Die onderrig van klassieke literêre tekste en die skoolkurrikulum

  • 0

In Die Burger van 7 November mor leerders, onderwysers en selfs dosente oor die insluiting van Shakespeare in die skoolkurrikulum.

’n Graad 12-leerder van die Hoërskool Hugenote in Wellington sê volgens die berig Shakespeare “se goed is ancient” en “glad nie meer relevant in ons lewe nie”.

Ook ’n Engels-departementshoof van ’n skool in Kuilsrivier sê sy vra haar al jare af hoekom hulle steeds Shakespeare op skool moet behandel. Volgens haar sukkel die kinders met die taal en kan hulle glad nie met Shakespeare se wêreld identifiseer nie.

Christa van der Walt, ’n kurrikulum- en taalkenner van die Universiteit Stellenbosch, sê in dieselfde berig: “Shakespeare se werk het ’n mitiese status bereik en selfs as onderwysers dit kan vermy, kies hulle steeds om dit te behandel. Eers op universiteit ontwikkel letterkundestudente werklik ’n waardering vir sy skryfwerk. Op skool moet daar eerder op taal gefokus word.”

Die kwessie strek verder as slegs Shakespeare. In die Afrikaanse letterkunde word die klassieke werke hoegenaamd nie eers meer op skool voorgeskryf nie. In die Wes-Kaap-kurrikulum is Van Wyk Louw se Germanicus die laaste keer in 1982 behandel. Joernaal van Jorik, Periandros van Korinthe (DJ Opperman) en Raka haal ook lank nie meer die lys van voorgeskrewe werke nie.

 

Dit word ook nie noodwendig op universiteit behandel nie.

Die vraag wat ontstaan is of ’n geslag matrikulante en gegradueerdes die lewe ingestuur word sonder die verwysingsraamwerk wat hierdie grootse werke – net soos die Bybel as literêre werk– gee. En betree van hierdie gegradueerdes weer die onderwys (as taalonderwysers!) sonder hierdie verwysingsraamwerk? Kan dit vergelyk met word met ’n kunstenaar wat nooit kers opgesteek het by die ou meesters nie? Met ’n pianis wat nooit toonlere of Bach gespeel het nie? ’n Kind wat toegelaat word om nie groente te eet nie omdat dit kwansuis nie “lekker” is nie?

Hoe verarm hierdie situasie uiteindelik die onderrig en die leerder? Die letterkunde en die kunste as geheel? En hoe ver kring hierdie “versuim” uit? Of het dit in werklikheid geen verreikende gevolge nie omdat dit dalk régtig nie meer relevant is vir die huidige geslag nie?

LitNet het ’n paar kenners se menings gevra. Hier onder volg hul kommentaar.

Lina Spies
George Steiner
Boris Pasternak

Lina Spies: Die kuns van lees

Die berig in Die Burger (7 November) oor Shakespeare wat nie meer vir die hoogste grade van die middelbare skool voorgeskryf moet word nie, omdat sy werk nie meer relevant sou wees vir vandag se jeug nie, het my onmiddellik ’n onvergeetlike lewenservaring laat herleef. Op uitnodiging van die Departement Afrikaans van die UP, waaraan ek op dié tydstip as dosent verbonde was, het ek op ’n dag in September of Oktober 1985 die voorreg gehad om te luister na George Steiner, ’n literator van wêreldstatuur, buitengewone professor aan Cambridge en professor van Engels en vergelykende letterkunde aan die Universiteit van Genève. Die essensiële inhoud van die lesing is opgeteken in my geheue. Gelukkig hoef ek my egter nie op my geheue te verlaat nie, want die lesing, “The arts of reading”, is gepubliseer in Taal en beroep onder redaksie van Réna Pretorius (UP, 1986) vir my om te lees en te herlees.

