Soos gewoonlik het Kobus nie die vaagste benul van wat ’n meem is nie. Hier is nog ’n bewys daarvan. Wat hy wel meesterlik doen, is om sy onkunde agter ’n vloed niksseggende woorde te verberg. Slim genoeg neem hy dan versekering uit met “Dit sal nie help om Angus weer te maan om my artikel te lees nie, want hy begryp nie wat ek skrywe nie.” (Skrywers van die Bybel neem soortgelyke versekering uit – ’n tipiese meem oorgeplant in Kobus se brein.)
Toe Dawkins die woord “meme” geskep het, het hy dit gebruik om iets waarneembaar ’n naam te gee, nl die mens se eienskap om iets na te boots. Nou gorrel Kobus: “Daar is baie maniere om ’n meem as mite, as onsin, uit te wys. Ons kan verhandelinge daaroor skrywe. Kom ons raak net hier en daar ’n aspek aan.”
As Kobus verhandelinge kan skrywe oor die meem en dit as onsin bewys, beteken dit net een ding: die mens kan niks naboots nie. Die meem kan onmoontlik nie ’n mite wees nie, want die mite is ’n verhaal wat memeties oorgedra word van geslag tot geslag.
Nie alleenlik het Dawkins presies geweet wat sy nuutskepping beteken nie, maar hy het ook geweet waar die verskynsel, wat dit beskryf, vandaan kom: dis die produk van evolusie by die mens. Nou gorrel Kobus verder: “Die kruks van die saak is dít – die term ‘meem’ is geskep deur (vermoedelik) Dawkins om iets te probeer beskryf wat hy nie weet waar dit vandaan kom, nie.” (Ag nee wat, Kobus! Gaan lees eers Dawkins se The Selfish Gene.)
Soos die geen, word die meem beskou as ’n replikator, daarom moet dit voldoen aan die evolusionêre algoritme van variasie, seleksie en oorerwing. Storievertelling is hier ’n mooi voorbeeld. Geen storie word op presies dieselfde manier oorvertel nie, totdat dit deur middel van seleksie uitkristalliseer in geskrewe vorm soos bv die mites in die Bybel, of Die Ilias en Odysee, of Boesmanverhale soos opgeteken deur Leipoldt. Dan eers kan dit verder deur oorerwing voortgesit word. Neem as voorbeeld die skeppingsverhale van die mens. Een so ’n storie vertel hoe die man uit ’n hopie grond geskep is en sy vrou uit sy ribbebeen. Daar is talle ander weergawes van hierdie verhaal wat uiteindelik ook as mites versprei word. Natuurlik maak dit nie saak of die mites waar is of nie; al wat vir die meem van belang is, is dat hyself bly voortbestaan. Vra maar vir enigiemand hoe die mens ontstaan het, en byna almal sal die Bybelverhaal vertel.
Alhoewel nie alle gedagtes meme is nie, het die meem die draer geword van die menslike denke en kultuur.
Angus