Die Fees, deel 1: PG du Plessis se eie stem

  • 0

Iemand wat ’n professor in Afrikaanse letterkunde was, het knaend in sy koerantrubriek die woord "soomloos" gebruik. Ek het telkens in ’n teksboodskap beswaar geopper, maar dit is - blykbaar uit respek vir die man se belangrikheid - nooit gepubliseer nie. Uit sy onlangse rubriek blyk dat hy nou weet om eerder "naatloos" te gebruik.

Op 19 deser luister ek na die RSG-taalprogram. ’n Afrikaanse skryfster wat terminaal siek aan politieke korrektheid is, vertel van ’n kursus in skryfwerk wat sy gaan aanbied. In die proses kom sy uit by "die ’bottom line’ - verskoon die Engels" en ook by "soomloos". Sy vertel van al die naslaanwerke wat sy byderhand het en waarop haar besondere kundigheid gebaseer is, maar sy het klaarblyklik nog nie die genoemde twee gevalle nageslaan nie.

Die skrywer PG du Plessis is in ’n heeltemal ander liga as die twee mense waarna ek pas verwys het. Enersyds is hy ’n akademies geskoolde mens. Hy het met NP van Wyk Louw gewandel. Andersyds is hy ’n ware woordkunstenaar. Du Plessis was onlangs in die nuus oor ’n groot literêre prys wat hy vir sy roman, Fees van die Ongenooides (Kaapstad: Tafelberg, 2008), gewen het.

Toe die toekenning bekend gemaak is, is berig dat 27 000 eksemplare van die boek reeds verkoop is. Oor die erkenning wat hy vir sy skryfwerk ontvang, het die outeur gesê: "Die ego bly altyd onvolprese en dié vraat sit on-erkend in almal." Ook: "Die idee dat die literatuur dienstig gemaak moet word aan buite-motiewe is onsinnig en die grootste enkele sonde is politieke korrektheid" (Die Burger, 23 Julie, p 9).

By die oorhandiging van die prysgeld het Du Plessis gesê dat hy sewe jaar aan die roman geskryf het. Hy het elke paragraaf telkens oorgeskryf en hy was beneuk oor sy sinsritmes. Dit verklaar waarom hy die akuutteken so dikwels benut. Die taalritme wat hy verlang het veroorsaak dat hy lank met die Engelse weergawe van die teks getalm het. Sy raad aan skrywers is dat hulle iets moet hê om te sê en ’n eie stem moet vind (Die Burger, 4 deser, p 3).

My bladsyverwysings is deurgaans na die tweede uitgawe (vyfde druk, 2011, 411p). Hier volg twee kenmerkende voorbeelde van Du Plessis se eie stem. Die eerste voorbeeld dreig om hier en daar oordrewe PG te wees.

Na die Anglo-Boere-oorlog, waarin die karakter Daantjie hom as ’n lafaard onderskei het, het hy sy openbare beeld probeer verander. "Na buite toe was Daantjie gou-gou ’n godsman, ’n volksman, ’n stoere partyman. Sy stem was swaar van geykte uitdrukkings wanneer hy lank by die biduur bid, wanneer hy van die verhoog af ’n volksleier voorstel, wanneer hy sy partygenote warm praat, of later Sappe van die plaas af jaag. Hy’t orals begin voorsitter word en op alles gedien: partybesture, kerkraad, skoolraad. Dis seker maar waar hy eintlik geleef het, want daarbuite is hy geglo, hierbinne [in familieverband] nie" (p 397-398).

Daantjie "kan sy leuen so helder beleef dat hy dit glo. Behalwe met Nagmaal, wanneer hy weet hy drink ’n oordeel oor homself" (p 267, ook p 178).

"Dis die derde Nagmaal van 1944 in die kerk van die Moedergemeente. Oom Daantjie van Wyk sit vroom langs die so mooi behoue tante Magrieta [sy vrou].

