die myner wat doodgeskiet is deur poliesmanne
na Ingrid Jonker
die myner is nie dood nie.
die myner lig sy kapmes teen die siek kaptein
wat kapitalisme skreeu skreeu die stank van gebrek
aan 'n rand in die plakkerskamp afgesper van die heer se genade.
die myner lig sy knopkierie teen sy baas
in die opmars van die werkersklas
wat fokkol het om te verloor en daarom ongeregtigheid skreeu
skreeu die vrank reuk van vars bloed en stof
in die voetpaaie van 'n finale vernedering.
die myner is nie dood nie
nóg by Lonmin nóg by Marikana
nóg by Impala nóg by Noordwes
nóg by die koppie langs die platinummyn
waar hy bewegingloos op die aarde lê met polieskoeëls deur sy brein,
die aarde wat hy nooit ooit weer vir 'n Meester sal myn.
die myner is nie die skaduwee van polisiemanne
gewapen met traanrook en waterkanonne nie
die myner is die onbemande skag in die President se gehaaste retoriek
die myner beur deur die rotsboorgate in die harte van die nagelate
die myner wat net nou en dan wou leef in die Rustenburgse son is oral
die myner wat 'n mens geword het staak moedswillig onwettig
die myner wat die land geword het storm deur die ganse Al
sonder verlof.