ATKV-Skrywersalbum | Writers

 
Deon Meyer (1958– )

Gebore en getoë

Deon Godfrey Meyer word op 4 Julie 1958 in die Paarl gebore. Toe hy 18 maande oud is, verhuis die gesin na Klerksdorp in die ou Wes-Transvaal. Sy pa, Neil, was hier areabestuurder van ’n hysermaatskappy. Sy ma, Francis, was ’n tuisteskepper.

Sy pa het arm grootgeword en moes ná standerd 6 die skool verlaat. Hy het hom as elektrisiën bekwaam en aanvanklik by African Theatres in die Kaap gewerk.

Deon begin sy skooljare aan die Laerskool Meiringspark en matrikuleer in 1976 aan die Hoërskool Schoonspruit. hy is die middelste van drie seuns. In standerd 6 (deesdae se graad 8) moes hy sy twee broers Bertus en Francois afpers om sy eerste storie te lees. Hulle raad aan hom was dat hy nie dadelik met ’n nuwe boek moet begin nie. Deon sal sy Engels-onderwyseres, Valerie de Bruyn, altyd onthou as iemand wat hom voortdurend aangemoedig het en met haar positiewe terugvoer oor sy opstelle ’n sekere selfvertroue vir skryf by hom gekweek het.

Sy liefde vir skryf was net altyd daar. Deon meen dat dit dalk te doene het met die feit dat hy in ’n boekehuis grootgeword het. “Lees was van kleins af ’n intense vreugde,” vertel hy aan Heidi de Goede. “Ek onthou ek was so agt of nege jaar oud toe ek, ná die lees van ’n (vergete) wonderlike boek, vir die eerste keer besef het: Ek wil ook eendag probeer om stories te maak, hoewel ek tog as seuntjie die gewone seuntjie-goed soos soldaat of speurder wou word.”

Deon beskou sy pa as die wonderlikste storieverteller wat hy ken, en sy ma as die beste resensent van sy pa se stories – sy het van almal gehou. Wanneer die gesin vakansietye Kaap toe gery het, het sy pa vertel die lewe is soos ’n reis Kaap toe: jy moet eers die dor vlaktes van die Karoo oorsteek voordat jy die oase van die Kaap kan bereik. In die grootmens Deon se lewe beteken dit die lewe vra opofferings as jy iets wil bereik.

“Albei my ouers was lief vir boeke, maar my liefde vir lees kom beslis van my ma af. Sy het baie gepraat oor wat sy gelees het en die liefde vir lees by die kinders gekweek. My pa was weer ’n natuurlike storieverteller wat bloot die verloop van sy dag of ’n goeie grap in ’n verhalende belewenis kon omskep. Hy het nooit die moeite ontsien om ons twee, drie keer per week biblioteek toe te neem nie.”

“My pa was hierdie natúúrlike storieverteller. Hy kom ook uit ’n geslag van storievertellers. Dit was die era voor televisie. Sosialisering en vermaak het plaasgevind om ’n tafel of ’n vuur waar stories vertel is.

“My pa sou byvoorbeeld elke aand by die huis kom en sy dag as ’n stórie vir ons vertel. Op so ’n boeiende manier. En stories uit sý jeug uit.

“Die man met die rooi mus ... as ons nou iewers heen ry, dan sal my pa sit en stories opmaak oor die man met die rooi mus. En dan sou hy kindertjies gehad het wat almal rooi mussies gedra het.”

Deon se latere sukses as spanningsverhaalskrywer kan teruggevoer word na sy verslaafdheid as kind aan ’n skrywer soos Ed McBain. “Ek het op 14 die eerste keer met McBain kennis gemaak en daarna alles gekoop wat uit sy pen verskyn. Hy is volgens my die beste misdaadromanskrywer ooit en dit het my die grootste thrill gegee toe foto’s van my en hom pas langs mekaar in ’n Nederlandse katalogus verskyn het.”

Die naaste wat Deon aan kultuur in Klerksdorp destyds gekom het, was die Voortrekkerfees. “Daar was maar min wat musiek en drama betref. Die hoogtepunt van die jaar was die landbouskou. Soos ander dorpe geskei word deur die regte en verkeerde kant van die spoorlyn, het Klerksdorpers van die regte of die verkeerde kant van die spruit gekom. Songloed, die voorstad waar ek gewoon het, was aan die verkeerde kant. Dit was positief en negatief: Ek het skoolgegaan saam met kinders uit gegoede huise én saam met bitter arm kinders. Ek het mense ontmoet wat ek andersins nooit sou leer ken het nie.

“Ons het aan die rand van die dorp gebly. Ons het dus ’n groot deel van die tyd in die veld deurgebring. Ons het in die bloekombosse duiwe gejag, kaal geswem in die spruit en kleilat gegooi. Ek dink nie daar is iets verkeerd met jag nie, maar my kleintyd-ervaring het nie van my ’n jagter gemaak nie,” vertel hy aan Stephanie Nieuwoudt.

Verdere studies en werk

Na skool is Deon na die Lugmag vir sy militêre diensplig. Hy gaan na die PU vir CHO en volg ’n BA-kursus met Engels en geskiedenis as hoofvakke met die doel om hom as onderwyser te bekwaam.

Na ’n jaar van onderwys gee aan minderbevoorregte matrieks as deel van ’n uitreikprogram om swart leerlinge met hulle studies te help, besef hy onderwys is nie vir hom bedoel nie. Gelukkig ontdek hy die wêreld van die joernalistiek.

In 1980 begin hy as joernalis by Die Volksblad in Bloemfontein werk. Hy het ook ’n tyd lank in Kroonstad deurgebring waar hy bydraes uit die kontrei vir ’n bylae tot Die Volksblad gelewer het. “Die meeste van my berigte het ek van speurders en uit die polisiekantore gekry. Ek onthou hoe ek elke oggend al die sentrales in die streek gebel het om uit te vind of daar nuwe stories opgeduik het. Ek sal nooit die polisiehoof, majoor Koos Calitz, vergeet nie. Ek en hy het daagliks polisiestories uitgeruil. Ons het later uitsonderlike pêlle geword.”

In 1983 volg hy sy joernalistieke mentor, Tom Ferreira, na die Universiteit van die Vrystaat se Skakelburo. Daar behaal hy sy honneursgraad in geskiedenis en handel driekwart van die vakke vir sy BIur-graad af. In 1989 verlaat hy die Vrystaat en sluit hom by Sanlam in Kaapstad aan as reklamekopieskrywer.

In 1991 word hy aangestel as bestuurder van interne kommunikasie en skeppende direkteur van Sanlam se reklame-afdeling. Deon is ook onder meer raadslid, president en later senator van die Suider-Afrikaanse Vereniging van Bedryfsredakteurs (SAVBR) en hoofbeoordelaar van SAVBR en UniTech se publikasiewedstryde.

Met die koms van die internet is hy deel van Sanlam se eerste treë in die kuberruim en ontvang hy en sy span verskeie internettoekennings, waaronder Business Day en die London Financial Times se pryse. Hy behartig ook ’n tegnologierubriek vir die tydskrif Insig.

Hy bring sy eie maatskappy op die been wat spesialiseer in die skep en bestuur van virtuele gemeenskappe op die internet. Behalwe skrywer, was hy destyds bestuurder van spesiale projekte van BMW se motorfietsafdeling.

Terwyl hy op universiteit is, skryf Deon soetsappige gedigte in Engels. Dit is eers in die negentigerjare dat hy ernstig begin skryf. In 1992 stuur hy ’n kortverhaal aan Huisgenoot, wat dit publiseer. Hy is so aangevuur dat hy onmiddellik nog een aan hulle stuur, wat afgekeur word. Dertien kortverhale verskyn later in Sarie en Huisgenoot; dit word later gebundel en in 1997 deur Van der Walt onder die titel Bottervisse in die jêm uitgegee.

In 1992 begin Deon ook werk aan sy eerste roman, met die titel Ikarus. Die uitgewers glo egter nie dat eenwoordtitels in Afrikaans sal werk nie en dit word gepubliseer onder die titel Wie met vuur speel. Deon voel oor die boek “soos ’n mens oor ’n broer in die tronk voel – jy is lief vir hom, maar jy praat nie eintlik oor hom nie”. Die boek is, ten spyte van Deon se eie mening daaroor, in 2007 heruitgegee.

Corli van der Merwe skryf in Volksblad dat nadat sy die heruitgawe gelees het, dit vir haar duidelik was dat Deon met die jare sy voete deegliker in die skryfkuns gevind het. Die beeldskone en intelligente, maar impulsiewem Rachel Bergh, eienares van ’n boekwinkel in Langstraat, ontmoet die sjarmante en atletiese Dirk Buchner by 'n boekeveiling. Kort voor lank is sy smoorverlief, en oortuig dat Dirk die Meneer Volmaak in haar lewe is. Sy word egter bitter ontnugter, en in haar desperate soeke na hulp vind sy die geheimsinnige Ivan Malan, 'n man wat om ’n goeie rede nie oor sy verlede praat nie, skryf Gunther Pakendorf.

Nou begin ’n soektog wat nie net van die Kaap na Johannesburg en terug verskuif nie, maar ook sielkundige aanvoeling en speurvernuf uit die boonste rakke verg. Dit ontwikkel in ’n konflik tussen die twee antagoniste, “broers in hul stryd teen die wêreld, teen hulself. En nou, deur ’n eienaardige verloop van gebeure, in stryd met mekaar. Ambassadeurs van goed en kwaad.”

Wie met vuur speel bevat al die elemente van ’n goeie spanningsverhaal: mooi vroue, sterk manne, blink motors, ’n titseltjie romanse met ’n bietjie seks daarby, ’n stewige dosis aksie met ’n knippie bloedige geweld, en ’n slim intrige wat nét nie te ingewikkeld is om jou konsentrasie te versteur nie. Daar is ook inligting oor sielkundige oorlogvoering, wapentegnologie, afpersing en bedrog, want ons het hier met opgeleide teenstanders te make.

Maar dit is nie net die “wat” nie, dit is veral ook die “hoe”. Pakendorf meen dat Deon Meyer sy huiswerk gedoen het, en daarin geslaag het om ’n eersterangse aksieverhaal te skryf wat alle elemente van dié genre op oortuigende manier met mekaar verbind. “Dit is nie ’n geringe prestasie nie, veral aangesien dit ’n debuutroman is. Die lakmoestoets vir romans in hierdie genre is dat die leser dit nie kan neersit as jy eers begin lees het nie. Nouja, ék kon dit nie neersit nie, en ek wil vir die skrywer sê: Doe zo voort!”

Wie met vuur speel plaas Deon op die toneel van die Afrikaanse letterkunde in ’n genre wat nog nie behoorlik ontgin is nie, naamlik die spanningsverhaal.

 Met Feniks (1996), sy tweede boek, steek Deon sy kleim as een van Afrikaans se beste spanningsverhaalskrywers stewig af. Die hoofkarakter in Feniks is kaptein Mat Joubert van Bellville-Suid se Moord- en Roofeenheid. Hy het die regte naam gekry, want Mat Joubert is afgemat. Sy vrou is oorlede (die leser weet nie presies hoe sy dood is nie, maar ’n mens kom agter dat dit ’n verskriklik traumatiese gebeurtenis moes gewees het), hy het belangstelling in sy werk verloor, en hy is oorgewig en onfiks en lewensmoeg, skryf Chris van der Merwe op LitNet.

