LitNet Akademies-resensie-essay: Die einde van die wêreld en hoe om dit te oorleef deur Johannes Bertus de Villiers

  • 0

Die einde van die wêreld en hoe om dit te oorleef
Johannes Bertus de Villiers
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624055914

Koop Die einde van die wêreld en hoe om dit te oorleef by Kalahari.com

1

I had a dream, which was not all a dream.
The bright sun was extinguished, and the stars
Did wander darkling in the eternal space,
Rayless, and pathless, and the icy earth
Swung blind and blackening in the moonless air ...

             Uit: “Darkness” deur Byron, 1816

Kort voor die verskyning van Johannes Bertus de Villiers se Die einde van die wêreld en hoe om dit te oorleef, staan ek een volmaan-aand en kyk hoe die maan oor Stellenbosch-berg opkom. Eers net die silwerige skynsel agter die spitse, dan die blink bel wat effens bibber voor dit van die berg losskeur om in die rigting van die Weste te dryf.

Maar asof iemand ’n terugspoel-knoppie gedruk het, skiet dié hemelliggaam opeens terugwaarts. Die sterre en planete tol agterna, sodat die nag tot gitswart verdonker. Die aarde begin tril en dreun in die onmiskenbare aanloop tot ’n aardbewing, en die wete is skielik en seker: dit is nie die maan wat besig is om van die aarde weg te val nie. Dit is ons eie planeet wat uit haar vaste baan om die son geruk is. Een of ander ongekende kosmiese mag is besig om ons na die ysige duisternis buite ons sterrestelsel te ban.

Dit was ’n vreemd onthutsende droom; ’n droom wat, soos dié van Byron,1 gevoel het asof nie álles ’n droom was nie. Toe ek dus De Villiers se boek oor die eindtye optel, was dit met die versoberende insig dat ten minste my ónderbewussyn nie verhef is bo die eindtyd-vrese en angste wat tans so ’n beduidende deel van die wêreld se bevolking teister nie.

Dié boek is ’n goeie keuse vir enigeen wat, soos die skrywer self (11), eerder deur rasionele, wetenskaplike feite as sensasionele aansprake oortuig wil word. Dit is egter ’n uitstekende keuse vir ouers en opvoeders op soek na wetenskaplike leesstof wat die jonger leser se wêreld, met apologie aan Antjie Krog, sal verruk en verruim.

Daarmee sê ek nie dat Die einde slégs jeugliteratuur is nie; wel dat die skryfstyl enersyds en die aard van die onderwerp andersyds dit by uitstek geskik maak vir daardie ouderdomsgroep wat tans volgens aanduidings2 meer vatbaar is vir wat De Villiers tereg “’n bisarre kultuur van rampvoorspellings en oorleweringswenke” op die internet noem.

In ’n gesprek met ’n fisikus-vriend oor wat vandag as die sogenaamde 2012-verskynsel bekend staan, het dié ietwat snedig opgemerk dat eindtyd-vrese en die aansprake wat daarmee gepaardgaan, allermins die onderwerp behoort te wees waarmee denkende mense hulle tyd behoort te mors. Gelukkig huldig De Villiers nie dieselfde sentiment nie. Ook nie NASA nie, wat die wêreld se jongste apokaliptiese angs eerder gebruik as ’n geleentheid om die vele wanopvattings wat tans die rondte doen, met stewige wetenskaplike kennis te troef3 – ’n tegniek wat De Villiers egter met veel groter sukses as NASA gebruik.

Ook die dubbel-gekwalifiseerde astronoom en antropoloog Anthony Aveni, hoogleraar in argeo-astronomie en kenner van die Maja-kultuur aan die Colgate Universiteit in New York, het hierdie verskynsel ernstig genoeg opgeneem om ’n paar insiggewende artikels sowel as ’n boek daaraan te wy. Hoewel Aveni as astronoom elke aanspraak van die 2012-fers ? 2012-ers? kan weerlê, probeer hy as antropoloog egter sin maak van dié verskynsel, wat volgens hom veel sterker in Amerika as in ander lande manifesteer.4 Hierdie feit skryf hy toe aan die eiesoortige wyse waarop die Christelike Protestantisme in Amerika ontwikkel het.

