Die geboorte van Jesus Christus
Seker een van die mooiste verhale in die Bybel is die geboorte van Christus. Ongelukkig maak Christen fundamentaliste dit belaglik deur daarop aan te dring dat dit ’n werklike gebeurtenis is.
So ’n maagdelike geboorte is wel moontlik, en kan op twee maniere geskied. Eerstens is daar die proses van partenogenese, maar slegs genetici kan deur manipulasie dit bewerkstellig; dit kom nie sommer natuurlik voor by soogdiere nie. Dit is ’n ingewikkelde proses waarin twee eierselle gebruik word. Die produk sal altyd vroulik wees, maar Christene sou seker nie omgegee het as Jesus ’n vrou was nie. Dit sou mos geen saak gemaak het aan sy boodskap nie, of hoe? Dan is daar nog invitrobevrugting (wie onthou nog vir Louise Brown? Sy moet seker al in die dertig jaar oud wees). Ongelukkig glo ek nie daar was wetenskaplikes in Maria se tyd om die ou takies te verrig nie. Amper vergeet ek van kloning, maar moet liewer nie van hierdie metodes by die huis probeer nie, dis ook nie aan te beveel vir stal- en grotbewoners nie.
Volgens die Bybel het God egter self die bevrugtingswerkie gedoen, daarom skakel dit partenogenese en invitro uit. Om dit te kon doen, moes God van dieselfde genetiese samestelling as Maria gewees het, daarom is dit heeltemal onmoontlik om verstaanbare redes. Nee, die bure se seun of dalk nog die buurman self was heelwat beter toegerus vir hierdie ou takie.
Soos Perdebytjie, wil ek ook weet, waarom al hierdie palawer net om die mens te vergewe omdat hy uit hongerte ’n happie van daardie appeltjie gevat het? Dit maak eenvoudig nie sin nie.
Die Rooms-Katolieke Kerk het toe na vore gekom om die Christendom uit hierdie penarie te red. Die kerk het erken dat daardie gedeeltes van die Bybel wat beweer dat Maria ’n maagd was met die geboorte van Jesus, vervals is. Die Nuwe Testament wat geskryf is na die Konsilie van Nicea het geen melding daarvan gemaak nie, en kerklike verslae dui aan dat dit eers in die vyfde eeu bygevoeg is. Die heilige Jerome, het gesê dat hy daarvan gehoor het, maar “we believe not, because we do not read it”. Dit is dus duidelik ’n bewys dat ’n beskrywing van die maagdelike geboorte nie in die evangelies was nie. Eers vierhonderd jaar later het die kerk daarop aanspraak gemaak dat Jesus maagdelik en sonder smet gebore is, en het terselfdertyd Jerome se woorde as raaiselagtig en duister afgemaak. Dis ook omtrent toe dat daar ewe skielik ’n heilige gees bygekom het om die ou spulletjie drie-enig te maak.
Volgens die New Catholic Encyclopedia (1967) is dit opgeteken in offisiële kerkverslae dat die eerste twee hoofstukke van Mattheus nie in die oorpronklike Hebreeuse weergawe van hierdie evangelie verskyn het nie, maar eers in geskrewe stukke van die vierde eeu ingevoeg is. Hierdie twee hoofstukke is geskep vir ’n dokument wat begin het met die verhaal van Johannes die Doper. Die oorspronklike Evangelie van Mattheus, soos Markus en Johannes, het geen melding gemaak van Jesus se geboorte nie. Die oorspronklike Evangelie van Lukas het melding gemaak daarvan dat Jesus gebore is uit die maagd Maria, maar dit is van geen waarde nie, omdat Lukas ’n reproduksie is van ’n latere weergawe van die Evangelie van Mattheus.
Die skrywer van hierdie vervalsing wou die indruk laat dat Jesus Christus, die Romeinse god wat met die Konsilie van Nicea geskep is, ’n bonatuurlike wese is. Hy het Jesaja 7:14 geneem waarop hy sy storie gebaseer het: “Behold, a virgin shall conceive and bear a son , and his name shall be called Emmanuel.” (King James Bible 1946) Vertalers het deur die eeue heen gesukkel met die woord ‘almah’ en dit eers as ‘maiden’ en toe as ‘virgin’ vertaal. Die nuwe King James (1971) het dit uiteindelik as ‘young woman’ vertaal. Hoe dit ook al sy, die vervalser het hierdie vers gesien as ’n voorspelling vir die geboorte van die Messias, en hy het toe sommer die voorspelling laat bewaarheid word.
Hierdie plagiaat het naderhand soos ’n seer duim uitgesteek, en in die vyfde eeu het die kerk by Mattheus 1: 23 nog vyf woorde bygevoeg: which means, God with us, om te verklaar wat Immanuel beteken. Die kerk het later weer beken dat die vyf woorde “were derived from extraneous sources, and therefore fictitious.”
In die vyftiende volume van die Roman Catholic Encyclopedia (bladsy 451) staan daar die volgende verklaring:
Modern theology does not grant that Isaiah 7:14 contains real prophecy fulfilled in the virgin birth of Christ; It must maintain therefore that St Matthew misunderstood the passage.”
In volume 14 van hierdie ensiklopedie is ’n verdere bewys dat die maagdelike geboorte soos beskryf word deur die evangelies nie op feite gebaseer is nie. Die kerk verklaar:
There seems to be no doubt that the infancy narratives of Matthew and Luke were later additions to the original body of the apostolic catechesis.
Hierdie ‘later additions’ toon aan hoe die Nuwe Testament deur vervalsing op vervalsing ontwikkel het. Neem nou maar die volgende geval. In die Griekse mitologie praat Apollo met Ariston, die vrou van Periktione. Hy vertel haar dat sy bevrug is deur God en voeg hierdie woorde aan haar toe: “Hail O favoured one, the Lord is with you, blessed are you among women.”
Vergelyk dit met Lukas 1:28, en as dit darem nie plagiaat is nie dan weet ek nie.
Groete
Angus