Op hierdie laagtepunt in sy lewe word ’n nuwe hoof deur regstellende aksie bo hom aangestel, kolonel Bart de Wit, en hy waarsku vir Mat om hom reg te ruk. Hy gee aan Mat twee uiters moeilike sake om op te los. In die eerste plek is daar ’n reeks bankrowe, almal op dieselfde bankgroep, met die skuldige wat telkens in ’n ander vermomming verskyn; en in die tweede plek die moorde deur ’n geheimsinnige reeksmoordenaar wat met ’n antieke Mauser die een slagoffer na die ander neervel.

En so ontwikkel ’n konflik wat Mat op verskeie fronte moet veg – ’n konflik teen sy hoof, wat vir hom ’n bedreiging is; ’n konflik met die misdadiger of misdadigers wat vir die bankrowe en die Mauser-moorde verantwoordelik is; maar bowenal ’n konflik met homself om homself te rehabiliteer – om die traumas van die verlede te verwerk, om sy lewenslus te herwin, en om ’n wenner in plaas van ’n verloorder te word.

Hierdie persoonlike herstel is die eintlike tema van die roman. Dit titel Feniks suggereer dit al – Mat Joubert worstel om te wees soos die feniks, die mitologiese voël wat uit die as herrys. Sy stryd teen die misdadigers vorm ’n simboliese parallel met sy eie stryd om genesing.

Joubert se stryd om herstel word gespieël in ander karakters, soos byvoorbeeld speurderadjudant Bennie Griessel, wat met ’n groot drankprobleem te kampe het wat sy gesinslewe verwoes. Griessel kry die ondersoek na die bankrowe as sy verantwoordelikheid; ook sy stryd teen misdaad is nóú verbonde met sy eie persoonlike stryd. Selfs die skynbaar ongenaakbare hoof, Bart de Wit, is betrokke by ’n proses van persoonlike groei; wanneer hy van sy troon afklim, en sy masker van “altyd in beheer van die situasie wees” laat val, dan word hy mensliker en genadiger. En dan is daar nog ’n karakter wat besig is met die verwerking van ’n groot trauma uit die verlede. Maar hierdie aap mag ek nie uit die mou laat nie.

Die roman Feniks kan as ’n gids vir die genesing van ’n trauma gelees word. Die belangrikheid van konfrontasie van die traumas van die verlede word beklemtoon; die noodsaak om met iemand daaroor te praat, hoe pynlik dit ook al is. Verder word die alomteenwoordigheid van menslike skuld gesuggereer; dat dit tot allerlei psigiese stoornisse lei as die mens hom- of haarself moreel wil regverdig en al die skuld op ander pak, as jy self die rol van morele regter en laksman wil opneem. Want almal is besmet, en almal het behoefte aan mededoë en vergiffenis. Vervolger en misdadiger is nie so verskillend van mekaar nie.

Die skrywer het in ’n radio-onderhoud vertel hoe hy met die polisie saamgewerk het terwyl hy besig was om hierdie roman te skryf. Sodoende het hy baie oor die werk van die polisie geleer, en het hy ’n roman geskryf wat nie ’n karikatuur van die polisiemag en van hul werk maak nie. Ons het in die Afrikaanse literatuur baie soorte uitbeeldings van die polisiemag gehad – in die sewentiger- en tagtigerjare meestal ’n negatiewe uitbeelding. Miskien is dit ’n teken van die volwassenheid wat ons nou bereik het dat polisiemanne nie meer verheerlik of afgekraak hoef te word nie. Die polisiemag is maar eintlik ’n mikrokosmos, en jy kry van alle soorte daarin, die goeies, die slegtes, en veral dié tussen-in.

Maar dit is nie net ’n boek oor traumas en probleme nie; dit is veral ’n boek wat heerlik lees, met ’n skrywer wat skitterend daarin slaag om jou belangstelling van begin tot end lewend te hou deur die verstrengeling van ’n hele aantal spanningslyne. Daar is spanning by die leser oor wat presies met Mat Joubert se vrou gebeur het: Hoe het sy gesterf? Dit word met allerlei ander vrae verweef: Gaan Joubert die misdadigers vind? Wie is vir die bankrowe verantwoordelik? En: Wie het die Mauser-moorde gepleeg? Is dit dieselfde persoon? Verder: Wat gaan met Joubert se persoonlike stryd gebeur? Gaan hy die verlede kan verwerk? Gaan hy weer ’n verhouding met ’n vrou aanknoop? Gaan hy ’n sukses of ’n mislukking wees?

Met meesterlike vakmanskap wissel die skrywer die verskillende spanningsdrade af, breek die verhaal telkens op ’n spanningshoogtepunt af, stel dit uit om die inligting te gee wat die leser verlang, lok jou uit, mislei en verras jou voortdurend. Uiteindelik bied hy ’n ontknoping wat miskien nie almal sal bevredig nie, maar sekerlik almal sal verras.
Saam met die volgehoue spanning is daar die humor wat die plesier van die leser verhoog.

Dis ’n herkenbare hedendaagse werklikheid wat in die roman opgeroep word – met misdaad en regstellende aksie; met Engels op die TV; met roof, verkragting en moord, en die Suid-Afrikaanse polisie wat in die hitte van die stryd staan. Lesers wat die Kaap ken, sal ’n hele paar keer die omgewing kan herken.

Van der Merwe sluit af: “Feniks is 288 bladsye van louter genot. As daar nie ’n draaiboekskrywer en ander kundiges is wat hierdie boek omwerk tot ’n film nie, dan is iemand êrens baie dom.”

Orion (2000), Deon se volgende spanningsroman, het Volgens Fanie Olivier eintlik twee spanningsvlakke wat naas mekaar beweeg.

Leesgenot is daar beslis in Orion: ’n lekker storie, goeie vertelling, interessante karakters en so ’n effense insinking sentimentaliteit. Soos in elke goeie speurverhaal word die legkaart stukkie vir stukkie ingevul, terwyl daar ook retrospektiewelik ’n ander legkaart gepak word.

Zatopek van Heerden, ’n verslonste wegkruiper van sy verlede as ’n topkriminoloog en polisie-ondersoekbeampte, word genader om ’n testament op te spoor wat soek geraak het tydens ’n gruwelike moord in voorstedelike Kaapstad. Daarvoor het hy sewe dae, en die formele organisasie van die roman is dan ook in een stel hoofstukke die aftel van hierdie opdragtyd.

In alternatiewe hoofstukke (ook in ’n ander lettertipe geset) skryf Zatopek sy eie verhaal waarin hy probeer vertel hoekom hy geword het wat hy nou is: ’n slegte mens. Die onderliggende tema in sy lewe is een van afdraaipaaie, waarvan die verhouding met Nagel en die liefdesverhouding met Nonnie die twee keuses is wat sy lewe tot op ’n punt van verwoesting sou bring. Daarna word hy meedoënloos sinies: “Die regte ding om te doen is om te oorleef. Om seker te maak niemand fok met jou nie.”

Omdat die twee wêrelde in die psige van Van Heerden verstrengel is, bly die nuuskierigheid van die leser geprikkel.

Die perspektief is en moet daarom dié van Van Heerden wees, en dit is vreemd dat die skrywer op ’n paar plekke die perspektief laat verspring, die onwaarskynlikste waar hy self as verteller met 'n vooruitperspektief op bl 303 na vore kom. Naas die vrou uit sy verlede word Zatopek se doen en late gerig deur twee ander vrouens: sy kunstenaar-ma en sy opdraggewer, die prokureur Hoop Beneke.

Meyer demonstreer, soos in Feniks, ook in Orion die wins van sy agtergrond as koerantman. Kort sinne, goed-georkestreerde paragrawe, bedagtheid oor die effek van te veel bywoorde en byvoeglike naamwoorde, wat die tempo van die roman aansienlik verhoog. Verder skryf hy ’n keurige Afrikaans, sodat afwykings en “slordighede” funksioneel is. Dit dra ook verder daartoe by dat hy die stylaard van die twee verskillende segmente van die roman oortuigend manipuleer sodat Van Heerden se “lewensverhaal” taalkundig ook anders lyk.

Een van die boeiendste dinge omtrent Orion is die onmiskenbare onmiddellikheid wat dit het, beide geografies en in terme van die gebeure. Al die herkenbare dinge verleen ’n bekoring aan die roman, waardeur die leser se betrokkenheid verseker word: Die weermag se betrokkenheid by diamanthandel, die wêreld en kameraderie van die Recces, die vreemdheid van die Robert Smit-moorde, die Waarheid-en-Versoeningskommissie en die bendeskadu’s van die Kaapse Vlakte.

Orion bewys weer eens dat Afrikaans geskik is om alles mee te doen, en dat jy jou nie hoef te verlaat op allerlei foefies om ’n ordentlike storie ordentlik te vertel nie.

As deel van ’n ATKV-kursus in draaiboekskryfwerk wen Deon die kompetisie en die SAUK sou die regte koop vir die draaiboek, maar dit val deur die mat. Hy help skryf aan die draaiboek vir die televisiereeks van Orion, maar vind dit baie moeilik. “Kreatiewe keuses moet vir televisie gedoen word, wat soms die essensie van ’n karakter verander. Ek dink nie ek gaan meer draaiboeke lees nie.”

Hierdie televisiereeks, met Neil Sandilands as Zatopek en Erica Wessels as Hoop Beneke in die hoofrolle en Gerrit Schoonhoven as regisseur, word in 2006 op kykNet en M-Net gebeeldsend en is ’n baie groot sukses. Vir die reeks is Deon met ’n ATKV-Veertjie bekroon in die narratiewe genre vir die draaiboek van die reeks en word Schoonhoven aangewys as die beste regisseur en die reeks as die beste Afrikaanse dramareeks.

Wat Orion vir Elmari Rautenbach anders maak, is dat die suiwere speurverhaal deeglik gemotiveer, soepel geskryf, ongelooflik spannend, kompleks maar altyd geloofbaar is. Voeg hierby ’n baie menslike hoofkarakter, wat in ’n tweede, parallelle storielyn sy persoonlike verhaal ontboesem, en jy sit met ’n boek wat jou as ’t ware heel insluk.

Veral die persoonlike aspek, die grootword, seksuele ontwaking, soeke na beroepsidentiteit, gepaardgaande selftevredenheid en uiteindelike val van ’n doodgewone Afrikaanse man gee die speurstorie wyer dimensie. Zatopek bly nie net polisieman nie, maar word ’n volronde karakter, weliswaar met foute – beduiweld, koppig, maar skrynend alleen, wat sy kreatiwiteit en soeke na warmte uitstort in ’n oorgawe aan kosmaak (elke resep wil ’n mens self probeer) en goeie musiek.

Rondom Zatopek is die vrouekarakters die sterkste: sy ma, die prokureur, Hoop (sy lag darem self oor die naam), die ambisieuse verleidster Kara-An Rousseau, die plaasvrou. Maar hulle wérk, want nie een word net eendimensioneel geteken nie.

Al waar Rautenbach fout mee te vind het, is die sendelingseun en nou sekuriteitswag Tiny Mpayipheli, ’n karakter wat die grense van geloofwaardigheid dalk effe te ver stoot. Sy suiwer Afrikaans en sy effe langdradige toespraak kom effens geforseerd voor. Maar dit is werklik net ’n gedagte in die verbygaan.

