Die duur kant van 'n verbreekte troubelofte

  • 0

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Elke regstudent maak een of ander tyd kennis met die hooggeregshof se uitspraak in Guggenheim v Rosenbaum1 wat op 26 Junie 1961 gelewer is.

Mev Guggenheim was 'n geskeide dame wat in New York gewoon en gewerk het en mnr Rosenbaum was 'n Suid-Afrikaanse sakeman wat op 45-jarige ouderdom nog ongetroud en sterk aan’t vrousoek was. Op 'n sakebesoek aan New York in 1959 het hy die aanvallige mev Guggenheim opgesoek om hul ou vriendskapsbande te hernu. (Hulle het mekaar die eerste keer in 1954 ontmoet toe mnr Rosenbaum ook in Amerika was.)

Die herontmoeting was 'n reuse-sukses. Die twee het smoorverlief geraak – dermate dat mnr Rosenbaum net vier dae later vir mev Guggenheim om haar hand gevra het. Eers wou hulle sommer net daar in New York afhaak, maar later is besluit dat mev Guggenheim dadelik na sonnige Suid-Afrika sou verhuis om hiér met mnr Rosenbaum te trou.

Sy het uit haar werk bedank, haar meubels verkoop, haar geliefde Chevrolet-motor met sy afslaankap ver onder markwaarde verkwansel, van haar vriende afskeid geneem en per skip die lang tog na Suid-Afrika aangepak.

Mnr Rosenbaum, wat vir haar passaat betaal het, het haar handewringend op die kaai in Tafelbaai ingewag.

En daar het die feëverhaal geëindig. Die lang, eensame seereis het mev Guggenheim erg ontstem; Kaapstad se hitte het haar nie aangestaan nie; en miskien was mnr Rosenbaum 'n bietjie "oorweldigend". Die twee het begin stry en die verhouding het skeefgeloop.

Omtrent 'n maand na haar aankoms in Suid-Afrika het mnr Rosenbaum vir mev Guggenheim 'n vliegtuigkaartjie na New York gekoop – eenrigting. Hy was nie meer lus vir die trouery nie. Nog 'n maand later was alles tussen hulle verby en het sy 'n dagvaarding uitgereik waarin sy by die R14 000 skadevergoeding van mnr Rosenbaum geëis het op grond van 'n verbreking van sy belofte om met haar te trou. Sy het onder meer geëis vir haar verliese met die verkoop van haar afslaankap-Chevrolet en haar meubels, asook haar verlies aan inkomste. R14 000 in 1961 is in vandag se geldwaarde ongetwyfeld al meer as ’n halfmiljoen rand.

Afgesien daarvan het mev Guggenheim ook deliktuele skade van mnr Rosenbaum geëis – met ander woorde genoegdoening, of "troosgeld", omdat haar eer gekrenk is deur sy weiering om met haar te trou.

Mnr Rosenbaum het wye draaie met sy verweer geloop. Hy het onder meer aangevoer dat mev Guggenheim se egskeiding van haar vorige man nie in Suid-Afrika geldig was nie, en dat sy belofte om met haar te trou dus ook nie geldig was nie. Ook het hy aangevoer dat die hof die reg van New York, waar die belofte gemaak is, moes toepas. Ingevolge dáárdie regstelsel kon 'n persoon nie skadevergoeding weens 'n verbreking van 'n troubelofte eis nie.

Die saak het voor regter Trollip gedien. (Ek merk, terloops, in die hofverslag dat mev Guggenheim se advokaat 'n mnr H Schwarz was en ek het 'n sterk spesmaas dat dit wyle mnr Harry Schwarz, Suid-Afrika se eertydse ambassadeur in die VSA, was.) Ewenwel, die hof het beslis dat mev Guggenheim se egskeiding wel in Suid-Afrika geldig was en dat die Suid-Afrikaanse reg op die troubelofte van toepassing was. Die gevolg was dat sy geregtig was om haar skade weens mnr Rosenbaum se kontrakbreuk te verhaal. Die hof ken uiteindelik R2 700 aan haar toe, waarvan R1 000 genoegdoening vir haar gekwetste gevoelens was.

Jy mag dink dat R2 700 bra min was, maar daardie tyd het 'n eersteklastreinkaartjie van Johannesburg na Kaapstad R25,17 gekos en 'n skeepsreis van Kaapstad na New York ’n skrale R358. Laat 'n mens dink, nè?

1 Guggenheim v Rosenbaum(2)  1961(4) 21 (WPA)

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

                                                    

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top