Die Jack Russell maak groot manne week

  • 0

Ek sit en bekyk die nuutste toevoeging tot hierdie familie wat net al groter raak en ek sit in verwondering. Want al is hy net ses weke oud is hy in staat om ’n hele gemeenskap te verower en te regeer. ’n Kleine Jack Russell. Pedigree tot die punt waar beide sy pa en sy ma altwee hond is. Papiere beperk tot dit wat ons sommer hier issue in die veearts se spreekkamer. Want wie gee uiteindelik om tensy jy self twyfel oor jou eie voorsate?

So moes ons ’n week of wat terug "buff" met die gewone drange en drifte en liters wat gepaard gaan daarmee. Dit raas en rumoer en dit dreun en dit gaan woes. En midde alles is hierdie kleine "mensie" wat nie gevra het om hier te wees nie. En harde manne met harde baarde en harde hanne en harde stemme staan en raak saf en sag want dis mos ’n kleine hondjie voor hulle. En die "colours" wat nooit as te nimmer vir niemand afgehaal word nie word oopgemaak om hierdie kleine "mensie" in te neem. Hier teen die bors. Met net die kop wat uitsteek hier onner die arm. Kalm en rustig, en soos die Ingelse sou sê: Content. Ek staan en bekyk en die drank vloei en ek wonder nie meer nie want ek weet: daar is min dinge op hierdie aarde wat ’n hart so week maak soos ’n kleine hond.

Weird hoe ons met wit brode onder die arms nog steeds nie tevrede is nie. Hoe ons kan kla oor regte en voorregte en nie ’n flenter omgee oor die res nie. Ek sit en ek kyk hoe hierdie kleine wese hom omdraai op sy rug en pote in die lug lê en sug. Tevrede. Want sy pens is vol en hy het ’n dak oor sy kop en hy is omring deur liefde. En ek wonder waarom ons nie net ook so kan wees nie? Waarom altyd iets meer wil hê? Waarom, terwyl ons weet dis ’n nuttelose gekarring oor semantiese snert steeds volhou? Ek sit en wonder oor hierdie kleine mensie en die liefde wat hy kry sonder om ooit te vra daarvoor en die gedurige aandagsoekery van wesens wat veronderstel is om "beter" te wees. En ek kan nie ’n antwoord gee buiten die "feit" dat die een spesie veronderstel is om "rede" te kan hê nie. Ek bekyk die toppunt van die skepping en ek bekyk hierdie kleine mensch wat skaars ’n kilogram weeg en my kop maak sirkels oor die arrogansie en die verlies aan menslikheid wat ons teenoor mekaar openbaar.

Ek dink beslis ons moet ’n slag loop stilstaan en ’n slag net na die beter spesies kyk alvorens ons met slim argumente kom. want die spreekwoord is inderdaad waar: "The more I see of people, the more I love my dog."

Groete uit Oesterland

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top