“Ek het Orion het toegemaak met ’n gevoel van intense bevrediging,” eindig Rautenbach. “Moenie weer kom sê daar is nie speurromans wat vergelyk met die bestes uit Europa of Amerika nie. Daar is. Boonop is hierdie een van die mooiste boeke wat ek nog in my hand gehou het. Komplimente aan die uitgewers.”

In Proteus (2002) bewys Deon hom volgens Dirk Jordaan as die voorste eksponent van die spanningsriller-genre in ons land. Hier kry die leser weer te doen met twee van sy karakters in Orion, naamlik Zatopek van Heerden en Tobela “Tiny” Mpayipheli, maar hierdie keer is Tobela die protagonis.

Jordaan gaan voort: “Tobela beland op ’n pad sonder omdraaikans wanneer ’n ou struggle-vriend se dogter, op haar pa se aanbeveling, hom om hulp nader. Tobela kan weens ‘ou skuld’ nie weier nie, al bedreig sy nie-amptelike sending sy geluk saam met sy nuwe kitsgesin.

“Hy moet ’n rekenaarhardeskyf in Lusaka gaan aflewer om sy vriend se lewe te red, maar wanneer ’n spesiale Suid-Afrikaanse spioenasie-agentskap op sy spoor beland en sy roetes daarheen begin toestop, moet hy plan maak. Die gevolg is ’n rolprentagtige jaagtog wanneer Tobela ’n motorfiets steel en die pad noorde toe aanpak teen ’n oormag spesialiseenhede, die polisie en selfs helikopters. Die sentrale karakter se eertydse ondervinding as sluipmoordenaar en spioen maak van hom ’n onverwags waardige teenstander vir dié oormag.

“Dit kon net sowel ’n Hollywood-storielyn gewees het: ’n oud-agent word uit sy ‘slaap’ gewek en beland in ’n situasie waarin hy op al sy verworwe kennis moet staatmaak om te oorleef en om sy onskuld te bewys. (Proteus was, terloops, ’n god en waarsêer wat sy uitsprake in sy slaap gemaak het. Wakker, kon hy sy vorm verander om homself te verbloem – ’n voorste eienskap van ’n spioen.)

“Meyer benut in der waarheid talle spanningskeppende filmiese tegnieke om die verhaaldele aan mekaar te bind. Daar is heen en weer flitse tussen die verskillende karakteromgewings (waarvan hy die insetsels se lengte ook afwissel ten einde die spanning te beheer); koerantberigte; en terugflitse wat verskaf word deur transkripsies van onderhoude deur die regering se agente gevoer. Laasgenoemde word tussenin geplaas om stelselmatig al hoe meer lig op die intrige te werp. Want intrigerend is dit gewis. Dit gaan hier oor die nuwe Suid-Afrikaanse intelligensiebestel, wat maar steeds ’n grys onderwêreld is.

“Die verhaal snel, letterlik, voort met die hoofkarakters op parallelle paaie tot sy einde in Botswana en die uiteindelike ontknoping. Tot sy krediet bied die skrywer ’n geloofwaardige einde aan en nie ’n klimaktiese botsing wat die leser sou vervreem nie. Meyer het ’n gespierde skryfstyl wat beelde en besonderhede betref. Op plekke is dit selfs macho, met fyn besonderhede oor wapens en motorfietse – laasgenoemde ’n groot liefde by die skrywer.

“Maar hy maak van Proteus meer. Daar is filosofiese nabetragtings deur van die hoofkarakters wat die verhaal tot iets heel anders verhef. Soos Tobela se bepeinsings oor Afrika, wat nie die ‘Donker kontinent’ is nie, maar die ‘Rooi kontinent’, wat ‘lewe gegee het in oorvloed. En die dood as teenwig’ (p 102).

“Wanneer Tobela se ouers, van wie hy vervreem is, deur ’n agent in die Oos-Kaap opgesoek word, word daar nie net meer lig op sy agtergrond gewerp nie, maar ook op sy ouers s’n. Word dit duidelik waarom hulle op sekere paaie beland het. Dít is waarskynlik, benewens die spanning, die sterkste element van die boek. Meyer se karakterisering is uitsonderlik, met genoeg agtergrondinligting en terugflitse verweef om elke karakter se optrede te motiveer.

“Die enigste swak plekke in Proteus se mondering is die stereotipering van die groep mense wat in die geheime agentskap se opskamer werk. En, aansluitend daarby, die onnodige nabootsing van ’n Duitser se swak Engelse aksent, terwyl al die ander karakters se gesprekke in Afrikaans (ongeag hul herkoms) weergegee word. Dit was sekerlik ook nie noodsaaklik om al die rekenaarterme in Afrikaans te verskaf nie: niemand praat tog van ‘rugsteun maak’ (backups) nie. Maar dit is klein klippies op ’n opwindende pad waarop Meyer die leser saamneem. Proteus is nie net ’n hoogtepunt vir hom nie, maar waarskynlik die beste (ont)spanningsverhaal nóg in Afrikaans.”

André Vos skryf dat die hoofkarakter in Proteus Tobela (oftewel Tiny) Mpayipheli is, wat vroeër ’n genadelose, maar hoogs doeltreffende politieke sluipmoordenaar vir die Oos-Duitse en Russiese geheime diens was.

“Met die veggees van ’n filistyn en die ratsheid van ’n springbok is Mpayipheli nietemin ’n onwillige held, aangesien hy tot inkeer gekom het wat betref sy gewelddadige verlede.

“Die politieke agtergrond waarteen die verhaal hom afspeel, is ’n knap verwewing van die hedendaagse en eertydse politieke toneel, plaaslik en oorsee, wat die storielyn boeiend en relevant hou. Hoewel die storielyn ’n goeie skoot geskiedenis uit die dae van die Koue Oorlog van die jare tagtig bevat, is dit ook in voeling met die mees onlangse politieke verwikkelinge op die wêreldtoneel, soos die bedreiging deur Moslem-ekstremiste. Dit doen Meyer sonder om enigsins in die proses kant te kies.

“Meyer het duidelik geput uit sy ervaring as joernalis. Sy loopbaan het destyds by Die Volksblad in Bloemfontein begin, hoewel hy deesdae onder meer internetkonsultant is. Die karakterisering is lewensgetrou.

“Hoewel die leser se simpatie sonder twyfel sal lê by Mpayipheli, wat geensins as ’n vlekkelose held voorgestel word nie, word antagoniste soos Jenina Mentz van die nuutgeskepte presidensiële intelligensie-eenheid en kaptein Tiger Mazibuko, die taai soldaat, nie so omskryf of gestereotipeer dat ’n mens afsydig voel teenoor hulle nie. Veral Mentz en Mazibuko se onderskeie agtergronde en lewensinvloede word genoegsaam uitgepluis in die verloop van die verhaal dat die leser 'n mate van empatie ontwikkel vir elk se persoonlike agenda.”

Oor Infanta, wat in 2005 gepubliseer is, het Madeleine van Biljon geskryf: “Christine, voormalige sekswerker, sit in die studeerkamer van ’n plattelandse predikant en vertel hom ’n vreemde, ingewikkelde verhaal...

“Tobela Mpayipheli, voormalige vryheidsvegter en sluipmoordenaar, nou man van vrede, hou by ’n vulstasie stil. Langs hom sit die agtjarige Pakamile, sy aangenome seun. ’n Roof is in aantog ...

“Bennie Griessel, voormalige briljante speurder, tans suiplap, word deur sy vrou, Anna, uit die huis gegooi. Die AA is skynbaar die enigste opsie. Gaan Bennie dit maak ...

“Binne enkele minute is die leser so vasgevang soos ’n vlieg in ’n spinnerak in die spannende wêreld van Deon Meyer wat met elke nuwe boek ’n trappie hoër klim, al hoe meer meester van sy vak en ongetwyfeld tans die Afrikaanse eweknie van die sogenaamde grotes in die genre soos Ian Rankin, Henning Mankell of Michael Connelly.

“Wat Meyer so aanvaarbaar maak vir ’n Afrikaanse leser is een van sy belangrikste hoofkarakters, die Zoeloe, Tobela. Meyer het in ’n onderhoud vertel dat hy hard gewerk het om die kop van ’n swart man te verstaan totdat hy besef het hy’s ’n man, soos alle ander mans, trouens soos hyself. Tobela is ’n besondere skepping.

“Wat Meyer ewe aanvaarbaar maak (vir een soos hierdie resensent) is sy onberispelike navorsing. As hy die leser vertel dis hoe ’n sekswerker dink en optree, kan jy maar weet hy het met sekswerkers gepraat. Wanneer Tobela iemand doodsteek met die kortlemassegaai van die impi’s, weet Meyer presies hoe daardie wond gaan lyk en wat die staatspatoloog se opsomming gaan wees.

“Maar in Infanta gaan dit om meer as nougesette navorsing, dit gaan oor persepsies van reg en geregtigheid. Tobela, diep ongelukkig oor Pakamile se dood en die skurke wat ontsnap het, koop weer ’n assegaai ...

“Inmiddels het ons nog die verhaal van die foonsnol Christine en haar verhouding met Carlos Sangrenegro, ’n dwelmhandelaar en baie besitlik. Hy sien haar dogtertjie, Sonia, en ’n vreeslike vrees pak haar beet – sy ken mans en die uitdrukking as hulle na iets begeerliks kyk. Dan tree sy amper roekeloos op met ongewone en bittere gevolge.

“Die ontplooiing van die verhaal gebeur nie dramaties vinnig nie, maar op ’n volgehoue pas wat volgehoue leesaandag afdwing. (Meyer skryf ek-kon-dit-nie-neersit-nie boeke.) Die spanning is egter hoog en dit gaan bepaald nie net oor wie volgende gaan sterf of hoe vinnig die polisie vorder nie.

“Bennie Griessel se hunkering na ’n herstelde verhouding met sy vrou en twee kinders word met deernis en insig beskryf. Dat die boek suiwer leesplesier is vanuit die verhaalstandpunt is nie te betwyfel nie.”

Al wat Van Biljon teen Infanta het, is die gevloek en die feit dat Bennie Griessel soos ander fiktiewe speurders van oorsese skrywers, ook ’n voorliefde vir musiek het.

Philip John meen dat Meyer in Infanta tekens van ’n skrywer toon wat hom ernstiger met sy medium bemoei as voorheen. “Veel meer aandag word bestee aan die uitdieping van die psigiese kante van karakters, veral dié van Bennie Griessel en die prostituut Christine. Dit is ook asof daar meer aandag geskenk word aan die ‘realistiese’ inkleding van die agtergrond waarteen die gebeure hulle afspeel, onder meer deurdat kommentaar gelewer word op die eietydse Suid-Afrikaanse samelewing.

“Een nadeel van hierdie verhoogde aandag aan die teks as sodanig is dat dit die pas van die intrige vertraag, en Infanta lees effens moeisamer as Meyer se vorige romans, veral in die middelste gedeelte. Lesers sal waarskynlik verskillend oordeel oor die relatiewe meriete van die lewendige skop-skiet-en-donner-inslag van ’n roman soos Orion en die ‘harder’, meer werklikheidsgetroue realisme van Infanta.

“Wanneer die pas nader aan die einde van die roman weer versnel, is die ‘ou’ Meyer egter terug en kan ’n mens die boek werklik nie neersit totdat die laaste, ontstellende skoot geval het nie.”

