Die blou van onthou ontbloot lesers se “blou onthou”

  • 0

Die Blou Van Onthou
Marita van der Vyver
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624055181

Koop Die Blou Van Onthou by Kalahari.com

Die blou van onthou bewys weer eens waarom Marita van der Vyver een van Afrikaans se gewildste skrywers is.

Dit is die verhaal van drie vroue se “stories” wat begin met “Colette se swygstories”, gevolg word deur “Nandi se liegstories” en eindig met “Tina se onthoustories”. Die drie titels, asook die motto wat na elke verhaaltitel uit ’n belangrike literêre werk gegee word, gee reeds aanduidings van die belangrikste motief wat in elke verhaalstruktuur na vore kom. In die eerste verhaalstruktuur, met die motto uit Shakespeare se Hamlet: “Yea, from the table of my memory, I’ll wipe away all trivial fond records”, swyg Colette oor wie die pa van haar kind is. Die tweede vertelstruktuur, met die motto uit Robert Louis Stevenson se Virginibus Puerisque: “The cruellest lies are often told in silence”, verwoord Nandi se opstand teen veral die leuens van haar ma, Colette. In die laaste vertelstruktuur, met Ronelda S Kamfer se gedig “oorvertel 5” as motto, moet Tina, die kleindogter van Colette, die drie verhale bymekaar uitbring deur die onthou van die verlede by die nou van vandag uit te bring.

Binne elke vertelling van die drie vroue word ander vertelvorme, soos e-posse, briewe en ’n reisjoernaal, ook gebruik. Dit is veral die reisjoernaal van Colette wat die drie verhale koppel. Colette vertel in die reisjoernaal van haar reis na Portugal en die ontmoeting met die teëlmaker Fernando. Nandi vind die reisjoernaal tussen haar oorlede pa se dokumente en dit wat sy daar lees, lei tot haar verset teen haar ma. Tina gebruik die reisjoernaal om terug op haar ouma se spore te gaan en sodoende dan ook die kringloop te voltooi.

Die roman vertel die verhale van drie vrouekarakters, naamlik Colette, haar dogter, Nandi en haar kleindogter, Tina, en hulle lotgevalle binne die Suid-Afrikaanse konteks. Dit is natuurlik nie ’n nuwe gegewe in die Afrikaanse literatuur nie en sluit aan by ’n bekende literêre tradisie waar die persoonlike lewe(ns) van die karakter(s) gekoppel word aan die breë Suid-Afrikaanse en wêreldse geskiedenis.

Die roman bied binne ’n redelik eenvoudige verhaalstruktuur ’n chronologiese blik op 70 jaar se Suid-Afrikaanse geskiedenis: vanaf die geskiedkundige Ossewatrek van 1938 tot Verwoerd se dood, die sewentigerjare se skoleprotes, die tagtiger- en negentigerjare se politieke protes en die grensoorlog, die einde van apartheid en selfs hoe dit is om in die Nuwe Suid-Afrika te leef. Binne hierdie Suid-Afrikaanse geskiedenis is daar die familie se standpunte oor die land se politieke geskiedenis. So byvoorbeeld is daar Colette se een broer wat ’n ondersteuner van apartheid is, terwyl die ander broer ’n sterk teenstander daarvan is.

Die drie vroue se verhale word nie net met die land se verhaal gekoppel nie, maar ook met belangrike wêreldgebeure, soos Neil Armstrong se maanlanding, prinses Diana se afsterwe in 1997 en die aanval op die Twee Torings in 2001. Binne die drie vroue se verhale word die land en die wêreld se geskiedenis verder herskep met verwysings na kleredrag, musiek, boeke en haarstyle.

Die blou van onthou handel oor die tema van onthou, soos in die titel voorspel word. Maar dit is nie net ’n onthou van die verlede ter herinnering nie, maar ’n onthou van ontbloting en ’n onthou om by versoening en genesing uit te kom. Colette skryf juis in ’n e-pos aan Tina: “Die onthouduidwel bring geen helderheid nie, net verlange en deurmekaar drome.” In ’n ander e-pos skryf sy: “Blou is die kleur van onthou, dit weet ek nou. Blou soos die teëls in Portugal, waar ons almal se stories begin het, myne en my dogter en my kleindogter s’n. Teen dié tyd is ek van kop tot tone blou van al die onthou.”

Die roman verwoord die bekende tema van die moeder-dogter-verhouding, aangesien dit die verhaal van drie geslagte vroue, ouma – ma – kleinkind, vertel. Elkeen van hierdie verhale bevat ’n chronologiese vertelling vanaf klein dogtertjie tot volwasse vrou. In hierdie ma-dogter-tema is daar die onstuimige verhoudings en opstand teen die ma-figuur, soos veral oorgedra deur Nandi. Daar is ook die immerbekende temas van verlies, veral die verlies van ’n kind, en die liefde, veral die romantiese liefde vir ’n man. Binne hierdie temas word ook subtiel kommentaar gelewer oor die lotgevalle van vrou-wees deur die eeue.