Met die “kuns van lees” bedoel Steiner om aandagtig te lees; met konsentrasie. Dit vereis stilte, en dié stilte vereis op sy beurt ’n ruimte waarin ’n leser hom (haar) kan afsonder met die boek wat hy (sy) lees. Dié stil ruimtes is nie vandag oral beskikbaar nie. Steiner wys daarop dat musiek die meeste voordeel trek uit ons elektroniese eeu. Orals en altyd kan mense na musiek luister, wat nie in dieselfde mate as lees stilte vereis nie. Die kultuur van klank domineer en vervang al hoe meer die gedrukte woord en die boek. Andersyds gee die internet tog ook besondere toegang tot die wêreldletterkunde, wat met Steiner se lesing in 1985 nog nie die geval was nie.

Die een kuns van lees wat ons heeltemal verloor het en wat Steiner veral betreur, is memorisering. Kinders leer nie meer gedigte of mooi prosa uit die hoof nie. Steiner noem een uitsondering op die reël: die Russiese wêreld tydens die kommunistiese bewind. Sensuur het die Russe beroof van die werke van hulle groot skrywers en van die poësie waarvoor hulle so hartstogtelik lief is. En toe vertel Steiner ’n ware verhaal wat my daardie oggend so aan die hart gegryp het dat ek my trane nie kon bedwing nie; ’n verhaal verbonde aan ’n skrywerskongres van 1937. Die groot skrywer Boris Pasternak was daar van wie minstens sy een roman, Dokter Zjivago, wêreldbekend is. Met sy rysige gestalte kon almal hom sien, ook die KGB wat hom wou arresteer. Die eerste twee dae van die kongres het hy nie ’n woord gesê nie. Mense het by hom aangedring om iets te sê, want sy swye sou nie sy inhegtenisname verhoed nie. Soos by alle Russiese skrywerskongresse was daar drie, vier duisend mense in die saal. Toe op die derde dag sê Pasternak net saggies in Russies die nommer 30 en die hele gehoor staan op en dra sy vertaling van Shakespeare se 30ste sonnet hardop voor:

When to the sessions of sweet, silent thought
I summon up remembrance of things past,
I sigh the lack of many a thing I sought,
And with old woes new wail my dear time’s waste:
Then can I drown an eye, unused to flow,
For precious friends hid in death’s dateless night,
And weep afresh love’s long since cancelled woe,
And moan the expense of many a vanished sight:
Then can I grieve at grievances foregone,
And heavily from woe to woe tell o’er
The sad account of fore-bemoanèd moan.
Which I new pay as if not paid before.
But if the while I think on thee, dear friend,
All losses are restored and sorrows end.

En ná daardie voordrag kon die KGB niks doen nie; nie ’n hand op iemand lê nie.

Die groot Russiese digter Osip Mandelstam se vrou, Nadezhda, het geweet toe hy weggeneem is om vermoor te word dat sy moordenaars sou terugkom om sy gedigte te konfiskeer. Sy en net tien ander mense het al tagtig van sy gedigte onderling uitgedeel en uit die hoof geleer sodat ons hulle almal vandag het. Waar so iets moontlik is, is ’n kultuur nie in gevaar nie. Op my rak staan ’n dun keur uit sy gedigte in Engelse vertaling. Dit was ’n present van Audrey Blignault, wat ’n leeftyd lank Afrikaanse mense geïnspireer het om te lees: deur haar essays, radiopraatjies en boekbesprekings by leeskringe. Eenmaal het sy ironies opgemerk dat sy in die huise waarin sy gekom het, net twee boeke kon kry: die telefoongids en die Bybel.

Ek het my eie biblioteek oor ’n leeftyd opgebou. Uiteraard is ek bewus van die harde werklikheid van Suid-Afrika en besef ek dat wanneer mense in ’n stryd om brood gewikkel is, daar nie geld vir duur boeke is nie. Nogtans is ek daarvan oortuig dat besielde onderwysers Afrikaanse leerlinge die grootsheid van die Engelse taal deur Shakespeare kan leer en die skoonheid van ’n bloedjong taal soos Afrikaans deur onder andere Van Wyk Louw en Opperman. Hoe kan onderwysers dit doen? Hulle kan begin deur die klaskamer in ’n stil ruimte te omskep waarin daar woordeboeke beskikbaar is. Binne die ruimte van die klaskamer kan hulle minstens ’n gedeelte van die teks saam met hulle leerders lees. Die woorde wat leerders nie verstaan nie, kan die onderwysers hulle in ’n woordeboek laat naslaan.