Deon Meyer het oor die afgelope dekade sy stempel deeglik op die spanningsverhaal in Afrikaans afgedruk, meen Ronel Nel. In Onsigbaar, die eerste keer dat die protagonis se stem in die eerste stem gelees word, brei Meyer sy oeuvre “ontsagwekkend” uit.

“Lemmer (dis eintlik sy van, maar almal spreek hom so aan – sy voornaam is Martin) is ’n anti-held. Hy was voorheen in die tronk en werk nou by Body Armour as ’n persoonlike lyfwag. Die leser besef egter vroeg reeds dat hy blou bloed had as ’n man van die swaard voor sy botsing met die gereg – hy was immers die ministers van vervoer, landbou én onderwys se lyfwag – en daarvóór ’n spesialis-lid in die polisie.

“Lemmer werk volgens ’n paar eie wette. Soos Wet 1: Moenie betrokke raak nie. Wet 2: Moenie vertrou nie. En nog ’n paar wette wat hulself ontwerp soos hy aangaan in sy onderhandelinge met sy nuwe kliënt: die mooi, ryk Emma le Roux. Hy gaan delf sommer dadelik vir nog ’n wet: Moenie klein vroue vertrou nie. Maar voordat jy kan sê ‘oorhaal en skiet!’ is hy betrokke by die einste Emma se dilemmas. En nog meer.

“Haar vertellings van haar broer wat verdwyn het en aanvalle op haar huis met die oog daarop om haar uit te wis, laat hom aanvanklik skepties. Dis slegs die illusies van ’n ryk, verwende brokkie, reken hy sinies.

“Emma vertrek Laeveld toe op die dag na Kersfees in haar soektog na haar broer. In sy hoedanigheid as haar gehuurde lyfwag moet Lemmer haar noodwendig vergesel. En soos hy saam met haar reis, begin dinge hom pla. Ouens wat lieg. Bewyse en getuies wat verdwyn. Meer as een (toevallige?) aanslag op hul lewens.

“En skielik besef hy. Daar ís nog iets wat hy kan bydra. Sy ou instinkte is nie dood nie, net diep begrawe. Dit is dán, soos die spreekwoord lui, dat die poppe begin dans.

Onsigbaar – die titel dui duidelik op Lemmer se selfbelewenis van sy posisie in die samelewing – word uiters sigbaar kort na die aanvang van die openingsin.

“Lemmer is ’n volronde, brawe karakter wat soms kru en met ’n goeie dosis misantropie kan optree – maar ook een met noodsaaklike menslikheid, broosheid en foute. En dit is juis dié mengsel wat hom geliefd maak.

“Daar is verskeie ander karakters wat hulself aan jou kom heg. Soos Lemmer se baas: die kragtige, gatskop-Jeanette Louw met die verborge sagte hart. Pego. Emma se verdwene broer Jacobus. Selfs die hardkoppige polisie-inspekteur Phatudi. Miskien verál Phatudi, want hy het nie die voorreg om Lemmer se kopstem so direk soos die leser te beleef nie.

“Meyer het deur die jare sy potloodpunt al skerper gevyl, en in Onsigbaar val dit veral op hoe hy deesdae soomloos en oënskynlik sonder inspanning ’n verweefde, ‘layer-ed’ verhaal kan neerpen sonder dat dit die leser verwilderd laat.

“Daardie gemak kom slegs met jare se inskerping en verfyning van sy kuns: skryf. Meyer kry dit reg om kwessies wat homself waarskynlik na aan die hart lê, veral ons natuurerfenis, só te deurvleg dat dit nie opval nie, maar deel word van die tapisserie van die boek. So gesê, sou die leser graag ’n dieper ontginning van die aasvoël-tema wou beleef.

“Aan die kern staan egter steeds die enkeltema: die katarsis van ’n man wat homself verloor het, en sy hardnekkige poging om homself weer te vestig. Aan die hand van sy gevoelens vir die skone Emma, net soos Danté en sy geliefde Beatrice, en onder luide knalle van geweerskote en vuiste wat val. Die einde in Onsigbaar jaag wel effe snel op die leser af. Dit is uiteraard kompleks, maar word met tye onvergenoeglik vereenvoudig vir die leser en dit maak die ontplooiing dalk te maklik. Volgens hierdie leser, egter, Meyer se beste boek tot dusver.”

Met Deon se volgende boek, 13 uur, wat in 2008 verskyn het, keer hy terug na die speurder Bennie Griessel wat al in Feniks sy verskyning gemaak het, en later ook in Infanta.

Gert van der Westhuizen skryf dat Bennie Griessel se ervaring in 13 uur ingespan word en is hy ’n mentor wat ander jong speurders touwys moet maak. Hy moet sy “studente”, Vusi Ndabeni, Fransman Dekker en Mbali Kaleni, help om twee sake op te los wat oënskynlik nie verband met mekaar hou nie: die moord op ’n jong Amerikaanse toeris en die skietdood van die eienaar van ’n platemaatskappy.

Om sake vir die speurders erger te maak en lesers se naels verder in gevaar te stel, werk hulle teen die horlosie omdat die Amerikaanse toeris se vriendin meedoënloos gejag word deur moordenaars wat nie sal huiwer om nóg bloed te verspil om hul donker geheim te bewaar nie.

In hul soek- en speurtog kry Griessel en kie te doen met tipies kontemporêre Suid-Afrikaanse struikelblokke wat hul werk net moeiliker maak. Benewens professionele jaloesie steek kleur- en kultuurverskille sowel as politieke onderstrominge in die polisiediens en korrupsie deur wetstoepassers ook kop uit. Daar is ook die gewetenlose, gewelddadige misdadigers waarsonder geen Suid-Afrikaanse roman van dié aard kan wees nie.

En net om alles mooi af te rond, is daar ’n Eskom-kragonderbreking in ’n stadium wanneer niemand dit nodig het of verwag nie.

Meyer se realistiese uitbeelding van die Suid-Afrikaanse samelewing, wat op deeglike navorsing gegrond is, is juis een van die redes waarom sy romans veral plaaslik so gewild is.

Vir Mariana Malan is Deon Meyer se insig in wat in die polisie aan die gang is, verstommend. Elke karakter is volledig mens; die leser het simpatie, en veral empatie, met elkeen. Daar word nie weggeskram van bestaande rassisme en seksisme nie. Hulle praat ’n taal wat ons elke dag hoor, mondeling en in hul gedagtes. Humor bly nooit uit nie.

Deon het in 2009 as homself in die bekende Afrikaanse sepie 7de Laan verskyn om 13 uur bekend te stel.

’n Bundel kortverhale van Deon word in 2009 uitgegee onder die titel Karoonag en ander verhale. Lesers met ’n sagte plekkie vir speurder-kaptein Bennie Griessel, een van die protagoniste van Infanta, sal bly wees om te hoor hy is nou 34 dae sonder alkohol, al voel hy nog “die dranklus wat ontluik soos ’n skaam minnares” (39). Hy moet in “Die perfekte moord” sin maak van ’n selfmoordbrief wat vreemde bekentenisse bevat en hy kry hond se gedagtes, skryf Adèle Dempers.

En Lemmer van Onsigbaar is ook terug, in die verhaal “Karoonag”, waarin ’n plaasaanval ’n onverwagse wending neem en ’n internasionale geur kry. Dis ’n lekker skop-skiet-en-jaag-storie en die arme Lemmer skryf sy splinternuwe bakkie af omdat hy Lemmer se Eerste Wet oortree: Moenie betrokke raak nie ...

Só maak verskeie ander geliefde karakters weer hul buiging.

Die bundel bevat ses kortverhale en ’n lang-kortverhaal, “Stiltetyd”, wat as vervolgverhaal in Die Burger verskyn het. Van die ander verhale, soos “Die Nostradamus-dokument” en “Die ontvoering van Leendert le Roux” het as vervolgverhale in Huisgenoot en Sarie verskyn.

Die pas in die kortverhale is flink soos dit ’n spanningsverhaal betaam. Maar wat pla, is dat dit verby is nog voordat die storie behoorlik op dreef kom. Meyer is gelief vir sy goeie karakterisering, maar die kortverhaalgenre is net te kort hiervoor.

Wat baie interessant van die bundel is, is dat daar ná elke verhaal ’n nawoord is wat verduidelik wat die oorsprong daarvan is. Hierdie “nawoorde” beantwoord baie van die vrae waaroor lesers dikwels wonder, soos oor die oorsprong van verhale, die skrywer se skryfproses, en die karakters. Meyer-liefhebbers sal dit beslis geniet om te sien wat hom idees gee en hoe hy die skryfproses aanpak.

Hy vertel byvoorbeeld oor “Die Skoen in Maria” dit was een van die opdragte terwyl hy sy meestersgraad in kreatiewe skryfwerk onder Marlene van Niekerk gedoen het. Hy vertel hoe sy hulle as studente gemotiveer en gestimuleer het en dra die verhaal aan haar op.

“Verslag oor ’n verdwyning” word weer opgedra aan Petra Muller “wat een donker nag op Melkbosstrand my mistieke muse was”. En oor “Die ontvoering van Leendert le Roux” erken hy: “[M]et die insluiting van ‘Die Ontvoering’ ... in hierdie bundel het ek lank gedink oor ’n moontlike totale herskryf daarvan, want vandag staan die leemtes en foute daarin ongemaklik uit ... ek het eindelik besluit om dit nie te doen nie ...” Dit verg moed van ’n skrywer om homself só bloot te stel.

Hoewel die meeste verhale nie nuut is nie, is Karoonag en ander verhale ’n lekker peuselboek in die afwesigheid van ’n Deon Meyer-roman in 2009 – aldus Dempers.

Wat veral weer vir Chris Barnard, ook ’n uitsonderlike beoefenaar van die kortverhaal, opval, is dat Meyer nooit verval in voor die hand ­liggende wendings nie. “Jy word ­kort-kort verras deur die soms aweregse kinkels van ’n ­vindingryke verbeelding. En jy kry heeltyd die gevoel: Hierdie verteller ken sy materiaal – van ­rekenaartegnologie en handwapens tot Italiaanse skoei­sel­ontwerp en Maleise kookkuns.

“In ‘Stiltetyd’, die langste ­­ver­haal in die bundel, word ons voorgestel aan twee (vir my) nuwe ­karakters van wie ’n mens graag weer sal wil hoor: Supt John ­October, reeds naby aan aftrede, wat so graag vir oulaas nog ’n moordenaar wil vastrek, en sy dierbare vrou, Pearlie, wat ’n hond uit ’n bos uit kook in haar restourantjie met sy sabanang, ­kabobs, essies en rulle. Deon Meyer streef verby ­soetsappigheid, toeval, cliché en kunsmatige handgrepies. Elke ­verhaal loop snaarreguit na sy ­­­­on­afwendbare einde toe.”

Soos Deon belowe het toe hy in 2008 voltyds begin skryf het, verskyn daar jaarliks ’n nuwe werk van hom. In 2010 word sy “bielie” van ’n boek, Spoor, gepubliseer. En weer maak hy staat op ’n karakter uit een van sy vroeëre boeke: hierdie keer Lemmer – lyfwag van die rykes en ’n man met ’n verlede – wat aan die einde van Onsigbaar rus vir sy siel op Loxton in die Karoo gevind het. “Dit was nog altyd my plan om Lemmer weer in te span. Daar is net te veel karakter om dit nie te doen nie,” verduidelik Deon.