Die Christelike is egter nie die eerste en beslis nie die enigste religie met ’n eskatologiese verwagting nie.5 Inteendeel, uit De Villiers se navorsing is dit duidelik dat eindtyd-vrese (ten minste) so oud is soos die vroegste menslike skryfkuns (69) en dat dit met “eindelose probeerslae” deur die verdere verloop van die geskiedenis voorgekom het (69-78, hoewel hy op die voorbeeld van die ou Sumeriese beskawing na slegs na die eskatologieë van die Westerse geskiedenis gekyk het).

Kyk ’n mens na wat die eskatologie behels, is die algemene voorkoms daarvan dalk vanselfsprekend. Die woord self is afgelei van die Griekse woord eskhatos, wat letterlik “die laaste”, “die verste” of “die mees finale” beteken. Eskatologie is dus die leerstelling (of studie) van die finale gebeure wat op die einde (van óf die mensdom óf die wêreld) dui. Hoewel dit binne die verskillende religieë gewoonlik op ’n bónatuurlike ingrype op wêreldgebeure dui, slaan die woord logies gesproke egter op enige en alle gebeure wat op die gebeure “aan die einde” dui. Eskatologiese denke is dus ook ingebou in bestaande wetenskaplike kosmogonieë.6

Die aanvaarding van ’n onafwendbare einde (al is daardie einde in sommige kosmogonieë die begin van ’n nuwe siklus) blyk ingebou te wees in die meeste menslike modelle van die werklikheid. Eskatologiese verwagtinge blyk dus nie die noodwendige gevolg van religieuse denke te wees nie, maar eerder ’n oorsprong te hê in die aard van menswees. Daar is egter ’n groot verskil tussen die kognitiewe aanvaarding van ’n noodwendige einde en die onnatuurlike beheptheid daarmee soos wat tans met die 2012-verskynsel te merk is.

Aveni meen dié beheptheid met eindtye kan toegeskryf word aan die feit dat daar vandag baie meer gebeur wat die moderne mens beangs en magteloos laat voel. In ’n opname wat hy byvoorbeeld gemaak het van einde-van-die-wêreld-voorspellings in Amerika kort ná die gebeure van 9/11, was daar nie minder nie as ’n dosyn eindes nét vir die jaar 2006 voorspel. En omdat eindtyd-voorspellings aldus hom op angs teer, maak ons huidige onsekerhede ons ontvanklik vir die aansprake van doemprofete. Daarby is daar ’n groeiende vermoede onder veral die postmoderne mens dat ons wêreld dreig om op ‘n ekologiese ramp uit te loop; ’n tragedie waarvoor die mensdom self verantwoordelik is (’n gesigspunt wat deur De Villiers gedeel word) en wat ons dus inderdaad ook verdien.

Aveni se argument word aangevul deur die bevindinge van ’n groep antropoloë wat in Maart 2010 by die Universiteit van Sydney ’n simposium gehou het met die tema Anthropology and the Ends of Worlds. Een van die interessante gevolgtrekkings waartoe hierdie groep gekom het, is dat daar oënskynlik ’n verband is tussen welvaart en eskatologie: “Among the world’s comparatively wealthy and culturally dominant the fear that everything is coming to an end sits shoulder to shoulder with security, comfort and optimism. Technological advances and post-industrial affluence coexist with apathy, denial and indifference, as well as anxieties about danger, loss, risk and looming catastrophe”.

Hoe insiggewend hierdie argumente ook al mag wees, verklaar dit egter nie alles nie. Dit sê dalk waarom ’n groot deel van veral die moderne wêreld in die huidige tydvak besonder angstig is (hoewel die rol van die internet in die verspreiding van vreesaanjaende teorieë dalk ’n groter rol hierin speel), maar dit verklaar nie werklik die áárd van hierdie eindtydvrese nie. Soos ons reeds gesien het, is eskatologiese verwagtinge as sodanig nie vreemd nie. Die wese van die werklikheid – in elk geval vanuit ons huidige menslike perspektief – is dat alles ’n begin en ’n einde het. Wat wel vreemd is, is die bisarre aard van sommige van hierdie vrese. Waarom nie eerder bang wees dat jy dié komende Kersseisoen in ’n motorongeluk sal sterf nie? Of aan ’n hartaanval van te veel pizza eet en te min oefen nie? Of aan longemfiseem van rook nie? Of aan lewerkanker van te veel Klippies-en-Coke nie?

