ATKV-Skrywersalbum | Writers

 
Chris Pelser (1943–2007)

Sêgoed van Chris Pelser:

“In poësie moet elke woord gelade en geslyp wees. Geen ru kolle moet sigbaar wees nie. Boonop moet jy as digter jou eie stem vind.”

Oor kritiek in 1981: “Verantwoorde en verantwoordelike kritiek kan net goed doen. Ek het dit egter teen literêre sluipmoordenaars, diegene wat dink ’n graad in die letterkunde gee hulle outomaties ’n letterkundige jaglisensie. Maar soos politici, is skrywers voëlvry; enigeen kan jou ’n hou oor die kop gee as jy jou nek uitsteek.”

Oor sensuur: “Ek glo nie aan presensuur nie. ’n Mens skryf wat jy moet skryf en die meriete van jou werk moet die deurslag gee. Ook as uitgewer pas ek nie voorsensuur toe nie. As die boek die moeite werd is om te verskyn, dan moet ek en gee ek my onvoorwaardelike steun daaraan. Maar sensuur soos dit deesdae (in 1981) in ons letterkunde geld, is sinloos. Dit ontmoedig goeie skrywers saam met die sensasiesoekers.”

“Skryf is seker vir almal maar ’n soeke na iets. Na jouself miskien. Vir my is dit altans. Ek soek nog steeds. Die oomblik dat ek al die antwoorde ken, sal ek ophou. Maar dis nie vir ons op aarde beskore nie, glo ek.”

“Om ’n uitgewer te wees, sny na twee kante toe. Jy werk met manuskripte van wisselende gehalte. Oor sommige voel jy ek kan beter skryf as dit, en ander is so deksels uitstekend dat jy verhoogvrees kry en twyfel aan jouself. Aan die ander kant is jy so moeg gelees dat jy net eenvoudig nie wil werk wanneer jy by die huis kom nie.”

“As prosa my vrou sou wees, is die poësie my minnares. Ek het nie ’n persoonlike voorkeur vir een van die twee genres nie. In die ‘taal’ van die prosa voel ek my tuis; met die ‘woord’ van die poësie kan ek ligtelik flankeer, selfs ’n ernstige verhouding aanknoop.
Soos Bartho Smit [eenmaal] aan my gesê het toe ek hom hierna uitgevra het: ‘Doen wat jou hand vind om te doen.’ Daarom skryf ek ook jeugverhale. Aan die drama sal ek my hand egter nie sommer ligtelik waag nie. Daarvoor weet ek te min van die teater.”

Dink hy ’n skrywer het ’n sekere verantwoordelikheid? “’n Skrywer se taak is primêr om te skryf. Dat hy ’n sekere visie moet hê en oor profetiese gawes moet beskik, soos in die ou dae met Jan Celliers en Totius, byvoorbeeld, is vandag (in 1990) nie meer moontlik of geldig nie. Ek sien ’n skrywer as ’n waarnemer van dit wat besig is om rondom hom te gebeur. In dié sin is ’n skrywer sekerlik ook geskiedskrywer. Al is die optekening van sy annale deurspek met fantasie en dikwels verwronge beelde. Maar ’n skrywer is nie daar om oplossings op probleme te bied nie – eerder is hy ’n entertainer wie se primêre taak dit is om ’n goeie storie te skryf.”

Oor sy beheersing van Afrikaans, veral in sy kortverhale: “’n Skrynwerker is geen vakman as hy nie sy gereedskap kan hanteer nie. Dieselfde geld skrywers en die taal waarmee hulle omgaan. Dit is verstommend hoe baie Afrikaanse skrywers geen benul van en aanvoeling vir Afrikaans het nie.”

Gebore en getoë

Chris Pelser is op 24 Junie 1943 in Pretoria gebore. Hy het sy laerskoolloopbaan aan Grey Kollege in Bloemfontein begin. Daarna is hy na Kaapstad en toe Krugersdorp, waar hy in 1961 aan die Hoërskool Monument gematrikuleer het.

In ’n onderhoud met Henk Wybenga en André Scheepers het Chris gesê: “Ek het maar altyd met skrywery gepeuter, van kleins af. Op skool het ek altyd iewers in my agterkop die idee gehad ek gaan ook eendag ’n boek skryf.”

Chris se ma het hom van kleins af bedag gemaak op die gebruik van “suiwer” Afrikaans en hy het ook ’n Afrikaans-onderwyser in sy vroegste hoërskooljare gehad wat hom op taalkundige vlak goed onderrig het. ’n Ander onderwyser het later ’n belangstelling in die letterkunde by hom ontwikkel.

