van /e:/ en /o:/ soos gehipotetiseer in die geval van Oosgrensafrikaans, ook in Swellendams aan die gang was.

Uit sowel die data van Le Roux (1910) as die Swellendamse data, as verteenwoordigend van die vermelde tussengebied (Grebe 1997:191-231), blyk dat ander faktore as gewoon die geografiese van deurslaggewende belang mag wees.

’n Ander moontlikheid as dié dat Standaardafrikaans gebaseer is op Oosgrensafrikaans, lyk dus heel waarskynlik. Dit is naamlik moontlik dat Standaardafrikaans kon gegroei het uit ’n betreklik algemene, maar veranderlike, omgangstaal/koine (vgl. in hierdie verband Den Besten 1998) wat gepraat is in die destydse Trekboergebiede van die Overberg tot aan die grense van die Kolonie in die ooste, asook in die gebiede ten weste van Kaapstad. Dit laat nog steeds die vraag oop oor hoe die taal van die burgerbevolking en daarbybehorendes van die Bolandse bakermat sig daarteenoor verhou het (vgl. in hierdie verband Ponelis 1987b).

3. Die teoretiese status van die begrip

Dit is van kardinale belang om daarop te let dat Oosgrensafrikaans juis tiperend gedefinieer word in terme daarvan as sou Standaardafrikaans hoofsaaklik daarop gegrondves wees. Dit lei noodwendig daartoe dat in vele gevalle bepaalde kenmerke wat as tiperend aangebied word, as ’t ware by voorbaat van hul krag as onderskeidende kenmerke van Oosgrensafrikaans ontdaan word omdat hulle vanweë hul voorkoms in Standaardafrikaans ’n algemeen Afrikaanse norm (koine) kon verteenwoordig het – vergelyk in hierdie verband die gegewe dat Oosgrensafrikaans gekenmerk is deur poststemlosekonsonant-/t/-lose vorme.

Ten tweede word daar dikwels melding van gemaak dat Oosgrensafrikaans in vele gevalle "niestandaardvorme van Nederlands" voortgesit het. Van Rensburg (1989a:443-7) vermeld onder andere die volgende kenmerke:

•         die vokaalvariant [ε] soos in Aprel en Wellem, teenoor [É™]
•         die konsonantkluster [xt], soos in wonderdogter, teenoor [kt]
•         die vokaalvariant [É”], soos in mot  en genog, teenoor [u]
•         die vokaalvariant [a], soos in danag, teenoor [É™].

Deur die standaardiseringsproses van Afrikaans wat reeds teen die einde van die 19de eeu begin het, is vele van hierdie kenmerke uit Standaardafrikaans geweer, onder andere as gevolg van die sogenaamde Nederlandse normeringsoorweging wat daarna gestrewe het om die afstand tussen Afrikaans en Standaardnederlands so klein moontlik te hou. Dit bly daarom onseker in welke mate kenmerke wat as tiperend aangedui word van Oosgrensafrikaans van die middel van die 19de eeu, en teenswoordig nie in die standaardtaal of ander variëteite voorkom nie, nie gewoon verteenwoordigend van ook ander variëteite van Afrikaans was nie. Inmiddels kon die standaardtaal dit oor ’n breë front teruggedring het of kon dit heeltemal verdwyn het.

Ten derde is daar die probleem dat die status van sekere kenmerke as tiperend van Oosgrensafrikaans histories op betreklik wankelrige gronde berus. Ponelis (1993:131-9) wys daarop dat die wisseling van byvoorbeeld [ε] x [É™]; [É™] x [ε]; [u] x [É”]; [É”] x [œ]; en [œy] x [ø:] baie ou verskynsels is en dat dit teruggaan op Middelnederlands en selfs verder. Dit beteken natuurlik dat die voorkoms van variante in Oosgrensafrikaans wat met hierdie wisselinge verband hou, Oosgrensafrikaans geensins as unieke variëteit van Afrikaans karakteriseer nie.

Vanuit ’n teoretiese oogpunt kan die karakterisering van Oosgrensafrikaans op grond van die lys definiërende kenmerke wat in die literatuur vermeld word (vgl. in hierdie verband Grebe 1997,  §3.3), geensins daarop aanspraak maak om meer te wees as ’n preteoretiese werkshipotese nie. Verskeie redes kan hiervoor aangevoer word. Enkele van die belangrikste besware word hier onder bespreek.

3.1. Sistematiese onderskeidendheid

As met die begrippe variëteit en dialek omgegaan word, is die kwessie van taalverskeidenheid vanselfsprekend ter sake. In hierdie verband is dit belangrik dat duidelikheid oor enkele begrippe verkry word.

