LitNet Akademies (Geesteswetenskappe) | LitNet Academic

 
CJ Langenhoven as kunstenaar
2005

 

Langenhoven het gesê:

Onsterflikheid kan maar na die dood kom.
Onthou dit, o kunstenaar, en wees getroos. [1]

In sy volgende spreuk volg hy dit op met:

Daar is geen kuns by sukkel nie en geen sukkel
by kuns nie. [2]
Elders het hy geprofeteer:
Ons is ’n volk van woord en daad,
min doen, maar baie praat.
Wees gewaarsku, vanaand gaan gepraat word.

 

Kuns, kunstenaar en Langenhoven

Wat beteken die woord kuns? Wat is ’n kunstenaar?

Ek wil probeer uitklaar wat die twee begrippe mag inhou en dit vanuit my eie klein betreklikheid op Langenhoven toepas.

Die gerespekteerde kunshistorikus Herbert Read[3] maak die stelling dat die woorde kuns en kunstenaar meestal geassosieer word met die beeldende of te wel visuele dissiplines. Dit wil sê, skilder, beeldhou, argitektuur en deesdae ook pottebakkery, weefwerk en ’n oorvloed van allerlei vaardighede, maar dit sluit al die kunste, letterkunde, musiek, die uitvoerende kunste en ook die wetenskappe in. Daarom dat ons verskynsels kry soos ’n Departement van Wetenskap en Kuns, Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. In Frankryk word sport en ontspanning ook daarby aangehak.

 

Die rol van musiek

Dit was Schopenhauer[4] wat beweer het dat al die kunste die stand van musiek nastreef. Op Engels gesê: “All arts aspire to the condition of music.” Verskeie individue na hom het dit herhaal, onder andere Wassily Kandinsky, wat in samewerking met die komponis (en ook skilder) Arnold Schoenberg met sy skilderye gestreef het na harmonieë van kleur en ritme in lyn, beweging, tekstuur en vormgewing wat parallelle vorm met gelyksoortige gegewe in musiek. Schopenhauer se stelling was gemik op die abstrakte eienskappe van die gegewe – weer eens ritme, melodie, drama, atmosfeer, heimwee, vrolikheid, ja selfs geestelike openbaring of blootlegging, want in musiek, en hoogs waarskynlik slégs in musiek, is dit vir die kunstenaar moontlik om sy gehoor direk te bekoor of te ontroer, sonder die inmenging van ’n medium wat vir algemene kommunikasie ingespan word:

– ’n argitek moet uitdrukking verleen deur middel van geboue met ’n gebruiksfunksie
– die woordkunstenaar maak gebruik van taal en semantiek, ’n woordeskat wat aan almal behoort
– die skilder en beeldhouer gebruik nabootsing van die materiële wêreld.

Hierteenoor is slegs die komponis geheel en al vry om ’n kunswerk te skep vanuit ’n eie bewussyn met die doel om mense te ontroer, gelukkig te maak, hulle op te sweep deur byvoorbeeld marsmusiek of dansmusiek, of hulle selfs aan die slaap te sus. Aan die einde van hierdie praatjie gaan ek probeer om hierdie stelling van Schopenhauer aan u te illustreer.

 

Doelwit van kunstenaars: skoonheid

Nietemin het alle kunstenaars dieselfde doelwit: om tevrede te stel, gelukkig te maak deur harmonie of skoonheid te skep wat ons deur middel van ons sintuie waardeer.

Die visuele kunstenaar gebruik kleurvariasies, jukstaposisie, repetisie, massa, onderliggende struktuur, lyn, spanning en rusposes, patroonvorming, kontras, perspektief, driedimensionele illusie, beweging, en selfs ritme.

Musiek ontlok die estetiese inhoud deur emosionele en intellektuele reaksie. Lirieke kan byvoorbeeld eensaamheid of passie verwek, en hier word dit aangehelp deur middel van melodie, harmonie, hipnose, resonansie, speelsheid ensovoorts.

In argitektuur behels dit ruimtelike ontwerp, boukoste, materiale en funksie.

In letterkunde, insluitend poësie, kortkuns, romans en veral ook nonfiksie, gebruik die skrywer/kunstenaar ook ritme, illustrasie, struktuur, tydsverloop, jukstaposisie, dualiteit, beelde, fantasie, spanning, analise, humor, sinisme en so meer om sy doel te bereik.

Julien Green[5], die groot Franse skrywer/filosoof van die vorige eeu, het die stelling gemaak dat net skoonheid, in watter vorm ook al, ons op alle vlakke kan bevredig. Hierdie stelling slaan terug na die abstrakte eienskappe wat ek reeds genoem het, maar ter wille van helderheid wil ek verdere verklaring van die begrip skoonheid, of op Engels beauty, bybring. Navorsing hieroor dui daarop dat teoloë, wetenskaplikes en wysgere vanaf Sokrates, Dante, Rumi, St Augustinus, Schopenhauer, Meister Eckhart en vele ander by wie ek aanstons nog gaan uitkom, keer op keer daarop wys dat skoonheid dieselfde is as goedheid, en in die essensiële suiwerheid daarvan die goddelikheid of oneindige betrek. Wanneer ons dus deur skoonheid bekoor word, is dit as gevolg van openbaring of blootlegging – ’n transformasieproses wat deur skoonheid ervaar word.

Ananda Coomaraswamy verwys na hierdie ontroering of bekoring deur skoonheid, in watter vorm ook al, as “a state of shock, agitation, fear, awe, wonder or delight”. [6]

Hierdie gevoel van skok – die Duitsers het die mooi woord einfühlung daarvoor – kan net ervaar word indien ons geleer het om die waarheid te herken wanneer ons dit sien. So moet ons ook noodwendig aanvaar dat daar geen waardering sonder kennis kan wees nie.

En wat sê CJ Langenhoven as kunstenaar hiervan?

Hy het dit soos volg:

Ons maak daar ’n gebruik van om die kuns teenoor die natuur te stel, asof die mens by die liewe God verbygegaan het om skoonheid vir sy lewe te skep. Die musiekstuk, die lied, die gedig, die drama, die roman, die skildery, die beeldhouwerk – het die natuur ooit so iets voortgebring? Is dit nie maar die mens wat daarmee sy eie verédeling bewerk het nie? In sy natuurlike wilde staat, sou die mens nie bloot materialisties wees net soos die diere nie? En as daar geskrewe staan “dat de mensch bij brood alleen niet zal leven” - geld dit nie maar vir die mens alleen nie?
En vervolgens:
Die mens is die enigste skepsel op aarde wat bewustelik idealisties is. En dit in twee rigtings, by die kuns en by die godsdiens. Elk van die twee maak sy eie besonderse beroep en het sy eie besonderse roeping en doel tot verédeling en gelukbewerking. Die beoefenaars van albei – die kunstenaar en die hervormer, soos Maarten Luther – gee hulle liefdadige diens aan nog meer as net eggenoot en kroos en kudde. Maar die wortels van hierdie bewuste idealisme groei vér en diep daar onder uit die onbewuste Skepping. [7]
Hy lê die klem verder hierop[8] in ’n essay, “Die oproep tot verheerliking”, met:
Hierin, in die verheerliking en verédeling van die lewe, lê die diens van die kuns.
Daarby maak hy die stelling dat ons almal, deur ons verbeelding, tot kunstenaars verhef word. Almal probeer om hulle bestaan met behulp van die verbeelding tot ’n beter, mooier gegewe om te tower.

