Die lag het baie gesigte: PA du Toit lees Alles goed en wel – lagstories na willekeur

  • 0

Alles goed en wel: lagstories na willekeur
Saamgestel deur Abraham H de Vries
ISBN 978 0 7993 3992 5
LAPA, Pretoria, 2007
Sagteband
303 bladsye

Die lag het baie gesigte, sê Abraham de Vries in die voorwoord van Alles goed en wel. In dié versameling ontlok die stories meesal 'n glimlag; nie 'n skaterlag nie.

Soos die samesteller die leser hier waarsku teen sy "gevaarlike boek", wil die resensent die leser waarsku teen die subjektiwiteit van dié resensie. Lag met of vir sal van leser tot leser verskil en is ook 'n saak van smaak. Byvoorbeeld: Wat van eerder die satire "En toe" by Breyten Breytenbach in plaas van "Die Boenk"? Maar tog, ja vir Jan Spies se "In die koelte van die rose", om die guitige onwaarskynlikheid, maar ook deernisvolle slot: daar is hoop vir dié "wat dit regkry om … tussen die rose te sneuwel".

Die meeste van die stories in Alles goed en wel ontspring aan 'n landelike milieu en dit stem tot onrus dat die lag blykbaar in die stad so skaars is. Vir die landelikes van oorsprong is daar PG du Plessis se (Koöperasie)stories: byvoorbeeld, dat Genis nou so uitgedroog van die wynvendusie kon terugkom!

Lesers wat nie so plattelands veranker is nie, sal dalk meer aanklank vind by die meer "moderne" verhale ('n toentertydse term van FEJ Malherbe). "As ons (by Sandy Bay) klere aangehad het, was ons 'n gesin in 'n margarien-advertensie" ("Boerepiekniek" van Harry Kalmer). Of daar is Niël Rademan se kabaretsanger/minnesanger met sý soort kaviaar vir die volk ("Die plattelandse pianis"). In "Babette se Babelse fees" kuier skrywer Annemarie van Niekerk met haar gesin by die huis van Marita van der Vyver, die aand toe Afrikaans, Nederlands, Frans en Engels so vry naas mekaar bestaan het – ook tussen die jong spruitjies. En by die Nuwejaarskuier waarvan Willem de Vries vertel,was die hippies met hulle anderse voorkoms maar gewoon mense wat die stad wou ontvlug.

Die lagstorie het soms iets nonchalants, iets nonkonformisties, soos in talle kielierige kroegstories in Alles goed en wel. En Breëstraat is die buurt van Dicky Kortenhoven met sy ontblotingsdrang, met Savage die kat, wat dink mense leer so maklik ("Lelike ding steek kop uit", François Bloemhof).

Sommige stories het 'n langer aanloop tot die lagwekkende, soos Marlene van Niekerk se "Juffrou Godelief en die spinnekoppe". (Hoe graag sou ek nie 'n fragment uit Triomf, iets van Treppie, hier wou herlees nie.) Ander stories hou die lag lewend oor 'n hele stuk verteltyd, soos in Riana Scheepers se Katriena-verhale: Waar Mevrou verdiep is in haar tydskrif, is Katriena as 't ware die voyeur. Mevrou voel-voel na haar beker tee, kry die oor beet en die beker verdwyn saam met Mevrou se gesig agter die blaaie.

Daar is mense en dinge waaroor grappe of lagstories gewoonlik onvanpas is. Maar die dood is blykbaar 'n relatief veilige onderwerp. André P Brink se "Oom Joosop en die engel des doods" roep Van Melle in herinnering. In "Bart Calitz en die rooirantjies" (Abraham de Vries) lui die kwessie van die lewe ná die dood min of meer so: bang wees is onnodig, "want as daarna niks gebeur nie, is jy veilig, en gebeur daar iets, is dit – sê die Boek – in ieder geval als Genade". In "Die ooreenkoms" van Dalene Matthee daag Willem nie op om, soos afgespreek, by Jakob te kom spook nie. Vir Jakob begin dit nou lyk of daar niks (anderkant) is nie. Willem het nie gekom nie, omdat daar nie 'n Willem ís nie. Jakob oorweeg dit om met 'n halfbottel die duiwel ín jou te versuip.

Soms lê die lag in die taal van die storie, soos in "Die swyer" (André P Brink): "Dis moeilik om te sê hoe hy gelyk het, want hy't nie eintlik gelyk nie." Of: "… 'n sit wat jou stadigaan laat besef dat jy sit, 'n sit wat in jou sit kom sit" (kursief deur Brink).

Die lagstories in Alles goed en wel is vanselfsprekend oorwegend epies. 'n Uitsondering is die mooi, vermaaklike himne van Dana Snyman, "Anderkant die scrap". Die vertrekpunt is 'n variasie op 'n ou volksliedjie: "O, my Valiant wou my hê, en nou het my Valiant my gekry!" En verder aan is die versugting: "Op Beaufort-Wes sal ek stilhou en … miskien Gertjie gaan oplaai, sodat hy ander dorpe se beautiful woorde … kan gaan ontdek." Algaande ry al meer mense saam. Die droom duur voort: "Ons sal verby baie scrap ry." "Ons sal ry. Tot ons die moontlikheid sien van geborgenheid wat soos lugspieëlings op die horison lê en bewe, sal ons ry."

Wanneer die lag nie in die woorde skuil nie, is dit soms in 'n milieu, in 'n karakter of in 'n gesprek. Daar is Bart agter sy groot lessenaar met die ratkas- en die battery-advertensies en die almanakmeisie onder die glasblad (Abraham de Vries). En daar is die gesprek oor pilletjies teen impotensie: "As jy hom eenkeer gevat het, kom jy nie weer sonder hom reg nie." Dan kom die antwoord: "Wat daarvan as jy die ding drink sonder dat jy weet jy drink hom. Dan … dink jy jy't vanself weer oukei geraak" ("Dít", Chris Barnard).

Maar humor is ook meer as net lag, en die kern van humor is kwetsbaarheid, sê Abraham de Vries. Sou mens dan ook kon sê deernis is die kern van humor? By sommige verhale in die bundel glimlag jy net effens, versigtig omdat hulle eerder deernisvol as snaaks is: "Kampvuur in Hillbrow" (André Letoit), "Die lewe en tye van Nicoló Paganini" (Tossie Lochner), "Die plattelandse pianis" (Niël Rademan), "Loop soek vir my 'n mens!" (George Weideman).

In enkele verhale lê die lag in die self-ironisering van die verteller, soos in "Nessum Dorma" van Joan Hambidge: ''prof Ham", "Hambage", "Hambitch", "Hamboud", "Hambutch", "Hamparotti", "Gulliver Hambidge".

De Vries besin in die voorwoord oor die stylfiguur ironie, waarvan die kern onsekerheid is. Dié opmerking wys dan ook weer terug na die titel Alles goed en wel. Een van die betekenisse wat die WAT by dié gesegde aanteken, is dat dit dikwels gevolg word deur 'n teenstelling – ook weer een van die kenmerke van ironie. De Vries se versameling lagstories staan telkens onder die koepel van ironie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top