Webb (1989:416-7) definieer ’n veranderlike as ’n entiteit wat meer as een waarde of realisasievorm kan hê. Geslag kan byvoorbeeld ’n veranderlike wees omdat dit óf na manlik óf na vroulik kan verwys. ’n Verdere voorbeeld van ’n veranderlike is fonetiese veranderlikes. Webb gee die voorbeeld van die verkleiningsmerker in Afrikaans wat as óf [ci] óf [ki] uitgespreek kan word. Sulke verskillende realisasievorme van ’n veranderlike heet variante.

Die begrip variëteit word in die literatuur (byvoorbeeld Du Plessis 1987b:9; Hudson 1982: 24) gedefinieer as enige vorm van ’n bepaalde taal wat sistematies op meer as een analisevlak van ’n ander vorm van dieselfde taal te onderskei en in verband te bring is met ooreenstemmende sosiale en/of geografiese verspreiding. Die term variëteit word gewoonlik as koepelterm gebruik en slaan op ’n bepaalde patroonmatige sisteem van linguistiese eienskappe met ’n aantoonbare sosiale en/of geografiese verspreiding. Webb stel dit soos volg: “’n Variëteit van ’n taal kom tot stand wanneer ’n aantal variante gesamentlik geassosieer raak met ’n bepaalde groep mense, ’n bepaalde situasie of ’n bepaalde aktiwiteit” (1989:416).

So gesien, kan die term verwys na ’n taal, ’n dialek, en ’n bepaalde styl of register. Hieruit kan afgelei word dat dit dus nie genoeg is om ’n variëteit soos Oosgrensafrikaans bloot in terme van ’n lys kenmerke te definieer nie. Buiten dat aangetoon moet kan word dat ’n bepaalde veranderlike wel in ’n variëteit voorkom / voorgekom het, word met patroonmatig hier bo bedoeldat dit ook van die grootste belang is om aan te toon dat die voorkomsfrekwensie van hierdie kenmerk beduidend verskil / verskil het van dié in ander vorme van vroeë Afrikaans, of dat die korrelasie tussen die voorkoms van die kenmerk en die bepalende sosiale en ander faktore anders uitval. In hierdie verband is die werk van Trudgill (1983), Trudgill en Chambers (1991) en Webb (1984a) veral ter sake. Dit word in veel van die tersaaklike literatuur oor Oosgrensafrikaans glad nie gedoen nie, of nie ernstig genoeg opgeneem nie.

Deur te beweer dat ’n bepaalde veranderlike "’n hoë gebruiksfrekwensie het" of "selde voorkom" of "algemener" of "beperkter as in Standaardafrikaans" voorkom, is ’n begin, maar nie voldoende nie. Trouens, studies wat die voorkomsfrekwensie van byvoorbeeld bepaalde fonologiese verskynsels in Standaardafrikaans gekwantifiseerd toereikend uitdruk, is skaars. In elk geval word nêrens in die tersaaklike literatuur van sodanige studies melding gemaak nie. Du Plessis (1987a) is hom egter nie onbewus van die belang van frekwensiestudies nie. In sy bespreking van Van der Merwe-Afrikaans meld hy wel dat kontrole-opnames op vyftien plekke dwarsoor die land gemaak is wat nie in "dieselfde besonderhede verwerk is” as in die geval van die Van der Merwe-Afrikaans nie. Frekwensieverskille in die voorkoms van bepaalde veranderlikes was deurslaggewend in die kenmerkbeskrywing van Van der Merwe-Afrikaans. Ongelukkig word geen verdere besonderhede verskaf nie.

As Du Plessis (1987b:129) dus van nasaalassimilasie beweer:

Nasaalassimilasie kom baie dikwels in Standaard-Afrikaans voor [...] Nasaalassimilasie kom selde in VDMA voor [...] Hierdie afwesigheid kan as ’n kenmerk van VDMA beskou word [.]

sou verwag word dat dit deur ’n frekwensie-indeks van die een of ander aard ondersteun sal word; daarsonder kan dit hoogstens as preteoretiese werkshipotese opgevat word. As sodanig is dit vanselfsprekend nouliks toetsbaar.

Verwysend na die onderskeid tussen variëteite as gebaseer op ’n skaal van variasie, en die onderskeid wat Van Rensburg tref tussen die drie historiese variëteite van Afrikaans, sê Du Plessis (1987b:11):

Die onderskeid wat Van Rensburg (1984) tref tussen Transvaalse (of Oosgrens-), Kaapse en Oranjerivier-Afrikaans bly op so ’n skaalvoorstelling geldig, maar ook die subvariëteite van hierdie drie basiese vorme sou op dieselfde klien tereg kon kom. Dit is immers so dat nie een van hierdie drie ’n inherente heterogeniteit veronderstel nie.

Hieruit kan afgelei word dat ook Du Plessis die siening onderskrywe dat variëteite primêr kwantitatief, en nie noodwendig kwalitatief nie, van mekaar verskil.  Om een variëteit van ’n ander te onderskei, is dit dus ook volgens hom nie genoegsaam om gewoon ’n inventaris van onderskeidende kenmerke aan te bied nie.

