SêNet-briewe | Letters

 
Die leesmasjien, 'n tegnologiese wonder

My leesmasjien, direk uit Amerika ingevoer, het op 3 Januarie opgedaag. Nou moet ek, wat my lewe lank geskrewe en gedrukte teks as dieet gehad het [dit is immers waar Petrus Comestor (1100-1178) se van vandaan kom], by elektroniese teks aanpas. Dit is maar 'n "leerkurwe", soos die sportsterre graag sê. Ek het al langerige teks op die rekenaarskerm gelees en dit vermoeiend gevind. Die rekenaar bied teks, illustrasies en kleur. Die leesmasjien is bowenal vir swart op wit teks bedoel.

Aan die een kant voel ek soos 'n skurk. Gaan ek nou die oorblywende boekwinkels oor die afgrond help deur boeke daar te inspekteer, maar die elektroniese teks dan elders bestel? Nie noodwendig nie. Ek sal seker voortgaan om soms gedrukte boeke te koop. Ek is ook nie van boekwinkels afhanklik vir inligting oor boeke nie. Die rekenaar en die leesmasjien verskaf inligting wat 'n mens help om te besluit of jy 'n boek wil hê. Die e-boeke wat ek koop, is (meesal) dié wat nie in die (plaaslike) boekwinkels is nie. Daarby is e-boeke gratis of heelwat goedkoper as gedrukte boeke. Die akademiese biblioteek waartoe ek toegang het, is 1500 km van hier af. Daar is dus (goeie) verskonings vir my jongste, ietwat radikale, maar sekerlik tydige skuif.

Ek het moontlik die beste beskikbare leesmasjien gekoop: 'n Kindle Paperwhite 3G + Wi-Fi ($179). Hy het diagonaal 'n 6-duim skerm. Die afmetings van die masjien is 169 x 117 x 9.27 mm. Die gewig is 221g. [Vergelyk dit met die Samsung Galaxy 2 tabletrekenaar: 7-duim skerm, 193.7 x 122.4 x 10.4 mm, 345.7g.] Die leesmasjien is makliker hanteerbaar as die meeste kodeksboeke. 'n Mens het 'n enkele bladsy hoogs leesbare teks voor jou. In die masjien is daar plek vir honderde boeke. Die beligting, lettergrootte, lettertipe, portret- of landskapmodus, ens, kan volgens voorkeur verstel word. Die Kindle word soos 'n selfoon binne vier uur gelaai, maar via die USB-poort van 'n rekenaar; of 'n apparaat kan apart gekoop word vir laai direk van 'n kragprop af.

Deur regs op die raakskerm te tik, blaai 'n mens vorentoe in die boek en deur links te tik, blaai jy terug. 'n Bladsy kan gemerk word deur dit regs bo om te vou. Dit kan ook ontvou word. Pleks van te onderstreep, kan die "highlight"-funksie gebruik word om teks tydelik of permanent uit te lig. Myns insiens is een van die grootste voordele van e-teks dat die betekenis van woorde nageslaan kan word deur daarop te druk. Op dieselfde manier kan inligting uit die Wikipedia bekom word. Die Kindle is op die koste van Amazon permanent aan 'n 3G- of Wi-Fi-netwerk gekoppel. Die Wi-Fi-reaksiespoed is glo vinniger. 'n Boek kan binne enkele minute na bestelling vir lees beskikbaar wees. Op tydskrifte kan ingeteken word en die aflewerings kan voor die gedrukte weergawe opdaag. Al hierdie e-leesstof kan nie na 'n ander leesmasjien oorgedra word nie, want anders sal dit dieselfde katastrofiese gevolge hê as die ongebreidelde fotokopiëring van gedrukte leesstof of die maak van onwettige klankopnames vanaf laserskywe.