As ’n onderwyser geen geesdrif vir ’n belangrike literêre werk soos ’n drama van Shakespeare het nie, hoe kan hy/sy geesdrif daarvoor by leerders wek? Die verhale van Shakespeare se dramas is menslike verhale vir alle tye. Dit gaan oor mense en menseverhoudinge wat net so eie is aan ons tyd as wat dit was aan die tyd van Shakespeare. Om dit anders te stel: die eeu van Shakespeare is ons eeu.

Ek sou graag wou vra: as Shakespeare verouderd is, wat van die verhale van die Ou Testament? Die uitdaging in die Suid-Afrika van die hede is om kinders lief te maak vir die boek. Natuurlik begín niemand by Shakespeare nie, maar wanneer leerders by een van sy dramas uitkom, sonder dat hulle geleer het om met konsentrasie te lees, staan ’n onderwyser inderdaad voor ’n moeilike taak. Die lus om te lees moet van kleins af by ’n kind gekweek word. Dan sal kinders nie terugdeins van die lees van klassieke werke in die hoogste klasse nie, maar eerder daarna uitreik.

Audrey Blignaut sou gesê het dat ’n kultuur in ernstige gevaar verkeer as onderwyskenners, onderwysers en leerders sê dat daardie “ou”, William Shakespeare (1564–1616), wat die “eeue in hul onmag tart” ( NP Van Wyk Louw), “ancient” is. As ’n mens die stewige fondament wegdolwe onder die nuwe huis wat tans daarop gebou word, sak dit so seker inmekaar as wat die literatuur van eeue wat gekoester is, behoue gebly het.

Heilna du Plooy

Heilna du Plooy

Omdat daar deurlopend nuwe boeke, romans en dramas en digbundels verskyn, moet daar vanselfsprekend uit 'n steeds groeiende korpus werke boeke voorgeskryf word vir alle leerders, sowel skoliere as studente.

Nogtans is dit so dat sommige werke die toets van die tyd deurstaan en op ander maniere waardevol is as om gewoon net plesier te verskaf by die eerste lees daarvan.

Enige onderwyser of dosent weet dat daar sekere tekste is wat bloedweinig stof gee om verder te bespreek. Dit is hierdie soort boeke wat lekker en gemaklik is om te lees en wat direk verstaan word. As leerlinge en studente self moet kies, en hulle ouers waarskynlik ook, is dit hierdie boeke wat hulle sal kies. Maar hierdie boeke verskuif geen aks aan die grense van die leerlinge en studente se denke nie. Dit herhaal en beaam net wat reeds bekend is.

Dit is egter nie die doel van enige vorm van leer om op dieselfde plek te bly nie. En daar is 'n verskil tussen lees vir ontspanning en lees om te groei en bykomende kennis en insig te verwerf. As ons tevrede is daarmee dat jongmense net ken wat hulle daagliks ervaar, as ons hulle in selftevrede onkunde wil hou, as ons toegee dat hulle dinge net volgens die oppervlakkige verskyningsvorme daarvan hoef te beoordeel, moet ons die gevolge van daardie keuse dra. Vanweë hulle beperkte lewenservaring sal hulle self sekerlik die gemaklikste opsie kies, maar mense wat van beter weet, behoort hulle oor hierdie hekkie heen te help.

As mense van jongs af geleer word om te lees met die doel om hulle denkwêreld te vergroot, om hulle verbeelding te stimuleer, om hulle eie gedagtewêreld te vergroot deur in gesprek te tree met wat hulle lees, kan die onderrig van letterkunde die belangrikste deel van hulle hele kurrikulum wees. Maar dan moet hulle boeke lees wat die moeite werd is.

Hella Haasse

Die Nederlandse skryfster Hella Haasse sê oor lees en oor die opbou van agtergronde om behoorlik en sinvol te kan lees: “Het lezen van literatuur wordt dan een aansporing om de denkmachine in werking te stellen. Maar wil je dat goed kunnen doen, dan moet er toch een bodem zijn van algemene ontwikkeling.”