In hierdie verband wys Cheshire (1982:26) daarop dat daar binne ’n sosiolinguistiese benadering tot taalvariasie veral twee belangrike stadia onderskei behoort te word. Die eerste stap hou in dat die linguistiese veranderlikes (byvoorbeeld die onderskeidende kenmerke van Oosgrensafrikaans wat in die literatuur aangebied word) op die verskillende analisevlakke geïnventariseer moet word. Sy wys ook daarop dat sekere veranderlike verskynsels wat wel in die data mag voorkom, nie noodwendig bruikbaar is nie, omdat die voorkomsfrekwensie daarvan gewoon nie statisties beduidend mag wees nie. Hierdie geldigheidsfaktor waaraan kenmerke moet voldoen, kom nêrens in die literatuur oor Oosgrensafrikaans aan bod nie. Tweedens vermeld Cheshire die kwantifisering van die data binne die Laboviaanse raamwerk.

Die kwessie rondom die vraag na die mate van verskil wat daar op grond van gebruikersvariasie moet bestaan ten einde tussen dialekte te onderskei, is ’n groot probleem. Nogtans kan sosiale persepsie as ’n aanduiding van vermoede dialekverskille dien. Indien die spraakgemeenskap van ’n bepaalde taal, byvoorbeeld oordeel dat een groep sprekers hulle in hul taalgedrag onderskei, kan dit vir die taalkundige as vertrekpunt dien om die aard van daardie verskille sistematies te ondersoek. Persepsies is dus ’n eerste aanduiding van dialekonderskeid, maar moet natuurlik self ook ondersoek word.

Webb (1989:418) stel hierdie taak van die taalkundige baie duidelik: “Die variasietaalkundige [...] moet die groot hoeveelheid variasie wat daar in menslike tale voorkom, ondersoek met die doel om vas te stel of daar sisteem, patroon onderliggend daaraan is, en of dit chaoties en arbitrêr is.” Dit hou in dat die taalkundige die waarskynlikheid dat ’n variant van ’n bepaalde veranderlike sal voorkom, moet kan beskrywe.

Dit is verder belangrik om te beklemtoon dat die onderskeid tussen dialekte gewoonlik nie kwalitatief is nie, maar kwantitatief. Al kan ’n bepaalde dialek soms op grond van die voorkoms van ’n bepaalde kenmerk van ’n ander onderskei word indien dit by die een aanwesig is en by die ander nie, is dit egter nie altyd so eenvoudig nie; soms is dit veel eerder ’n kwessie van graadverskil. So kan die frekwensie van voorkoms van ’n bepaalde kenmerk by een dialek veel hoër wees as by ’n ander, en juis hierdie kwantitatiewe verskil kan ten grondslag lê aan die sosiale onderskeid tussen die dialekte. Dieselfde kenmerk kan ook by meer as een dialek voorkom, maar juis die kombinasie van daardie kenmerk met ander kenmerke kan twee dialekte van mekaar onderskei. In die literatuur oor en definiëring van Oosgrensafrikaans is hierdie aspek van taalvariasie volledig afwesig.

3.2 Oorbeklemtoning van die geografiese faktor

Binne een taal kan verskillende soorte variëteite onderskei word. Du Plessis (1987b:7-8) onderskei byvoorbeeld tussen gebruikersvariëteite enersyds en gebruiksvariëteite andersyds. Hy onderskei ook tussen twee tipes gebruikersvariëteite op grond van faktore wat as die korrelaat van variasie geïdentifiseer kan word, naamlik geografiese en sosiale variëteite. Net so word twee gebruiksvariëteite, naamlik styl en register, onderskei. Die begrip dialek word dan gebruik om spesifiek na gebruikersvariasie te verwys. In hierdie verband skryf Webb (1989a:429):

Die groep mense waarmee dialekte verband hou, wissel natuurlik van aard. Soms is die groep etnies van aard, soms sosio-ekonomies, soms woon hulle in ’n bepaalde gebied, en soms is hulle almal van ’n bepaalde leeftyd, ens. Daarom praat ons van etniese dialekte, sosiale dialekte, geografiese dialekte, leeftydsdialekte, ens.

Teen hierdie agtergrond sou mens kon sê dat daar in die literatuur tussen Kaapse Afrikaans en Oranjerivierafrikaans enersyds, en Oosgrensafrikaans andersyds op grond van etniese redes onderskei word. Voorts word Oosgrensafrikaans ook geografies afgebaken.

