Clover Aardklop bring hulde aan André P Brink

  • 0

Baie is die afgelope tyd ná sy dood geskryf oor Brink die skrywer en die verskeie boeke wat as van die beste ooit in Afrikaans beskryf is, maar sy werk vir die verhoog verdien beslis ook spesiale vermelding.

As dramaturg het Brink veertien dramas op sy kerfstok gehad:

Die Band om ons harte – 1956
Caesar – 1961
Die koffer – 1962
Bagasie: triptiek vir die toneel (Die koffer, Die tas, Die trommel) – 1965
Elders mooiweer en warm – 1965
Die verhoor – 1970
Die rebelle – 1970
Kinkels innie kabel – 1971
Die bobaas van die boendoe – 1973
Afrikaners is plesierig – 1973
Pavane – 1974
Die hamer van die hekse – 1976
Toiings op die langpad – 1979
Die jogger – 1997

“Ek onthou dit soos gister,” sê Ilse van Hemert, die regisseur van Die jogger wat in 1997 opgevoer is. “Ek onthou hoe nederig hy was, hoe hy homself oorgegee het aan my insette. Daar was geen weerstand van sy kant af nie. Hy het elke dag die repetisies bygewoon en ons het saam aan tonele gewerk. Wanneer ’n toneel nie gewerk het nie of daar ’n ander oorgang was, het hy in die nag daaraan gewerk en dit die volgende oggend vir ons gegee.”

Sy sê dit was die mees positiewe samewerking wat sy nog met enige skrywer gehad het. “Omdat hy so oop was vir almal se insette, het hy soveel meer waardering en respek van almal gekry. Hy was deel van die span. Hy was werklik een van die wonderlikste skeppers saam met wie ek nog ooit gewerk het.”

Van Hemert sê dat hy ’n vermoë gehad het om te sien wat die behoefte in sekere tonele was. “En dan kom hy terug met iets wat nog ’n veel beter oplossing bied. Dit was ’n samewerking tussen almal betrokke, maar dit het steeds sy teks, sy woorde gebly,” sê sy.

Is Die jogger ’n stuk wat die toets van die tyd deurstaan?

“Sonder twyfel,” sê Van Hemert. “Dit is die eerste keer opgevoer tydens die Waarheid-en-Versoeningskommissie se sittings en ek en Brink het geweeklaag oor hoe die werklikheid net soveel erger as fiksie is. ’n Stuk soos Die jogger het selfs meer trefkrag oor tyd, nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd. Met Eugene de Kock se vrylating is dit nou weer baie relevant. Die jogger is tydloos omdat oorlog en misdaad ongelukkig tydloos is.”

Chris van Niekerk, wat die hoofrol in Die jogger gespeel het, onthou die lang werksproses om dit op die planke te bring. “Ons het die teks gewerk en gewerk en gewerk,” sê hy. “Een opvoering sal ek nooit vergeet nie. ’n Man het by een van die vertonings opgestaan. Hy het nie geklap nie, hy het niks gesê nie. Hy het net sy regterhand opgelig en dit met ’n oop palm na ons toe gehou. Dit was asof hy besef het dat daar met die stuk vir die eerste keer die waarheid gepraat is. Die jogger was helende teater.”

Van Hemert was in 1990 betrokke by nog ’n werk van Brink. “Tjaart Potgieter het Houd-den-bek vir die verhoog in opdrag van die Grahamstad-fees verwerk,” vertel sy. “André was nie teenwoordig met die repetisies nie, maar het wel na die openingsaand gekom. Hy het ná die tyd na my toe gekom en my gelukgewens. Hy het gesê dit het soos ’n film gevoel en het gewonder of dit nie dalk een moet word nie, maar ongelukkig het daar niks van gekom nie.”

Nog ’n stuk wat opslae gemaak het, was Kinkels innie kabel (1971), ’n verwerking van William Shakespeare se Comedy of Errors. André le Roux, toe lid van die kunsredaksie van Die Burger, het in sy resensie in 1989 geskryf:

Hier’s ’n Kaapse jolliegeit vir Krismis – so op die trant van 'n vet samoosa met enigiets van geur en kleur binne-in. Gekruie ôk, veral die taal, so plek-plek (met verwysing na bepaalde plekke, nou).

