Dans Dans Lisa oor Pyl en Boog

  • 1

Dans Dans Lisa het pas ’n nuwe album, Pyl en Boog, vrygestel. Deon Meiring en Bouwer Bosch van dié groep beantwoord enkele vrae.


Bouwer Bosch en Deon Meiring
Foto: Werner Botha / Plastiek

Hallo, ouens van Dans Dans Lisa. Hoe gaan dit?

Deon: Dit gaan goed dankie, exciting tye met die nuwe album op pad!

Bouwer: Ons was nog nooit so arm en gelukkig op dieselfde tyd nie. Hopelik maak die nuwe album ons ryk en hartseer. Haha, nee ek terg net. Ons beplan ’n lekker paar goedjies met die nuwe album, so dit gaan goed die kant.

Pyl en Boog is die titel van jul nuwe album. Dit klink of dit ’n “call to arms” kan wees, of ’n antropologiese studie. Waarna verwys dit en hoe het julle op hierdie titel besluit?

Deon: Haha – ek weet nie so mooi van ’n “call to arms” nie! Ons is ook nie juis antropoloë nie. Die basiese idee agter dit is maar die feit dat dit ’n wapen is wat op twee aparte dele staatmaak wat moet saamwerk om optimaal te funksioneer. Dis nogal hoe Dans Dans Lisa ook werk. Daar is ook iets tydloos aan ’n pyl en boog.

Bouwer: Die pyl en boog was ’n revolusionêre wapen van sy tyd. Nie dat ons revolusionêr is nie, maar ons doen iets wat daar nie juis in Suid-Afrika is nie, so ons probeer maar uitstaan met ons koddige video’s en lukraakheid.

Julle hou julself albei besig met ander groot projekte, vernaam Straatligkinders (Bouwer) en Glaskas (Deon). Hoe het julle te werk gegaan om tyd te skep vir die opneem van hierdie album?

Deon: Dit gaan meestal net oor vooruitbeplanning. Ons het net besluit vir ’n sekere paar dae is dit opneemtyd vir Dans Dans Lisa en daai tyd opsy gesit. Oor die algemeen is die musiekbedryf maar baie soos enige tipe vryskutwerk. Die werk “haal asem” of kom amper in “getye”. So as die een projek bietjie stiller is, het jy weer tyd vir die ander. Beplanning is belangrik, en wat interessant is van dié album, is dat ons dit binne vyf dae opgeneem het in ons sitkamer.

Bouwer: Ons het besluit om ’n week uit ons lewens te boek en te fokus op die skryf en opname van die album. Ons het die album die eerste week in Desember 2012 opgeneem, ’n week voor ’n wille Desember-toer begin het. Ons het besluit om baie meer basies te gaan met die instrumente. Een klavier, een kitaar en ’n kick drum. Less is more en dit het lekker gewerk met die skryf en opname.

Dans Dans Lisa het nog altyd ’n fyn balans tussen humor en die aanspreek van werklike hartsake gehandhaaf ... en dikwels is die twee elemente saam verken. Hoe het die konseptualisering vir die album in hierdie opsig verloop?

Deon: Ons gaan nooit noodwendig te doelbewus met enige temas te werk nie. Ek dink ons probeer om oor die algemeen Dans Dans Lisa ’n bietjie meer ontspanne te benader sonder spesifieke “agendas”, en uiteindelik is dit hoekom humor byvoorbeeld makliker daarmee uitgedruk word. Met hierdie album was ons fokus veral op die tipe “klank” wat ons wil skep. Ons het besluit om grotendeels ’n folk-invloed te gebruik, aangesien dit pas by die akoestiese instrumente wat ons gebruik, en verder het ons besluit om ’n klavier en ’n kick drum in te bring en ons klank en liedjies rondom dit gebou.