Die ware kunstenaar beskryf hy as ’n uitverkorene. Hy sê:

Daarom is die uitverkorenes daar en daarin lê hulle roeping, om die werkers op die skoonheid van die berge te wys en op die blomme wat tussen die dorings pryk.[9]

Produktiwiteit

Langenhoven se eie produktiewe lewe as skrywer/kunstenaar het in sy laat dertigerjare begin toe hy in 1912 begin stry het vir die erkenning van Afrikaans as volwaardige taal. Hy het self sy late ontwaking met die volgende passasie betreur:

Dat ek byna veertig jaar oud geword het voor ek ooit daardie roeping besef het en ernstig aan die werk gegaan het om my bydraag van diens te gee aan die opbou van my verwaarloosde en versmaaide taal, was die regstreekse gevolg van daardie deels ontbrekende en deels verkeerde invloede op my kindergemoed. 10
Hy verwys hier na skoolonderrig deur medium van Engels en Hooghollands in sy kinderjare. Dit is egter duidelik dat meester Marthinus Paulus Bloemkolk, as fyn-opgevoede mens, ’n vlam in die kind Langenhoven aangesteek het. Hyself stel dit soos volg:
My hartstogtelike toewyding aan my land en my nasie en my taal is maar die vrug van saad wat lange jare in die donker aarde gelê het, drooggehou en koudgehou sodat dit nie kon ontkiem nie. Maar die saad is in daardie vroeë jare gesaai. [11]
’n Mens kan net bespiegel oor wat hy nie alles sou verrig het indien hy langer geleef het nie. Die verstommende hoeveelheid werk wat hy in die bestek van 20 jaar die lig laat sien het terwyl hy onverpoos vir die erkenning en vestiging van Afrikaans geveg het, laat ’n mens in verwondering.

 

Wetenskap en kuns

Die Oxford Dictionary[12] verklaar kuns of te wel art op Engels soos volg:

the result of knowledge and practice, the application of skill to subjects of taste, such as poetry, music etc., anything where in skill may be attained.
Met ander woorde, ’n deurtraptheid, bedrewenheid of vaardigheid in ’n betrokke dissipline, maar veral met betrekking tot die estetiese of te wel die skoonheidsleer.

Met estetiese verwys ek hier na dié inherente eienskappe wat tot al ons sintuie spreek. In die visuele kunste betrek dit inhoud en vormgewing. Wanneer ’n mens voor ’n skildery staan wat tweedimensioneel is en jy ervaar dit as driedimensioneel, is dit ’n estetiese daad van vormgewing.

Vir my vorm wetenskap en kuns ’n eenheid. Woordeboeke verklaar ook dat wetenskap die versameling is van sistematies geformuleerde kennis, en dat kuns die praktiese toepassing is van hierdie kennis.[13] Wetenskap vorm die boustene, materie of grondstowwe waarmee ’n individu as alchemis kuns maak. Sonder navorsing en deurdagte kennis van die moontlikhede wat die magdom van verskeie media inhou, kan die individu nie skep nie. So ’n individu moet in der waarheid eers ’n wetenskaplike word alvorens die metamorfose tot kunstenaar kan plaasvind. Dit is ’n stadige en meestal traumatiese proses. Die geskiedenis gee ons wel voorbeelde van wonderkinders soos Mozart, maar vir die oorgrote meerderheid is daar nie ’n kortpad nie. Dis ’n evolusionêre groeiproses: die eindproduk van ’n passie deur volgehoue harde arbeid.

Nou is dit so dat daar geweldig baie wetenskaplikes is, maar dat hulle nie noodwendig almal tot kunstenaar promoveer nie, en dis hier waar die groot vraagteken ontstaan: Wanneer en hoe vind die metamorfose plaas?

Miskien kan ’n mens dit nie formuleer of vaspen nie, dog slegs instinktief ervaar, ’n soort van bysyn wanneer jy daarmee in aanraking kom. Dit is ’n magiese kwaliteit, en in ’n sekere sin is dit ’n vergeestelikingsproses. Dit strek verder as die fisies materiële en intellektuele beslag. Die ware kunstenaar is ’n uitmuntende vakman of wetenskaplike + ’n magiese X-faktor wat sy skeppings bo die alledaagse verhef.

 

Die kunstenaar as skepper

Die laaste van die groot mistieke Persiese filosowe, Hazrat Inayat Khan, het hom soos volg oor kuns uitgespreek. Ek parafraseer:

Vir my is die skepping dit wat God geskep het as God, en kuns dit wat God skep as mens. [14]
Sou ons dit as wet van Mede en Perse aanvaar, plaas dit ’n geweldige verantwoordelikheid op die skouers van elke skeppend denkende mens.

Langenhoven sluit soos volg hierby aan:

Die skrywer (kunstenaar) roep tot aansyn wat sonder hom nooit sou bestaan het nie. Hy vul die werk van die Skepper aan. [15]
Inayat Khan verduidelik die ontwikkeling van ’n kunstenaar in vier fases:

1. Die wetenskaplike bymekaarmaak van kennis en vestiging daarvan deur eksakte kopiëring, hetsy deur skilder, beeldhou, musiek of woordkuns.

2. Suggestie: Deur middel van ’n minimum van lyn-, kleur-, tekstuur- of woordgebruik kan die kunstenaar deurdring tot die kern van die gegewe.

3. Suiwer kreatiwiteit: Deur middel van ’n tema word geïmproviseer en verkry die kunswerk ’n eie intrinsieke wysheid en trefkrag; dit troon bo die alledaagse en verwerf ’n eie persoonlikheid, of soos daar op Engels gesê word: “It has presence.” Wanneer ’n mens met so ’n kunswerk in aanraking kom, vind daar ’n besondere kommunikasie plaas: rudimentêr raak dit jou op verskeie vlakke aan, fisiek, intellektueel en psigies. Die kunstenaar se uitdrukkingsvermoë word verryk deur sy totale woordeskat, ’n woordeskat waarmee die toeskouer vertroud is en hom derhalwe in staat stel om die werk te ervaar en te waardeer. Met woordeskat bedoel ek hier nié net woorde nie, maar ook die visuele, ouditiewe, reuk- en gevoel- of te wel emosionele woordeskat. Hoe groter die talent, hoe groter die seggingskrag, maar let wel, nie noodwendig totaal verstaanbaar vir die waarnemer nie, want die kunstenaar is dikwels die verkenner wat vooruit loop om nuwe horisonne te ontdek wat nie vir die waarnemer mag sin maak in die tydvak waarin dit tot stand kom nie. Langenhoven se bydraes is dus nie noodwendig in sy era ten volle na waarde geskat nie, maar hy het die weg gebaan vir almal wat ná hom die pen sou opneem.