Dis Daniël Egbert van Wyk wat daar sit, die trotse draer van die Van Wyks se familienaam, gewese ouderling en nou rustend - nie uit onwil nie, maar oor die rypheid van sy jare. Hy het sedert sy oorlede vader se plek op die ouderlingsbank leeg geraak het, daardie plek met groot vrug oorgeneem. Vir twintig jaar, want die dood het in 1924 dáárdie Daniël Egbert van Wyk, naamgenoot en vader, en óók ’n dapper oudstryder, aan die gemeente ontruk. Van toe af het oom Daantjie, godsvresend en as ’n uitnemende voorbeeld aan ander, sy onbaatsugtige diens aan die Kerk van die Here gegee. Hy is iemand om na op te sien, ’n pilaar in die boeregemeenskap, die kerk en die politiek - ’n man met ’n warm hart en ’n ope hand vir sy volk, sy medemens en sy party. En daarby ’n man wat so pragtig en getrou bygestaan word deur sy geliefde en gewaardeerde eggenote, tannie Magrieta van Wyk. Hy verklaar dit met oortuiging, het dominee Sanders die dag met oom Daantjie en tannie Magrieta se vyf en veertigste huweliksherdenking in die kerksaal gesê: ’Watter juwele vir die gemeenskap is hierdie twee bejaardes tog nie! Maar oom Daantjie en tannie Magrieta is meer as net sierade vir ons: hulle is ook juwele in daardie Allerhoogste kroon van geregtigheid en allesomvattende liefde. En die ander kroon, die een wat dié wat godsvresend onder ons gewandel het, beskore is, dié sal hulle met geregtigheid en onmeetlike liefde toebedeel word op daardie dag wanneer dit die Allerhoogste sal behaag om hulle op te roep na die verre huis wat reeds vir hulle toeberei is.’

In die gangetjie aan die punt van die ry, vee die diaken die rand van die Nagmaalsbeker met sy kraakskoon, wit servet af. Die kelkies is al verby en Magrieta het daarvan gebruik, maar Daantjie dring aan op die beker, omdat hy dit meer skriftuurlik vind.

Hande uit kerkrok- en baadjiemoue stuur in September 1944 die beker ry-af na Daantjie toe. Hy vat die beker en sy ouderdomsbevlekte hande sluit hulle boerevingers intiem om die blinkgevryfde silwer terwyl hy sy hoof buig en sy oë sluit. Dit moet ’n gebed wees. Voor die heiligheid van die kosbare bloed wat tot ons verlossing gestort is. Daniël Egbert van Wyk kantel die beker versigtig en teug ligweg, sluk vroom, en stuur dit dan terug die ry af, want net vyf lidmate dring nog aan op die beker en in sy ry is hy die enigste. Hy sluit weer sy oë en vee uit respek nie sy mond af nie" (p 169-170).

In die tweede voorbeeld van Du Plessis se eie stem is daar nie oordrywing nie. Hy beskryf die kerkhof van ’n konsentrasiekamp, "hier waar die waarheid in lang rye dwarshopies begrawe lê in die plat, bakenlose vlakte tussen twee rye rantjies weerskant in die verte" (p 267).

Daantjie "hou stil langs die verlatenheid. Hopies grond. Rye en rye langwerpige hopies grond, toegegroei deur hierdie jaar se gras. En tussenin, skaars en yl, ’n paar wydverspreide grafstene, opgerig deur enkele agtergeblewenes - seker pligs- of liefdesgedrewe herinnerings van kort ná die oorlog. Hulle is te min, dié beitelbeskrewe onthouklippe, en hulle staan soos regop gewetes tussen die reëlmatigheid van verwaarlosing uit. Nog allener oor hulle skaarste. En elke jaar wanneer Magrieta tussen die oorgroeide hopies van die ononthoudes deurloop, sien sy van voor af hoe kort onthou en omgee is. Of was dié gedagtenis-versuim ook maar die gevolg van die verbystering en armoed ná die oorlog?" (p 263).

Vervolg.

Johannes Comestor

Lees Die Fees 2.

Lees Die Fees 3.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top