Kaapse Afrikaans is volgens Van Rensburg dié variëteit van Afrikaans aan die suidpunt van Afrika wat vóór 1700 bewoon is, en wat gepraat is/word deur die slawe en hulle nakomelinge. Van Rijn (1914) onderskei ook die variëteit Kleurling-Hollands, wat die taal was van die slawe en Mardykers, en tipeer dit as "krom of arm" Hollands – as ’n intertaal, dus. Volgens Du Plessis is hierdie Kleurling-Hollands en Kaapse Afrikaans dieselfde. Ook Ponelis (1987a) onderskei Suidwestelike Afrikaans (Kaapse Afrikaans) as ’n afsonderlike variëteit. Volgens hom word hierdie variëteit deur groot getalle wittes en gekleurdes gepraat. Tog vermeld hy dat die standaardisering van Afrikaans en die meegaande stigmatisering van Kaapse Afrikaans die bruin gemeenskap die ergste getref het. Hieruit sou afgelei kan word dat ook hy die bruin gemeenskap beskou as die kerngemeenskap van Kaapse Afrikaans.

Uit die omskrywinge van Kaapse Afrikaans in die onderhawige literatuur kan afgelei word dat Kaapse Afrikaans in wese as ’n sosiolek beskou word en dat dit hoofsaaklik gebesig word deur ’n spesifieke sosiokulturele groep, naamlik die Kaapse bruin gemeenskap met die Maleiergemeenskap in die kern.

Teenoor die twee kontakvariëteite van Afrikaans, naamlik Kaapse Afrikaans en Oranjerivierafrikaans, stel Van Rensburg Oosgrensafrikaans. Hierdie variëteit het volgens hom gegroei uit die taal van landelike burgers wat vanuit die Kaap die binneland ingetrek het. Hoewel Van Rijn heel eksplisiet op grond van sosio-etniese faktore onderskei as hy Kleurling-Hollands teenoor Burger- en Boerehollands stel, gee Van Rensburg egter met die benaming Oosgrensafrikaans eksplisiet te kenne dat dié dialek pertinent op grond van histories-geografiese gronde onderskei word en dat Oosgrensafrikaans, afgesien van sosiale faktore, in wese ’n geografiese dialek was. Hieruit sou afgelei kan word dat Oosgrensafrikaans te onderskei is van die Afrikaans wat deur die burger-/boerebevolking buite die 19de-eeuse Oosgrens gepraat is.

Een van die vernaamste besware wat teen die dialekgeografie ingebring kan word, sluit direk aan by die beswaar wat hier bo geopper is in verband met die gebrek aan kwantifisering. Veral binne die moderne variasietaalkunde-benadering word daarop gewys dat die oorbeklemtoning van die geografiese faktor die werklike dinamiek wat variasie onderlê, mag negeer.

Oosgrensafrikaans word in die tersaaklike literatuur hoofsaaklik as ’n histories-geografiese variëteit gedefinieer. Miskien juis as gevolg hiervan is daar volstaan met die inventarisering van ’n stel identifiserende kenmerke. As taalvariasie meer vanuit die standpunt van Labov se sosiolinguistiese benadering beskou is, sou dit onmoontlik gewees het om met ’n lys kenmerke te volstaan sonder om dit te kwantifiseer en met ander sosiale faktore in verband te bring.

Só ’n benadering sou waarskynlik daartoe kon gelei het dat vroeë taalvariasie in Afrikaans eerder benader is vanuit ’n perspektief gebaseer op ’n kombinasie van etniese, geografiese en ander sosiale kondisioneringsfaktore. Hierdie punt van kritiek ontken nie die geografiese as ’n moontlike faktor nie. Sonder die nodige empiriese ondersteuning is die bestaan van Oosgrensafrikaans as onderskeibare  vroeë variëteit egter minder oortuigend en kan dit hoogstens as ’n preteoretiese hipotese beskou word.

Die vermoede dat eerder in terme van ’n sosiolek gedink moet word, lyk na ’n moontlikheid wat nie somaar sonder meer uitgesluit kan word nie. As alternatief vir ’n geolektiese siening van Oosgrensafrikaans kan ’n ander alternatief gestel word, naamlik dat hier primêr aan ’n sosiolektiese definisie gedink moet word. So gesien, is Oosgrensafrikaans ’n dialek wat hoofsaaklik gepraat is deur die burgerbevolking en ander lede van dieselfde spraakgemeenskap van oorkant die eerste Kaapse bergreekse tot aan die 19de-eeuse Oosgrens. Teen die agtergrond hiervan sou ’n benaming soos Burgerafrikaans (duidend op die taal van die burgerklas/veeboere van die 17de en vroeë 18de eeu) stellig meer gepas wees.

3.3 Botsende sieninge

In hoe ’n mate die taal van die burgerboerebevolking in die bakermat van die Kaap by Oosgrens-/Burgerafrikaans aansluiting gevind het, is steeds onduidelik. Ter motivering van sy siening vir die bestaan van drie historiese Afrikaanse dialekte beroep Van Rensburg hom ook op Ponelis (1987a:9). Dit is dus gerade om ook vlugtig die indeling van Ponelis onder oë te neem.