Koop Die einde van die wêreld en hoe om dit te oorleef by Kalahari.com

In ’n artikel oor angssteurnisse wys die Suid-Afrikaans-gebore psigiater Isaac Marks en sy medeskrywer, die mediese dokter Randolph Nesse, op die volgende boeiende gegewe: dit is baie moeiliker vir ouers om vir hulle kinders vrese aan te leer vir dit wat hierdie twee navorsers “evolusionêr resente” gevare noem, as vir byvoorbeeld die donker, monsters (waaronder slange, spinnekoppe en haaie), hoogtes, vreemdes, storms ens. Hierdie verskynsel geld daarby volgens dié twee navorsers ook vir volwassenes wat met angssteurnisse presenteer: “Few fear motor cars, guns, cigarettes, or alcohol, despite knowing that these now kill far more people than do snakes, spiders, or sharks” (1994:255). Selfs meer insiggewend, en baie belangrik om die mensdom se soms onverklaarbare behepthede te verstaan, is die feit dat die mensdom geneig is om ónwaarskynlike gebeure veel meer te vrees as waarskynlike gebeure: “We attend to and fear rare events more than common ones; a jumbo jet crash more than daily road deaths, a rare new syndromemore than heart disease” (1994:256; my kursivering).

Die verklaring hiervoor, sê Marks en Nesse, is suiwer biologies van oorsprong: “Not having been present long enough to materially alter our genetic endowment, such modern perils are feared too little. It is difficult for even the great intelligence of humans to override genetic predispositions. Head and heart unite more easily when new threats relate to earlier ones7 (1994:256, my kursivering).

En wat was hierdie vroeëre bedreigings? Die wete, sê Quammen, dat ons vir die grootste deel van ons evolusionêre geskiedenis die prooi was van meedoënlose monsters. Ingekerf in die vroegste bewussyn van homo sapiens is die instinktiewe wete dat ons die bloederige besigheid wat vandag evolusie genoem word, sal oorleef slegs indien ons bang genoeg is:

Great and terrible flesh-eating beasts have always shared landscape with humans. They were part of the ecological matrix within which Homo sapiens evolved. They were part of the psychological context in which our sense of identity as a species arose. They were part of the spiritual systems that we invented for coping. The teeth of big predators, their claws, their ferocity and their hunger, were grim realities that could be eluded but not forgotten8 [...] Among the earliest forms of human self-awareness was the awareness of being meat. (David Quammen, soos aangehaal deur Clasen 2011:92; my kursivering)

Millennia se suksesvolle oorlewing het daarom gesorg dat die gene van diesulkes wat nie bang Jan genoeg was nie, deur die tande en kloue verskeur is van daardie roofdiere en -voëls wie se prooi hulle was.9 Eenvoudig gestel: dié wat oorleef het, het dit reggekry omdat hulle geleer het dat ’n vals positiewe beter as ’n vals negatiewe is. Soos Clasen (2011:90) die essensie van Marks en Nesse se hipotese heel pittig opsom: “Shrug at what turns out to be a leopard in the bush, and your fitness quotient drops to nil rather swiftly. Jump at shadows, and the worst that can happen is that you waste you energy” (2011:90). Homo is dus juis sapiens omdat hy, in die woorde van Clasen, homo timidus – ’n bevreesde mens – is.

Die oorsprong van feitlik al ons moderne vrese kan daarom teruggevind word in gister se bedreigings. Interessant genoeg het HP Lovecraft, die bekende Amerikaanse skrywer van gruwelverhale, reeds in 1925 die evolusionêre verband gelê tussen die monsters van gister en dié van vandag, “for though the area of the unknown has been steadily contracting for thousands of years, an infinite reservoir of mystery still engulfs most of the outer cosmos” (1925-7:1). En dit is inderdaad uit hierdie “buitekosmos” dat baie van ons moderne monsters kom: die Annunaki, Nibiru, sonstorms, planetêre belyning, selfs die radioaktiewe bestraling wat dooies weer kan laat opstaan.