Daar is al dikwels gesê dat een van die belangrikste dinge wat die letterkunde kan doen, is om 'n mens in staat te stel om emosies en ervarings te ondergaan sonder dat jy die risiko loop wat met die werklike ervaring gepaard gaan. Hierdie ervaring sluit dan ook die meelewe met mense uit ander historiese eras in, sowel as met mense in ander lande en ander omstandighede.

Om net te sê Shakespeare is moeilik, of Van Wyk Louw of Opperman, is nie goed genoeg nie. Hierdie skrywers hanteer die grootste vraagstukke van die menslike bestaan, maar wel binne hulle eie tydraamwerke. Die waarde van sulke tydlose werke lees, lê daarin dat jy die relatiwiteit van jou eie tyd besef, dat jy jou eie probleme in verhouding kan plaas met probleme wat oor tyd en ruimte heen voorkom en voorgekom het. Dit gaan nie oor die spesifieke skrywers nie, dit gaan om die vermoë van werke om mense aan die dink te sit. As Shakespeare self dan te vreemd en moeilik is vanweë die taal, skryf 'n werk nader aan ons eie tyd voor wat dieselfde tematiek hanteer, maar dan moet die onderwyser die oorspronklike Shakespeariaanse verhaal en die verhale van sy voorgangers kan byvertel en aandui hoe die betekenis in verskillende vorme herhaaldelik deur die skrywers aan hulle gemeenskappe oorgedra word.

Want uiteindelik gaan dit om die waardevolle betekenis wat in hierdie werke opgeslote lê.

Ek het al gedink die probleem ontstaan deels by ouers en onderwysers wat self nie hierdie leerkurwe deurloop het nie. Dit is egter wel nooit te laat daarvoor nie, want boeke is vir almal oral beskikbaar, vandag meer as ooit. Die groter probleem is dat mense nie onderskei tussen weet, blote kennis en insig nie. Die letterkunde verskaf denkmateriaal wat by uitstek geskik om mense tot insig en rypheid te lei; dit lei tot 'n bepaalde soort wysheid wat waardeskeppend en waardebepalend is en wat vergelyking moontlik maak.

Is ons verslaafdheid aan die onmiddellike bevrediging en direkte prikkels van onder meer die TV en films nie dalk ook 'n groot probleem nie? Onmiddellike gratifikasie sonder enige inspanning aan die kant van die ontvanger is immers waaraan ons gewoond is en dan kan ons nie verstaan dat wanneer daar in die werklikheid groot en ernstige probleme opduik, mense totaal onvoorbereid en onbevoegd is om dit te hanteer nie. As jy nie al iewers van die bestaan en hantering van bepaalde probleme gelees het nie, sien jy dit nie eers in jou eie omstandighede raak nie. Dan word die foute van die verlede eindeloos herhaal. En deur verhale leer ons tog op 'n baie aangename manier.

Daarmee sê ek nie dat die lees van goeie letterkunde alle probleme gaan oplos nie – dit sou mateloos naïef wees – maar dat mense wat lees, meer geskakeerd en met meer insig kan dink, is iets wat ek in die loop van my lang loopbaan herhaaldelik bevestig gesien het.

Henning Pieterse

Henning Pieterse

Ek lees hierdie stellings ongelukkig as deel van die globale "dumbing down" wat veral kwessies soos histories-politiese agtergrond en konteks, geletterdheid en kennis van tradisies raak. Ek stem saam: Shakespeare se taal is dalk nie van die maklikste nie, maar as 'n paar periodes aan sy spesifieke gebruik van Engels binne historiese konteks afgestaan word, kan sy ongelooflike poësie en intens dramatiese plotlyne, asook sy humor, sinvol aan leerders oorgedra word. As jy leerders wil leer oor wat mag aan jou kan doen, laat hulle Macbeth lees. As jy hulle die tragedie wat liefde kan veroorsaak, wil leer, laat hulle Romeo and Juliet lees. Shakespeare het die vermoë om die menslike toestand, met al sy foute en vreugdes, telkens kernagtig saam te vat. Dit gaan nie oor die "moeilikheidsgraad" van Shakespeare nie – leerders kan reeds op hoërskool 'n waardering vir goeie letterkunde uit énige tydperk leer – dit gaan oor goeie onderrigmetodes om 'n tydlose skrywer vir enige geslag in enige tyd vir jongmense relevant te maak.

