Die jockstrap, die duiwel en die demigod

  • 0

Rudolf Nureyev: the life deur Julie Kavanagh.
Fig Tree (drukkersnaam van Penguin), 2007.
Hardeband met stofomslag.
R320.

 
 

As jy ook geneig is om jou fatsoenlikheid te verloor ten aanskoue van ‘n skrapsgeklede danser van spesifiek die manlike geslag en, soos ek self, ‘n true-blue balletmoffie is, hang die skinderbrokkies en mites van Rudolf Nureyev, die Russiese danser wat oorgeloop het na die Weste, seker soos geswolle korrels aan jou danstros.

Jy sou teen dié tyd gehoor hoe hy sy vleuelklavier met ‘n helikopter laat vlieg het na ‘n eiland, waar dit versigtig op die tennisbaan neergesit is om stemming te verleen aan ‘n andersins dekadente verposing, waar Franse sjampanje soos Tassies op Stellenbosch gevloei het. Waar almal verlief was op, en lus was vir, Rudi, oftewel Rudnik. Waar die naakte Nureyev homself aan die prieel se balke opgehys het sodat sy gaste nie net kon kwyl oor daardie uiters esteties bevredigende lyf nie (kyk na Richard Avedon se foto op die stofomslag), maar hom as pasella kon afsuig. Hy het, glo, alles bygekom wat stadiger beweeg as twintig kilometer ‘n naweek. Veral mans, maar ook vroue. Teen die einde van sy lewe, reeds terminaal met die komplikasies van Vigs, het dié onverbiddelike meester van lemskerp sêgoed van sy hond, Solaria, gesê: "She’s the only bitch I’ve never been able to get into bed with me’’ (bl 689).

‘n Ander goue-oue van Nureyev is sy gewoonte om soms tussen bedrywe van ‘n ballet uit te hol straat toe vir ‘n blitsfornikasie, en dan ‘n raps laat op die verhoog op te daag.

En hy’t met alles, en almal, weggekom. Hy was ‘n opperste manipuleerder en selfsugtige egoïs. Hy kon uiters ongeskik wees, en sy tong kon op ‘n afstand van tien meter bloed trek. Hy was ‘n prima donna en ‘n drama queen. Hy was promisku, arrogant, solipsisties, narsisties.

Hy was ‘n duiwel met makeup en ‘n god in tights en het danskritici na woorde wat nog nie uitgedink is nie, laat soek. Hy’t aanhangers buite teaters laat saamdrom dat verkeer tot stilstand gebring is.

Talent alleen bring jou nie tot in dié supersuksesvolle liga nie. Sy motto was: “In life you have to control destiny and make your own luck" (bl 161). Met dit waarmee hy geneties gebore is, het hy soos ‘n waansinnige gewoeker. Die gevolg was die stamina en krag van ‘n Arabiese hings, die ratsheid (na liggaam en gees) van ‘n tier, en die trefvermoë van ‘n roofvoël. Met swaartekrag was hy altyd in ‘n stryd – en as jy na filmmateriaal gaan kyk, sal jy saamstem dat dit lyk of hy soms momenteel as wenner uittree. Hierbenewens was sy fisieke en verstandelike energie oënskynlik mateloos. Sy werkvermoë, selfdissipline en wilskrag was asof voortgedryf deur ‘n stoomlokomotief. O ja, en natuurlik kon hy sy sjarme aanskakel (en af). Altyd oorrompelend, dikwels onverwags. Niks of niemand – buiten die MIV-virus – kon hom ooit keer nie. En selfs toe, bykans tot op die einde, was hy uittartend.

En van stoomlokomotiewe gepraat. Nureyev is op 17 Maart 1938 gebore in transit, nie ver van die massiewe Baikal-meer in Mongolië nie. Op ‘n trein. Kyk, is daar met die Nureyev-sussies saam in die trein geterg, hier’s vir julle ‘n Tartaar-boetie. Toe hulle hom die eerste keer sien, was hy knus gewikkel in kombersies binne-in ‘n kartondoos. Al wat passasier was, het gestroom na die treinwa waar sy ma, Farida, aan hom die lewe geskenk het. Slegs ure oud en baba Nureyev was reeds die middelpunt van belangstelling van ‘n waarderende gehoor. “His birth, he would later say, was the most romantic event of his life, symbolic of his future statelessness and nomadic existence. It was to be a life lived mostly en route to places, navigated by what he called his ‘vagabond soul’ (bl 4). Moeder Farida en dogters was tydens die geboorte op pad na pa Hamet in die Rooi Leër se Verre-Oostelike divisie.

Die laaste keer wat mense na daardie legendariese gesig sou kon kyk, was Nyuerev in ‘n boks van ‘n ander aard. ‘n Luisterryke huldigingsdiens is gehou in die rococo-foyer van die Paris Opéra op 12 Januarie 1993, ses dae na sy dood. Byeen was ‘n skare bestaande uit die media van oor die wêreld, Franse adel, stralejakkers en die internasionale ballet-elite. Asook twee van sy susters, “small babushki in black wearing peasant headscarves’’ (bl 696). Hier word op ’n fluweelkussing ‘n medalje geplaas, die Légion d’honneur, die hoogste Franse orde. En dan, volgens sy wens, vertrek die cortège na die Russies-Ortodokse begraafplaas buite Parys, in die ordinêre voorstad Saint-Geneviève-des-Bois, twee uur per motor uit die stad. Hier word hy in ‘n onopgesmukte eikehoutkis begrawe.