Bouwer: Ek dink dit is in my en Deon se natuur. Ons vat onsself nie altyd ernstig op nie, maar ons sal altyd eerlik wees binne die humor oor hoe ons voel oor iets. DDL is ’n baie pret projek en ons probeer nie die wêreld verander nie, ons wil net ons stories vertel op ’n manier wat baie meer basies en snaaks is. Almal kan assosieer met ’n cheesy love song, so ons is nie skaam om ons cheesy kant na vore te bring nie.

Wat die humor betref – julle het ’n ruk terug die draak gesteek met Dirk van der Westhuyzen se “Supercool”-liedjie. Wat het julle gemotiveer om dit te doen?

Deon: “Supercool” was definitief ’n fenomeen. So dit het ons natuurlik geïnteresseer. Ons het een aand gepraat oor “Supercool” en ek het net uit die bloute vir Bouwer gesê: "Kom ons doen ’n acoustic cover daarvan." Hy't dadelik gedink dis ’n goeie plan, en ons het sommer daar en dan die lirieke geleer, die akkoorde uitgewerk en dit opgeneem (ook in ons sitkamer). So dit was regtig net op die ingewing van die oomblik. Ek dink dis een van die aspekte van Dans Dans Lisa wat ek die meeste geniet – die feit dat ons dikwels net kan pret hê daarmee. Die oorspronklike “Supercool” het nogal baie negatiewe kommentaar ontlok. Dis asof mense dit baie vinnig baie ernstig opgeneem en gekritiseer het. Vir my was ons akoestiese weergawe ’n lekker comic relief en dit wys nogal hoe belangrik dit is om ’n liedjie reg te "raam".

Bouwer: Dit was ’n finansiële besluit gewees. Ons wou ’n toer saam met PSY doen in Viëtnam, maar hy het nooit op die liedjie afgekom nie, so ons het baie geld verloor. Ons moes albei pakke klere betaal wat ons in die video gedra het. Deon het per ongeluk die tags afgeruk toe ons ’n victory dans doen na die video-opname.

Het musikante wat met humor te werk gaan, ’n soort verantwoordelikheid om op hierdie manier satire te pleeg oor dinge wat in hul gemeenskappe of samelewings omgaan? Hoe benader julle dit?

Deon: Ek weet nie of almal wat met humor werk, noodwendig ’n verantwoordelikheid het om satire te pleeg nie. Veral aangesien satire ’n baie breekbare voertuig is. ’n Humorkenner na wie ek baie opkyk, Jon Acuff, het gesê: "Satire is net humor met ’n doel." Ek dink dit impliseer dat nie alle humor noodwendig ’n doel moet hê nie. Tog is dit definitief lekker as humor soms help om ’n swaar onderwerp te hanteer. Ek dink juis die “Supercool” ding is ’n goeie voorbeeld daarvan. Dis maar net belangrik om dit nie te forseer nie. Dis nogal ’n verbasend intuïtiewe proses.

Bouwer: Ons hou daarvan om ’n ding te sê of te sing soos dit is. Mense hou daarvan as jy eerlik is, en as jou eerlikheid weggesteek is in ’n grappie, dan is dit ook lekker, want dis asof jy gesê het wat die luisteraar nog altyd wou sê. So jy help hom om dit self te sê, as dit sin maak. Ons voel nie verplig om seker probleme in die samelewing aan te spreek nie. DDL is ’n besigheid en ons passie, en ons probeer strategies werk met dit wat ons aanpak. Ons sal altyd eerlik wees, al is dit dalk soms ‘n klein bietjie offensive. Offence is taken, not given.

Waaraan skryf julle Dans Dans Lisa se groot aanhangerskap grotendeels toe?

Deon: Dis altyd moeilik om regtig te kan sê hoekom iets werk. Ek dink ons het iets begin doen wat in ons “mark” nog nie regtig gedoen is nie, en ons het tog moeite gedoen ter wille van die projek. Die feit dat dit vars is op baie maniere en dat ons baie gelukkig is dat mense daarvan hou, speel albei ’n ewe groot rol.