Dis wat gebeur wanneer jy André P Brink loslaat op Shakespeare se Comedy of Errors en jy laat Marthinus Basson los op André P Brink se loslatenis op Shakespeare.

Daar's mos die twee tweelinge, sien? Apools-van-die-Pêrel en Drommel-van-die-Pêrel, Apools-van-die-Kaap en Drommel-van-die-Kaap. Die spulletjie skud so bietjie deurmekaar. Daar's 'n moffie ôk, al tussenin, maar hy beland nooit tussenin nie, al sou hy ook graag wou. En Lucy met die boesems en die curlers is “so op my manier nog 'n virgin”. En die Klopsebênd speel, o, die Klopsebênd speel ... en jy kan maar fyn luister hoe hulle sing, op bepaalde plekke, nou ... Nou vat 'n ruskansie en sê: Marthinus Basson steur hom nie veel aan vastigheid van plek in sy regie nie. Hier tên 'n mens waar daar kort tevore nog 'n sypaadjie op straat was, en vir wat nie, dit gattie eintlik daarommie.

Die regisseur het nietemin probeer om die stuk (al hoeka so twintig jaar oud) bietjie op te kikker – tot by Pik Botha en die nuwe R2-muntstuk. Maar hy (of Brink) kon dit nog méér van toepassing gemaak het op vandag se kjênners – baie van die grappies is bra pap. Maar vat nou weer 'n break, my bra, en sê: dit doen geensins afbreuk aan die jolige vrolikheid nie. En spelers soos Soli Philander en Willie Fritz en Gustav Geldenhuys (besonder vlot) en Peter Butler (hy's die moffie) vat die gap om die gehoor te laat lag van die lag. Die res van die spelers maak ook daarna, maar feitlik die hele kaboedel kan hulle nie inhou nie – hulle speel nog déúr lagbuie; praat ook nie altyd so heller nie. Watwo Antoinette K. Sy's die een met die kopdoekie op en die tannelose bek – en sy hou vir hom vol. Sy's half onverbeterlik, sou 'k sê, die main ingredient van hierie samoosa. Jollie. Moenie meer verwag nie. Tot Basson afsluit met 'n prentjie op die agterdoek, en nie van Bishops Court nie …

June van Merch het in 1989 die rol van Solina in Kinkels innie kabel gespeel. “Die rol is vir ’n man geskryf, maar Soli het toe Solina geword,” vertel Van Merch. “Ek kan onthou dit was ’n baie organiese produksie in die sin dat daar nie mikrofone was nie. Ons moet ons stemme gebruik. Dit was ’n groot cast. Antoinette Kellerman, Peter Butler, Soli Philander, wyle Fiona Coyne … Dit was ’n jollie produksie.”

Sy sê dit was ’n interessante tyd in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse teater.
“Die geselskap was across the colour bar. Ons het gekom uit ’n era waar die groep kunstenaars almal gelyk was, al was die land nog nie daar nie. ’n Groep van ons het onlangs gepraat en gesê dit was ’n tyd wat ons op die spel en die produksie kon konsentreer en nie die politiek nie.”

’n Verwerking vir die verhoog van Brink se Bidsprinkaan is by die Suidoosterfees, die Woordfees en ook in 2014 by Aarklop opgevoer. Vir Elton Landrew, die akteur wat die rol van Kupido Kakkerlak gespeel het, was dit ’n emosionele reis. “Ek het soveel waardering vir die storie wat die skrywer vertel,” het hy gesê. “Kyk na die debatte oor godsdiensonderrig in skole. Kupido, ’n Khoi-man wat as sendeling georden is, het daardie selfde wroeging gehad omdat hy tussen twee gelowe moes onderskei. Aan die een kant was daar die mites en gelowe van die Khoi, aan die ander kant die witman se God.”

Laetitia Pople van Die Burger het in haar resensie van Bidsprinkaan geskryf: “Goeie teater makeer ’n goeie span. Hier is ons in teaterhemel. Janice Honeyman het die leisels styf in haar hande en ’n mens wil amper sê hierdie een behoort aan haar, want die regie is uitstekend. Maar dan is daar die spelers wat ook nie ’n voet verkeerd sit nie. Elton Landrew is skitterend in die hoofrol.”