Dit volg dat die hele begrafnis vir ‘n onwetende buitestander na ‘n Griekse tragedie kon lyk. Danseresse van die Paris Opéra, waar Nureyev die kontroversiële baas was, gooi hul pointes agterna – he would have loved it. Mikhail (Misha) Baryshnikov het kort voor sy dood vir hom gaan kuier, maar by die begrafnis kon (of wou?) hy nie self wees nie. Sy hulde word voorgelees: “He had the charisma and the simplicity of a man of the earth and the untouchable arrogance of the gods’’ (bl 696).

Toe Nureyev die eerste keer deur die Britte sien dans is, het die gehoor hom as ‘n “primordiale natuurkrag’’ (bl 191) ervaar. (Orraait, dit ís, after all, die Britte, moeiteloos anaal retent.) Die destydse balletkritikus van die Observer, Alexander Bland, beskryf dié intensiteit as, “seeing a predator let loose in a drawing room’’ (bl 191).

Frederick Ashton (gevierde Britse danser en dansdirekteur) het gepraat van Nureyev se wonderbaarlike innerlike enjin: “… like a Rolls-Royce. You could feel his power when he started up at rehearsals’’ (bl 194).

Rudi het te veel verhoudings gehad om mee tred hou. Net ‘n hand vol was durend van aard. Sy eerste groot liefde in die Weste ná hy oorgeloop het, en een wat sy dans self beïnvloed het, was met die wêreldklas Deense danser Erik Bruhn. Hul verhouding, in die ateljee en by die huis, was stormagtig. “… once the Dane had had his whisky, and the Russian his vodka, it didn’t take much to set them off’’ (bl 198). Hulle het uit twee verskillende, oënskynlik onversoenbare, balletskole gekom (Bruhn se Deense Bournonville vs Nureyev se Russiese Vaganova). “The art of dancing is not to make a difficult step look easy, he (Nureyev) believed, but to make an easy step look interesting’’ (bl 183) – een van hulle etlike tegniese geskilpunte.

Een van sy diepste en mees langdurige verhoudings in die breë sin van die woord was dié met ‘n medelegende, prima ballerina assoluta Margot Fonteyn. Toe hy op die toneel kom, was sy twee keer so oud soos hy. Haar tegniek was aan die gly, sy’t haar ouderdom gelyk, sy was pal moeg, haar beste jare geskiedenis. Tog het die uitspattige 23-jarige haantjie gepleit om met haar te dans. Toe voorgestel word dat hy teenoor haar in Le Spectre de la rose dans, het sy gelag. “Don’t be silly … I’d look like his mother!’’ (bl 179). Maar gaan kyk na die verruklike foto uit Marguerite and Armand, die ballet wat Frederick Ashton op hulle geskryf het, en kyk of jy die geringste skim van ‘n moederfiguur gewaar. Toe Fonteyn hom (haar troetelnaam vir hom was Jazz) na die Royal Ballet se ateljees in Baron’s Court neem, het hy die dansers (van wie die meeste uit eie reg topklas was) verblind. “He already looked special. Before he’d even done a step’’ (bl 180).

Toe hulle wel begin saam dans, het Fonteyn oornag tien jaar afgegooi. Sy’t haar met meer oorgawe en selfvertroue as ooit in haar werk gewerp en met nuwe oë na dans begin kyk. ”She began to time the take-off of her jumps to land in unison with his, and he taught her the fluid, slow-breathing phrasing that is the mainspring of the Vaganova system. She followed everything he showed her, and together they became one body, one movement, their lines a natural extension of each other, their fingertips simultaneously marking out the arc of a phrase’’ (bl 264).

Die sukses van ‘n biografie berus in ‘n hoë mate op die vermoë van die skrywer om, soos ‘n goeie mansdansmaat, die aandag na sy ballerina te reflekteer. Julie Kavangh kry dit uitmuntend reg. Sy skryf goed én ingelig. Sy versny haar derhonderde feite soomloos. Alles wat sy in haar lewe gedoen het, voel jy, het haar op dié boek voorberei. Sy’s self as danser opgelei aan die Royal Ballet School en was balletkritikus van die Spectator, kunsredakteur van Harpers & Queens en Londense redakteur van Vanity Fair en The New Yorker. Sy’s getroud met die dansfilmmaker Ross MacGibbon, en het die gesaghebbende, veelgeprese biografie van Frederick Ashton geskryf. Sy het ‘n humorsin en drama en haar tydsberekening is, soos dit ‘n goeie danser betaam, perfek. Dit het tien jaar geneem om Rudolf Nureyev na te vors en te skryf. Die gevolg is ‘n monumentale werk van byna agt honderd bladsye – en nie ‘n oomblik vervelig nie. Die noukeurige endnotas, indeks, erkennings en biografie maak dit geskik ook vir die ernstige student van dans en dansgeskiedenis.

Asof met ‘n masjestueuse sprong en ‘n ligte landing sê Nureyev ten slotte oor homself: As jy na Bach luister, hoor jy ‘n deel van God. En as jy hom sien dans, sien jy ‘n deel van God.

Met Bach en God sal ek nog stry, maar nie met Rudi Nureyev nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top