4. Die vierde aspek van kuns is ’n transformasieproses wat, deur totale toewyding, in ’n lewenswyse van meditasie of bepeinsing opgaan. Die kunstenaarsbestaan word ’n roeping. Soos ’n vis water nodig het om te leef, so het die kunstenaar sy kreatiewe milieu nodig. In ’n sekere sin word dit ’n vergeestelikingsproses. Dit strek verder as die fisies materiële en intellektuele beskoeiing. Dis waar die magiese komponent bykom: jou ware kunstenaar is ’n meestervakman + die X-faktor wat sy skeppinge bo die alledaagse verhef.

Nou sal u graag wil weet wat die bron van hierdie X-faktor is, die magiese komponent, die Eureka!, die ditsem!, die kwaliteit wat ’n mens ontroer en met verwondering laat by die ervaring van ’n kunswerk. Langenhoven stel dit so:

Die binneste dryfvere van so ’n siel, en die geheimsinnige werkings en roerings van sy skeppende onderbewustheid waarvan hy self aan homself geen rekenskap kan gee nie, is onvatbaar vir (n)ietsbeduidende ontleding deur hom(self), nog minder deur ’n ander. [16]
In Salomo se Spreuke[17] is daar ’n interessante verwysing na die kunstenaar. ’n Mens sou hiervan kon aflei dat kuns aan wysheid gekoppel word en dat dít, as skeppingsdrif of te wel energie, van die begin van die skepping af bestaan.

So spreek Salomo:

8:29 toe Hy vir die see sy grens gestel het (hy verwys hier na die begin van die skepping) dat die waters Sy bevel nie sou oortree nie; toe Hy die fondamente van die aarde vasgelê het –
30 toe was ek ’n kunstenaar (die wysheid) naas Hom (die Skepper)
En só spreek Langenhoven:
Want sover as ons in staat is om die plan van die Bestier (Skepper) te ondersoek, vind ons twee dinge. In die eerste plaas, Wysheid; in die tweede plaas, Ondeurgrondelikheid. Dus moet die Ondeurgrondelikheid ’n gedeelte wees van die plan van die Wysheid. [18]


Nuuskierigheid en verwondering

In sy boek The Act of Creation[19] wys Arthur Koestler deurgaans daarop dat alle wetenskap en kuns deel uitmaak van ’n evolusionêre proses wat deur verstandelike vlugheid data en feite verwerk, aangespoor deur nuuskierigheid of verwondering. Die gegewe bly ’n konstant, maar dis die hantering of verwerking daarvan wat dit in ’n nuwe raamwerk plaas. Hennie Aucamp het my eens deeglik berispe toe ek my eie verstokenheid as kind, onvolledige skoolopleiding, mank aan vele tekortkominge soos goeie biblioteke, bioskope, klassieke musiek, teaters ens blameer het vir ’n gebrek aan ’n wyer ervaringsveld tot skeppingsmateriaal. Hennie, meesterkunstenaar en gesaghebbende opvoeder, het my selfbejammering op Koestleriaanse wyse besweer met: “Dis nie die hoeveelheid inligting waaroor jy beskik nie, maar wat jy daarmee doen wat belangrik is.” Hiermee was Hennie Aucamp dan ook vir my ’n St Christophorus in my eie literêre groei.

Die Griekse wysgeer Aristoteles het gesê: “Men were first led to the study of natural philosophy, as they are today, by wonder.”

Die fisikus James Clarke Maxwell, wat onder andere ook wonderlike satiriese poësie geskryf het, getuig dat sy eerste herinneringe dít was: “… lying on the grass, looking at the sun, and wondering”. [20]

Einstein het hierby aangesluit toe hy geskryf het:

Whoever is devoid of the capacity to wonder, whoever remains unmoved, whoever cannot contemplate or know the deep shudder of the soul in enchantment, might just as well be dead for he has already closed his eyes upon life. [21]
Langenhoven se visie was dieselfde:
Vir my is daar so ’n opkyk in die bloue lug in, in die spoorlose diepte van die ruimte waaragter sterretjies vonkel en agter dié nog ander wat verder is. [22]
Hierdie universele gevoel van verwondering is die gemeenskaplike bron van die religieuse mistieke, die suiwer wetenskap en kuns ter wille van die kuns (dit wat vanuit innerlike noodwendigheid geskep word, vanweë die binneste dryfvere van so ’n siel om Langenhoven te herhaal). Verwondering is die gemene deler en emosionele naelstring wat die wetenskap, godsdiens en kunste saamsnoer. Die wetenskaplike, en so ook die kunstenaar, moet gelyktydig op verskeie vlakke leef en as ’t ware deur ’n venster van tyd die ewigheid instaar en tydloos vasvang.

Samuel Johnson, ook bekend as dr Johnson, digter, essayis en joernalis wat as een van die mees uitstaande literêre figure van die 18de eeu in Engeland beskou word, het die onderwerp soos volg opgesom:

True genius is a mind of large general powers, accidentally determined to some particular direction, ready for all things, but chosen by circumstances for one. [23]
Dink hier byvoorbeeld aan buitengewone reuse soos Michelangelo en Leonardo da Vinci wat ingenieurs, beeldhouers, skilders en skrywers was, en op elke gebied ver voor hulle tyd. Ek sal maar net daarop wys dat Da Vinci reeds 500 jaar gelede vliegtuie ontwerp het wat eers die afgelope eeu in werking gekom het, terwyl die meeste van ons, wanneer ons ’n kruiwa stoot, onbewus is daarvan dat ook die nederige kruiwa aan hom te danke is.

 

Die kwessie van veelsydigheid

En té dikwels word die mindere talente in ’n groot gees ter wille van een dissipline versmoor of vermoor. Diegene wat die genadegawe, die verantwoordelikheid en die ongelooflike werklas ken wat vele talente meebring, word dikwels van alle kante gekruisig, want soos Hubert du Plessis na aanleiding van Noel Coward dit opgesom het: “Talent sal jou nog vergewe word; veelsydigheid nooit.” [24]

Dan betree so ’n individu ’n mynveld van gekrenkte en bedreigde ego’s. Vir elke kunstenaar is daar tallose onvervuldes wat van hulle kant op die wal, ’n suur stroompie bystoom of met ’n loodlose potlood assassineer. Vandaar Langenhoven se volgehoue versoek dat hy geen resensies van sy werk wou hê nie. [25]

 

Langenhoven se roeping as taalstryder

CJ Langenhoven was uitverkore tot ’n buitengewone taak, naamlik om Afrikaans as volwaardige taal gevestig en erken te kry. En dit was pas 80 jaar gelede dat hy in 1925 met ’n vurige pleidooi vir die instelling van Afrikaans as gelykwaardige amptelike taal – en bygesê, sy pleidooi was in Engels – die destydse regering oorreed het om bes te gee. Sonder Langenhoven se passie sou Engels waarskynlik vandag die enigste amptelike taal gewees het.

Ironies genoeg wil dit voorkom asof ons tans weer in dieselfde taalstryd verkeer, of miskien het ons dit nog nooit afgeskud nie, want soos die Franse idioom lui: “plus ça change, c’est la même chose” – hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde. Geskiedenis is, soos die seisoene, herhalend. Die menslike toestand bly inderdaad dieselfde. Net die dekor en rolverdeling verander.