In sy standerd 8-jaar het Chris sy eerste kortverhaal aan Die Huisgenoot gestuur. “Ek was op pad boontoe en het reeds in hierdie vroeë jare visioene gesien van my naam bo-aan stories in tydskrifte en op boeke se buiteblaaie, en ek het drome oor blitsverkopers en allerhande ander wonderlike dinge gehad. Nodeloos om te sê: ’n paar dae later was daar ’n brief van Die Huisgenoot in die pos – saam met my afgekeurde manuskrip. Nou ja, ’n mens is nie altyd die eerste keer gelukkig nie, het ek gedink, en onverpoos my tweede poging aan hulle gestuur. En ook ’n derde. Ná die derde beleefde maar ferm weiering het ek gedink dis nou genoeg van dié soort bog. Ek het my skoolopstelle geskryf as en wanneer dit moet; verder sit ek nooit weer my hand op papier nie. Agter in my kas het ek ’n vergete rugbybal in die hande gekry. Terwyl ek dié ding in die agterplaas rondgeskop het, het ek ander drome begin droom: ek sou die beste heelagter in die land word. Dit was ’n heerlike droom, want ’n mens is nie onmiddellik met ’n onbereikbare werklikheid gekonfronteer nie. En ek sou nooit weer hoef te skryf nie ... Dit was die eerste keer dat ek my lier aan die wilg opgehang het.”

Verdere studies en werk

Na skool het Chris ’n jaar by die Departement van Justisie in die Staatsdiens gewerk, waarna hy as redaksielid van Die Transvaler in Johannesburg aangestel is. Hy het daarna in die redaksie van Sondagstem gedien en met die sluiting van dié Sondagblad het hy hom in 1968 as subredakteur by Die Vaderland aangesluit.

Terwyl hy by Die Transvaler gewerk het, was hy op ’n stadium nie meer bloot tevrede om koerantstories te skryf nie. Die ou begeerte na die woord het weer in hom begin woel en dié slag was hy darem al 22 jaar oud en het hy daagliks saam met moord en doodslag gelewe en “wis ek ook al so iets van die lewe”.

“Ek het ’n groen draagbare Olivetti op skuld gekoop en verbete begin skryf. Wanneer ek nie gewerk het nie, het ek geskryf. Saans het ek haastig geëet, glad nie uitgegaan nie en net geskryf. Hierdie skryfwoede was ’n uiters vrugbare tyd in my lewe. Sommige naweke het ek tot veertig bladsye geskryf. Die eindproduk was ’n manuskrip wat uit twee novelles bestaan het. Weer eens het ’n skryfsel van my op ’n redakteur se tafel beland – die keer dié van Tafelberg-uitgewers se fiksieredakteur. Weer eens het ek dit terug ontvang. Die nuus was verpletterend: die eerste novelle het glo belofte getoon, maar die tweede een was so benede peil dat die keurder hom nie eers daaroor wou uitlaat nie. ‘Maar werk aan die eerste een. Dit toon baie belofte en daar kan iets van kom.’ Later sou ek uitvind wie die keurder was: Jan Rabie. En nog later sou ek hom baie dank verskuldig wees vir die raad van oorskryf.

“Voorlopig sou ek dit egter nie doen nie. Ek het begin twyfel aan my vermoë om werklik te kan skryf. Boonop was my groen tikmasjien gaar getik en ek was keelvol. Dit was die tweede keer dat ek my lier aan die wilg opgehang het.”

Hy het besluit om in die regte te studeer en het aan die Universiteit van Suid-Afrika ingeskryf vir die graad B Iuris. In 1974 het hy die graad voltooi. Hy het hom daarna by ’n prokureursfirma op die destydse Warmbad (vandag Bela Bela) aangesluit en hom op Nylstroom (Modimolle) gevestig.

Chris het later sy meestersgraad in Afrikaans cum laude aan die Universiteit van Pretoria behaal. Hy was subredakteur van die vrouetydskrif Rooi Rose en daarna uitgewer by Van der Walt Uitgewers, Perskor en Jutalit, waarna hy as taalpraktisyn gewerk het.

As uitgewer het Chris bevrediging daaruit geput dat hy in die posisie was om jong skrywers te help. Volgens hom was daar so baie jonges wat skryf, party goed, ander middelmatig, maar in die meeste gevalle word hulle dikwels deur kritiek vernietig. “’n Geslag kan maar een Opperman hê, een Van Wyk Louw. Dit wil mos dan nie sê dat die ander skrywers nie ook moet skryf nie, nie ook kan publiseer nie. Ons moenie daardie inisiatief doodsmoor nie. Miskien het ek deernis met jong skrywers omdat ek as uitgewer self skryf en weet van die vertwyfelings en hoop wat jy vir jou manuskrip koester.”

Hy is in 1968 met ’n musiekonderwyseres, Elza Combrinck, getroud en drie kinders, Anelle, Christo en Carla, is uit die huwelik gebore. Chris en Elza is geskei toe Carla ’n baba was en hy is met die bekende skryfster van liefdesverhale, Ettie Bierman, getroud. Na sy egskeiding van Bierman is hy met die digter en skrywer Marié Blomerus getroud.