Spoor was ook betrokke by ’n eerste in die Afrikaanse letterkunde: ’n kort lokprent is van die boek gemaak en vooraf op die internet beskikbaar gestel om lesers se aptyt te wek.

En soos ’n mens teen hierdie tyd van Meyer verwag, is dit ’n boek wat jy nie sommer kan neersit nie.

Hierdie keer raak Lemmer betrokke wanneer hy renosters wat vervoer word, moet oppas, en gou kom ’n mens agter dat daar meer agter die belangstelling van booswigte lê as die ­diere se kosbare horings.

“Partykeer is ’n mens gelukkig,” sê Deon oor die aktuele toevalligheid wat tussen sy gegewe met die renosters en die onlangse arrestasies van vooraanstaande horingstropers lê. “Ek bly op die hoogte van bewaringsnuus en was bewus van neigings, maar die ooreenstemming tussen die uitreiking van die boek en die inhegtenisnemings was ’n gelukskoot.”

In Spoor word spoorsnyery as ’n leitmotief gebruik. “Ek het van die begin af besluit dat spoorsny betrokke moes wees.” Hy het gesukkel om ’n plaaslike boek daaroor te kry, maar hou vol dat ons van die wêreld se beste spoorsnyers in Suid-Afrika het. “Ek het selfs ’n kursus in spoorsny gaan doen as deel van my navorsing.”

Dit is nie die eerste keer dat natuurbewaring ’n tema in sy romans is nie. “Ek voel sterk oor natuurbewaring, want ek het baie na aan die natuur geleef in my grootwordjare. Dit was deel van die redenasie om ’n plek in die Karoo (ook Loxton) te koop, sodat my kinders dit ook kon hê.”

Madri Victor meen dat Spoor ’n ingewikkelde intrige het, met baie feite, baie karakters en ’n magdom inligting om te verwerk. Sy skryf op LitNet: “Wat dadelik opval van Spoor, is die onkonvensionele struktuur: dit bestaan uit drie boeke wat losweg aan mekaar gekoppel is. Daar word van die leser verwag om die spoor wat regdeur loop, te volg. Die titel is nie om dowe neute nie. Deon verwag ook van die leser om spoorsnyer te raak, om die tekens te lees, deel van die jag te word. Daar is ’n magdom feite en inligting, daar is red herrings en misleidende afdraaie, en sommige lesers sal beslis beter kophou as ander. Jy word immers via The Art of Tracking gewaarsku: ‘While basic tracking skills can be trained in a short period, the more sophisticated aspects of tracking could take many years to develop. Furthermore, the intuitive and creative aspects require an inherent aptitude, so only some people have the potential to become expert trackers’ (185).

“Boek een vertel die verhaal van Milla Strachan, ’n gefrustreerde huisvrou van Durbanville wat uiteindelik genoeg moed bymekaar skraap om uit te loop op haar man wat haar gereeld verneuk en haar manipulerende, selfsugtige tienerseun. In Kaapstad trek sy in haar nuwe woonstel in, kry werk by die Presidensiële Intelligensie-agentskap, waar sy verslae moet skryf, en begin stadig haar lewe van voor af opbou. Want van haar ‘ou’ lewe het Milla genoeg gehad. Sy soek opwinding en ’n uitdaging, sy wil haar selfvertroue en haar vreesloosheid terugkry. Die spreekwoord sê egter nie verniet jy moet versigtig wees waarvoor jy wens nie. Wanneer Milla by haar dansskool vir Lukas ontmoet, word haar nuwe lewe totaal op sy kop gekeer. Want sy ken vir Lukas, so soort van – sy moes ’n verslag oor hom skryf. Lukas word, soos die Moslem Supreme Committee, baie goed deur die PIA dopgehou. En sy sogenaamde betrokkenheid by die Moslem Supreme Committee se plan lyk al meer verdag.

“Indien jy, soos vele ander, ’n Lemmer-aanhanger is, sal Boek twee jou kos wees. Dáár sal jy nou eers begin lekker lees. Want Lemmer is terug en soos gewoonlik soek hy nie moeilikheid nie, maar volg dit hom nietemin. Lemmer word deur Diederik gevra om as back-up saam met Laurens te ry wanneer hy ’n renosterpaar by die Zimbabwiese grens gaan optel. En hier kom Vlooi by, spoorsnyer sonder weerga en ’n katjie wat jy beslis nie sonder handskoene wil aanpak nie. Dinge verloop nie heeltemal volgens plan nie en voor hy hom kom kry, oortree Lemmer alweer sy Eerste Wet. Want hy vat soos ’n bloedhond daai spoor ...

“In Boek drie is Mat Joubert weer in die prentjie. Hy het bedank uit die polisiediens en begin as senior konsultant, of gewoon gestel privaat speurder, by Jack Fischer werk. Vir sy eerste saak moet hy die raaiselagtige verdwyning van Danie Flint ondersoek. Maar die tyd vir ondersoek is min, want Tanja Flint se geld raak vinnig op en Jack Fisher is ’n man wat sy pond vleis eis.

“Of jy van die begin af onstuitbaar deur die inligting en verwysings spoorhou en of jy ’n paar keer moet terugblaai en naslaan, een ding bly seker: Deon neem jou weer eens op ’n jagtog wat jou teen die einde van die verhaal na meer sal laat vra. En dan wag jy ook, soos ’n verslaafde, saam met al die ander fans vir die volgende boek.”

Pieter Haasbroek meen dat Meyer se gevoel vir plek en tydsverloop trefseker is – dit getuig van deeglike navorsing – die leser kan saamloop op die spoor van die ­Karoo tot by Kariba en terug. Met die Wêreldbekersokkertoernooi in die nuwe Kaapstadse ­stadion in die vooruitsig, gebeur soveel dinge ­gelyktydig dat dae en ure teen ’n asemrowende pas verbytol; die leser moet soms terugblaai om seker te maak van hoe iets begin het, en waarheen dit gaan.

Haasbroek gaan voort: “En dan voeg Meyer hierby soveel ­interessante gegewens oor die ­omstandighede waarin sy verhaal speel as wat hy nodig vind. Hoe werk meeluistering, en hoe ­suksesvol is dit? Hoe moniteer ­busmaatskappye hul bestuurders? Hoe kom Suid-Afrika se inligtingsdiens met die CIA oor die weg? ­Watter rol speel die militante ­Moslem­beweging in Suid-Afrika? En hoe spoor jy ’n skip op, veral een wat wegkruip?

“Onder die aanhangers van spanningsverhale tel fyn­proewers wat sal let op elke besonderheid wat Meyer beskryf. Hulle ken vuur­wapens en renosters se velsiektes. As iemand Meyer kan uitvang dat hy een brokkie verkeerde inligting in Spoor bied, sal ek graag daarvan wil hoor.

“Is daar enige leemtes in Spoor as spanningsverhaal? Miskien tog. Omdat Meyer sy verhaal in ­ver­skillende frag­mente verdeel het, het hy die spanningslyn verbreek. Dit is jammer, want dit maak van die boek ’n optelsom van ervarings en ondermyn die verhaal. Om die drie spoorsnyers ­Lemmer, Becker en Joubert saam na ’n ontknoping te volg, sou aan die ­leser moontlik ’n interessanter ­uitdaging gebied het. Dat Spoor nogtans lekker lees, is nie altemit nie. Hierdie boek kan jy net met moeite toemaak en neersit.”

Wat was Deon se inspirasie agter die verhaal?

Ek moet bieg en sê ek glo nie in inspirasie nie – om ’n boek te skryf is feitlik uitsluitlik perspirasie. Die elemente van die storie het uit vele oorde gekom – die interessantheid van Durbanville (ek woon vir die eerste keer in 22 jaar weer in wat beskou kan word as ’n ‘Afrikaanse’ voorstad), die verstommende tegnologie van die Golden Arrow-busmaatskappy waarvan my broer Francois my vertel het, die slagting onder renosters, Mike Nicol se boek Payback ...”

Deon se jongste boek, 7 dae, het in November 2011 verskyn en is ook voorafgegaan deur ’n lokprent wat op die internet te sien was.

Weer is dit Bennie Griessel wat die leidrade moet opvolg en die moord van Hanneke Sloet, ’n prokureur, moet oplos, asook die persoon wat op polisiemanne jag maak, moet vang.

JB Roux se mening oor 7 dae is: “Maar al is geloofwaardigheid in ’n boek soos hierdie hóé belangrik, sal lesers met ’n avontuurlike streep dalk wens die skrywer het effens kop verloor.

“Griessel is ’n geskeide, middeljarige speurder en gerehabiliteerde alkoholis. Hy sukkel om met sy salaris deur te kom, rook, vloek (al probeer hy ophou) en voel, op sosiale gebied, ongemaklik buite sy werkomgewing. Hy is halfpad verlief op ’n vrou wat hy nie regtig verstaan nie en sy kinders gee hom hoofbrekens. Maar Griessel se gewóónheid; die feit dat niemand die bestaan van iemand soos hy, of honderde soos hy, durf ontken nie, sal sommige lesers teen die mure uitdryf. ’n Mens wonder of ’n bietjie meer oorspronklikheid ten opsigte van die hoofkarakter wel die verhaal se geloofwaardigheid sou bedreig. Griessel se amper-liefde (’n sangeres wat hy op die waterkar probeer hou) sou kon sorg vir ’n bietjie emosionele diepte, maar Griessel (of die skrywer self?) laat dié geleentheid deur sy vingers glip.

“Griessel se seun wil ’n tatoeëermerk kry en sy dogter is verlief op ’n rugby­speler wat reeds ’n tatoeëermerk het. Tieners is vindingryke wesens. Jy wonder dus: Is dit al waarmee dié twee vorendag kon kom om hul speurder-pa mee uit te daag? Lesers wil hê Griessel se persoonlike lewe moet ook betrek word, maar dié aspek van die roman is nie deurgebak nie.

“Die snelvuur-dialoog en Griessel se interessante en selfs eksentrieke kollegas verskaf gelukkig woema, veral wanneer dit voel asof die eindelose vergaderings tussen Griessel en die top brass en die getjommel oor die ekonomie en die politiek effens oorweldigend raak. Dié aspekte is meestal interessant, funksioneel en akkuraat, maar soms wens mens iemand wil op ’n piesangskil gly sodat daar iets gebéúr. Meyer toon met 7 dae begrip vir hoe uiteenlopende mense uit diverse kulture dink en funksioneer, maar die emosionele nuanses wat van ’n skrywer van sy kaliber verwag word, is maar yl.

“Om te sê Meyer wou net nog ’n goeie spanningsroman skryf, sal ’n klap in hierdie skrywer se gesig wees: Dis nie verregaande om grootsheid van genrewerk te verwag nie, veral nie met ’n skrywer van dié formaat nie. Maar hierdie roman is geen grootse boek nie. Op sy beste is 7 dae ’n roman van wisselende gehalte: Dis die moeite werd om te lees, maar selfs Meyer se getrouste aanhangers gaan dié een nie baie lank onthou nie.”

Joan Hambidge verskil egter van Roux: “Die boek se slim toespelings op Etienne Leroux se Sewe Dae by die Silbersteins, ’n karakter met die naam Henry van Eeden en ’n swenkswaai-plot deur die gebruik van SMS’e, e-pos en ’n ingeboude modem in ’n skootrekenaar, maak van hierdie boek binne die sub-genre van speur- en misdaadverhale ’n kragtoer.