In stede daarvan om ons oerinstink om die vreemde te wantrou te besweer, het die wetenskap en tegnologie die bronne van moontlike bedreigings eerder oneindig vergroot. Vandag hou monsteragtige roofdiere beswaarlik nog ’n gevaar vir die meeste mense in, maar wie weet wat skuil alles in die gitswart skadu’s van die Diep Ruimte? Of in die soms onvoorstelbare en onbedoelde uitkomste van ons wetenskaplike en tegnologiese vermoëns?

Vrees vir die onbekende is dus eg menslik. Dit dra by tot wat Marks en Nesse ’n Darwinistiese fiksheid noem. In Die einde demonstreer De Villiers hoe hierdie vrees byvoorbeeld die dryfveer kan word om inligting te verkry, inligting wat noodsaaklik kan wees vir die mensdom se oorlewing. Soos Willem Kempen uitwys, neem De Villiers selfs die mees verregaande aansprake ernstig op, “maar onderwerp dit dan aan die toets van bewese feite en die insigte van gerekende kenners”.

Hy demonstreer dat daar niks fout is met vrees nie; dat jy jou nie hoef te skaam vir jou eie oningeligte en irrasionele vrese nie; dat jy jouself egter wel moet bemagtig met die régte tipe kennis – kennis komende van ware kenners. Kennis, en die vermoë om inligting krities te evalueer, raak dus die wapens waarmee hy sy eie vrae en vrese rondom die eindtyd, en in die proses ook dié van sy leser, verdryf.

Daarby lees Die einde soos ’n spanningsverhaal waarin die skrywer homself (en in die proses ook sy leser) die hoofkarakter maak van ’n Indiana Jones-tipe avontuur; een waarin hy jou – in die woorde van Willem Kempen – op ’n “hoogs vermaaklike” speurtog meesleur “om vas te stel hoe alles wérklik gaan eindig” (80).

Hoewel ’n mens Christina Landman se kritiek kan verstaan, naamlik dat De Villiers nie regtig die voorkoms van eindtyd-voorspellings “ondersoek – en ondermyn” nie, wil ek dit waag om te sê dat die boek veel van hierdie “agentskap” sou ingeboet het indien dit in ’n soektog na verklarings van eindtyd-vrese sou verval het. De Villiers is nie die antropoloog of sosioloog of psigoloog nie: hy’s die gewone man, met die vrese en die vrae en die fobies van alle gewone mense. As sodanig vervreem hy nooit sy leser met óf beterweterigheid óf meerderwaardigheid nie.

In haar bydrae tot die pas verskene God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles plaas Antjie Krog haar vinger op die grootste tekortkoming van wetenskaplike literatuur, naamlik dat dit te “vervelig van vorm en dooierig van taal” is om die verbeelding aan te gryp. Vervelig van vorm en dooierig van taal is Die einde beslis nie.

Wat sowel die relevante aard van die onderwerp as die toeganklikheid van die styl betref, is Die einde dus by uitstek geskik as (populêre) wetenskapsliteratuur vir oud én jonk. Trouens, ek kan aan geen beter boek dink wat met ’n bietjie redigering en sterker wetenskaplike oorsig as skoolboek voorgeskryf sou kon word nie.

Maar daar is ’n derde aspek wat dié boek laat uitstaan tussen al die ander (populêre) wetenskapsboeke van vandag. In ’n wêreld waarin fundamentalistiese denke toenemend sinvolle dialoog onmoontlik maak, is die waarderende deernis waarmee De Villiers sy karakters aan sy lesers voorstel, ’n welkome verandering. Hy is nie iemand wat hom vir sy vriende skaam nie; nie eens vir dié wat deur die res van ons as bisar gebrandmerk sal word nie. Hy leer ons dat jy nie iemand se aansprake op die waarheid hoef te aanvaar om steeds die goeie in die ander raak te sien nie. Nie die waarheid nie, maar die mens raak die middelpunt van Die einde.

