SêNet-briewe | Letters

 
Christopher Hitchens: Mortality

Christopher Hitchens (1949-2011) het veral vanweë sy boek, God is not great (2007), bekendheid of berugtheid verwerf. Ek het nog nie op SêNet hierdie uiteensetting van Hitchens se ateïsme bespreek nie; net die politieke standpunte daarin (SêNet, 24.04.2012). Teen sy soort militante, dogmatiese, propagandistiese ateïsme het ek my al uitgespreek, maar nie teen ateïsme as sodanig nie (SêNet, 12.03.2010 en 1.07.2010). Met sommige van sy uitsprake het Hitchens religieuse gelowiges (doelbewus) aanstoot gegee.

Die werk van Hitchens wat ek wél omvattend bespreek het, is Hitch-22 (SêNet, 25 en 26.04.2012), wat in 2010 gepubliseer is. Dit is sy memoires, geskryf nadat hy met fatale slukdermkanker gediagnoseer is. Daarna is nog twee van Hitchens se boeke gepubliseer: Arguably (2011), versamelde joernalistieke werk, en Mortality (London: Atlantic Books, 2012), die onderwerp van hierdie skrywe. Hitchens en Martin Amis was bevriend. Op hierdie manier het Hitchens ook vir Kingsley Amis leer ken. Ek het by verskeie geleenthede na hierdie drietal op SêNet verwys.

'n Belangrike rede vir die publikasie van laasgenoemde drie boeke so kort na mekaar was blykbaar om Hitchens se oorlewende tweede eggenote (sedert 1991), Carol Blue, maar veral sy drie kinders se finansiële welvaart te bevorder. Die teks van Mortality bestaan uit 'n voorwoord deur 'n oud-kollega, Grayton Carter, agt kort hoofstukke deur Hitchens, gevolg deur Blue se nawoord. Die laaste hoofstuk bestaan uit aantekeninge van Hitchens. Sommige hiervan herhaal wat in die voorafgaande hoofstukke staan. Wat gebeur het, is dat die dood Hitchens ingehaal het voordat hy die werk kon voltooi. Die resultaat is 'n kort boek wat plaaslik in hardeband meer as R200 kos. Die e-boek kos $11.60. Min nuwe inligting word verskaf.

Hitchens vertel kortliks van sy kwale en behandeling. Hy vergelyk dit met die spreekwoordelike vark wat 'n houtbeen het omdat sy eienaars nie die moed het om meer as 'n stukkie van hom op 'n keer te eet nie. Hy erken dat sy slukdermkanker die gevolg van sy lewenstyl, 'n oormaat van rook en drank, is. Dit was ook sy pa se lot. By hom is daar nie selfbejammering of die slagoffersindroom nie. Die vordering van sy siekte word geskets. Hitchens was 'n goeie orator, maar sy stem het weggeraak. Hy het sy inkomste met joernalistieke werk verdien, maar hy het voorsien dat hy nie meer lank sou kon skryf nie. Net een geliefkoosde aktiwiteit, lees, sou oorbly. Uiteindelik is ook dit van hom weggeneem. Dit was die verloop van die gebeure in Hitchens se "Tumortown".

Hitchens het hom nie deur valse hoop laat mislei nie. Hy fabriseer die volgende anekdote: "My grandmother was diagnosed with terminal melanoma of the G-spot and they just about gave up on her. But she hung in there and took huge doses of chemotherapy and radiation at the same time, and the last postcard we had was from her at the top of Mount Everest" (Kindle 460). Hitchens spreek hom uit teen die kommersialisering van jou eie dood, bv Randy Pausch se Dale Carnegie-benadering in The last lecture (2008). Hy kon Mitch Albom se Tuesdays with Morrie [Schwartz] (1997) hierby gevoeg het. Hitchens is egter in hierdie opsig nie heeltemal onskuldig nie. 

Hitchens het onwrikbaar 'n ateïs gebly. Sommige van die religieuses aan wie hy aanstoot gegee het, het hom verblyf in die hel toegewens. Party sou hom graag selfs 'n ent verby die hel wou neem. Ander het vir hom gebid, enersyds vir sy bekering, andersyds bloot vir sy herstel. Ironies is die feit dat Francis Collins, die outeur van The language of God (2007), met wie Hitchens voorheen swaarde gekruis het, een van die medici is wat met sy genetiese ingenieurswese by sy behandeling betrokke was.

Gebed word soos volg gedefinieer: "A petition that the laws of nature be suspended in favor of the petitioner; himself confessedly unworthy" (K 307). Dan volg 'n redenasie kenmerkend van Hitchens: "The man who prays is the one who thinks that god has arranged matters all wrong, but who also thinks that he can instruct god how to put them right. Half-buried in the contradiction is the distressing idea that nobody is in charge" (K 317).

By Hitchens, 'n skerp waarnemer, is daar sinisme oor al die rate wat welmenendes aan hom gestuur het. Hy is ook sinies oor die soort kommentaar wat hy moet verduur. "How are you?" "I seem to have cancer today" (K 460). Hy meen dat daar etiketreëls vir kanker opgestel behoort te word. Hy vra tereg waarom daar van pasiënte verwag word om kanker te beveg, terwyl dieselfde nie oor ander siektetoestande, bv hartkwale, gesê word nie. Hierdie siektes is almal in dieselfde mate liggaamlik en kan nie weggewens word nie. "I don't have a body, I am a body" (K 469). Dikwels word beweer dat beproewing weens siekte 'n mens sterker maak. Hitchens se ondervinding is dat sy siekte hom al hoe swakker gemaak het. Lewensverlenging het "mattress graves" tot gevolg (K 676). Hy bevraagteken ook Elisabeth Kübler-Ross se teorie waarvolgens sterwendes deur vyf fases gaan: "from denial to rage through bargaining to depression and the eventual bliss of 'acceptance'" (K 173).

Die volgende gedig van Kingsley Amis word aangehaal: "Death has this much to be said for it: / You don't have to get out of bed for it. / Wherever you happen to be / They bring it to you - free" (K 598).

Johannes Comestor


Comments 1 Reaksies | 1 Comments
Delete Comment
avatar
Trienie
2013-01-18 @23:39

Johannes,

Sjoe - aangrypend. Dankie vir jou opsomming. Ek het dit geniet. Ekself glo natuurlik ook dat jy niemand moet verdoem met die hel. Hierdie oordeel is slegs God sin.

Dit is ook net die ateis wat sal redeneer: I dont have 'n body, I am 'n body. 'n Konsep wat heel anders vir die gelowige sal kom wat sal redeneer: Ek is gees, besit 'n siel en woon in 'n ligaam. Dit is ook net die Woord van God wat hierdie drie-dimensionele skeiding vir jou kan oopbreek.

Die ongelowige kan nie sy gees onderskei. Want dit is sluimerend en leef nie. En dit is jammer, aangesien die gees die sfeer is waar verhouding met 'n Godheid gebou word, en eintlik die mees eerbaarste is. Dankie jou moeite.

Trienie


 

   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address