“Roux merk onder meer op: ‘Die snelvuur-dialoog en Griessel se interessante en selfs eksentrieke kollegas verskaf gelukkig woema, veral wanneer dit voel asof die eindelose vergaderings tussen Griessel en die top brass en die getjommel oor die ekonomie en die politiek effens oorweldigend raak. Dié aspekte is meestal interessant, funksioneel en akkuraat, maar soms wens mens iemand wil op ’n piesangskil gly sodat daar iets gebéúr.’

“Dit is juis die verskillende storielyne en die aktualiteit van die verhaal soos die subtiele toespelings op onopgeloste moordsake, sluipmoorde (ook gehuurde moorde) wat die roman hoogs leesbaar maak. Boonop verras die skrywer die leser wanneer die moordenaar na vore kom.

“Die enorme navorsing (onder meer na geldwassery, rekenaartegnologie, moordwapens, forensiese ondersoeke, en dies meer) wat ‘vertaal’ word in ’n ónneersitbare misdaadroman, behoort lesers te oortuig waarom Meyer hier te lande én internasionaal opslae maak. (Die fyn leser sal die leidrade optel in ’n operaverwysing en die toespelings op Leroux.)

“Vir kenners van hierdie soort roman is dit duidelik dat die skrywer sy toneel goed ken. Gaan kyk onder meer na die endnote watter navorsing alles gedoen is! Bennie Griessel is back in town.”

Sewe dae van hel waarvoor jy nie jou aandag kan laat verslap nie, skryf Piet Steyn, ook ’n misdaadskrywer, oor die nuwe Deon Meyer. “In die engste sin van die begrip kan Deon Meyer se nuutste boek, 7 Dae, sekerlik beskryf word as misdaadfiksie op sy beste, want daar is aan misdaad en speurders nie tekort nie.

“Daar is ook ’n goeie hoop spanning, afwagting en opwinding gekombineer met ’n vinnige pas by dié mengsel ingeroer om te kwalifiseer vir die genre van outydse riller. 7 Dae sit ’n mens moeilik neer as die skote eers begin klap en die speurders begin krap.

“In die bladteks word die inhoud van die boek hoeka beskryf as: ‘Sewe dae van hel’. Dis 'n storie wat stewig geanker is in die aktualiteit van ’n Suid-Afrika wat gebuk gaan onder die vloek van korrupsie, ingewikkelde saketransaksies en geweldsmisdaad. (...)

“Die boek wemel van interessante karakters wat vernuftig deur die skrywer aangewend word as spanningbrekers, en dit maak die lees ’n aangename ervaring. So maak die karakter Mbali Kaleni van 13 Uur-faam weer haar verskyning. Die oorgewig-, konsensieuse, ‘pyn in die agterent’-speurder word die opdrag gegee om die skieter op te spoor, maar Mbali het die een of ander onbesonnenheid in Amsterdam aangevang wat die manne laat wonder …

“Dan is daar ook speurder-kaptein Vaughn Cupido, wat met sy oordrewe selfversekerheid en pittige Kaapse sêgoed verantwoordelik is vir ’n paar ligter oomblikke in ’n storielyn wat meedoënloos voort-rol tot ’n klimaks en met 'n onverwagse kinkel in die stert eindig.
Die leser loop die ondersoekpad saam met die speurders en dit is wanneer Meyer op sy ondersoekende beste is.

“Die verhaal speel af teen die agtergrond van die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) en die komplekse onderwêreld in die skaduwee van Tafelberg.

“Van ’n ou KGB-agent en sy duistere verlede tot die bates van twee platinum-blondines van die Midnite Moves-gesellinklub is die hoë gehalte van die navorsing wat Meyer ook vir die skryf van 7 Dae gedoen het – iets waaraan die lesers van sy boeke al gewoond geraak het. Veral dit wat hy gedoen het oor die gesag- en bevelstrukture van die Valke-eenheid lees soos 'n handboek oor dié relatief nuwe afdeling van die SAPD. Daarvoor het hy selfs ’n dag saam met die Kaapse Valke deurgebring.

“Daar is tog iets wat my pla: In ’n omgewing soos Kaapstad, met sy indrukwekkende natuurskoon van berg en see en ’n weerpatroon wat deur die wispelturige ‘Kaapse dokter’ oorheers word, sou ek meer ruimtelike beskrywings in die boek wou sien. Hoe lyk die toneel? Waai die wind en het Van Hunks al sy pyp opgesteek? Dit is vrae wat soms deur my gedagtes geskiet het by die lees van 7 Dae.

“Ek besef dit is dalk net ’n persoonlike ding, en dit kan sekerlik nie afbreuk doen aan 'n boek wat ’n moet is vir enige krimi-liefhebber nie.

“Wees egter gewaarsku: Dit is nie ’n boek om te lees as ’n slaapmiddel net voor ligte-uit saans nie. Daarvoor is daar te veel dialoog deur ’n klomp verskillende karakters met onbekende name, vanne en byname wat die demografiese samestelling van Suid-Afrika (goed) weerspieël. Dit is ’n boek om met jou volle aandag te lees – nie dat dit moontlik is om ’n Deon Meyer te lees sónder om dit jou volle aandag te gee nie.”

Maar dit is die ondersteuners en lesers van Deon se boeke wat op die ou end die hardste praat: binne ’n week is 7 000 eksemplare van 7 dae by Exclusive Books in Tygervallei in die Wes-Kaap verkoop.

Pryse bly nie agterweë nie en die ATKV-Prosaprys word in 2001 aan Orion, in 2003 aan Proteus en in 2005 aan Infanta toegeken. Buitelandse erkenning volg met die toekenning van Le Grand Prix du Littérature Policière in 2003 aan Jusqu’au dernier (Franse vertaling van Feniks) en die Prix Mystère de la Critique aan Les soldats de l’aube (Orion in Frans) in 2004. In 2006 word die Duitse Misdaadfiksie-prys aan Proteus toegeken. Orion en Infanta haal ook die kortlys vir die M-Net-boekprys. Infanta was ook op die kortlys vir die Helgaardt Steyn-prys in 2004. Die Martin Beck-toekenning (Den gyllene kofoten / The golden crowbar) van die Sweedse Akademie vir Misdaadskrywers is in 2010 aan Infanta toegeken en die Franse vertaling van Infanta (Le pic du diable) wen in 2010 die Leserstoekenning van CritiquesLibres.com vir die Beste Speur- of Spanningsroman wat in Frankryk verskyn het. Onsigbaar besorg in 2008 aan Deon die ATKV-prys vir die Beste Spanningsroman, en die Duitse vertaling, Weisser Schatten, ontvang die Krimi Preis in 2009. Deon is deur Pansat (Pan Suid-Afrikaanse Taalraad) vereer met die Taal, Geskrewe of Mondelingse Letterkundekategorie in die jaarlikse multitalige toekennings vir 2010.

13 uur het in 2011 die Barry-toekenning vir die Beste Spanningsroman ontvang. Deon was self by Boucheron in St Louis in Amerika om die prys in ontvangs te neem. Dit was die eerste prys wat hy in Amerika gewen het nadat hy al verskeie in Europa ingepalm het. Die Barry-pryse word jaarliks by die Boucheron-fees deur Deadly Pleasures, Amerika se voorste tydskrif vir spanningslektuurlesers, toegeken, en ontvangs van ‘n Barry-toekenning word deur rolspelers in die bedryf as ’n baie groot eer beskou.

Van sy mededingers om die prys vertel Deon aan Elmari Rautenbach: “Die Amerikaanse mark is waarskynlik die mededingendste ter wêreld, en die kortlys was vol mense wie se werk ek bewonder en respekteer.

“Boucheron is ook die grootste misdaadfiksiekongres in die wêreld. Die ruimhartigheid van veral skrywers oorrompel my elke keer en, dalk omdat alle skrywers in die genre weet hoe moeilik dit is om sukses te behaal, was die reaksie en gelukwensinge oorweldigend. Ek was erg bewoë, natuurlik omdat mens op só oomblik kwaai huis toe verlang.”

13 uur het ook die ATKV-prys vir die Beste Spanningsroman in 2009 gewen, asook die Boeke Prize Fanatics Choice Awards van Exclusive Books in 2011. Die M-Net-toekenning vir die mees filmiese roman is in 2009 ook deur 13 uur opgeraap. Dit was ook op die kortlys vir die CWA International Dagger Award in Brittanje in 2010, en op die kortlys vir die Macavity Award vir Beste Misdaadroman in Amerika in 2011. Die CWA International Dagger Award is die mees gevestigde literêre toekenning in Brittanje en word deur die Britse Crime Writers’ Association toegeken.

Feniks was die eerste van Deon se boeke waarop filmregte geneem is. Die bekende Suid-Afrikaanse draaiboekskrywer Johann Potgieter het die draaiboek in 2008 gefinaliseer. Die verfilming sal na verwagting in 2011 in Kaapstad begin. Proteus se filmregte is deur ’n Suid-Afrikaanse maatskappy bekom. Hulle het beplan om die film in Suid-Afrika te skiet met plaaslike en Amerikaanse akteurs. 13 uur se filmregte is in Augustus 2009 toegeken aan ’n rolprentspan in Londen, Malcolm Kohll en Robert Fig. Roger Spottiswoode sal die regie hanteer en die draaiboek word ontwikkel.

Vertalings bly ook nie agterweë nie en Deon se boeke is al in Engels, Frans, Duits, Nederlands, Italiaans, Spaans, Tsjeggies, Bulgaars, Deens, Sweeds, Fins en Japannees vertaal. In 2003 maak Deon ’n deurbraak in Amerika deurdat die uitgewersmaatskappy Little Brown die regte van Feniks, Orion en Proteus koop. Dit plaas Deon letterlik en figuurlik op dieselfde verhoog as wêreldbekende spanningsverhaalskrywers soos Michael Connelly, Ian Rankin en David Morrell. In Oktober 2004 neem hy saam met dié drie skrywers in Kanada aan ’n beraad vir misdaadskrywers deel as spreker. Ook in 2004 word die Engelse vertaling van Proteus, getitel The heart of the hunter, deur die Chicago Tribune aangewys as een van die tien beste spanningsromans in Amerika. Proteus en Onsigbaar is ook in Japannees vertaal.

Dit is ook die goeie verkope van sy boeke in die buiteland in ander tale wat hom finansieel in staat stel om van 2008 af heeltyds te begin skryf, wat goeie nuus is vir al sy aanhangers, want hy sê self: “Noudat ek heeltyds kan skryf, gaan ek mik na een boek per jaar.”

Uit vrees dat “ek deur my eie boeke verveel sal word”, skryf Deon hom in 2003 in vir ‘n meestersgraad in kreatiewe skryfwerk onder Marlene van Niekerk aan die Universiteit Stellenbosch. “Ek het nog altyd wonderlike redakteurs by uitgewershuise gehad, maar op ’n manier verval jy én hulle in ’n gemaksone. Ek het dus die kursus gedoen om gestimuleer, uitgedaag en verryk te word; ek het ’n klankbord behoef omdat ek geruime tyd reeds in ’n tegnologiese omgewing gewerk het waar ek nie juis kontak met ander skrywers het nie. Ek was nog altyd effe jaloers op mense wat in ’n meer akademiese omgewing opereer, en met die kursus is jy skielik in wisselwerking met vier skrikwekkende maar onbevange beoordelaars en die geniale Marlene ... ek bedoel, ek het tóé eers gehoor van iets soos narratologie ... die uitpluis van die vertelkuns.”