Helize van Vuuren

Helize van Vuuren

Tussen verskillende soorte hare en Die vere van die duiwel

Jare gelede, in die laat tagtigs, het ek op Saterdae in Inanda buite Durban gehelp met die opgradering van swart matrieks se Afrikaanse-letterkunde-onderrig. Hul voorgeskrewe bloemlesing vir Afrikaans was Skakerings (deur almal daar, sonder enige bybedoelings, uitgespreek as “Skák!-kirrings”). “Die hardloper” van Ernst van Heerden (uit Weerlose uur, 1948) was een van hul verpligte verse vir die eindeksamen:

Met wilde maar met suiwer hart
het hy die woeste wedren fel begin,
en elke myl met rappe voet getart,
hy sou die vlugste lopers nog oorwin.

Sy hart het hoog geklop, sy bloed was heet,
die winde het sy haregolf gelig;
met snelle draf het hy die baan gemeet,
die vreug van spierkrag was op sy gesig.

Hy het geloop met stormdrang in sy bloed,
sy ademstoot ’n hete windgejaag,
die see se branding in sy strenge moed,
toe hoor hy reeds die donker, bitter vraag:

Wie is die ongesiene makker in die loop,
van wie die voet langs syne en die wind
van asem agter hom, van wie die hoop
dat nog ’n bors die dun wit lint mag vind?

Dié vreemde spanmaat het hy nie geken,
nooit hardloop hy weer sonder pyn of vrees;
hy weet al het hy nou die loop gewen,
die ander man sal eendag eerste wees.

Na die lees, vertaling in Engels, en uitleg tot in die fynste besonderhede van ’n woord soos rappe (hoeveel moedertaalsprekers, laat staan matrieks in énige skool, weet vandag wat rappe beteken? Miskien moet LitNet ’n boekprys uitreik aan die eerste skoolgaande wat sonder hulp van ’n woordeboek ’n sinoniem kan verstrek), en die algemene strekking van die verse, het ek die vloer oopgestel vir vrae. Van heel agter het Moses Dlamini skamerig sy hand opgesteek. Hy kon nie verstaan wat beteken die reël “die winde het sy haregolf gelig” nie. Na ’n bietjie bespreking blyk dit toe duidelik ’n misverstand te wees gebaseer op die aard van hare – die golwende soort wat kan waai in die wind, teenoor die soort wat stil bly sit. ’n Interkulturele misverstand.

Daar was sterk aansporing uit skoolverband dat die meeste van die verse in Skák!-kirrings” nie geskik was as voorskryfmateriaal in ’n township-skool nie, dat daar meer toeganklike gedigte móés wees (dié bloemlesing van DJ Opperman en GHJ Coetzee word op kalahari.com egter aangedui as geskik vir tot 2–12-jariges). Toe ek met die digter Barend J Toerien hieroor gesels, was sy reaksie: “Twak! As ek op Porterville nooit Wordsworth op skool gedoen het nie, sou ek niks geweet het van ’n land waar dit sneeu nie. Van wat sneeu is nie. Letterkunde verruim die gees, dit laat jou dinge ervaar en bring kennis mee wat jy andersins nie van sou geweet het nie. Dis juis góéd om uitgedaag te word deur ervarings en perspektiewe van ’n ander kultuur met ander denkwyses en ervarings. Wat sou ons gewees het sonder Wordsworth en die Engelse letterkunde, die Nederlandse en Duitse letterkunde? Sou jy slegs Celliers, Totius en AG Visser wou gehad het as leesstof, soos by ons op skool – dit was ’n bra stowwerige en oorbekende wêreld wat uit dié materiaal aan ons voorgehou is toe ek op skool was in die twintigs en dertigs.”

