Die dood soen oopmond

  • 0

Die afgelope Sondag lees ek die Rapport en kom tot die besef dat die skoolgelde wat ons tans betaal goeie onderrig vir tientalle kinders op Merweville kan verseker. Die hele laerskool het minder as sestig leerlinge. Hel, die gelde van een rugbytoer na Bloem vir een kind met gebreekte arm en al kan ’n klomp jare van ’n ander kind se skoolloopbaan vereffen. Dit sou my nie so beduiweld gehad het nie maar my kinders vertel vir my hulle gaan dood van die honger terwyl hulle agter die lekker aan eet. En al breek ons ongeag Die afgelope Sondag lees ek die Rapport en kom tot die besef dat die skoolgelde wat ons tans betaal goeie onderrig vir tientalle kinders op Merweville kan verseker. Die hele laerskool het minder as sestig leerlinge. Hel, die gelde van een rugbytoer na Bloem vir een kind met gebreekte arm en al kan ’n klomp jare van ’n ander kind se skoolloopbaan vereffen. Dit sou my nie so beduiweld gehad het nie maar my kinders vertel vir my hulle gaan dood van die honger terwyl hulle agter die lekker aan eet. En al breek ons ongeag nog steeds ons bene om in die doodsnikke van die jaar ook die laaste van ons spesiaal verminderde skoolgelde by te bring, net-net voor die prokureur namens die beheerliggaam vir ons ’n opskroefbriefie pos, is dit bid, bedel en bedrieg om ’n verdomde koppie koffie uit die bloedjies van huis Coetzee te kry. Wat nog gepraat van kamers netjies hou of die troeteldiere daagliks kos gee.

In die aanloop tot Sondag het vroulief ’n klomp afdae tuis deurgebring. Weens die aard van my onderneming was ek ook merendeels in die omtrek. En dis skoolvakansie. Dit het min of meer ’n halwe dag geneem voor sy haarself begin uitwoed het. Die knal van haar tong het baie herinner aan die dae toe my oupa die sweep sou vat en afstap na die karoes by die stroois. Eienaardig genoeg is daar net so verwoed geskerm deur haar sodra ek my stem wou verhef. Dan sê jy maar wat jy voel: “Jy moet nog die streke van ons kinders beleef wat ek al vergeet het.”

Die begin van ’n nuwe week hou almal goddank tot sononder uit my hare. Kort voor aandete vra ek my seun om gou die vullis te gaan uitgooi net om ’n legio verskonings aan te hoor. Dis te donker. Hy kry nooit die hek oopgesluit nie. Hy sal twee keer moet loop. Alles boonop met ’n goeie tikkie arrogansie. Die pligsbesef van nog ’n opvoedkundige woordewisseling oorweldig my maar ek besluit om liewer sonder gepredik eerder die klein takie myself te verrig. My vrou bemoedig hom om my te vergesel vir ’n bietjie span bou. “Ag toe seun.” Dan sê jy maar hoe jy voel: “Ek het oorgenoeg span bou vir vandag gehad.”

By die asdrom bekyk ek die gemors en wroeg oor alles. Oor die agtermiddag, na die soveelste verontagsaming, wat ek hulle letterlik met die dood gedreig het terwyl die kombuis se deurkosyn toevallig my dronk pa ewe agteraf attent regop hou. Oor sommige woorde wat oënskynlik op dowe neute val en ander woorde wat nie. Wat het gebeur? Hoe het ek hier beland? Ek dink ek weet. Dit is alles my vrou se skuld. Lank terug wou ek ’n figuursaag gehad het vir my verjaarsdag toe koop sy vir my die Kama Sutra.

Ag, soos wat ons rigtingbedonnerd voort strompel van die een gebeurlikheid na die volgende gun ons tog in die naam van deernis ons selfopgelegde troos dat alles volgens daardie groter plan verloop. Ja, die winde sal ons nie tokkel soos die hol pypies van ’n droomvanger nie. Boetie sal eendag in die groen en goud uitdraf en sussie sal ’n skrywersbestaan voer want die donker is vol drome en die droom is die waarheid wat jy genadiglik oorleef of so iets. Maar voor hierdie skrywe in die een of ander huis vinkel vol ingelegde tonge ontaard seën ons tog asseblief met die wete dat die dood van agter haal, die sleutelbeen knyp en sê: “Ontspan.” Dat dit geen pik op gedraaide wang is wat asems roof nie.

Adriaan

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top