Hy deel graag sy ondervinding met ander skrywers en aspirantskrywers deur deel te neem aan slypskole soos die een oor die skryf van spanningsverhale wat in 2004 deur die ATKV aangebied is. In 2003 ontvang Deon die PUK-Alumni-oorkonde en in 2007 die Kovsie-Alumni Cum Laude-toekenning vir sy besonderse prestasies op plaaslike, nasionale en internasionale vlak.

Deon is ’n gereelde en baie gewilde deelnemer aan kunstefeeste se boekeprogramme en in 2006 deel hy die verhoog met Michael Connelly tydens die Volksblad Kunstefees in Bloemfontein.

Hy hou hom ook besig met die skryf van draaiboeke vir televisie en is so pas klaar met Transito, ’n nuwe spanningsreeks, waarvan die verfilming in Kaapstad begin het. Die skryf van draaiboeke leer hom om daardie kenmerkende supersnel aksietonele van hom, en dialoog wat knetter soos geweervuur, te skryf.

Die konsep vir Transito het lank in sy kop gemaal, vertel Deon aan Jeanne Calitz. “Ek het gewonder wat sal gebeur as die rowers én veiligheidsmense in die aanval omkom en ’n derde party op die toneel afkom. Hy swig natuurlik voor die versoeking van die geldtrommels en vat die pad daarmee.

“En dan is daar ’n klomp mense wat goed in die trommels het, belang het daarby, en eindelik is almal op die spoor van die geld.”
Dié opsomming gee ’n goeie idee van wat in dié reeks verwag kan word. Deon beskryf dit as “spannend maar nie swaar” nie. Hy sê ook kykers moenie dink dit gaan dieselfde verloop hê as verlede jaar se Orion-TV-reeks nie.

Transito is, anders as Orion, ’n spanningsreeks wat homself nie te ernstig opneem nie. Dit is ’n ligte spanningsreeks eerder as ’n wroegende verhaal. Ek het nodig gehad om dit meer lig as donker te skryf.”

In ’n onlangse onderhoud met van die akteurs in die reeks kon die spelers nie uitgepraat raak oor die wonderlike geleentheid om Deon se unieke, volronde karakters te vertolk nie. Dit het hom net soveel plesier gegee om die karakters te skep, om aan hulle soveel fasette te gee. Sy booswigte is byvoorbeeld nie nét sleg nie.

Die onverbiddelike Kruger (vertolk deur Michelle Burgers) is ’n goeie voorbeeld. “Sy is ’n ruwe diamant, eintlik die sout van die aarde,” sê Deon. “Maar sy is deur die lewe se meule. Sy het sterker anderkant uitgekom. Sy vat nie nonsens nie. Van niemand nie. Op ’n manier het Kruger iets edels in haar. Maar sy moet darem iemand kry om haar vuilwerk te doen – die karakter Priester.”

Priester is ’n psigopatiese huurmoordernaar. “Hy praat suiwer Afrikaans, is hoogdrawend, intelligent en welbelese. Dít is sy karakter se reddende eienskap.” Die interaksie tussen Kruger en Priester lewer interessante kykstof.

“Hy kan nie emosie voel nie, want hy is ’n psigopaat. Hy gebruik Kruger se emosie. Sy wil moor, maar sy kan nie; hy wil voel, maar hy kan nie.”

Deon sê sy uitgangspunt met die skep van ’n karakter is dat die meeste mense voete van klei het. “Die lekkerste van die reeks is dat almal, met die uitsondering van die polisieman, ’n klomp skelms is – maar hulle is meestal dierbare skelms. Die meeste van ons het al iets gedoen waaroor ons nie eintlik wil praat nie, en dit is waarby ek in die reeks wil uitkom.”

Deon erken om ’n TV-reeks te skryf is ver verwyder van die skryf van ’n boek. Dit is ’n nuwe toertjie wat hy moes leer. Die verskil lê in die struktuur. In ’n televisieverhaal is die struktuur byna alles. Jy moet só skryf dat die konflik voor elke advertensiebreuk tot ’n hoogtepunt opbou om seker te maak die kyker kom terug.

’n Ander verskil is in die manier waarop konflik oorgedra word. “In ’n boek kan ’n mens die interne konflik van die karakter verken, maar met ’n draaiboek is dit moeilik om so iets oor te dra,” verduidelik hy aan Calitz. “As jy vir televisie skryf, moet jy ook die begroting in gedagte hou. Dit is nie ekonomies om ’n klomp goed te laat opblaas nie. Dit is waarom Priester ’n wurgdraad eerder as ’n geweer gebruik om mense uit die weg te ruim. Dit is duur om mense dood te skiet,” sê Deon.

Voel dit soms vir hom vreemd om sy karakters, waaraan hy so mooi in sy kop geskaaf het, aan akteurs en hul interpretasies af te staan? “Met Orion het ek geleer jy moet eenvoudig ’n geloofsprong maak. Die akteurs van Orion het my só oorrompel met hul talent. Hulle is wat my betref almal geniaal. Dit is ongelooflik om te dink die karakters wat ek geskep het, dra nou hierdie mense se gesigte.”

Ook met Transito het hy die geloofsprong gegee: “’n Mens kan die akteurs se talent vertrou en glo hulle sal die rolle met deernis vertolk.”

Wat ’n mens dikwels van Deon Meyer se karakters opval, is dat hulle selde nét goed of nét sleg is. En dikwels weet ’n mens glad nie waar om hulle te plaas nie. “Ek glo die mens het altyd die kapasiteit om goed of sleg te wees, en as daardie soort ambivalensie by die leser is, is dit vir my goed so.”

Oor die fyn waarnemingsvermoë wat duidelik uit sy beskrywings blyk, is hy lakonies. “Ek dink ’n mens is allereers ’n belangstellende in mense en met ’n bepaalde fassinasie in menswees voordat jy ’n skrywer is. Alle skrywers is tog maar voyeurs, en as ek kyk hoe gereeld die hoofkarakter in van my stories ook ’n voyeur is, raak ek eintlik bang!”

Wanneer hy skryf, glo Meyer daarin om nie in te veel besonderhede te beplan nie. “Mens moet jouself die vryheid gun om die storie in die skryf daarvan te laat verander.” Oor die deeglike navorsing, waaroor hy so sterk voel, sê hy: “In hierdie genre is dit belangrik om ten minste die skyn van werklikheid te handhaaf.”

Deon en sy vrou, Anita, se kookboek, Kom eet! Om die tafel met Anita en Deon Meyer, word in 2011 gepubliseer. Dié kookboek bevat gunsteling-resepte afkomstig van hulle onderskeie families, asook ander bronne.

“Die vet was egter in die vuur” nie lank na die publikasie van die boek nie toe Barbara Joubert, Sarie se kosredakteur, kapsie gemaak het teen sommige resepte in die boek waar nie erkenning aan haar gegee is nie. By twee van die resepte gee die Meyers wel erkenning aan haar.

Deon se kommentaar hierop was: “Ons spreek ons bewondering vir Joubert duidelik uit in die boek. Dit was altyd ons bedoeling om haar die nodige erkenning te gee. Dit was ’n fout dat ons nie by ál die resepte erkenning gegee het nie. Dit sal beslis in die volgende oplaag reggestel word.”

Prokureurs het as volg gereageer op hierdie netelige saak van kopiereg op resepte: “Die Meyer-egpaar het nie kopiereg in hul resepteboek geskend nie, tensy hulle die kosredakteur van Sarie se resepte woord vir woord oorgeskryf het.

“Human & Rousseau, wat die Meyers se boek uitgee, het Maandag gesê hulle het die skrywers ingelig dat daar geen kopiereg op resepte is nie. Die Meyers het gevolglik nie Joubert as bron erken nie.

“‘Die bewoording en styl van die resep kan uniek wees, maar mense het geen kopiereg op ’n idee self nie,’ het Janusz Luterek, ’n prokureur vir Hahn & Hahn Geïnk, wat in intellektuele eiendom spesialiseer, gesê.

Salomé le Roux van Smit & Van Wyk Geïnk het gesê die spesifieke bewoording van ’n resep is ’n literêre werk wat deur kopiereg beskerm word.

“‘Enige foto’s wat saam met ’n resep geplaas word, is ’n artistieke werk. As die resep woordeliks oorgeskryf is of ’n foto is net so oorgeneem, sal dit op inbreukmaking neerkom.’

“’n Johannesburgse prokureur, me Barbara Berdou, het gesê dit is baie moeilik om te bewys wie die oorspronklike outeur van ’n resep is.”

Nadat Deon en Anita begin het om Loxton gereeld te besoek en ’n huis daar gekoop het, het die behoefte van die Laerskool JJ Booysen op die dorp hom aangegryp. Hy vertel dat die ouers so arm is dat hulle geen bydrae kan lewer om die skooltjie te onderhou nie. Daar was soms 60 kinders per klaskamer met net vyf leesboeke, geen biblioteek nie, geen vervoer nie en geboue wat uitmekaar val. En iewers in sy verbeelding het ’n storie begin broei van ’n kluisenaarsanger in die Groot Karoo en ’n mooi jong juffrou by ’n eenvoudige laerskool. En die storie het ’n draaiboek geword en die draaiboek – met die tussenkoms van Darrell James Roodt – ’n fliek. In 2010 het Jakhalsdans die Suid-Afrikaanse rolprentteaters getref. Dit handel oor ’n kluisenaarsanger (gespeel deur Theuns Jordaan) wat in die Karoo wegkruip van die musiekbedryf. ’n Nuwe onderwyseres (Elizma Theron) word by die plaaslike skool aangestel en spoor die inwoners aan om die laerskool van sluiting te red deur ’n halfmiljoen rand in te samel om geboue op te knap en boeke aan te koop.

Deon woon tans in Durbanville (agter die “boereworsgordyn”) saam met sy vrou Anita en twee van hulle vier kinders (twee elk uit hulle vorige huwelike). Sy ander groot liefdes is motorfietse, motorfietse, lees, kosmaak en die Vrystaat Cheetahs-rugbyspan.

Oor die lekker van skryf vertel hy aan Heidi de Goede: “Die groot gevaar van skryf as ’n heeltydse beroep, is dat dit soos ’n ‘werk’ kan begin voel. Met ander woorde, dat mens die lekker verloor tussen al die spertye, bemarkingsverpligtinge, lesers- en uitgewersverwagtinge en groterwordende roetine deur.

“Dan herinner ek myself aan hoeveel pret ek destyds gehad het, as volslae groentjie, met die skryf van kortverhale vir tydskrifte. Daar was geen druk nie, net loslit-kreatiwiteit, die begeerte om die geheimenisse van skryf te probeer ontrafel, en ’n drang om elke storie so lekker as moontlik te probeer vertel. (En natuurlik totale onkunde oor hoe goed of sleg daardie verhale was …) Daarom is een van my doelstellings vir die nuwe boek (7 dae) dat die skryfproses lekker moet wees. En, eienaardig genoeg, dit werk. Ek het lanklaas soveel pret gehad as met die roman wat nou in wording is.”

