Die koffie-debat

  • 2

Debatvoering is seker so oud soos die berge. Ek kan my indink hoe Fred Flintstone se voorvaders moes kibbel oor die boud of rib van oeroue diere. En dit is met knuppels besleg.

Debatvoering het deur die jare ‘n fyn kuns geword. Tog in ’n kroeg kan manne ook lekker vuiste swaai oor die kleinste verskil. Of dit oor ’n bier, sportspan, ’n meisie, ’n drankie – shaken not stirred – soos die Britse spioen wat nou dringend aftrede benodig en so meer.

Vir my is koffie ’n ernstige saak. Tydens ’n opleidingskursus in Londen so ’n paar jaar gelede is ons attent gemaak  op die verskil tussen koffiebone. Arabica en Robusta. Laasgenoemde word vir kitskoffie gebruik en met sigorei gemeng. Arabica is uiteindelik dié koffie.

Wat is lekkerder as om te sien hoe die bone fyngemaal word. En jy word gevra: papier of permanente filter. Soms, in ’n haas, koop ’n mens die verpakking sommer in ’n kettingwinkel.

Nou koffie-maak is ’n kuns. Daardie koffiemasjien moet skoon wees. En hoe stadiger hy drup, hoe sterker die koffie. In die ou dae het mense dit sommer in ’n sakkie in ’n ketel gebrou. Toe proe dit al hemels.

Sodra jou potjie vol is moet jy skink. Hoe warmer die koffie hoe beter.

Nick, ’n Griekse omie, wat die laaste House of Coffees by Sunnypark besit het, was ‘n meester in koffiebrou. Dan het hy vir jou melk of room aangebied om jou koppie af te rond.

Een ding slaan my dronk – koffie het eksotiese name soos Italiaans, Frans ensovoorts. Een van hulle, Moca Java, het ’n indruk gemaak op rekenaarprogram ontwerpers in Silicon Valley en sodoende die Java-program ontwerp. Tog kom dit uit Afrika, Suid-Amerika en Asië.

Hierdie agtergrond toon dus dat ek konserwatief is ten opsigte van my koffie. Tot dit wat by Vida opgedis word is maar so-so.

Dit is dus geen verrassing dat ek tot einde November nie my voete in ‘n Nespresso-winkel gesit het nie. Waarom koffie drink wat uit klein houers kom. ‘n Mens kyk nie ’n gegewe perd in die bek nie, maar die Nespresso wat ‘n klant my gegee het, het in die kinders se hande beland. Hulle vind dit opwindend en funky – vir my is dit net nie koffie nie.

Yuri

  • 2

Kommentaar

  • Dit sal jou seker die koue rillings gee om te verneem my gunstelingkoffie is Checkers se "house brand" kitskoffie.  🙂

     
     
  • Koffie Luwak is tops...ek het nog een kilo oor...dit gaan so hoog as R50 000 ...per kilo...hehe..

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top