Haddad Viljoen het op LitNet geskryf: “Bidsprinkaan konfronteer die kyker met perspektiewe, en forseer jou om opinies te herbesin en te oorweeg. Die verhaal weergalm in die hede, en is ’n besondere ondersoek na die stand van die Suid-Afrikaanse psige. Bidsprinkaan is ’n uiters suksesvolle en afgeronde verhoogproduksie wat die kyker uitdaag en lank sal laat dink.”

“Brink het noemenswaardige bydraes tot die ontwikkeling van Afrikaanse drama gemaak,” sê Marie-Heleen Coetzee, hoof van die dramadepartement by die Universiteit van Pretoria. “Hy was byvoorbeeld toonaangewend in die kortstondige opbloei van die absurde drama in Afrikaans (1950’s en 1960’s). Dié dramas het met struktuur, temas, karakters en die versmelting van die realiteit en die verbeeldingswêreld eksperimenteer.”

“Karakters se soeke na identiteit en hul omgang met die onsekerheid en sinneloosheid van die lewe is kenmerkend van die absurde drama. Hierdie temas kom ook tot konkrete uiting in die struktuur van die drama. Sy trilogie Bagasie: triptiek vir die toneel (1965) wat Die koffer, Die tas en Die trommel insluit, is ’n voorbeeld daarvan.”

Sy sê Brink se Aspekte van die nuwe drama (1974 met ’n hersiene uitgawe in 1986), was een van die hoekstene van die ontwikkeling van Afrikaanse teaterkritiek en toneelskryfwerk. “Die boek was ’n gewilde keuse vir die studie van nuwe internasionale tendense in die drama, asook vir die ontleding van die drama-eksperimente van Brink en sy Afrikaanse tydgenote.”

Brink het die belangrikheid van teatermatige dramas ingesien, sê sy. “Hy het dramas geskryf wat nie net deur akademici aangeslaan word weens hul literêre kwaliteit nie, maar ook by akteurs en gehore geval mag vind weens hul opvoeringsvitaliteit.

“Alhoewel menings oor die kwaliteit van Brink se dramas wissel, en alhoewel die impak van sy dramas op internasionale vlak nie vergelykbaar is met van sy ander literêre werke nie, word sy dramas steeds as grondverleggend bestempel.”

Sy sê Brink se bydrae as dramaturg is slegs een van die vele bydraes wat hy tot Afrikaanse drama en toneel gemaak het. “Sy vertalings en verskrywing van bestaande dramas uit wêreldliteratuur, asook ander dramaturge se verwerkings van sy romans vir die verhoog (onder andere Bidsprinkaan en Houd-den-bek) is noemenswaardig.

“Die wyse waarop Brink van sy dramas gebruik het as ’n spreekbuis teen ’n onmenslike sisteem dui op die potensiaal van dramas om as ’n tipe katalisator vir sosiale en politiese aktivisme op te tree.”

Het Brink se werk vir die teater die toets van die tyd deurstaan?

Die verhoor en Die rebelle wel, miskien ook Die jogger,” sê Kerneels Breytenbach, skrywer en voormalige uitgewer. “Elders mooiweer en warm, Pavane en Bagasie sal moontlik net as kuriositeit beskou word. Ek sal graag weer sy ligter werke (Afrikaners is plesierig, Toiings op die langpad) en sy aanpassings van groot dramaturge se werke (Kinkels innie kabel en Bobaas van die boendoe) wil sien. Ek het ’n vermoede hulle sal dalk die helderste tot vandag se gehore spreek.”

Coetzee stem saam. “Brink se dramas word deur teaterhistorici erken as toonaangewend en vernuwend vir die tyd waarin hulle geskryf was,” sê sy. “Sy drama Die jogger is die onderwerp van verskeie akademiese studies, met spesifieke verwysing na Suid-Afrikaanse drama in die nadraai van die 1994-verkiesings.”

Coetzee sê sy het nie noodwendig ’n gunsteling-Brink-drama nie. “Ek het met Die hamer van die hekse kennis gemaak tydens my dramastudies aan die instansie wat nou bekendstaan as NWU. Die verband tussen mag en gender in die drama het my meer geïnteresseer as die lot van die denkende individu wat in ’n beperkende en onregverdige sisteem vasgevang is. Die wisselwerking van mag en identiteit wat in Die jogger ondersoek word, veral teen die agtergrond van die menseregteskendings wat tydens die Waarheid-en-Versoeningskommissie aangehoor is, laat my stof tot nadenke.”