Dit is veral ’n reisverhaal. Deur die drie hoofkarakters se oë leer die leser verskillende plekke in Suid-Afrika, maar ook in die buiteland, en veral Portugal, ken. Die reis na Portugal is iets nuut in Van der Vyver se skryfwerk nadat sy reeds Frankryk as landskap in etlike van haar werke gebruik het. Portugal as belangrike ruimte word reeds in die titel gesuggereer, aangesien die blou Azulejos ’n belangrike argitektoniese kenmerk van Portugal is. Ander verbindings met Portugal is die fado en die saudade. Reise na Portugal koppel al drie die verhale, maar veral die eerste en laaste verhale van Colette en Tina, aangesien dit die drie verhale tot voltooiing bring.

Al drie die vroue is Portugal toe om “hulle daar te gaan vind”, soos die roman dit stel. Colette reis na Portugal omdat sy moeg was vir die Engelse koue weer en vryheid wou smaak voordat sy en Hannes sou trou; Nandi reis soontoe om haar pa te gaan opspoor en op haaar ma en pa se voetspore terug te gaan; en Tina loop ook terug op die voetspore om haar Portugese oupa te gaan soek: “Sy sal hom vind, lewend of dood, ter wille van haar ouma. Ter nagedagtenis aan haar ma. En vir haarself ook, sodat sy die einde van hierdie storie kan leer ken.”

Tog kom ander reisvorme ook in die roman voor: daar is die verbeeldingsreise van die dogtertjies as daar met die papierpoppe gespeel word; daar is die dagga-reise van Nandi; daar is reise deur die geskiedenis; daar is die liefdesreise van die drie vroue, maar ook van die ander karakters; en dan is daar ook veral die lewensreise.

Twee ander belangrike herhalende motiewe bind die drie vroue se verhale: die teëlskilderye in Portugal en die papierpoppe. Die teëls koppel met “blou”, ’n belangrike woord wat reeds in die titel prominensie kry. Die Portugese teëls, of soos hulle in Portugal genoem word, “azulejos”, is blou, die tradisionele kleur waarvan hierdie teëlkuns gemaak word. Die teëls vorm saam een teëlskildery. In elkeen van die verhale kry die teëlskilderye prominensie en het dit ’n uitwerking op hulle.

Die skoendoos vol papierpoppe word van een geslag na die volgende geslag oorgedra. Die papierpoppe bind dus nie net die drie geslagte vroue nie, maar raak ’n simbool van hoe vroue deur die eeue verander het. Eers was daar die onderdanige vroue, daarna was daar die opstandige vroue, en dan was daar die dapper vroue, want in Colette se ma se woorde: “Dit was nog nooit ’n grap om ’n vrou te wees nie. Veral nie in Afrika nie.” Belangrik is ook die oorgee van die papierpoppe aan die bruin familie se vroue om hulle lotgevalle ook te betrek.

Van der Vyver maak gebruik van intertekstualiteit deur middel van verwysings na ander literêre werke om die verhaal tyd-ruimtelik te situeer, maar ook om ’n dieper nuanse aan die verhaal te gee. Die verwysings na die Portugese digter Fernando Pessoa kom herhalend voor en is belangrik, aangesien hy motiewe soos reis, liefde en die drie vroue se verhale koppel. Die teëlmaker, wat veral in die eerste vertelling ’n belangrike rol speel, is ’n naamgenoot van Fernando Pessoa.

Die intertekste met Afrikaanse digters soos Totius, Elisabeth Eybers en Eugène Marais, en ook met Afrikaans liedjies en gesegdes, word veral gebruik om Colette se pa se liefde vir Afrikaans aan die nageslagte oor te dra. Nandi verwoord dit soos volg: “Maar meer as enigiets anders sal ek sy liefde vir sy taal onthou. Nee, dis meer as liefde, dis ’n soort versotheid, soos ’n jong seun wat op ’n stunning girl verlief raak en nie sy geluk kan glo as sy hom toelaat om aan haar te raak nie. Oupa het sy lewe lank daardie jong seun gebly en die stunning girl se naam is Afrikaans.”

Van der Vyver het haar reeds as skrywer binne die Afrikaanse literêre sisteem bewys. Sy skryf toeganklik met ’n fyn ingesteldheid teenoor haar lesers. Dalk is die tipiese romantiese slot van die twee geliefdes wat bymekaar uitkom, te voorspelbaar, maar hierdie is ’n boek wat gerus gelees kan word, want dit verwoord nie net die “blou onthou” van drie vroue nie, maar ook elke leser se “blou onthou”.

Die blou van onthou is ten slotte ’n verhaal van onthou en begrip.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top