Ponelis onderskei tussen Suidwestelike, Noordwestelike en Oostelike Afrikaans. Suidwestelike Afrikaans, ook genoem Kaapse Afrikaans, word gepraat in die Kaapse Skiereiland, die Boland en Noord-Boland, die Sandveld, die Swartland, die Overberg en die Klein-Karoo. Die gebied van Noordwestelike Afrikaans is Namakwaland, westelike Boesmanland, die Richtersveld en die suide van Namibië. Die gebied van Oostelike Afrikaans beslaan die grootste gedeelte van die Kaapse binneland, die Vrystaat, die voormalige Transvaal en Natal. Ponelis beweer ook dat Standaardafrikaans op basis van Oostelike Afrikaans gestandaardiseer is. Ponelis sê voorts: “Nóg oostelike nóg suidwestelike Afrikaans is die eksklusiewe besit van ’n bepaalde bevolkingsgroep: albei word deur groot getalle sowel blankes as gekleurdes gepraat” (1987a:10).

Net ’n paragraaf of wat verder staan egter ook die volgende:

Nogtans het die volle vlaag stigmatisering waardeur suidwestelike Afrikaans getref is, ongelukkig die uitwerking gehad dat dié mense wat Kaapse Afrikaans die langste en konsekwentste bly praat het, naamlik die bruin mense die ergste daardeur getref word [...]. (Ponelis 1987a:10)

Ponelis (1987b:44–5) meld dat in die gebied van Suidwestelike Afrikaans die grootste mate van dialektiese verskeidenheid in Afrikaans voorkom. Teenoor tipies Kaapse variante soos hoë [e] voor [k], effense of drastiese verhoging van /e:/ en /o:/, die bry-r, helder [a], en [a:] en [v] na konsonante, maak hy ’n verdere fyner variëteitsonderskeiding.

Kaapse Vernakular-Afrikaans, waarvan die duidelikste vorm in Kaapstad voorkom, kan naamlik op grond van sekere kenmerke van algemene Kaapse Afrikaans onderskei word. ’n Twaalftal variante tipeer hierdie subvariëteit van Kaapse Afrikaans. Hieronder is die volgende die opvallendste: [dÊ’] soos in [dÊ’as] jas; [t∫] soos in [bit∫i] bietjie; algemene verlaging van schwa tot [a] soos in [xasε:]; ’n aansienlik hoër mate van /r/-verlies as in ander variëteite, byvoorbeeld [ba:t] baard; [d]-invoeging soos in [xÉ™sε:dÉ™t]; en ’n algehele gebrek aan nasalering.

Anders as wat Van Rensburg konstateer, kom Kaapse Afrikaans volgens Ponelis dus oor ’n veel wyer geografiese gebied voor. In hoofsaak kom Ponelis se beskouing daarop neer dat die gebied wat as tussengebied geïdentifiseer is, pertinent gereken moet word tot die gebied van Kaapse Afrikaans.

Ponelis se definiëring van Suidwestelike (Kaapse) Afrikaans laat twyfel ontstaan oor die verhouding tussen Kaapse Afrikaans en moderne Standaardafrikaans enersyds, en oor die verhouding tussen Kaapse Afrikaans in die algemeen en Kaapse Vernakular-Afrikaans as ’n subvariëteit daarvan andersyds.

Hierdie probleem is deel van die sentrale vraagstuk betreffende die verdeling van Afrikaans in drie historiese variëteite en die standaardisering van Standaardafrikaans op basis van Oosgrensafrikaans. Gevolglik noodsaak hierdie kwessie nadere analise:

  • Soos Van Rensburg, beskou Ponelis Standaardafrikaans as ’n voortsetting van Oostelike (d.w.s. Oosgrens-) Afrikaans.
  • In weerwil van hierdie beskouing dat Standaardafrikaans wesenlik ’n voortsetting van Oosgrensafrikaans is, definieer hy Suidwestelike Afrikaans in terme van tipiese kenmerke, uitgesonderd dié van Kaapse Vernakular-Afrikaans, wat myns insiens part en deel van Standaardafrikaans is, indien aanvaar word dat Standaardafrikaans in sigself niehomogeen is en gevolglik ook variasie vertoon. In hierdie verband stel Webb en De Villiers (1985:201) die saak soos volg:

    Dit beteken egter wel dat ons ons norme vir SA [Standaardafrikaans – HPG] nie so rigied moet stel nie, en bv. moet aanvaar dat taalvorme in SA op meer as een manier gerealiseer kan word.

    Voorbeelde van SA se heterogeniteit is die volgende:

    (a)      Fonologies

    /e/ → [e] of [e↓]
    Onverhoogde óf verhoogde /e/ en /o/
    Ronde en ontronde abnormale voorvokale
    ................................................................
    Verskillende grade van nasalering
    /r/ → [r] of R]..............................................
    /v/ → [v] of [w].............................................
    ................................................................