 

’n Streeksgebonde kunstenaar

Prof Wium van Zyl het my daarop gewys dat Langenhoven in die eerste plek ’n streeksgebonde skrywer was, maar dat hy vir ons ’n prosastyl geskep het waarop almal ná hom kon voortbou.

Ek wil dadelik byvoeg dat streeksgebonde nie “minder” of “onbelangrik” beteken nie. Dit omgord en beklemtoon die universele, die allesomvattende, wat dit juis uitlig bo die klein betreklike aangesien die gegewe oral geld.

 

Langenhoven leer die Afrikaner om te lees

In sy uitgebreide Geskiedenis van die Afrikaanse Literatuur wys dr JC Kannemeyer daarop dat Langenhoven met sy skryfwerk dit ten doel gehad het om die Afrikaner te leer lees:

Daarvoor het hy hom tot die breë publiek gerig en veral humor, spot, en satire naas direkte lering en moralisasie as wapens gebruik om die volk te bereik. Met sy beweeglike styl kon hy die volksuitdrukking en die alledaagse woord op ’n natuurlike wyse in prosa gebruik, en in dié opsig ’n belangrike korrektief bring op die onbeholpe stylloosheid en die kunsmatige sierprosa van sy tydgenote en voorgangers. [26]


Die vertaling van die Bybel

Daar word ook genoem dat Langenhoven nou betrokke was by die vertaling van die Bybel in Afrikaans – en miskien was die Bybelvertaling juis die grootste bydrae destyds tot die vestiging en uitbou van die Afrikaanse taal, soos dit ook die geval was met Nederlands en hoogs waarskynlik die meeste inheemse Afrikatale, omdat so ’n vertaling inderdaad ’n woordeskat en prosastyl saamgerf wat op die breedste front denkbaar sy skering en inslag kreëer.

Langenhoven was veral slim genoeg om te weet dat stories, fiksie, wetenskapsfiksie, spookstories, speurverhale, en ja selfs die hygroman – wat alles goed verteenwoordig in die Bybel voorkom – die volk nie net aan die lees sou kry nie, maar aan die lees sou hou, hoewel dit soms voorkom asof individue, sodra hulle ’n diploma of sertifikaat van een of ander aard ontvang, ophou lees.

 

Die onderrig van Afrikaans

Ons moet ook onthou dat daar in die vroeë jare van die vorige eeu maar min skole was, veral op die platteland. Daar was ’n gebrek aan biblioteke, min boeke en veral nie veel in Afrikaans nie. Skoolonderrig het geskied deur medium Hoog-Hollands en gaandeweg meer en meer Engels. In die ou Boererepublieke is omtrent al die skole gedurende die Anglo-Boere-oorlog afgebrand.

 

Langenhoven se ander kunsvorme

By CJ Langenhoven kan die woord kunstenaar net so wel vervang word met wetenskaplike, wysgeer, skrywer, dramaturg, beeldhouer ens, want dié man was soos ’n geslypte diamant met meer fasette as wat ’n mens in die bestek van hierdie praatjie kan uitklaar. Kyk ’n mens na sy boekillustrasies, en veral sy spotprente wat hy ongetwyfeld uit verveling in die parlement gemaak het, sy houtsneewerk, klipkappery en leerwerk, sou hy in elkeen van hierdie dissiplines meesterlik gevaar het indien hy verkies het om dit tot roeping uit te leef.

 

Selfopgelegde taak en beskeidenheid

Langenhoven was nie geïnteresseerd in biografiese data nie, vanweë sy skoling in die filosofie. Hy was duidelik daarmee eens dat dit wat goed en blywend is, tydloos is en nie gebonde aan persoonlikhede nie. Hy het sy selfopgelegde verantwoordelikheid ten volle aanvaar as liefdediens en dit as sodanig genoem:

Die verantwoordelikheid is groot om die meeste daarvan te maak vir homself, vir sy mede-reisigers, en vir die toekomstige reisigers wat nog sal opklim as sy eie uitklim-stasie lankal verby is. [27]
Hy was ook beskeie oor sy enorme bydrae tot Afrikaans en vermeld die volgende:
(E)k kan nie anders as om te voel dat dit my persoonlik allerminste sou pas om te praat van wat ek vir Afrikaans gedoen het. Wat my pas is om te streef na die verskuldigde besef van wat Afrikaans vir my gedoen het. Hy het my geleer wat dit beteken om deur ’n oorweldigende hartstog beheers te word, om saligheid te win uit liefdediens, om die koninkryk van die hemele te vind in ’n lewensroeping op die aarde, om ’n belang voor oë te hou wat oneindig groter is as my niksbeduidende eie belang. [28]
NP van Wyk Louw het in l939, sewe jaar na Langenhoven afsterf, dieselfde boodskap gegee met:
Die kunstenaarskap moet by ons, selfs in hierdie dorre burgerlikheid van ons, as ’n genade aanvaar word met die uiterste oorgawe daarvan; en hy wat doen, sal weet dat hy nie veel van die wêreld kan eis vir sy kunstenaarskap nie, maar dat hy oneindig veel van homself moet eis. [29]


Wydbelesenheid en agtergrond

Daar was geen internet in Langenhoven se dae nie, en hoewel daar melding gemaak word van ’n besonder goeie biblioteek op Oudtshoorn destyds, bly ’n mens verwonderd oor die enorme kennis wat hy deur middel van lees vergader het. Hy was benewens Afrikaans, Engels en Nederlands, ook Duits en Latyn magtig. Hy het ook kennis gedra van Grieks en Hebreeus.

In Die Opdraende Pad verwys hyself na sy wye kennis. Dit handel oor dissipline en lui soos volg:

En dan sien ons die natuurvorser – Galileo, Kepler, Newton, Darwin – ek hoef nie meer name te noem nie. Ons sien die staatsman, Bismarck, Gladstone, Kruger. Ons sien die wysgeer: Plato, Descartes, Kant, Spinoza. Ons sien die martelaar en hervormer: Huss, Luther, Calvyn, Wyckliffe. Afgesien van sulke uitstekende figure sien ons die suksesvolle werkers van die wêreld, rondom ons – almal werkers wat die hoogste geluk vir hulleself en vir hulle medemens gesoek het en gevind het wat daar op die wêreld te behaal is: die geluk van ’n lewe van harde inspanning, van selfbeheersing, van ’n onverbiddelike en nimmer afgebroke strewe na ’n lewensdoel. [30]


Die genie neem ook kennis van ander genieë

Ek het genoem hoe Arthur Koestler in The Act of Creation daarop wys hoe alle wetenskap en kuns deel uitmaak van ’n evolusionêre proses wat deur vlugheid van verstand data verwerk, dat gegewe tydloos is maar dat die hantering of verwerking daarvan ’n nuwe raamwerk skep. Dit is dié bydrae wat elke skeppend-denkende mens bybring, wat ook al sy dissipline mag wees – filosoof, kunstenaar of wetenskaplike.