Oor watter waarhede hy altyd met hom sal saam dra, antwoord Deon vir Danila Liebenberg:Sukses en baie geld kan nie die liefde, die gesin en geliefdes vervang nie. Jack Welsch van General Electric het gesê: ‘Mens begryp nie altyd nie. Maar jy moet die werklikheid sien soos dit is. En nie soos jy wil hê dit moet wees nie. Die ware werklikheid moenie misgekyk word nie. Bly binne die werklikheid.’ Ook sê ek, vind geluk in jouself. En vind jouself.”

Aan Murray la Vita verduidelik Deon die voor- en nadele van voltyds skryf: “Die voordele is gróót. Vir die eerste keer in my lewe hoef ek nie meer vieruur in die oggend op te staan om te begin skryf nie. En ek het ’n soveel groter deel van die dag tot my beskikking. Ek werk nou só dat ek iewers tussen vyf en ses begin skryf; dis ’n halwe gewoonte om nog steeds daai vroeë oggend te benut. Maar nou’t ek tyd, jy weet; ek vat in die oggend die kinders skool toe – wat vir my baie lekker is – en dan gaan haal ek hulle weer in die middag.

“Maar dan werk ek tot so teen middagete, dan het ek sewe, agt ure se skryf agter die rug. En daai luukse: om vir ses, sewe, agt ure aanmekaar te skryf ... aanmekaar is nou relatief, jy weet, ’n mens gaan nou en dan ’n koffietjie maak net om jou kop skoon te kry ... daai luukse is fantasties.

“Maar daar is ook nadele. Ek dink die grootste nadeel is dat ek nou baie minder stimulasie kry. Veral met my werk by BMW (as strategiekonsultant) die laaste vyf jaar het ek verskriklik baie gereis, veral in Suid-Afrika.

“Jy word blootgestel en gestimuleer deur nuwe plekke, nuwe mense, nuwe stóries. En dít mis ek. So ek moet nou kompenseer daarvoor deur baie meer doelbewus tyd te maak vir daai soort van dinge. Ek dink dit is die enigste régtige nadeel – dat my wêreld verklein het. Ek is maar in en om die huis, en om vir my vrou iets by Pick n Pay te gaan koop is nogal ’n groot uitstappie deesdae.”

La Vita het gewonder watter invloed die skep van ’n storie soos 13 uur op die psige van die skrywer het.

“Noudat ek voltyds skryf, is dit twáálf maande wat ek saam met hierdie karakters leef,” verduidelik Deon. “So dié mense word regtig ... Ek dink nie ’n mens se brein kan onderskei tussen fiktiewe mense en regte mense nie. Jy hoor wat hulle sê. Jy weet wat hulle voel, baie meer as wat jy met regte mense weet wat hul emosies is. So die identifikasie is verskriklik sterk.

“Ek raak baie betrokke by my karakters, en as dit met hulle sleg gaan, met die karakters vir wie ek regtig omgee, dan vóél ek dit, jy weet ... ek kry hulle jammer. Ek gun hulle dit nie, en dit is vir my moeilik om daardie tonele te skryf.

“En dan is die verligting aan die einde van ’n boek wanneer hulle al die slaggate deur is baie groot. Ek het so ’n lígte gevoel aan my as ek die laaste bladsye skryf.”

Oor ’n boek wat sy lewe verander het, het Deon aan Beeld vertel: “Dié geleentheid dring aan op die uitsondering van ’n spesifieke boek. Vergun my om ’n klein bietjie te kul deur twee aan te bied.

“Die eerste is André P Brink se Kennis van die aand. Ek het as student, in die dae van Die Groot Verbod, toegang daartoe gekry onder die leuen van ‘navorsing’ by die PU vir CHO se biblioteek. My primêre motivering was die gerugte van blatante seks wat dit sou bevat. En wat ek in die plek daarvan ontdek het, was ’n Afrikaanse leeservaring wat beter was as enigiets wat ek tot in daardie stadium in Engels ervaar het. Dit was die boek wat my bekeer het tot Afrikaans as storietaal.

“Die tweede is Net Gain van Hagel en Armstrong (Harvard Business School Press). Dit is ’n briljante uiteensetting van (so glo ek) die enigste internet-sakestrategie wat die toets van die tyd gaan deurstaan. Min het ek gedink, toe ek dit in 1998 vir die eerste keer gelees het, dat ek eendag my eie maatskappy daarop sou bou.”

Deon huiwer nog nooit om eer te gee aan diegene wat dit toekom nie, veral waar dit sy skryfwerk betref. En hy vertel baie graag van die besonderse verhouding wat daar tussen hom en sy uitgewer, Etienne Bloemhof, bestaan: “Dis vir my ’n verskríklik belangrike verhouding. Ek het nou al met redakteurs in ’n klomp lande en ’n klomp tale gewerk, en ek kan vir jou sê Etienne is wêreldklas. Hy is régtig, régtig. Die groot ding is vertroue.

“Ek weet dit klink baie snaaks, maar as ek ’n boek klaar geskryf het, dan het ek ’n vertérende vertwýfeling in die boek. Ek is séker daarvan dat dit ’n totále mislukking gaan wees; dat niemand dit gaan lees nie; dat dit klomp twak is en dat Etienne vir my gaan laat weet ...

“Wat ook gebeur, is dat ek hier in die helfte al begin twyfel en dan sal ek dit vir hom stuur en sê: ‘Etienne, sê vir my eerlik: Wérk dit enigsins?’ En ek móét hom vertrou ...

“Dis wonderlik om dit met Anita te kan deel, maar sy’s liéf vir my. Hoewel sy sê sy is objektief in haar reaksie, is ek maar bekommerd; sê sy nie net so omdat sy my liefhet nie?”

Wanneer Deon met ’n nuwe boek begin, lê dit soos ’n berg voor hom, want hy weet dit is vir ’n jaar wat hy in die wêreld van skryf ingaan, “en dis dalk die één ding wat skryf verskillend maak van die meeste ander beroepe: jou werkswêreld is suiwer fiksie.”

Anita lees soos hy skryf en dit is vir hom wonderlik, aangesien dit minstens een ander persoon is met wie hy daardie wêreld wat net in sy kop bestaan, kan deel. “Dis ’n ding wat jou insuig, en as jy eers in is, dan ... ek het ’n baie sterk emosionele band met dit wat ek doen, so dis so ’n halwe op en af. Veral aan die begin.

“Die eerste derde van ’n boek is die probleemstelling van die storie en waar jy jou karakters voorstel en hulle het net moeilikheid, jy weet, dit is die groot uitdagings wat voorlê.

“En natuurlik die werk ... jy sien hoe die 400, 450 blaaie hier voor jou lê; daar’s nog niks op papier nie en dan moet jy begin. Dis soos om opdraande te klím of te stáp. Totdat jy uiteindelik by die klimaks van die boek kom, en dan is dit hierdie geweldige verligting van nou’s jy amper klaar en jou karakters is oukei en jou storie, dink jy, werk redelik.

“En daarna is dit die slot wat jy met groot verligting skryf. En as ek klaar is, is dit soos ’n geweldige gewíg wat van my skouers af is.

“En dan dink ek: Nooit weer nie! Dis die laaste boek wat ek gaan skryf in my lewe. En dan, ag, binne ’n maand of twee is die lus maar weer daar.”

Publikasies:

Publikasie

Wie met vuur speel

Publikasiedatum

  • 1994
  • 2de hersiene uitgawe 2007

ISBN

  • 062403321X (sb)
  • 9780624045526 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Feniks

Publikasiedatum

  • 1996
  • 2de uitgawe 2004

ISBN

  • 1874901562 (sb)
  • 0798144262 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Queillerie
  • Kaapstad: Human & Rousseau (2de uitgawe)

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Le Grand Prix de Littérature Policière 2003

Vertalings

  • Engels; vertaal deur Madeleine van Biljon, 1999
  • Nederlands; vertaal deur Jacqueline Caenberghs, 1999
  • Frans; vertaal deur Robert Pépin, 2002
  • Italiaans
  • Bulgaars
  • Tsjeggies
  • Duits; vertaal deur Ulrich Hoffmann 2005

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Bottervisse in die jêm: 13 kortverhale

Publikasiedatum

1997

ISBN

0799323535 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Orion

Publikasiedatum

  • 2000
  • 2de uitgawe 2005
  • 3de uitgawe 2006

ISBN

  • 0798140496 (sb)
  • 0798145617 (sb)
  • 0798148004 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • ATKV-Prosaprys 2001
  • Prix Mystère de la Critique 2004
  • ATKV-prys vir beste draaiboek vir televisiereeks 2007
  • Kortlys vir die Martin Beck-toekenning vir beste vertaalde Sweedse speurroman 2008
  • Kortlys vir M-Net-Boekprys
  • Kortlys vir Sunday Times Letterkundeprys 2004

Vertalings

  • Engels - Dead at daybreak; vertaal deur Madeleine van Biljon 2000
  • Nederlands; vertaal deur Jacqueline Caenberghs 2000
  • Frans - Les soldats de l'aube; vertaal deur Robert Pépin 2003

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Proteus

Publikasiedatum

2002

ISBN

079814274X (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • ATKV-Prosaprys 2003
  • Deutsche Krimi Preis (Duitse Misdaadfiksie-prys) 2006

Vertalings

  • Engels; vertaal deur KL Seegers, 2004
  • Nederlands; vertaal deur Jacqueline Caenberghs, 2005
  • Duits

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Infanta

Publikasiedatum

2004

ISBN

079933314X (hb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Spanningsverhaal

Pryse toegeken

  • ATKV-Prosaprys 2005
  • The Golden Crowbar, die Martin Beck-toekenning vir beste speurverhaal in Sweeds vertaal is 2010
  • Readers’ Award van CritiqueLibre.com in die afdeling Speurverhaal/Riller 2010

Vertalings

  • Engels; vertaal deur KL Seegers, 2007
  • Sweeds; vertaal deur Svante Weyter, 2010
  • Frans

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Onsigbaar

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780798148962 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

  • ATKV-Prys vir beste spanningsroman 2008
  • Deutsche Krimi Preis 2009 (derde plek)

Vertalings

  • Frans
  • Duits

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

13 uur

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780798150101 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Spanningsverhaal

Pryse toegeken

  • Boeke Prize Fanatics Choice Award 2011
  • Best Thriller in the Barry Awards 2011
  • Kortlys vir Macavity Award vir Beste Speurverhaal 2011
  • Kortlys vir die CWA International Dagger in Brittanje 2010
  • Eerste wenner in die nuwe rolprentkategorie van die M-Net-toekennings 2009
  • ATKV-prys vir Beste Spanningsroman 2009

Vertalings

  • Engels; vertaal deur KL Seegers

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Karoonag en ander verhale

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780798151177 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Spoor

Publikasiedatum

2010

ISBN

978079815251 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Spanningsverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

  • Engels; vertaal deur Laura Seegers, 2011
  • Duits
  • Frans
  • Sweeds
  • Noorweegs
  • Nederlands
  • Italiaans

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

7 dae

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780798156219 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Spanningsverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kom eet! Om die tafel met Anita en Deon Meyer

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780798151641 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Kookboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Ook beskikbaar in Engels: Enjoy! Cooking with Deon and Anita Meyer

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 ’n Keur van artikels oor Deon Meyer op die internet

 

Artikels deur Deon Meyer beskikbaar op die internet


 

Bygewerk: 2011-12-02
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za



Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address