Die vere van die duiwel

Parallel met die Inanda-insident met Moses Dlamini (wat drie jaar later aan die Universiteit van Natal in Durban sy graad met sukses behaal het, en al in sy eerste jaar deur Freud moes sukkel in die sielkundekursus), had ek vanjaar in ’n eerstejaarsklas oor inheemse Afrikasprokies aan die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit die rare ervaring dat daar eerstejaars in dié multikulturele en veelrassige klas was wat nie die basiese sprokies oor Aspoestertjie of Hansie en Grietjie geken het nie. Geen kans dus dat hul in Von Wielligh se oorvertelde /Xam-verhaal in die “Ystervark en vlermuis”-sprokie ’n parallel met Hansie en Grietjie sou kon herken alvorens dié agterstand eers bygebring is nie. Of dat hulle in “Die saadkorrels”, ’n Namasprokie opgeteken deur Sigrid Schmidt (in Die vere van die duiwel, 2014), iets van Aspoestertjie sou sien deurskemer nie … ’n Agterstand nog voor ons begin het.

Mits dese wil ek maar net sê: armoede is nie ’n skande nie, en kan nie verhelp word nie, maar ’n armoedige gees weens ’n swak opvoeding is hartverskeurend, veral as dit die gevolg is van opvoedkundiges wat eenogig is en van beter behoort te weet. Is “opvoeding” nie veronderstel om leerlinge toe te rus vir die lewe nie, ook deur hulle te voorsien van ’n waardevolle leeslys van letterkundige tekste wat as waardevol en besonders beskou word? Die verarming van gees wat ons skole andersins gaan produseer, en in sommige gevalle reeds begin produseer het, ís en sal wél ’n skande wees. Op skool in Frankryk doen leerlinge van standerd ses af filosofie – raai watter land se filosowe is onder die voorste en oorspronklikste denkers?

Dit wil begin lyk asof opvoeders en voorskrywers die vermoë van Suid-Afrikaanse leerders ernstig onderskat en te veel wil toegee aan druk van enige kant, in stede van voor te skryf wat waardevol is, wat van die mens se hoogste goed is. Populariteit in keuse van smaak en van die leerling is nie die riglyn wat hier gevolg moet word as die einddoel die opvoeding van volwaardige volwassenes met waardevolle kennis is nie. Dit is rééds erg triestig, die kennis van Afrikaanse letterkunde (indien enige) waarmee eerstejaarstudente op skool kennis gemaak het (Matthee, Matthee en Matthee, heet daardie voedingsbodem blykbaar). Dit getuig van ’n wegkalwering van als wat waardevol of hooggeag is in terme van literêre kwaliteit – ter wille van populariteit en maklike toeganklikheid. Tensy hierteen walgegooi word, is dit ikabod vir enige kwaliteit-letterkunde-opvoeding.

Danie van Wyk
Michael le Cordeur
Adam Small
Nathan Trantraal
Joan Hambidge
Eep Francken

Danie van Wyk

Die bydrae van Shakespeare tot die ontwikkeling van die Engelse literatuur kan nie onderskat word nie. Dit vorm inherent deel van Engelse geskiedskrywing, en die weglating daarvan uit die kurrikulum sal leerders en aspirantonderwysers die geleentheid ontsê om hul verwysingsraamwerk te verbreed. Dit gaan nie slegs hier oor die relevansie van die onderrig van die werke van Shakespeare nie, maar wel oor die verarming wat daarmee gepaard sou gaan indien leerders nie daaraan blootgestel gaan word nie.

Dit geld ook vir die groot Afrikaanse skrywers wat ’n reusebydrae gelewer het tot die ontwikkeling van die Afrikaanse letterkunde. Ek glo nie dit moet totaal weggelaat word nie maar dat leerders, deur hul onderwysers, wel ’n keuse gegun word om daaraan blootgestel te word. Leerders wat die Engelse literatuur op universiteitsvlak gaan bestudeer, sal buitendien aan Shakespeare blootgestel word, en die onderrig daarvan op skool sal hulle net tot voordeel kan strek.

