Jaco,
Openbaring 13:18 vermeld die volgende:
“… Hier kom die wysheid te pas. Wie die verstand het, laat hom die getal van die dier bereken, want dit is die getal van ’n mens; en sy getal is seshonderd-ses-en-sestig.”
Die Griekse en Hebreeuse tale beskik nie oor ’n aparte numeriese stelsels nie en die letters van die alfabet van daardie tale het ook numeriese waardes daaraan gekoppel. Dus, elke letter van die alfabet stel ’n getal voor. Die Woord doen dan spesifiek ’n beroep op die mens om na aanleiding hiervan, die naam van die ‘dier’ (beast) vaste stel. Maar by die naamvasstelling na aankleding van die getal 666, waarsku die Woord dat daar ook insig nodig, is sodat dit vertolk kan word.
Wanneer mens die numeriese waarde in Grieks (die taal van die Nuwe Testament) bereken, is daar verskeie moontlikhede. Maar, nie sommer enige naam sal werk nie. Die naam moet simbolies wees van, dus vereenselwig kan word met, die optrede/aard van die dier, soos dit in die Woord voorkom.
Irenaeus (130 tot 202 nC) het die getal 666 vereenselwig met die Griekse naam “Lateinos” (“Latinus” of “Lavinius” in Latyn), as synde die beweerde (deur Virgilius in Aeneid) grondlegger van die Latyne, later bekend as die Romeine en die Romeinse ryk, die ryk wat op sewe heuwels gebou is (Openbaring 17:9). Selfs die naam van Caesar Nero se numeriese waarde in Hebreeus is ook 666, ’n Romeinse keiser van wat, ooreenkomstig die geskiedskrywer Tacitus, werklik met die vervolging van Christene begin het en hulle laat doodmaak het, soos die Woord in Openbaring voor die aanvangs daarvan, profeteer, as synde een van die gruwels van die dier (Openbaring 11:7), welke vervolgings van gelowiges vir bykans drie eeue daarna aangehou het.
Dus, hoewel beide Nero en die Romeinse ryk intussen daarmee heen is, was hulle maar net die manifestasies van die bose gees van die dier wat posgevat het, en is die bekendmaking van die 666 naam in Openbaring die aanduiding van die begin van die bose werke van die bose gees wat die HERE teenstaan en dié werke word vandag steeds voortgesit, soos die Woord in Openbaring te kenne gee.
Hoe ken ons dié bose gees, die werke, uit?
Die eerste aanduiding, kom van die HERE Jesus Self af, wanneer HY die volgende waarskuwing rig: Mattheus 6:24 “Niemand kan twee here dien nie; want óf hy sal die een haat en die ander liefhê, óf hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie!”
Hier is dus die twee – die Een is die ware God, die HERE en die ander is die god van die karnale wêreld - mammon. Dus, die dier verwys na mammon. Mammon, die dier, is nie ’n mens nie, maar die dier is ’n heersende onreine gees (Openbaring 13:15) en word vereenselwig met die antichris (’n bose gees, wat die Evangelie en ook die Persoon van Jesus Christus die HERE probeer teenwerk met valse leringe en valse voorstellings van Christus die HERE - 1 Johannes 2:18, 22; 4:2 e.v.; 2 Johannes 7), die seun van die verderf (2 Tessalonisense 2:3-12 – hierdie verse sit die missie van die dier uiteen) tesame met ’n bose gees van dwaalleringe – die valse profeet (Openbaring 16:13; 19:20; 20:10) as verteenwoordigers van die satan self (die draak) en wat met die satan ’n onheilige gruwelike drie-skap vorm in nabootsing van die Goddelike Drie-eenheid.
Die Woord leer ons dat ons die aard van die heersende geeste aan hul vrugte sal leer ken – ’n boom word aan sy vrugte geken (Lukas 6:44). Daarom is dit maklik om die dier uit te ken as reeds besig met sy vernietigingswerk. Die dier is mammon. Mammon is die gees van gierigheid, waarby alle ongeregtigheid en sonde en afvalligheid uit voortspruit (1 Timoteus 6:10) en daaruit vloei hebsug, gierigheid vir mag, en selfverheffing van die eie ek.