In ’n onderhoud met Johan Rademan het Adam Small blykbaar die stelling gemaak dat “(d)aar ... twee soorte mense (is). Die gelowiges en die ongelowiges is die een soort en die ander [soort] het lief.” De Villiers val beslis nie in die groep van gelowiges en ongelowiges nie.

Bibliografie

Aveni, A. 2009. Apaocalypse Soon? Archaeology, 62(6).

– 2009. The End of Time. The Maya Mystery of 2012. University Press of Colorado.

Clasen, M. 2011. Primal fear: A Darwinian perspective on Dan Simmons’ Song of Kali. Horror Studies, 2(2):89–104.

– 2012. Monsters evolve: A biocultural approach to horror stories. Review of General Psychology, 16:2(222–9).

Hilton-Barber, B. en L. Berger. 2002. Field Guide to the Cradle of Humankind. Kaapstad: Struik Uitgewers.

Lovecraft, H.P. 1925-7. Supernatural horror in literature. The H.P. Lovecraft Archive. http://www.hplovecraft.com/writings/litcrit/shil.asp (24 Oktober 2012 geraadpleeg).

Marks, I.M. en R.M. Nesse. 1994. Fear and fitness: An evolutionary analysis of anxiety disorders. Ethology and Sociobiology, 15:247–61.

Wall, M. 2012. Why doomsday fears will survive 2012 “Apocalypse”. Space.com http://www.space.com/16409-doomsday-fears-2012-mayan-calendar.html (3 November 2012 geraadpleeg).

Wollack, E.J. 2010. Cosmology: The study of the universe. Universe 101: Big Bang Theory. NASA. http://map.gsfc.nasa.gov/universe/WMAP_Universe.pdf. (9 November 2012 geraadpleeg).

Eindnotas

1 Interessant genoeg het Byron dié gedig geskryf in ’n tyd toe Europa hoeka in die greep van apokaliptiese verwagtinge was. In die lente van 1816 het Europese astronome “geheimsinnige vlekke” op die son waargeneem. Teen Mei/Junie van daardie jaar was hierdie vlekke so groot dat dit met die blote oog waarneembaar was. Die somermaande het aangebreek, maar die strale van die son het bleek en swak gebly. Vele liggelowiges, en hier en daar selfs dié wat dit gewoonlik nié was nie, het begin glo dat die son in die proses was om uit te brand. Ten spyte daarvan dat dit naderehand reeds diep in Juniemaand was, het die somer weggebly. Ysige koue en vloedreëns wat paaie, diere en oeste weggespoel het, het die angs versterk dat die laaste dae op hande is. Vandag staan 1816 as die “Jaar sonder somer” bekend, ’n jaar waartydens hongersnood en die uitbraak van siektes gelei het tot die dood van ’n geraamde 200 000 mense nét in Europa. Vandag weet navorsers dat die versluierde son en die vreemde weerstoestande grootliks die gevolg was van ’n enorme vulkaniese uitbarsting op Sumbawa, ’n eiland in Indonesië.  

2 Sowel Aveni (2009) as Morrison (in Wall 2012) rapporteer dat hulle gereeld vrae ontvang van angstige kinders (veral dié tussen 11 en 12 jaar) wat vermeld dat hulle selfmoord oorweeg voor “die einde van die wêreld”.

3 Kyk onder meer “2012 – A scientific reality check”, http://www.nasa.gov/topics/earth/features/yoemans20091110.html; “2012: Beginning of the End or Why the World Won't End”, http://www.nasa.gov/topics/earth/features/2012.html en 2012; en “Killer solar flares are a physical impossibility”, http://www.nasa.gov/topics/earth/features/2012-superFlares.html).

4 ’n Steekproef wat volgens Mike Wall (2012) vroeg in 2012 deur Reuters geloods is, ondersteun Aveni se hipotese: waar 15% (dws ongeveer ’n miljard) mense wêreldwyd glo dat die einde van die wêreld in hulle tyd sal aanbreek, styg hierdie persentasie tot ’n indrukwekkende 22% in Amerika. Ongelukkig meld Wall nie hoeveel van hierdie eskatologiese verwagtinge aan bonatuurlike en hoeveel aan natuurlike oorsake toegeskryf word nie (dws hoeveel van 15%, of 22% in die geval van Amerika, glo die einde sal kom dmv ’n wegraping/wederkoms/Annunaki, en hoeveel glo dit sal wees agv ’n natuurramp, soos ’n ruimterots, supervulkaan ens).