Bouwer: Ek dink nie daar is nog ander projekte soos ons s’n nie. Daar is baie rock bands, baie DJ's, baie electro bands, maar nie baie akoestiese bands nie, so mens staan outomaties uit, of jy dit beplan of nie. Mumford and Sons het meer albums verkoop as Justin Bieber met hulle nuwe album, en hulle het dit nie beplan nie – dit was ’n vars nuwe klank en het dadelik uitgestaan. Aan die ander kant voel ek rêrig mense hou nou maar net baie van cheesy liefdesliedjies, en ons hou daarvan om sulke liedjies te skryf, want dis ook na aan ons lewens en harte. So ek skryf ’n groot deel van ons "sukses" toe aan die feit dat ons altyd ook eerlik is, ons "compromise" nie om mense gelukkig te hou of om kritici verkeerd te bewys nie. Ons doen eers wat ons gelukkig maak en wat ons van sal hou, en dis ’n voorreg dat mense ook daarvan hou.

“Die ouer ek”, wat op die album verskyn, is met behulp van die Sing 'it-projek te voorskyn gebring. Kan julle bietjie uitbrei op hoe hierdie proses verloop het?

Deon: Wel, ons het al die inskrywings gekry (baie, baie inskrywings) en deur dit begin lees en gesoek vir lirieke wat ons glo by ons projek kan pas. "Die ouer ek" was een van ’n paar wat uitgestaan het. Ons het gehou van die inhoud en hoe goed dit oorgedra is. Vandaar moes ons begin dink aan musiek. Ons het een oggend in ’n hotel in Stellenbosch gewag vir iemand om ons op te laai, en daar met ons kitare gesit en ’n basiese wysie vir dit gekry. Uiteindelik het ons dit afgerond tot ’n goeie struktuur vir ’n liedjie en dit gaan opneem.

Bouwer: Dit was amazing om deel te wees van dit. Dis een van ons lekkerste en beste video's nog (ons het die video gewen), omdat dit so belaglik vreemd is. Dis die eerste keer wat ek en Deon nie die song perform het nie en net karakters was.

Julle ouens is duidelik al lank dik tjommies. Waaroor sit julle vas? Volg daar ooit langdurige ongemaklike stilswye (of stuipe) daarop?

Deon: Stilswye of stuipe is daar nie te veel van nie. Ons is huismaats, so as ons albei by die huis is, moet ons mekaar maar face! Ons sit regtig min vas, maar daar is maar die gewone goed wat mens waarskynlik in die meeste verhoudings teëkom. Ons praat dit gewoonlik maar net uit of speel teen mekaar ’n karate game op ons Xbox.

Bouwer: Deon sal dit nie erken nie, maar ek dink ek frustreer hom soms omdat ek sukkel om te erken ek is verkeerd. Haha. En ek double-check altyd aanwysings of iets na hy my gesê het en dan sê hy: "Vertrou my net, dude." Haha. Ons het darem nog nooit baklei nie. Dalk sal ons eendag vir ’n publisiteitsfoefie mekaar begin slaan in Menlyn Mall.

Wat hou die verre en nabye toekoms vir Dans Dans Lisa in?

Deon: Nabye toekoms bring die vrystelling en gepaardgaande toere van ons nuwe album, Pyl en boog. Verre toekoms? Dis baie moeilik om te sê – een les wat mens sommer gou leer van die musiekbedryf is dat dit ’n baie onvoorspelbare wêreld is.

Bouwer: Ek en Deon bly saam en ons wil maybe ’n baba aanneem. Ek dink nie ons kwalifiseer as goeie ouers nie, omdat ons albei musikante is en ons maak minder geld as ’n goeie wiskunde-onderwyser. So ons gaan kyk watter "loopholes" daar in die proses is om ’n baba aan te neem. Ons glo ons sal dan meer albums verkoop. Dis al hoe ons op die voorblad van Huisgenoot gaan kom. Ons het gehoop Deon kan met Karlien trou en die voorblad haal, maar Derick skop verder as Deon, so toe wen hy haar hart. Ons byt darem nog vas, ons breek gaan kom.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top