 

  • Die tiperende kenmerke van Kaapse Vernakular-Afrikaans wat stellig volgens Ponelis struktureel deel van die Kaapse dialekbundel uitmaak, word daarteenoor deur die hele Afrikaanse spraakgemeenskap (ook in die onmiddellike omgewing van Kaapstad en omstreke) beoordeel as nie behorende tot Standaardafrikaans nie.
  • Hierdie konflikterende siening van Suidwestelike (Kaapse) Afrikaans laat ernstige vrae ontstaan oor die sosiolinguistiese status van Suidwestelike Afrikaans as ’n enkele onderskeibare variëteit. Indien die tipiese kenmerke van Suidwestelike Afrikaans deel uitmaak van ’n algemene Standaardafrikaans, maar dié van Kaapse Vernakular-Afrikaans nie, laat dit twyfel ontstaan oor of Suidwestelike Afrikaans hoegenaamd ’n strukturele eenheid vorm en as sodanig te onderskei is van Oostelike Afrikaans.
  • Samevattend ontstaan die vraag dus of daar nie ’n verdeling regdeur Suidwestelike Afrikaans loop wat die twee uiterste dele verskillend laat uitval ten opsigte van Oostelike Afrikaans en dus ook Standaardafrikaans nie. Indien dit wel die geval is, sou daar kwalik van ’n enkele, afsonderlike Suidwestelike Afrikaanse dialekbundel sprake kon wees. Die verhouding tussen “Suidwestelike Afrikaans”, “Kaapse Afrikaans” en “Oostelike Afrikaans” is gevolglik in uiters onsekere terme gedefinieer. Die strukturele verwantskap tussen ’n Algemene Kaapse Afrikaans en Kaapse Vernakular-Afrikaans aan die een kant en Oostelike Afrikaans en Standaardafrikaans aan die ander kant moet waarskynlik eerder in terme van ’n kontinuumperspektief gesoek word wat sowel geografiese as sosiale determinante vertoon.

Onderliggend aan die verskillende sieninge van Ponelis en Van Rensburg lê belangrike kwessies waaroor groter duidelikheid verkry sal moet word ten einde die samehang van die historiese variëteite van Afrikaans ten volle te begryp. Hierdie kwessies is:

  • Wat is die taalkundig onderskeidende kenmerke van Kaapse Afrikaans?
  • Wat is die verhouding tussen Kaapse Afrikaans en Standaardafrikaans?
  • Wie is/was die sprekers van Kaapse Afrikaans?

Voordat hierdie vrae bevredigend beantwoord word, is dit nie duidelik in watter mate die sieninge van Ponelis en Van Rensburg enigsins met mekaar verband hou nie. Dit is ook jammer dat geen van die twee navorsers genoegsame stawende linguistiese inligting vir hul sieninge verskaf nie. Sonder sodanige primêre data bestaan die gevaar dat die huidige situasie ten opsigte van variasie in Afrikaans maar net vanuit ’n historiese perspektief herinterpreteer word.

In die brandpunt van bogenoemde onduidelikhede staan die gemelde tussengebied.

4. Slotsom

Die onsekerhede rondom die status van Oosgrensafrikaans as onderskeibare historiese variëteit van Afrikaans, en veral ten opsigte van sy posisie in verhouding tot moderne Standaardafrikaans, bring opnuut ander belangrike vraagstukke na vore:

  • Om tot belangrike insigte oor die geskiedenis van Standaardafrikaans te kom, is faktore anders as die sterk etnies-geografiese begrensinge  waarskynlik van groot belang.
  • Etniese faktore moet waarskynlik wel ’n rol gespeel het, maar of dit noodwendig daartoe gelei het dat Oosgrensafrikaans onderskeibaar tot voortsettingsvariëteit ontwikkel het, is onseker.
  • Die moontlikheid van ’n variasiekontinuum met ’n voortsettingsvariëteit en aanleerdersvariëteite aan die uiterste punte daarvan mag insiggewender blyk te wees.

Immers, die variëteite Kaapse Afrikaans en Oranjerivierafrikaans word in terme van die intertaalteorie gedefinieer, en so ’n teorie het as een van sy basiese aksiomas die bestaan van ’n intertaalkontinuum. Die verskillende stadia op hierdie kontinuum sou uiteraard ’n baie oop sisteem verteenwoordig het. Roberge (1995:77, 82) onderskrywe hierdie moontlikheid:

[Interlanguages] neither shared norms nor stability in given individuals. In fact, an interlanguage continuum in the Cape Colony between 1652 and 1700 could have ranged from the most rudimentary jargon to fluent, non-native Dutch [.];

[...] the Dutch language at the Cape of Good Hope formed a continuum from the most creole-like variety within the Afro-Asian substrate to an uncreolised extra-territorial variety of the European superstrate.