So sal ’n mens dan kernooreenkomste of -temas in die fabels of sprokies van die Franse skrywer/filosoof Jean de la Fontaine kon naspoor tot die fabels van Esopus, wat weer herlei kan word tot soortgelyke temas in oerverhale van die Indiese kultuur uit die oorspronklike Sanskrit. ’n Mens kan inderdaad aflei dat Langenhoven wel deeglik kers opgesteek het by Salomo, Marcus Aurelius en Multatuli, soos prof Wium van Zyl in sy gedenklesing[31] oor Langenhoven vroeër vanjaar tydens die KKNK verwys het. Ek verwys hier natuurlik na Langenhoven se spreuke en talle geleentheidstukke in “Aan Stille Waters”, sy weeklikse rubriek in Die Burger destyds. Ek het ook by Arbeidsgenot in sy persoonlike klein biblioteek afgekom op boeke van Francis Bacon, Macauly en John Ruskin. Dié boeke was deeglik besoek met heelwat kantaantekeninge in Langenhoven se handskrif. Ek dink dat Bacon se boek The Advancement of Learning[32] heelwat bygedra het tot Langenhoven se brandhout om die Afrikanervolk op te voed.

 

Die Opperwese

Miskien kan die volgende aanhaling hier van pas wees:

Nou was daar van die vroegste tye af nuuskierige passasiers wat graag wou weet ... en hulle het die Kondukteur (die Skepper) gevra maar sy antwoord was: Ek seg niks. Ek verberg niks en ek openbaar niks. Maar ek het julle oë gegee om op te merk, en hande om fyner opmerk gereedskap te maak, en breine om te dink. Al wat julle self van my wondergeheime kan uitvind, gun ek julle van ganser harte om te weet. [33]
In sy toetrede tot die Académie Française, het Louis Pasteur die volgende gesê:
Oral in die wêreld sien ek die onvermydelike uitdrukking van ’n oneindigheid. Dit lei tot in die diepste van ons wese, tot geloof in die bonatuurlike. Die denkbeeld van ’n God is niks meer as ’n uitvloeisel van dié idee van oneindigheid nie. So lank as wat die misterie van die oneindigheid deur die menslike verstand aangegryp word, só lank sal daar tempels gebou word vir die kultus van die oneindigheid – wat God ook al genoem mag word, Bramah, Allah, Jehovah of Jesus. Die Grieke het begrip gehad vir die misterieuse mag van die verstokenheid. Hulle nalatenskap het gelei tot een van die mooiste woorde in ons taal – die woord entoesiasme – en theos – die god in ons. Op Frans, Dieu en soi – op Engels, the god within – Die grootsheid van menslike dade word gemeet aan die inspirasie waaruit dit voortspruit. Gelukkig is iemand wat die goddelikheid in hom dra – ’n ideaal van skoonheid, wie dit gehoorsaam en uitleef as ’n roeping in kuns of wetenskap. Alles word verlig deur ’n weerkaatsing van die oneindige. [34]
En hier moet ek byvoeg: binne die skeppend-denkende mens as ’n lewende tempel.

Hierdie oneindige is dieselfde Ondeurgrondelikheid van Langenhoven waarna ek pas verwys het. Langenhoven vind ook hierby aansluiting met die volgende:

Ieder ’n denkende mens wat sy eie lewensloop betrag en dié van sy tydgenote gadeslaan, en die wonderlike lesse van die geskiedenis ter harte neem, en sy bietjie kennis wy aan die begryplik-redelike maar altyd nog onbegryplike Skepping rondom hom, word besiel met ’n gevoel van verpletterende ontsag vir die Almagtige Regeerder daarvan. [35]


Die entoesiasme/inspirasie van die kunstenaar

Aangesien daar gewag gemaak word van die evolusionêre proses in beide wetenskap en kuns is dit ook nodig om by te voeg dat die woord entoesiasme nie daarvan gevrywaar is nie. Benewens die positiewe konnotasie wat ek ryklik geïllustreer het, beteken dit ook nog vanweë en-theos om begeester (possessed) of besete te raak. Miskien daarom dat mense soms van “mal kunstenaars” praat. Daar is egter ’n magdom ander gode wat entoesiasme kan oprakel. So kan mense deesdae ook entoesiasties raak oor popsterre, rugby, golf, tennis, visvang, braaivleis of gemorskos sonder dat daar ’n godsdienstige begeestering of besetenheid aan die klok gehang word.

 

Die grondslag of te wel skeppingsenergie van kuns

Van nou af loop ek gevaar om gaandeweg op al hoe dunner ys te skaats en selfs soos Langenhoven prekerig aan te doen. Tog is daar begrippe wat vir myself vergestalting of helderheid inhou. ’n Mens kan per slot van rekening net ’n spieëlbeeld van jou eie subjektiwiteit meedeel: totale objektiwiteit is baie min mense beskore.

Hierdie X-kwaliteit – die magiese – word deur die Christendom as “die Woord” beskryf:

1 In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.
2 Hy was in die begin by God.
3 Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.
4 In Hom was lewe (vibrasie, animasie) en die lewe was die lig (kennis: “Laat daar lig wees” – laat daar kennis wees) van die mense. [36]
Die Grieke verwys na hierdie “woord” as Logos – dit word dan ook, volgens John Davidson, toegelig met die woorde: rede, intellek, berekening, intelligensie, woord, spraak, mistiese diskoers of redevoering, die Skeppende Woord:
It is by this power (Logos) that the creation is ordered and organized, expressing the supreme intelligence and wisdom of God. [37]
Die Mohammedaan of Moslem noem dit die Kalma.

Die Jode verwys daarna as Hashem of die Naam van God.

Die Sikhs in die Pandjab-provinsie van Indië verwys daarna as die Shabd, “the Creative Power, the source of all creation”. [38]

Die Sjinese verwys daarna as die Tao.

So kan ’n mens ad infinitum voortgaan om verskillende woorde in elke kultuur of godsdiens op te noem vir presies dieselfde entiteit wat die basis vir alle filosofie of skeppingsdrif vorm. Dit bly egter verbonde aan die oneindige en dat hierdie kwaliteit onlosmaaklik deel is van alles wat ons “die skepping” noem.

Daarmee kom ons terug by: “Laat daar lig wees.” Lig beteken kennis of te wel wysheid.

By elke skeppend-denkende mens is daar hoofsaaklik drie begrippe wat tot kuns mag lei, naamlik droom, dink, doen. Droom is esoteries – die verbeelding wat brandstof verskaf deur inspirasie om die dinkproses te stimuleer. Dink is die analitiese masjinerie wat die droomprobleem orden en uiteindelik tot die praktyk oordra met doen.

Wanneer die individu begin doen, is dit die begin van ’n magiese proses: die drie-eenheid van droom, dink, doen word voltrek en ’n metamorfose kom tot stand: die droom (geloof) lei tot denke (kennis) wat oorgaan in skepping (kunswerk), wat die katarsis van bevryding inhou.