Breytenbach sê dat Die jogger ook vir hom uitstaan. “Maar dit is net omdat ek as uitgewer baie nou betrokke daarby was,” sê hy.

Is daar ’n Brink-karakter in sy dramas wat vir hom uitstaan?

“Die twee Bezuidenhouts in Die verhoor en Die rebelle is van die sterkste karakters wat hy geskep het,” sê Breytenbach.

Of Brink genoeg in sy lewe vereer is, stem Breytenbach en Coetzee nie oor saam nie.

“Brink is ’n veelbekroonde skrywer, akademikus, draaiboekskrywer, aktivis, vertaler, kritikus en dramaturg met ’n ontsagwekkende lys van benoemings, toekennings en eredoktorsgrade (plaaslik en internasionaal). Dis wonderlik om te sien dat iemand in sy eie leeftyd sulke hoë aansien geniet het en erkenning vir sy uitstaande letterkundige bydrae gekry het,” sê Coetzee.

Breytenbach stem nie saam nie. “Die pryse wat vir hom saak gemaak het, naamlik die Hertzogprys, is eers betreklik laat aan hom toegeken (in 2000 vir Die jogger en in 2001 vir Donkermaan). Hy was nie ondankbaar daarvoor nie, maar het gevoel dat van sy vroeër werk weens politieke redes aan die agterste speen moet suig.”

Andries Vrey, uitvoerende hoof van Aardklop, sê daar word beslis beplan om hulde aan Brink by vanjaar se Clover Aardklop te bring. Verdere aankondigings sal nader aan die fees gemaak word.

’n Onderhoud met Saartjie Botha oor Bidsprinkaan wat tydens Aardklop 2014 opgeneem is
(© Clover Aardklop Nasionale Kunstefees)

*

André Philippus Brink is op 29 Mei 1935 op Vrede in die Vrystaat gebore. Hy het in 1952 aan die Hoërskool Lydenburg gematrikuleer en het daarna ’n BA-graad aan die Potchefstroomse Universiteit behaal. Hy behaal beide sy MA-graad in Engels (1958) en Afrikaans (1959) cum laude. Brink het ook literatuur aan die Universiteit van die Sorbonne in Parys studeer.

Hy word in 1961 aangestel as lektor by Grahamstad-universiteit en word later professor in Engels by die Universiteit van Kaapstad.

Sy werk is in meer as 30 tale vertaal en onder die vele toekennings wat hy ontvang het, was die Eugène Maraisprys van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in 1963 vir die drama Caeser, en Die jogger het in 2000 die Hertzogprys, ook van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, verower.

Brink het eredoktorsgrade ontvang van die Universiteite van die Witwatersrand (1985), Vrystaat (1997), Pretoria (2003) en die Katolieke Universiteit Louvain-la-Neuve in België (2015).

Het jy geweet?

  • Kennis van die aand word in 1974 deur die Publikasieraad verbied, en die verbod word eers in 1982, ná ’n hofsaak en baie publisiteit, opgehef. Koot Vorster, ’n heftige teenstander van die boek, het gesê: “As dit letterkunde is, dan is ’n bordeel ’n Sondagskool.”
  • Die Engelse weergawe van Kennis van die aand, Looking on darkness, was Brink se eerste boek wat in Amerika verskyn het.
  • ’n Oomblik in die wind (1976) is ook as ongewens bevind en Gerugte van reën was maande onder embargo geplaas. Die sensuur van die Suid-Afrikaanse regering het tot gevolg gehad dat Brink sy boeke gelyktydig in Afrikaans en Engels begin skryf het.
  • Hy was twee keer op die Bookerprys vir fiksie se kortlys: vir An instant in the wind (1976) en Rumours of rain (1978). Hy is ook drie keer vir die Nobelprys vir letterkunde benoem.
  • Marlon Brando is in 1990 vir ’n Oscar as beste manlike byspeler benoem vir sy spel in A dry white season, ’n film wat gegrond is op Brink se ’n Droë wit seisoen.
  • Brink het meer as 60 boeke in die wêreldletterkunde in Afrikaans vertaal, soos Alice se Avonture in Wonderland, Mary Poppins in Kersieboomlaan, Hedda Gabler en Die wind in die wilgers.

(Bron: www.nb.co.za)

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top