Deur Oosgrensafrikaans op grond van geografiese en sosiale gronde van ander variëteite van Afrikaans te onderskei, en dit terselfdertyd as die basisdialek van Standaardafrikaans te beskou, kan daartoe lei dat politieke innuendo’s moontlik ingelees kan word. ’n Verdere probleem wat hiermee verband hou, is dat die rol wat van die vroeë intertaalvariëteite moet uitgegaan het, nie geïntegreerd genoeg verantwoord word nie.

Die onderskeie "kragte" wat daar van sowel die aanleerders- as voortsettingsvariëteite uitgegaan het, en hoe hierdie "kragte" saamgesnoer is tot Afrikaans, moet aangetoon word. Eerder dus as om Standaardafrikaans te sien as die voortsetting van primêr ’n voortsettingsvariëteit soos Oosgrensafrikaans, kan dit vrugbaar wees om, soos Roberge, in terme van ’n oop sisteem te dink met voortsetting- en aanleerdersvorme as benaderde punte op ’n taalkontinuum.   

Voorts word die bestaan van so ’n variëteit van Afrikaans as te onderskei van die taalgebruik van hoofsaaklik die burgerbevolking buite die destydse Oosgrens nie linguisties oortuigend aangetoon nie. Kwalitatiewe en kwantitatiewe linguistiese verskille moet op vakkundig verantwoordbare wyse aangetoon kan word voordat die onderskeie variëteit Oosgrensafrikaans, soos dit tans in die literatuur gedefinieer word, as teoreties gefundeerd beskou kan word.

Hierin slaag Van Rensburg, Du Plessis, en ook Ponelis in die mate waarin sy siening met dié van Van Rensburg en Du Plessis te rym is, nie voldoende nie. Hulle tipeer Oosgrensafrikaans nie as linguisties onderskeie van die spraak van ander burgers en taalgenote elders in die destydse Kolonie nie. Daar is hoogstens gesuggereer dat die taal van ’n deel van die burgerbevolking moet verskil het van die taal van die slawe, die Khoi-Khoi en hul nakomelinge (t.w. Kaapse Afrikaans en Oranjerivierafrikaans) aan die verste rande van die Kolonie. 

Daar word nie voldoende aangetoon dat sekere kenmerke net in Oosgrensafrikaans voorgekom het nie; ook nie dat die saambundeling van kenmerke uniek was nie. Ook kwantitatief word Oosgrensafrikaans nie uniek gedefinieer nie – die verskil in frekwensie van linguistiese variante word nie as statisties beduidend uitgewys nie. Van Rensburg en Du Plessis meld byvoorbeeld dat /e:/- en /o:/-verhoging ook in Oosgrensafrikaans voorgekom het, maar volstaan dan met die bewering dat die frekwensie laer was as in Kaapse Afrikaans.

Dit val ook op dat vele van die tiperende kenmerke van Oosgrensafrikaans vandag oor feitlik die hele Afrikaanse taalgebied voorkom. Voorbeelde van sulke kenmerke sluit in: /e:/-ronding (soos in seuwe); /t/-skrapping (loop, lig); die vir de/het; intervokaliese-/x/-skrapping (seël); en vir voor persoonlike voorwerpe (ek sien vir jou). Dit is hoogs onwaarskynlik dat die algemene voorkoms hiervan aan die invloed van die standaardvariëteit toegeskryf kan word of dat hierdie kenmerke uitsluitend terug te voer is na die historiese variëteit Oosgrensafrikaans.

Soos reeds hier bo voorgestel is, kan dit vrugbaar wees om in terme van ’n oop sisteem te dink met voortsetting- en aanleerdersvorme as benaderde punte op ’n taalkontinuum.   

So ’n aangepaste siening maak dit makliker om op ’n geïntegreerde wyse verantwoording te doen van die onteenseglik belangrike invloed wat moet uitgegaan het van die intertaalvariëteite soos Kaapse Afrikaans, omdat ’n natuurlike “osmoseproses” dan veel waarskynliker en gemakliker sou kon verloop het, as wanneer die basis van Standaardafrikaans ver in die oostelike trekboergebiede (en die Transvaal) afgesonder word. Belangrike kultuurhaarde soos Genadendal kan dan ook meespeel in die standaardiseringsproses van Afrikaans. Dit is dus noodsaaklik om groter helderheid te verkry oor die verhouding tussen veral Kaapse Afrikaans en Oosgrensafrikaans.

 

Bibliografie

Barkhuizen J.H., H.F. Stander en G.J. Swart (reds.) 1992. Hupomnema: Feesbundel opgedra aan prof J.P. Louw. Pretoria: Departement Grieks, Universiteit van Pretoria.

Botha, T.J.R. (red.). 1989. Inleiding tot die Afrikaanse Taalkunde. Kaapstad: Academica.

Cheshire, J. 1982. Variations in an English dialect. Cambridge: Cambridge University Press.

