Deon Meyer se "Die laaste tango": Antoinette Louw gesels oor haar rol

  • 2

Foto: Simone Biscombe

Antoinette Louw was onlangs op bladsy drie in die Rapport. Om ’n bladsy-drie-meisie te wees, beteken jy word gereken as een van die groot gebeure van die week. Die artikel het dit bevestig: Antoinette is ’n rol aangebied in ’n Deon Meyer-fliek. Maar hoe dit gekom het dat sy die rol gekry het, het sy pas aan Naomi Meyer verklap ...

Hallo Antoinette, geluk met jou rol in "Die laaste tango". Waarom “Die laaste tango”? Wie dans die laaste dans? As jy nie dié vrae mag antwoord nie, vertel dan maar eerste vir my van die fliek. Dis ’n groot storie, dié: jou prominente rol in ’n Deon Meyer-fliek. Hoe het dit gekom dat jy die rol gekry het?

Jy sal maar die fliek moet kom kyk om te sien wie dans die laaste dans.  En of dit wel die laaste dans is ...  Ek hoop ek prikkel nou jou nuuskierigheid! ...  Deon en sy vrou, Anita, het Nag, Ma (met my en Sandra Prinsloo) by die Woordfees kom kyk.  Hy het net begin om die teks te skryf ... Ná hy die produksie gesien het, het hy my gebel en dierol aangebied.  Ek moet myself nou nog knyp.

Wie is Ella Winter?

Ella is ’n bekende fotograaf wat aan kanker ly en tango is haar groot passie.  Die Karoo is haar grootword-plek, en dis waarheen sy gaan om gesond te word.

Het jy al saam met al die ander akteurs in die fliek gewerk?  Van wie gaan jy die meeste sien (ek is onseker of hierdie ’n dubbelsinnige vraag is)?

Ek het saam die uiters talentvolle Ilse Oppelt in die toneelstuk in Pieter Fourie se Die Proponentjie gespeel, en onlangs ’n bietjie saam met Stian Bam in die nuwe TV reeks Boland Moorde.  My tonele in die fliek is meesal saam met Louw Venter (Semi-Soet, Cornè en Twakkie), wie die manlike hoofrol speel.

Hoe op aarde kry mens dit reg om ’n toneel sewe-en-sewentig keer te skiet en elke slag jou emosie so weer te gee dat die kyker nie dink jy het dit sewe-en-sewentig keer oorgedoen nie: hoe bly jy nuut en vars in jou vertolking?

Elke akteur se proses is anders, maar vir my is dit belangrik om sag met myself te werk.  Om ontspanne te wees, oefening te kry, gesond eet, my af te sluit van te veel eksterne impulse sodat ek kan fokus.  Fokus is die sleutel ...  En dan natuurlik, is daar hopelik ’n goeie editor.

 

Saam met Sandra Prinsloo in Nag, Ma

Is jy reeds Ella Winter soos jy nou in die strate rondstap – veral oor die manier hoe mense teenoor jou optree (ek verwys na jou opmerkings in Rapport oor mense wat jou in die strate aanstaar met jou hare wat geskeer is).

Ek glo nie daaraan om “in karakter” rond te loop nie. My werk is om waar te neem, navorsing te doen (en alles wat daarmee gepaard gaan). Mense se reaksies en die uitwerking wat dit op my persoonlik het, val onder hierdie vaandels.

Jy moes gewig verloor vir jou rol, al is jy reeds maer. Gee ’n paar wenke vir dié van ons wat baie voor ons rekenaars sit en graag vroeg-somer ’n paar kilo’s wil afskud, asseblief. Hoe klink jou daaglikse dieet op die oomblik? (Het jy dié vraag verwag? Klink ek soos ’n vrouetydskrif?)

O hemel! Om eerlik te wees, wou ek baie meer afskud as wat ek het. Ek moes egter ’n besluit neem om óf drasties 10 kg te verloor en daardeur my gesondheid in gedrang bring, óf ’n meer gebalanseerde opsie. Daarby het ek minder as drie maande gehad en ek is nie meer 26 waar ek sommer net gewig kan afskud nie. Dus was die tweede opsie vir my die beste. Ek het as sodanig nie baie verloor nie, wel in sentimeters. Maar in die proses ek het my lyf en die effek wat kos daarop het, beter leer ken. Dit wat ek geleer het, is langtermyn. So nou eet ek vyf dae ’n week reg, en oor naweke gun ek myself kaaskoek, pizza en wyn. Ek gaan aanhou gewig verloor, maar dis nie ’n quick fix nie. Niks in die lewe is nie.

Wat is die lekkerste aspek van jou rol?

Die tango-klasse, die voorbereiding vir die rol, om saam met Louw en Deon te werk. En ek kan nie wag om na die Karoo en sy mense te gaan nie (ons gaan vir tien dae daar skiet).

Wat is die mees uitdagende?

Om nie in die middel van die week kaaskoek te eet nie.

Kyk jy flieks soos Scent of a Woman op die oomblik ...? Sal mens eerder kyk hoe professionele mense dans – of net die lesse neem en wegspring? Hoeveel hang dit ook af van jou partner of dit wérk?

Om na professionele mense te kyk is inspirerend, maar ook oorweldigend. Ek sal ’n fliek kyk vir inspirasie, maar moet oppas om my nie met hulle te vergelyk nie. Dis te depressing! Gelukkig geniet ek en Louw dit ontsettend baie. Sy werk is natuurlik moeiliker as myne, want hy moet die passies uit sy kop ken, telling hou en my lei – ek volg net. Ek dink sy tone het baie meer daaronder gely as wat myne het.

Foto: Francois van Vuuren

Die hare het gewaai. Waai die hare ook in die fliek as jy die teks so kyk? Is dit spannend? En hoeveel van die intrige lê in persoonlike verhoudings eerder as skop, skiet en donder?

Die teks is ’n kombinasie van beide skop, skiet en donder én persoonlike verhoudings. Dis min dat mens so ’n kombinasie kry, en dit maak die storie (en my werk) baie opwindend.

Wat bly jou by van 2012 – persoonlik of professioneel of in die land?

Ek en Reenen, die man in my lewe, was Thailand toe. Dit was my eerste keer in die Ooste en ek’s nou nog in die wolke oor die ervaring.


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top