5 Daar is trouens nie ’n enkele van die wêreldreligieë wat nie een of ander vorm van eindtydleer het nie. Die eskatologie eie aan die Abrahamitiese religieë (sowel as hulle moederreligie, die Zoroastrisme) het egter ’n lineêre inslag, terwyl dié van die Hindoeïsme, Boeddhisme en Taoïsme eerder siklies van aard is.

6 Hoewel die mees aanvaarbare teorie tans is dat ons heelal (wat dalk slegs een binne ’n oneindige veelal is) ongeveer 13-14 miljard jaar gelede met skielike en snel inflasie (die sogenaamde Oerknal) ontstaan het, is daar tans nog vele hipoteses oor hoe dit oor miljarde jare gaan eindig. Maar indien die hóé daarvan tans nog onbeslis is, twyfel min kosmoloë daaraan dát daar ’n einde sal wees. (Kyk Wollack, 2010. http://map.gsfc.nasa.gov/universe/WMAP_Universe.pdf.)

7 In ’n fassinerende artikel waarin hy na die evolusie van die mensdom se monsters kyk, argumenteer Clasen (2012:225) dat die zombie sy moderne opkoms gemaak het omdat dit sterk aansluit by moderne vrese vir nuwe en rare aansteeklike siektes asook die konsekwensies van ons moderne tegnologie. Kyk ’n mens na die intrige wat die kern vorm van Night of the living dead wat deur De Villiers opgehaal word, is Clasen waarskynlik in die kol. In dié rolprentweet diewetenskaplikes nie waarom die dooies (dws verrottende kadawers, met hulle millennia oue assosiasie van siektes deur komtaminasie) weer lewend geraak het nie, maar hulle vermoed dit is agv radioaktiewe besoedeling van ’n ruimteverkenningstuig wat op pad van Venus terug in die aarde se atmosfeer ontplof het.Hoewel die zombie dus ’n moderne monster in die Weste is, spreek hy die oervrese aan vir dodelike patogene en die onbekende (dws die wetenskap se onbedoelde uitkomste).

8 Dit is interessant om daarop te let dat die duiwels en demone van ons mitologieë feitlik altyd bedeeld is met vreesaanjaende slagtande en kloue. Ook ons moderne monsters ontkom nie aan hierdie anatomiese eienskappe nie. Futuristiese rolprente wat oor invalle vanuit die buitenste ruim handel, beeld dikwels die ruimtewesens (veral wanneer hulle kwade bedoelings het) as reptielagtige wesens uit. (Die Suid-Afrikaanse rolprent District 9 se boodskap oor xenofobie is juis so kragtig omdat Blomkamp sy ruimtewesens die voorkoms van ’n grillerige garnaal gemaak het. Geen ET-halfmens om die kyker se simpatie by uitstek te wek nie.)

9 Die bekende Raymond Dart se teorie dat die australopithesene, verre voorgeslagte van homo sapiens, sogenaamde “moordenaar-ape” was, is deur die paleontoloog Bob Brain weerlê. Brain het bewys dat die meeste hominiem-fossiele wat in grotte gevind is, daar was agv roof- en aasdiere wat hulle as prooi soontoe gesleep het. Hierdie teorie van Brain is versterk deur die persoonlike ervaring van die paleontoloog Lee Berger, wat tydens uitgrawings by die Gladysvale-grot in 1993 aanskou het hoe ’n witkruis-arend ’n blou-aap in sy kloue gevang en met hom weggevlieg het. Die bekende Taung-kind was waarskynlik ’n prooi van een van hierdie witkruis-arende, meen Berger. Verre daarvan om formidabele jagters te wees, so meen Brain, Berger en kie, was die vroegste primate eerder die verskrikte prooi gewees. (Kyk Hilton-Barber en Berger, 2002:73, 80.)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top