Wanneer ons kyk na 2 Tessalonisense 2:3-12, sien ons wat die missie van die dier, is, asook die gevolg daarvan vir diegene wat die dier nie weerstaan, nie:
“3 Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf,
4 die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.
5 Onthou julle nie dat ek dit altyd vir julle gesê het toe ek nog by julle was nie?
6 En nou, julle weet wat hom teëhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word.
7 Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is;
8 en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak,
9 hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen
10 en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie.
11 En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo,
12 sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid”
Verse 3 en 4 verduidelik die bose gees waaruit die agnostisisme en die ateïsme spruit as ergste lastering teenoor God (Openbaring 13:6). Wat dus by Nero begin het, word vandag steeds voortgesit. Die manifestasie daarvan word sorgvuldig in Romeine 1:18-32 bespreek en ons sien dit vandag steeds gebeur.
Dit is die gees van selfverheffing, hebsug, mag en geldgierigheid. Hoeveel keer sien en hoor mens nie ander wat sê, sonder geld kan mens nie lewe, nie. Die waarheid is dat die mens nie sonder God se genade kan lewe nie, want God beskik en voorsien, ook toegang tot geld. Hoeveel keer sien en hoor ons nie van afvallige mense wat hul ongebore kindertjies sal doodmaak, ter wille van geldelike oorwegings, nie. Hoeveel keer sien ons nie dat hulle mammon se instrument - geld - in pantserkarre vervoer om dit te beskerm, terwyl hulle dit vir geen mens sal doen, nie. Hoeveel keer sien ons nie dat mense mekaar se lewens verwoes en vernietig, ook tydens rooftogte, ter wille van geld en ander materiële goed, - mammon se instrumente - omdat die geld en goed vir hulle meer werd is as die medemens se lewe, nie... Maar mammon word die eer gegee om te kan lewe!
Tog sal die afvallige mens God misken en dié Goddelike werke toeëien wat lei tot selfverheffing van die afvallige en misleide mens in ’n poging om dit ten koste van die Goddelike heerlikheid te doen.
Die afvallige mens vergryp hom aan die wonders van God en misbruik dit deur sy sogenaamde agnostiese wetenskapsbeoefening om homself te verhef en maak asof dit sy eie ‘wonderwerke’ is (Openbaring 13:13-14 – wat die vuur wat uit die hemel neerdaal, aanbetref, dink maar aan die gruwelike kernbomme) terwyl hy niks daarvan kon vermag sonder dat God die middele in die eerste plek, geskep het, nie (maar vir ander, lewensonderhoudende doeleindes). Selfs vir die ontstaan van lewe en dinge word dit nie aan God toegegee nie, wat nog te sê, geëer – sien die gruwelike darwinistiese tipe evolusieleer.
Dus, die merk van die dier is ’n spirituele merk, ’n geestelike merk, ’n merk waaraan mense uitgeken word deur die manifestasie daarvan in hul lewens deur hul optrede omdat hulle mammon eer vir die reg om te lewe en deur mammon se vrug na te jaag as die doel van die lewe en deur se getuig dat as hulle klaar gelewe het in najaging van die mammonsvrug, daar niks verder meer oorbly nie …
Sommige dien God met hul lippe, maar dien mammon met hul lewens. Hulle leef ook die leuen van mammon.
Dus, mammon is die dier, die dodelike god van die karnale wêreld en hy het tot sy wasdom gekom by die ontstaan van die ryk van Lateinos - die 666 - en die bose gees van mammon wat sedertdien oor die karnale wêreld heers, maar wat bestem is vir vernietiging tesame met almal wat sy gruwelike merk so graag dra en hom daarmee dien ...
Openbaring 19 & 20: “19 En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër. 20 En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. 21 En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees ... 4 En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank.”
Kobus de Klerk