Miskien moet ek net hier byvoeg wat bedoel word met “inspirasie”. Die Oxford- en ook Webster-woordeboek beskryf inspirasie of te wel inspiration as: “A special immediate action or influence of the Spirit of God or of some divine supernatural being upon the human mind or soul.” ’n Mens sou dus ook die woord inspirasie hier kan vervang met entoesiasme of die Griekse en theos, die god van binne wat lei tot begeestering of selfs besetenheid.

Vir die skepper/kunstenaar is dit dus ’n geval van: “Laat daar lig wees.” Sonder lig het niks substansie nie: sonder lig heers daar duisternis. Lig word ’n metafoor vir kennis. By gebrek aan kennis heers onkunde, is daar duisternis. Dis hierdie duisternis wat Langenhoven vir sy volk wou opskort en dit sy lewenstaak gemaak het. Hy was, om ’n woord vanuit die Sanskrit by te bring, ’n guru (ghoeroe): die eerste lettergreep, gu, beteken “duisternis” of “donkerte”, en ru beteken “lig”. ’n Ghoeroe[39] is dus ’n persoon wat as leermeester iemand vanuit die duisternis (onkunde) die lig (kennis) inlei.

Dit het Langenhoven op allerlei vlakke gedoen. Ek het genoem dat die mens CJ Langenhoven oor ’n veelvoud van talente beskik het, en dat hy ’n magdom van bydraes gemaak het, maar wat, waar en hoe, weet u waarskynlik, en indien nie, mag dit u veel vreugde verskaf om weer op sy lewe en werk in te gaan om dit vir uself te ontdek. Wees egter gewaarsku: skeppingsdrif steek aan soos ’n siekte: dit mag u dalk as banneling die woestyn injaag.

Goethe het dit raak gestel met: “Wer den Dichter will verstehen, muss in Dichters Lande gehen.” [40] (Wie die digter wil verstaan, moet die digter se land binnegaan.)

Ananda Coomaraswamy wys ook daarop dat die vakleerling wat ’n vokasie/roeping volg, nie noodwendig sy kuns as ’n gawe ontvang nie – dis iets wat deur die bymekaar maak van kennis verower word; en hy waarsku daarby: I ought to warn you, that if you ever really enter into this other world, you may not wish to return: you may never again be contented with what you have been accustomed to think of as ‘progress’ and ‘civilization’.” [41]

 

Die grondlegger

In die Middeleeue is die Aristokratiese dictum aanvaar dat die algemene doelwit van kuns alles wat goed is vir die mens, inhou – en dat daar niks goeds kan wees sonder kuns nie. Aristos vanuit die Grieks beteken “die goeie mens”, en in daardie sin was Langenhoven ’n ware aristokraat.

Met sy aangebore bedrewenheid (“innate skill”, vanaf die Sanskrit reeds as “ingenieur met ingebore vormende lig beskryf”) was Langenhoven inderdaad ’n ingenieur, ’n brugbouer. Hy het sy kennis (lig) gebruik om aan ’n taal vorm te gee, dit gevestig en erken te kry en dit terselfdertyd in al sy moontlike dissiplines te bedryf – drama, essay, joernalistiek, poësie, prosa – en sodoende ’n basis geskep waarop almal ná hom kon voortbou en uitbrei.

 

Tydsgees

Ons moet in ag neem dat Langenhoven getrou was aan die tydvak waarin hy grootgeword en gegroei het, naamlik die Victoriaanse tydperk en die eng Calvinistiese sfeer van die platteland. Dit is maar té maklik om sy geskrifte literêr te meet en te probeer afskiet, gemeet aan die huidige kritiese denkpatrone.

Wie waaragtig die verantwoordelikheid van sy kunstenaarskap as roeping aanneem, sal noodwendig ook die lot van ballingskap aanvaar. Hiermee bedoel ek nie letterlik verban na ’n vreemde land soos ’n Ovidius[42] van ouds nie. Nee, die kunstenaar binne ’n gemeenskap kan wel as banneling leef in die sin van verstokenheid: “in die wêreld, maar nie van die wêreld nie”.

 

Skeppingsdrif uit innerlike gedrewenheid

Skeppingswerk geskied uit innerlike gedrewenheid. Die ideale plek of omstandighede bestaan nie. ’n Kunstenaar moet hom kan afsluit en uit innerlike noodwendigheid, sy drie-eenheid, voltrek. Dit kon Langenhoven meesterlik regkry. Hy kon skep net waar hy hom bevind: in ’n kafee, op die trein en selfs in ’n kamer vol rumoerige mense. Eckhart Tolle beskryf hierdie vermoë so:

The mind is essentially a survival machine. Attack and defence against other minds, gathering, storing, and analysing information – this is what it is good at, but it is not at all creative. All true artists, whether they know it or not, create from a place of no-mind, from inner stillness. The mind then gives form to the creative impulse or insight. Even the great scientists have reported that their creative breakthroughs came from a time of mental quietude. [43]
Sulke individue word as ’t ware woestynheiliges. Die meeste gemeenskappe is salig onbewus van die kunstenaars in hul midde. Van Wyk Louw het in Berigte te Velde daarop gewys dat die kunstenaar nie veel van sy volk of omgewing moet verwag nie, maar juis veel van homself. In Raka het hy dit nog mooier gestel:
maar dié
wat skoonheid en hoogheid dra as las
en ver verlange, is ’n vreemde ras
van mense en bloot aan veel gevaar. [44]


Nederigheid

Grootsheid gaan gewoonlik met nederigheid gepaard, en dis ’n kenmerk van alle groot kunstenaars, of te wel ghoeroes: mense wat die lamp aansteek.

Langenhoven was voor my tyd. Dit was my egter beskore om verskeie ander sulke groot geeste te ontmoet en deur hulle lig te ontvang. Ek deel graag ’n paar pêrels, ter stawing van alles wat ek vanaand probeer deurgee het, om te bewys dat lewe, kuns, kunstenaarskap, godsdiens, ’n dinamiese en outomatiese groeiproses is. Dit steek aan soos ’n siekte. Soms lê die kiem vir byna ’n leeftyd slapend, soos ’n saadjie, maar wanneer die vonk soos tussen die twee vingers van Michelangelo se meesterstuk in die Sistynse kapel van skepper tot skepper oorskiet, is daar inderdaad wedergeboorte en ewige lewe.

In die sestigerjare het ek vir drie jaar lank in verwondering na NP van Wyk Louw kon luister. Die aand ter viering van sy dogter Reinette se mondigwording bevind ek my aan die onderpunt van die trap in die voorportaal, totaal uit pas met al die vrolike jong partygangers, toe die professor se studeerkamerdeur oopgaan en hy met die trap afkom. Ons oë het halfpad ontmoet. Hy het vanweë die beknoptheid – daar was heelwat gaste – by my verbygeskuur na die drankkabinet, dit oopgesluit, na my gedraai met ’n glas en gesê: “Whisky meneer Nel?”, dit in my hand gestop en sonder meer weer met die trap opgevaar hemel toe.

Guiseppe Cattaneo, my belangrikste leermeester by die kunsskool op Wits, het op ’n triestige dag, toe ek sukkel om aan die teken te kom, die potlood uit my hand geneem, vir ’n halfuur lank aan my tekening gewerk – en daarmee, sonder om ’n woord te sê, toe hy die potlood aan my teruggee, my lamp opgesteek.