Den Besten, H. 1989. From Khoekhoen foreigntalk via Hottentot Dutch to Afrikaans: the creation of a novel grammar. In Pütz en Dirven (reds.) 1989.

De Villiers, M. 1987. (hersien deur F.A. Ponelis). 4de hers.uitg. Afrikaanse klankleer. Kaapstad: Tafelberg.

Deumert, A. 2004. Language standardization and language change. The dynamics of Cape Dutch. Amsterdam: John Benjamins.

Du Plessis, H. 1987a. Aspekte van Suidwes-Afrikaans met spesifieke verwysing na die Afrikaans van die Van der Merwes. Pretoria: RGN-verslag.

—. 1987b. Variasietaalkunde. Pretoria: Serva.

Du Plessis, H. en T. du Plessis (reds.). 1987. Afrikaans en taalpolitiek. Pretoria: HAUM.

Grebe, H.P. 1997. Die historiografie van Afrikaans in heroënskou. Ongepubliseerde DLitt-proefskrif, Universiteit van Pretoria.

Grieshaber, N.J. en J.L. Venter (samestellers). 1985. Kongresreferate, Linguistevereniging van Suider-Afrika, 21ste Nasionale Kongres, Universiteit van Natal. Pietermaritzburg: Linguistevereniging van Suider-Afrika.

Hudson, R.A. 1982. Sociolinguistics. Cambridge: Cambridge University Press.

Hugo, D. (red.). 2009. Halala Afrikaans. Pretoria: Protea Boekhuis

Le Roux, T.H. 1910. Beschrijvende klankleer van het Afrikaans. Leiden: Stijthoff.

Louw, S.A. 1948. Dialekvermenging en taalontwikkeling. Kaapstad: Balkema.

Mesthrie, R. (red.). 1995. Language and social history: Studies in South African socio-linguistics. Kaapstad: David Philip Publishers.

Muller, C.F.J. 1987. Die oorsprong van die Groot Trek. Studia Originale, 5. Pretoria: Unisa.

Ponelis, F.A. 1987a. Die eenheid van die Afrikaanse taalgemeenskap. In Du Plessis en Du Plessis (reds.) 1987.

—. 1987b.  (hersien deur). Afrikaanse klankleer. Kaapstad: Tafelberg.

—. 1993. The development of Afrikaans. Frankfurt am Main: Peter Lang.

Pütz, M. en R. Dirven (reds.). 1989. Wheels within wheels. Frankfurt am Main: Peter Lang.

Roberge, Paul T. 1995. The formation of Afrikaans. In Mesthrie (red.) 1995.

Rothmann, M.E. 1947. Oorlogsdagboek van ’n Transvaalse burger te velde. Met inleiding en aantekeninge deur M.E.R. Kaapstad: Nasionale Pers.

Steyn, J.C. 1991. ’n Voorstudie oor die standaardisering van Oosgrensafrikaans. In Van Rensburg 1991.

Trudgill, P. 1983. On dialect: A social and geographical perspective. Oxford: Basil Blackwell.

Trudgill, P. en J.K. Chambers. 1991. Dialects of English: Studies in grammatical variation. Londen: Longman.

Van Rensburg, M.C.J. 1984. Die Afrikaans van die Griekwas in die tagtigerjare. Pretoria: RGN-verslag.

—. 1989a. Soorte Afrikaans. In Botha (red.)1989.

—. 1989b. (red.). ’n Verkenning van Afrikaans: Gister. Bloemfontein: Patmos.

—. 1990. Taalvariëteite en die wording van Afrikaans in Afrika. Bloemfontein: Patmos.

—. 1991. Finale verslag: Hedendaagse Oosgrensafrikaans. Ongepubliseerde RGN-verslag.

—. 1992. Op soek na Afrikaans: Oor ontbrekende perspektiewe in die Afrikaanse geskiedskrywing. In Barkhuizen, Stander en Swart (reds.) 1992.

—. 1997. (red.). Afrikaans in Afrika. Pretoria: J.L. van Schaik.

Van Rijn, C.J. 1914. Het zeer nauwe verband tussen het Afrikaans en het Nederlands. Kaapstad: deur skrywer self uitgegee.

Von Wielligh, G.R. 1925. Ons geselstaal. Pretoria: J.L. van Schaik.

Webb, V.N. 1984a. Die bestudering van linguistiese heterogeniteit m.b.t. die rekenaar vanuit die perspektief van Labov se kwalitatiewe paradigma. In Webb (red.) 1984b.

—. 1984b (red.). LVSA-kongresreferate, 20. Pretoria: Universiteit van Pretoria.

—. 1989. Die Afrikaanse variasietaalkunde. In Botha (red.) 1989.

Webb, V.N. en A. de Villiers. 1985. Standaardafrikaans: Chomskities of Laboviaans? In Grieshaber en Venter (samestellers) 1985.

 



  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top