Anders as in die geval van selfone, kan die leesmasjien op vliegtuie gebruik word deur die netwerkverbinding af te skakel. Vir verwysing na 'n spesifieke plek in 'n e-teks is bladsynommers dikwels nie beskikbaar nie, onder andere omdat die teks groter of kleiner gestel kan word. Vir verwysingsdoeleindes is daar 'n pleknommer onderaan elke bladsy, 'n aanduiding van die persentasie van die boek wat nog gelees moet word en hoeveel tyd dit sal neem om tot die einde van 'n hoofstuk of die boek te vorder. Lesers se leesspoed word outomaties indiwidueel vasgestel. As 'n mens ophou lees, skakel die masjien vanself af. Wanneer dit weer aangeskakel word, kan die leser voortgaan van waar hy opgehou lees het. 'n Boekmerk is onnodig.

Jeff Bezos, die hoof uitvoerende beampte van Amazon, se uitgangspunt is laer winste per item en groter omset vir sy maatskappy. Dit is die soort onderneming waarmee ek sake wil doen. In November 2007 het die eerste Kindle op die mark verskyn (Fortune, 3.12.2012, p 34-41). Soos in die geval van die persoonlike rekenaar (die IBM PC is in 1981 bemark) het vyf jaar verloop voordat ek my tot die nuwe tegnologie gewend het. Net soos die rekenaar wat programmatuur en infrastruktuur (soos die internet) nodig het, was dit vir die kommersiële sukses van die Kindle noodsaaklik om infrastruktuur soos dié van Amazon op die been te bring.

Na aankoop het tegnologiese wonders chronologies soos volg in my lewe beslag gekry: radio/platerspeler, motor, wasmasjien, yskas, elektriese stoof, elektriese ketel, televisie, radio/laserskyfspeler, koffiemasjien, rekenaar, mikrogolfoond, sonkrag-warmwatersilinder, selfoon, leesmasjien. Laasgenoemde is reeds besig om 'n patroon te vestig. Vir afwisseling lees ek gewoonlik meer as een boek op 'n keer. Ek vind nou dat ek geneig is om eerder 'n e-boek as 'n gedrukte boek te lees. Dit is nie 'n teken van foefie-verslaafdheid of die viering van nuutheid nie. Die leesmasjien verbeter die leeservaring. Dit slaag uitmuntend in sy doel. Probleme doen hulle egter voor wanneer ek oor 'n e-boek wil skryf. Dit is bv baie moeiliker om soos voorheen verslag oor leeswerk op SêNet te doen. Ek sal seker korter skryf, met minder aanhalings en plekverwysings. Dalk is ook dit ten goede.

Wanneer ek 'n gedrukte boek lees, is ek om die een of ander rede (seker maar suiwer unisaïsties) geneig om te onthou of iets op die linker- of die regterkantste bladsy (dus die verso of die recto) staan en of dit bo, in die middel of onder op die bladsy is. My siel bly maar papier en ink. Met die Kindle vind ek dat wanneer ek weer deur 'n e-boek gaan, die inligting op 'n ander plek as die vorige keer op die bladsy staan. Dit is iets waarby ek sal moet aanpas; selfs gewoond aan moet raak. Ek sal my siel as 't ware moet verkoop.

Johannes Comestor

Comments 1 Reaksies | 1 Comments
Delete Comment
avatar
Trienie
2013-01-11 @15:16

Johannes,

Ek is bly ek het hierdie gedeelte van jou gelees. Miskien moet ek maar my leesmasjien weer uit die laai haal. Ek het paar boeke gekoop maar nie geweet dat woorde verklaar kan word deur daarop te druk. ’n Kursus of twee vir ons tegnologiese onkundiges kan dalk help – of is ons bloot net lui om te ondersoek?  Aanpas sal ons egter moet, maar weet ek nie of ink op papier ooit vervang sal word. Vernaam vir feite boeke – ek  hou daarvan om te merk, notas oral te maak en ’n eie morse-kode sisteem te ontwikkel.  Die manier wat jy darem deur bladsye blaai, en die "gevoel" van ’n boek tussen hande, vernaam my Bybel, sal nooit vervang kan word. En is dit lekker om jou vinger dadelik op die regte vers te plaas ...

Van ’n ander boekwurm.

   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address