Maggie Loubser het my die een keer wat ek haar gaan opsoek het, met ’n kwas vasgebind in ’n rumatiese hand gegroet met: “Dankie dat jy aan my gedink het.”

By Wena Naudé het ek tydens ’n speelvak van Herman Heyermans se Op Hoop van Seën bykans alles wat ek van toneel- en teaterkuns weet, geleer. Daarbenewens het sy vir my ’n onmeetbare skat gegee op ’n vraag oor swaarkry in die dae toe hulle selfs met ossewaens van dorp tot dorp moes reis om hulle toneelstukke op te voer. Haar antwoord was saaklik: “My hartjie, ’n mens kry net swaar as jy te grênd is om pap te eet.”

Madame Leah Williams het my oor ’n periode van nege jaar nie net leer sing nie, maar ook ’n lewenshouding bygeskoei. Haar bydrae was: “Darling, life is not what you make it, it is how you take it.”

Julian Green, wat ek tydens my verblyf in Parys leer ken het, se openbaring aan my was: “A page of paper is a window that leads you into another World.”

Professor Francois Odendal, taalwetenskaplike en vir meer as dertig jaar lank redakteur van HAT, waarvan vanjaar die 5de uitgawe verskyn het, het my gewys dat ’n mens wat in ’n saak glo, met totale toewyding in die stilte van sy werkkamer die taak wat aan sy deur gelê is, kan deurvoer.

Daar was ook verskeie ander groot kunstenaars met wie ek onderhoude gevoer het in die sestigerjare as kunsredakteur by Die Vaderland, onder wie Emma Renzi, Victoria de Los Angeles, Gérard Sousay en Anna Russel, om net ’n paar te noem.

Hierdie groot geeste het almal ’n stille innerlike gerigtheid uitgestraal.

 

Die stem wat roep in die woestyn

Alle kunstenaars is meestal stemme roepende in die woestyn. Wanneer ons oor Langenhoven praat, is ons soos blindes wat ’n olifant ondersoek. Een kry hom aan die stert beet, ’n ander klou krampagtig aan ’n oor vas, en nog een krap iewers in ’n lies rond ... en elkeen skop sy eie herrie op oor hoe die olifant daar uitsien. Miskien was dit slegs Sarah Goldblatt wat die totale olifant, slurp en al, geken het. In haar had Langenhoven ’n bruisende oase. Nie dat sy familie, en sekerlik heelwat ander individue, nie ook aansienlik gehelp het om hom te onderskraag nie, maar vir my is dit heel duidelik dat Sarah Goldblatt se bydrae nooit ten volle na waarde en met die verdiende waardering geskat kan word nie.

In my soeke het dit tot my gekom dat CJ Langenhoven met die “beiteltjie” [45] wat hy vir ons geskep het, vir homself ’n olifant uit die klip gekap het. Vir my is dit meer as net ’n vermoede dat hy, kort voor sy dood, al die ontberings, eensaamheid, materiële gesukkel, kritiek, verguising vanweë jaloesieë, en gebrek aan erkenning van medereisigers langs die pad, opgeskort het. Hy het alles as tolgeld aanvaar, sodat sy olifant hom uiteindelik veilig deur “die poort” kon trek.

Maar laat ek hom self aan die woord stel:

Ag, arme, eensame, eensaamlydende siel! – langes die pad van die menslike geskiedenis, Goddank, staan daar, behalwe die Een Grote, ’n aaneenuitgestrekte reeks van kleinere Golgotha’s waar allerlei harlekyne: sieners, dinkers, leeraars, hervormers, martelaars, profete, kunstenaars, wetenskaplike navorsers, gekruisig is vir die heil van die mensheid. IN HOC SIGNO VINCES (Volhard en oorwin) – daar is geen ander weg van saligheid nie. [46]
Ter afsluiting wil ek probeer om, soos ek aan die begin van my praatjie beloof het, vir u te illustreer wat Schopenhauer bedoel het met sy bewering dat alle kuns die stand van musiek nastreef.

Ek dink dat Langenhoven dit ten volle reggekry het, en is dit dan ook vir my ’n voorreg om aan hom hulde te bring met een van die heel mooiste kunsliedere wat hy vir ons in Afrikaans geskep het:

Lam-tie-tie, dam-tie-tie, doe-doe my liefstetjie,
moederhartrowertjie, dierbaarste diefstetjie!
Luister hoe fluister die wind deur die boompietjie.
Heen en weer wieg hy hom al oor die stroompietjie.
"Doe-doe-doe, bladertjies, slapenstyd nadertjies.
Doe-doe-doe blommetjies, nag is aan't kommetjies",
so sing die windjie vir blaartjies en blommetjies.
Bo in die bloue lug flikker die sterretjies,
hemelse brandwaggies, lampies van verretjies,
wakend oor windjies en wolkies en stroompietjies,
wakend oor mensies en diertjies en boompietjies:
"Wees maar gerustetjies, slaap maar met lustetjies!"
So sing die sterretjies, stilletjies, verretjies,
vuurvliegies, lugliggies, ewige sterretjies!
Onskuldig ogies en voetjies en handetjies,
wie weet hoe ver moet my kleintjie nog ganetjies!
Ver deur die wêreld se kronkels en gangetjies,
bly tog maar kleintjies en bly dit maar langetjies.
Bly maar by moedertjie, kindlief se hoedertjie.
Slaap in haar arrempies, saggies en warrempies;
doekies dan, doekies in moeder se arrempies!
Voetnote