In dieselfde asem kan die afskaffing van die Nederlandse komponent as deel van die Afrikaanse letterkunde in matriek ook genoem word. Dit is ’n aspek wat nêrens bespreek word nie. Ook hier word leerders nie die geleentheid gegun om kennis te maak met Nederlandse letterkunde nie, alhoewel hulle wel op universiteit Afrikaans en Nederlands gaan bestudeer.

Ons moet daarteen waak dat ons nie die kind saam met die spreekwoordelike badwater weggooi deur ons kurrikulum so af te water dat ons in die proses leerders ’n groter onreg aandoen as wat ons hulle wil voorberei vir ’n latere toekoms in die bestudering van tale in die besonder en die verbreding van hul verwysingsraamwerk in die algemeen nie.

Michael le Cordeur

My standpunt is dat onderwysers en leerders te maklik verskonings vind om weg te skram van klassieke werke.

Die studie van letterkunde behels ’n verskeidenheid werke, van klassiek tot postmodern, sodat leerders en studente ’n breë perspektief van die letterkunde kan hê.

So byvoorbeeld glo ek dat ’n matriekleerder in Afrikaans met sowel die werk van NP Van Wyk Louw, Opperman en Breytenbach as die Kaapse Afrikaans in die werk van Adam Small en Nathan Trantraal en meer moderne werke soos dié van Daniel Hugo, Philip de Vos en Annesu de Vos moet kennis maak.

Ek is van mening dat Shakespeare steeds op skool met matriekleerders behandel moet word.

Ek gee toe dat kinders met die taal sal sukkel, maar dis mos waarom die onderwyser daar is. Sy/haar eerste taak is om die taal van Shakespeare vir die kind te ontsluit, net soos wat die Afrikaansonderwyser eers die Kaapse Afrikaans van Small moet ontsluit.

Dit is alles deel van die opwindende wêreld van die letterkunde wat kinders sal toerus met vaardighede wat hulle in staat sal stel om buitekant hulle eie raamwerke en klein wêreldjies te dink en te beweeg.

Joan Hambidge

’n Mens kan net die kop skud oor so ’n dwase, ondeurdagte uitspraak. Gaan kyk net hoeveel idiome is in Engels uit Shakespeare gehaal!

Christa van der Walt se gevoel dat ons eerder op taal moet fokus (?) is dus totaal oningelig. Toe ek op skool was, het ons toeganklike uitgawes van Shakespeare bestudeer – en dit het my lewe verryk.

Eep Francken

Als het gaat om het behandelen van literatuur (zowel moderne als klassieke) op school is het beeld in Nederland erg slecht. Nu moet men wel bedenken dat de scholen in het Nederlandse systeem veel vrijer zijn dan in Zuid-Afrika. Het verplichte literatuurprogramma is bij ons sterk teruggeschroefd, maar scholen die het belang van literatuur inzien, mogen er nog wel flink wat tijd aan besteden. Je moet in Nederland bij de keuze van de school dus altijd vragen: wat doet u aan literatuuronderwijs?

De moeilijkheden bij het lezen van Shakespeare die in Die Burger worden genoemd, zijn wel reëel. Jonge lezers kunnen inderdaad niet zomaar een stuk uit de zeventiende eeuw lezen. Maar voor het Engels kan het onderwijs allerlei hulpmiddelen inroepen. Klassieke stukken zijn verfilmd en worden opgevoerd voor het publiek van vandaag. Vandaag de dag moeten scholen dit alles aan hun leerlingen kunnen laten zien. Dan gaat de moderne lezer in Hamlet en Othello, maar ook in Odysseus, Electra of zelfs Reinaart de Vos veel herkennen van zichzelf.

Voor kleine talen als het Nederlands en het Afrikaans hebben de docenten het misschien lastiger dan voor het Engels, maar ook zij kunnen hun leerlingen op allerlei manieren te hulp schieten. Afschaffen van klassieke literatuur is een heel slecht idee.

Lees Etienne Britz se bydrae in Die Burger hier.

Lees Sonja Loots se bydrae in Rapport hier.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top