SêNet-briewe | Letters

 
Die Curzon-susters

Ek het voorheen oor die Garman-susters, veral drie (Mary, Kathleen en Lorna) van die sewe, geskryf. Mary het verbintenisse met drie Suid-Afrikaanse skrywers (Roy Campbell, Laurens van der Post en Uys Krige) gehad. Kathleen was met die beeldhouer Jacob Epstein getroud. Lorna het 'n kind by die skrywer, Laurie Lee, gehad en was ook in 'n verhouding met die skilder, Lucian Freud (SêNet, 28.10.2011).

Ek het ook oor die ses Mitford-susters geskryf (SêNet, 25.10.2011), veral oor die skryfster, Nancy (SêNet, 18.10.2011, 20.09.2012). Dan was daar die vyf Langhorne-susters, wat in Amerika gebore is. Die bekendste suster, Nancy Astor, was 'n Britse parlementslid. Dit is oor haar wat Harold Nicolson geskryf het: "She has one of those minds that work from association to association, and therefore spreads sideways with extreme rapidity ... It was like playing squash with a dish of scrambled eggs" (SêNet, 12.09.2012).

Die drie Curzon-susters is nog 'n groep Britse susters uit die vorige eeu. Anders as die Garmans, maar soos die Mitfords, was die Curzons deel van die aristokrasie. In Anne de Courcy se boek, The Viceroy's Daughters: The Lives of the Curzon Sisters (London: Phoenix, 2001/2009, 454p), word daar dikwels na die Mitfords en na Nancy Astor verwys. Bowenal bied hierdie boek 'n uitbeelding van die lewenswyse van die Britse aristokrasie in die 20ste eeu: "A world of rigid etiquette but flexible morals" (p 17).

Die onderkoning waarna in die boektitel verwys word, is George Curzon (1859-1925), wat van 1899 tot 1905 aan die hoof van die Britse koloniale regering in Indië was. Hy was "unable to resist women while regarding them in no way as the equal of men" (p ix). "Women, he felt, should be the brilliant, decorative adjuncts of a husband's career, the solace and relaxation of his private moments ... Although he preferred spending what leisure time he had with women rather than with men, he liked them, as his lover Elinor Glyn shrewdly wrote, 'rather in the spirit in which other men like good horses or fine wine, or beautiful things to embellish a man's leisure'" (p 4). In 1893, twee jaar voor sy troue met Mary Leiter (1870-1906), het hy aan haar geskryf: "Give me a girl that knows a woman's place and does not yearn for trousers" (p 6).

Glyn het gedink "sensual passion could be the pathway to the highest appreciation of the beautiful and the good ... it was the mysterious, necessary fertile soil from which sprang intellectual development and creative thought" (p 25). In 1915 het Grace Duggan (gebore Hinds,1879-1958) aan Curzon geskryf: "You call me a flower, dear heart; I do feel a wide open full-blown rose with every petal open to you, my sun" (p 40). Hulle is twee jaar later getroud, maar die liefde vir mekaar het spoedig verflou. Op sy sterfbed het Curzon oor sy eerste vrou gemymer: "Mary will be the first to greet me in heaven" (p 107). Harold Nicolson het 'n boek (1934) oor Curzon geskryf. Nicolson se seun, Nigel, het 'n boek (1977) oor Mary gepubliseer.

Curzon het drie dogters gehad. Die oudste dogter, Irene (1896-1966), het aanvanklik haar passie vir veral perde en jagtogte uitgeleef. Lewenslank het musiek vir haar belangrik gebly. Sy het vir bv Artur Rubinstein goed geken. In haar latere lewe is sy gehuldig vir al die vrywillige welsynswerk wat sy gedoen het. Irene het talle huweliksaansoeke van die hand gewys. Sy het soveel waarde aan haar onafhanklikheid geheg dat sy nooit getrou het nie. Sy het haar eerder oor haar susters en hulle kinders ontferm. Maar sy was dikwels eensaam en ook tot dranksug geneig.

Die tweede oudste Curzon-dogter, Cynthia (bekend as Cimmie, 1898-1933), was akademies georiënteerd. In 1920 het sy bekendheid as die eerste vrou van die fascistiese politikus, Oswald Mosley (bekend as Tom, 1896-1980), verwerf. Oor Cynthia en Mosley het Irene geskryf: "She is so exquisite and faithful in her love and he so ruthless of her" (p 143). Mosley was 'n rokjagter. "I have told her [sy vrou, Cynthia] all the women I have slept with ... Except, of course, for her sister [Irene] and stepmother [Grace]" (p 188). Na Cynthia se dood, het Mosley in 1936 met Diana Mitford (1910-2003) getrou, maar die derde Curzon-dogter, Alexandra, het sterk om sy toegeneentheid meegeding, glo ter wille van haar suster, Cynthia, se kinders.

Die jongste Curzon-dogter, Alexandra (bekend as Baba, 1904-1995), het in 1925 met Edward "Fruity" Metcalfe (1887-1957) getrou. Sy het ontwikkel tot 'n jaloerse, selfsugtige mens wat as 'n verslaafde aan duur klere in talle seksuele verhoudings betrokke was: "Moral principles stood little chance against the strength of her emotions and her libido" (p 304). "She is spoilt, irritatingly self-assured and bossy" (p 317).

Metcalfe was veral bekend as die handlanger, vriend en vertroueling van die Prins van Wallis, ook koning Edward VIII (in 1936) en daarna die Hertog van Windsor (1894-1972). Laasgenoemde is in 1937, nadat hy van die Britse troon afstand gedoen het, met Wallis Simpson (1896-1986) getroud. Aanvanklik het hy voorgegee dat hy 'n onskuldige verhouding met die getroude Simpson het, maar sy vorige private sekretaris het gesê "he would find it as easy to believe in the innocence of their relationship as in 'a herd of unicorns grazing in Hyde Park'" (p 234). Ramsay MacDonald het gesê: "The people of this country do not mind fornication but they loath adultery" (p 253).

Van die interessantste dele van De Courcy se boek handel oor hoe kortgeketting die Hertog in sy huwelik was: "The more harshly she treated him, the more he worshipped her" (p 247). Sy huwelikslewe staan in skrille kontras met die groot opneuker wat hy met soveel oorgawe in sy jeug was: "He is like a prisoner doing a time sentence" (p 270). Daar word verwys na "the Duke scrutinising every bill for possible economies while showering the Duchess with jewels and furs" (p 323). Irene Curzon, Fruity Metcalfe, Winston Churchill, Harold Nicolson en talle ander verwys na die Hertog van Windsor as "the little man".

Johannes Comestor


Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address