1. CJ Langenhoven. Ons weg deur die Wêreld II. Versamelde werke Deel X p 260. Nasionale Pers Beperk, 1942.
2. CJ Langenhoven. Ons weg deur die Wêreld II. Versamelde werke Deel X p 260. Nasionale Pers Beperk, 1942.
3. Herbert Read. The Meaning of Art. Faber &Faber, Londen, 1931.
4. Herbert Read. The Meaning of Art. Faber &Faber, Londen, 1931.
5. Julien Green. Partir avant le jour – To leave before dawn. Peter Owen, Londen, 1967.
6. Ananda Coomaraswamy. Selected Papers; Samvega: Aesthetic shock en Traditional Art and Symbolism, Princeton.
7. CJ Langenhoven. Die Skepper as Kunstenaar, uit Aan Stille Waters 1. Essays uit Versamelde Werke. Nasionale.
Boekhandel Beperk, Kaapstad, 1955.
8. CJ Langenhoven. Die oproep tot verheerliking, in Die Opdraende Pad, VW Deel X.
9. CJ Langenhoven. U Dienswillige Dienaar: Bloemkolk se Onderwys, VW Deel XII (p 255).
10. CJ Langenhoven. Die oproep tot verheerliking in Die Opdraende Pad, VW Deel X.
11. CJ Langenhoven. U Dienswillige Dienaar : Bloemkolk se Onderwys, VW Deel XII (p 255).
12. The Shorter Oxford English Dictionary on Historical Principles, Oxford University Press 1973.
13. The Oxford Dictionary, Oxford University Press, 1973.
14. Hazrat Inayat Khan, The Sufi Message. Art: Yesterday, Today and Tomorrow, East-West Publications, 1979.
15. CJ Langenhoven. Hoe om te skrywe. VW Deel X11 (p 181) Nasionale Boekhandel Beperk, 1955.
16. CJ Langenhoven. Die wording van ’n skrywer. U Dienswillige Dienaar, VW Deel XII (p 195), Nasionale Boekhandel Beperk, 1955.
17. Die Bybel. Die Spreuke van Salomo. Hoofstuk 8. Hersiene Uitgawe, 1953.
18. CJ Langenhoven. Beweging. Ons weg deur die Wêreld. VW Deel IX (p 88).
19. Arthur Koestler. The Act of Creation. Pan Books Ltd. Londen, 1970.
20. Arthur Koestler. The Act of Creation. Pan Books Ltd. Londen, 1970.
21. Arthur Koestler. The Act of Creation. Pan Books Ltd. Londen, 1970.
22. CJ Langenhoven. Langs Stille Waters I, Onder die Eike (p 309) VW Deel IX.
23. Arthur Koestler. The Act of Creation. Pan Books Ltd, Londen, 1970.
24. Hennie Aucamp. Gekaapte Tyd, Tafelberg, 1996.
25. CJ Langenhoven. Brief van die Harlekyn; Aan Stille Waters I, Essays uit Versamelde Werke, Nasionale Boekhandel Beperk, 1955.
26. JC Kannemeyer. Geskiedenis van die Afrikaanse Literatuur, Academica, Pretoria en Kaapstad, 1978.
27. CJ Langenhoven. Beweging. Ons weg deur die Wêreld. VW Deel IX (p 88).
28. CJ Langenhoven, Opsomming en slot. U Dienswillige Dienaar. VW Deel XII (p 422), 1955.
29. NP van Wyk Louw. Berigte te velde (1939), Versamelde Prosa, Deel I, Tafelberg, 1986.
30. CJ Langenhoven. Die Opdraende Pad. VW, Deel X.
31. Wium van Zyl. "Van Lebak tot Oudtshoorn: Langenhoven en Multatuli. Vierde Langenhoven-gedenklesing", KKNK, Oudtshoorn, 2005.
32. Francis Bacon. The Advancement of Learning, Oxford University Press, MDCCCXCI.
33. CJ Langenhoven: Beweging: Ons weg deur die Wêreld. VW Deel IX (p 86), 1955.
34. Arthur Koestler. The Act of Creation. Pan Books Ltd., Londen, 1970.
35. CJLangenhoven. Die weg van ons Saligheid: Ons weg deur die Wêreld III VW, Deel X (p 241).
36. Die Bybel: Johannes 1 verse 1–4: Hersiene Uitgawe, 1953.
37. John Davidson. A Treasury Of Mystic Terms, GPS Bhalla, Secretary Science of the Soul Research Centre, Radha Soami Satsang Beas, Nieu-Dehli, Indië, 2004.
38. Huzur Maharaj Sawan Singh. Philosophy of the Masters (Abridged), Sewa Singh, Secretary Radha Soami Satsang Beas, Indië, 1997.
39. Maharaj Charan Singh. Die to Live, SL Sondhi, Secreatary Radha Soami Satsang Beas, Pandjab, Indië, 1979.
40. Ananda Coomaraswamy. The Philosophy of Mediaeval and Oriental Art, Princeton University Press, 1977.
41. Ananda Coomaraswamy. The Philosophy of Mediaeval and Oriental Art (1938), Princeton University Press, 1977.
42. Ovid: Metamorphoses, Penguin Classics, 1995.
43. Eckhart Tolle. The Power of Now, Hodder & Stoughton, 1999.
44. NP van Wyk Louw. Raka, Nasionale Pers Beperk, 1943.
45. NP van Wyk Louw. Nuwe Verse, Nasionale Boekhandel Beperk, 1954.
46. CJ Langenhoven. Essays uit Versamelde Werke; Brief van die Harlekyn; Aan Stille Waters 1. Nasionale Boekhandel, 1955.

Bronne

CJ Langenhoven. Versamelde Werke, Nasionale Pers Beperk, 1942.

CJ Langenhoven. Essays uit Versamelde Werke, Nasionale Boekhandel Beperk Kaapstad, Pretoria, Johannesburg, 1955.

Herbert Read. The Meaning of Art, Faber & Faber, Londen, 1931.

Julian Green. Partir avant le jour – To leave before Dawn, Peter Owen, Londen, 1967.

Ananda Coomaraswamy. Selected Papers: Traditional Art and Symbolism, Princeton University Press, 1977.

The Shorter Oxford English Dictionary on Historical Principles, Oxford University Press, 1973.

Hazrat Inayat Khan. The Sufi Message, Art: Yesterday, Today and Tomorrow, East-West Publications, 1979.

Arthur Koestler. The Act of Creation, Pan Books Bpk, Londen, 1970.

Hennie Aucamp. Gekaapte Tyd, Tafelberg, 1996.

JC Kannemeyer. Geskiedenis van die Afrikaanse Literatuur, Academica, Pretoria en Kaapstad, 1978.

NP van Wyk Louw. Versamelde Prosa, Deel I, Tafelberg, 1986.

NP van Wyk Louw. Raka, Nasionale Pers Beperk, 1943.

NP van Wyk Louw: Nuwe Verse, Nasionale Boekhandel Beperk, 1955.

Wium van Zyl. “Van Lebak tot Oudtshoorn, Langenhoven en Multatuli”, Vierde Gedenklesing, KKNK, Oudtshoorn 2005.

Francis Bacon. The Advancement of Learning, Oxford University Press, MDCCXI.

Die Bybel, Hersiene Uitgawe, 1953.

John Davidson. A Treasury of Mystic Terms, GPS Bhalla. Secretary Science of the Soul Research Centre, Radha Soami Satsang Beas, Nieu-Delhi, Indië.

Maharaj Sawan Singh. Philosophy of the Masters (Abridged), Sewa Singh, Secretary Radha Soami Satsang Beas, Indië, 1997.

Maharaj Charan Singh. Die to Live, Radha Soami Satsang Beas, Pandjab, Indië, 1979.

Eckhart Tolle. The Power of Now, Hodder & Stoughton, 1999.

Marcus Aurelius. Meditations, vertaal deur Maxwell Staniforth, Penguin Books, 2004.

Die Mens Langenhoven: MPO Burgers, Nasionale Pers Bpk, 1939.

  • Rede gelewer 12 Augustus 2005

Eerste publikasie op LitNet: 7 November 2005

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address  

 

article

D.J. Opperman se laatwerk

Helize van Vuuren

Dié navorsing oor D.J. Opperman fokus op Celan, Dolosse van 1963 (spesifiek gefokus op “Vuurbees”), Opperman en N.P. Van Wyk Louw se digterlike mededinging, en op Opperman se twee soorte laatwerk wat nie inpas in enige bekende patroon van laatwerk soos beskryf deur teoretici nie.