Die Jupiter-debat in perspektief
“Debating spiritual intelligentsia on the topic of science is rather like trying to play chess with a pigeon; it knocks the pieces over, craps on the board, and flies back to its flock to claim victory."- Scott D Weitzenhoffer (met geringe aanpassing).
Die afgelope ruk is ons heerlik vergas met skrywes uit twee oogpunte oor Jupiter en sy mane. Aan die een kant het KdK vir ons die spiritueel intelligente perspektief verwoord en aan die ander kant het veral Brianvds en Panda vir ons die wetenskaplike perspektief weergegee. Hoe het ons by hierdie onderwerp uitgekom en hoe lyk hierdie twee perspektiewe?
’n Hele lang tyd gelede het ek ’n skrywe geplaas oor die wonder van die werklikheid. As ek reg onthou was dit nadat ek die e-boek weergawe van Richard Dawkins se The Magic of Reality aangeskaf het. Ek het die verwondering wat ek beleef het beskryf toe ek die eerste keer Jupiter se mane en Saturnus se ringe deur my seun se 200 mm Ø Newtonse teleskoop bekyk het. In ’n fanatiese poging om my te diskrediteer, verskyn daar toe uit die spiritueel intelligente sektor die onthulling dat Jupiter se mane nie met ’n gewone teleskoop vanaf die aarde sigbaar is nie. Dis nou omdat dit kwansuis nie teen die agtergrond van die strepe oor Jupiter moontlik sou wees nie. Toe KdK destyds besef dat die argument nie water hou nie het die hersenskimme van optiese illusies begin opklink. Omdat ons nie so ordentlik soos Brianvds was om aan te hou om op die sotlikhede te reageer nie, het die duif uit kammaland (lees kdK) triomfantelik weggevlieg en oorwinning verklaar. Die hele oefening was hoogs amusant en het ons almal die geleentheid gegee om die spiritueel intelligente metode in aksie te sien en die stappe te identifiseer. Stap een is om alles wat nie-gelowiges kwytraak, aan te val en ’n opinie daarteen uit te spreek al weet die spiritueel intelligente (SI) niks van die onderwerp af nie. Dit doen die SI deur webwerwe (veral kreasionistiese webwerwe) te soek wat oor die onderwerp handel, dit in (swak) Afrikaans te vertaal en dan voor te gee die SI weet iets. Dit was destyds heel gou duidelik dat die duif van kammaland hoegenaamd niks van die sterrekunde weet nie maar hy het onverskrokke aangehou om die stukke op die skaakbord om te stamp en oral wit blertse te laat. Die tweede stap in die SI-metode is om, selfs nadat jy besef dat jy verkeerd was, te hou by jou storie en te hoop dat jou opponent sal moed opgee sodat jy kan wegvlieg en oorwinning opeis. Dit werk gewoonlik want as jy lank genoeg aanhou is die skaakbord so bemors en al die stukke lê in so ’n warboel dat verdere spel nie moontlik is nie. Jou opponent draai gewoon weg en soek werklik intelligente geselskap op terwyl die SI kan opvlieg kammaland toe en oorwinning amptelik aankondig.
Brianvds en Panda het vir ons die afgelope paar dae die wetenskaplike perspektief kom illustreer met interessante feite en behoorlike argumente. As dit ’n gewone spel tussen werklik intelligente (WI) deelnemers was, sou alle drogargumene met behoorlik wetenskaplik gefundeerde redenasies en bewyse weerlê word en sou die spel eindig met ’n skaakmat-situasie waar bewese hipoteses die wilde aannames oorskadu. Hiervoor het ’n mens egter ’n skoon skaakbord en stukke wat regop staan nodig.
Dankie, Brianvds en Panda vir nuttige inligting en ek moet sê ek bewonder Brianvds vir sy geduld om tussen die blertse en die omgeskopte stukke die spel aan te hou speel. KdK verdien darem ook ’n dankie vir sy pragtige illustrasie van die proses van spirituele intelligensie.
Groetnis
Thomas
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter