SêNet-briewe | Letters

 
Die mite en die meem

Soos gewoonlik het Kobus nie die vaagste benul  van wat ’n meem is nie. Hier is nog ’n bewys daarvan. Wat hy wel meesterlik doen, is om sy onkunde agter ’n vloed niksseggende woorde te verberg. Slim genoeg neem hy dan versekering uit met “Dit sal nie help om Angus weer te maan om my artikel te lees nie, want hy begryp nie wat ek skrywe nie.”  (Skrywers van die Bybel neem soortgelyke versekering uit  – ’n tipiese meem oorgeplant in Kobus se brein.)

Toe Dawkins die woord “meme” geskep het, het hy dit gebruik om iets waarneembaar  ’n naam te gee, nl die mens se eienskap om iets na te boots. Nou gorrel Kobus: “Daar is baie maniere om ’n meem as mite, as onsin, uit te wys. Ons kan verhandelinge daaroor skrywe. Kom ons raak net hier en daar ’n aspek aan.”  

As Kobus verhandelinge kan skrywe oor die meem en dit as onsin bewys, beteken dit net een ding: die mens kan niks naboots nie. Die meem kan onmoontlik nie ’n mite wees nie, want die mite is ’n verhaal wat memeties oorgedra word van geslag tot geslag.

Nie alleenlik het Dawkins presies geweet wat sy nuutskepping beteken nie, maar hy het ook geweet waar die verskynsel, wat dit beskryf,  vandaan kom: dis die produk van evolusie by die mens. Nou gorrel Kobus verder: “Die kruks van die saak is dít – die term ‘meem’ is geskep deur (vermoedelik) Dawkins  om iets te probeer beskryf wat hy nie weet waar dit vandaan kom, nie.” (Ag nee wat, Kobus! Gaan lees eers Dawkins se The Selfish Gene.)

Soos die geen, word die meem beskou as ’n replikator, daarom moet dit voldoen aan die evolusionêre algoritme van variasie, seleksie en oorerwing. Storievertelling is hier ’n mooi voorbeeld. Geen storie word op presies dieselfde manier oorvertel nie, totdat dit deur middel van seleksie uitkristalliseer in geskrewe vorm soos bv die mites in die Bybel, of Die Ilias en Odysee, of Boesmanverhale soos opgeteken deur Leipoldt. Dan eers kan dit verder deur oorerwing voortgesit word. Neem as voorbeeld die skeppingsverhale van die mens. Een so ’n storie vertel hoe die man uit ’n hopie grond geskep is en sy vrou uit sy ribbebeen. Daar is talle ander weergawes van hierdie verhaal wat uiteindelik ook as mites versprei word. Natuurlik  maak dit nie saak of die mites waar is of nie; al wat vir die meem van belang is, is dat hyself bly voortbestaan. Vra maar vir enigiemand hoe die mens ontstaan het, en byna almal sal die Bybelverhaal vertel.

Alhoewel nie alle gedagtes meme is nie, het die meem die draer geword van die menslike denke en kultuur.

Angus


Comments 4 Reaksies | 4 Comments
Delete Comment
avatar
George Claassen
2012-11-22 @10:46

Dankie, Angus, dat jy ook sinvol Kobus de Klerk se onsin bestry. Gaan lees gerus my kommentaar by Tomas se Sê-net brief van 21 November hieronder waarin ek vra dat LitNet asb. ’n duidelike waarskuwing by al Kobus de Klerk se skryfsels byvoeg om lesers te waarsku, byna soos die pamflette in medisyne-bottels wat jou oor newe-effekte waarsku.

Die probleem is, Kobus de Klerk weerhou homself daarvan om die oorspronklike werke te lees. Hy het nog nie The Selfish Gene van Dawkins gelees nie. Hy begryp duidelik nie wat Dawkins daaroor in die boek oor die meem as ’n vorm van kulturele oordrag soorgelyk aan die geen as ’n vorm van biologiese oordrag in die mens skryf nie. Gaan lees gerus die debat met De Klerk in reaksie op my wetenskaprubriek, "Dertien wapens teen onsinverkopers" in die Skool-afdeling van LitNet, en veral die uitstekende kommentaar van dr Leon Retief op De Klerk se wanidee van die lewe.

Delete Comment
avatar
Frans
2012-11-22 @15:49
Dit is nie verbasend dat daar so baie vertolkings is oor  dit wat in Genesis geopenbaar word.
Genesis deel met die mees fondumentele vrae van.Wie is ons, waar kom ons vandaan en wat is ons doel hier.

Wanneer  daar gepraat word van in die begin het God die hemel en die aarde gemaak, word dit onmiddellik vertolk asof dit twee aparte skeppings is. ’n Aandagtige leser sou egter agterkom dat die boodskap is dat God 'alles' geskep het sonder om te verduidelik hoe Hy dit geskep het. God is dus die Skepper wat deur te spreek die skeppingsproses inwerking gestel het.

Wanneer dit by die skepping van die mens word ’n mens geskep wat  iets van God in hom gehad het..Toe die Jode vir die eerste keer weggevoer is was die gedagte van sfeervormige aarde reeds gevorm. Die eerste skeppingsverhaal is tussen 586-539vC en is waarskynlik as ’n teenvoeter teen die Babiloniese skeppingsverhale geskryf.

Die wetenskaplike kennis van die tyd het natuurlik ’n belangrike rol soos vandag gespeel. Vandag het die mens so’n 5% van die oseane verken en wag daar nog 95 % wat verken moet word.Dit is dus glad nie onmoontlik dat die mens se nageslagte in die jaar 6000 nC ons geslag as 'primitiewe' mense met 'primitiewe' vervoermiddels in die tyd se Nasionale kurrikulum sal beskryf.
Delete Comment
avatar
Derek Meyer
2012-11-23 @09:33

Ja, baie dankie,  George en Leon. 

Dankie vir al die moeite met wat u doen. Beide van u het regtig baie geduld  met sekere persone as wat die meeste mense ooit sal hê.  Ek persoonlik is nie so volhardend nie. Vir my is dit 'n geval van dit maak meer sin om te probeer om 'n rasionale gesprek te voer met die meeste pasiënte in Weskoppies as wat dit is om met sekere tipes mense (gewoonlik kreasioniste) te probeer praat.

Mense lees egter hier, al lewer hulle nie kommentaar nie. U pogings word dus gelees en waardeer.

Ek sal maar afsluit met iets wat John Derbyshire geskryf het:

"I’ll also say that I write the following with some reluctance. It’s a wearying business, arguing with Creationists. Basically, it is a game of Whack-a-Mole. They make an argument, you whack it down. They make a second, you whack it down. They make a third, you whack it down. So they make the first argument again. This is why most biologists just can’t be bothered with Creationism at all, even for the fun of it. It isn’t actually any fun. Creationists just chase you round in circles. It’s boring."

Wereens dankie.

Delete Comment
avatar
Derek Meyer
2012-11-23 @11:55

Jammer Angus, ek het vergeet om jou ook te noem. Daar's ander ook, sal maar ophou om name te noem, want ek sal weer 'n paar  vergeet!

 

Julle bydraes word opreg waardeer.

 

 

   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address