Nadat Chris in 1971 met Die gekruisigdes by Pluim-boeke gedebuteer het, het hy met Engel op die stofpad in 1972 op die Afrikaanse letterkundige toneel verskyn. Chris het in sy laai gekrap en op die afgekeurde manuskrip van vroeër afgekom. Hy het met groot verwondering die afgekeurde manuskrip gelees en het net ’n gevoel gekry dat hy iets van die manuskrip kan maak as hy Jan Rabie se voorstelle verwerk.

“’n Nuwe skryfwoede het my beetgepak. Dié keer het dit pynlik stadig gegaan. Ek het elke sin tot tien keer oorgelees, elke woord geweeg, elke situasie oorweeg, en gewerk en nogmaals gewerk. ’n Jaar later was ek klaar. Die tweede novelle het heeltemal verdwyn. Die eerste novelle is uitgebou tot ’n korterige roman. Die titel daarvan: Engel op die stofpad. Die tema: ’n matriekseun in ’n kloosterskool wat op sy jong nonne-onderwyseres verlief raak. I thought it was beautiful. Die bestemming van my boek: APB.”

Dit is egter weer afgekeur, omdat die uitgewer geen ander mark as die skoolvoorskryfmark in gedagte gehad het toe hy dit gelees het nie. Tafelberg Uitgewers het die manuskrip met enkele wysigings wat niks met die inhoudelike te doen gehad het nie, aanvaar en dit was ’n tyd lank voorgeskryf by die Johannesburg College of Education.

Oornagroem was Chris egter nie beskore nie. Daar was positiewe en selfs goeie resensies, maar die boek het nie so goed verkoop nie. Hy het dadelik aan ’n nuwe roman begin werk, maar het daarmee gesukkel en ’n eerste voorlopige weergawe het “in die stof gebyt”. ’n Beroepsverandering het die skryf van die roman verder bemoeilik.

Chris het intussen ook sporadies gedigte begin skryf. Vir hom was dit ’n “vreugdevolle, maar ook pynlike ervaring”. Die Afrikaanse poësie het in die 1970’s ’n bloeitydperk belewe en hierdie genre het baie vinniger “wasdom” bereik as die prosa en drama. Daar het dus baie bundels verskyn, maar dit was nie maklik om te debuteer nie. Chris se eerste verse het meestal in literêre tydskrifte, veral Tydskrif vir Letterkunde, verskyn. ’n Eerste bundelpoging is afgekeur en hy het gou besef dat die skryf van poësie ’n ander tipe dissipline vereis as die skryf van prosa. Destyds was Elize Botha redakteur van Tydskrif vir Letterkunde en dit is hoofsaaklik as gevolg van haar aanmoediging dat Chris aan ’n bundel begin dink het.

Chris se skrywerspad het hom egter nou in aanraking gebring met wat hy noem “’n gelukkige en vreugdevolle medium wat as ’t ware in my skoot geval het”, naamlik die jeugverhaal. Die destydse jeugtydskrif Patrys het hom gevra om ’n verhaal vir hulle te skryf. Hy het toe ’n atletiekstorie geskryf. Hy het jare later in hierdie storie die kiem van ’n langer verhaal gesien. Omdat hy toe reeds ’n raamwerk gehad het wat gewerk het, het hy gaan sit en die storie langer geskryf. Na ’n maand was hy klaar. En só is Die ander wenpaal gebore. Dit was die beste verkoper van al die boeke wat hy geskryf het.

Hoor hoe sing die reënboog is nog ’n jeugboek van Chris wat in 1983 verskyn het, met ’n herdruk in 1987 en ook ’n Engelse vertaling.

’n Jaar later het daar nog ’n jeugverhaal van Chris verskyn, onder die titel As pa eendag huis toe kom. Hierdie verhaal het geen voorafgaande vorm gehad soos wat met Die ander wenpaal die geval was nie. “Ek het net bloot agter my tikmasjien – toe darem al ’n elektriese model – gaan sit en die boek geskryf.”

Intussen het die manuskrip van die digbundel waaraan hy gewerk het, goed gevorder en in 1979 is Die uur van die aap gepubliseer. Poësieskryf was vir Chris ’n lang en stadige proses wat gewoonlik deur een of ander persoonlike emosie oorheers is.

Vir Joan Hambidge was daar iets hinderlik swaarwigtig én pretensieus aan Die uur van die aap. Die meeste verse in die bundel is geknel deur verhewe mitologiese verwysings en ’n onhebbelike woordrykheid, meen sy. Andreij Horn het gevoel dat die apokaliptiese grootspraak in Die uur van die aap te dikwels afbreuk gedoen het aan die egtheid van die poëtiese visie.

Chris se volgende roman was Die dood van ’n droster, wat in 1980 uitgegee is. Sy werkswyse hiermee was heeltemal anders as met Engel op die stofpad. Hy het hier ’n basiese idee gehad van wat hy wou sê en hy het op bladsy een begin en by die laaste bladsy opgehou. Die roman was egter nie onmiddellik reg nie. Hy moes skaaf en slyp en sekere drade bymekaartrek. Dit het Chris byna ses jaar geneem om die roman klaar te maak en dit is vier of vyf keer in sy geheel oorgeskryf.

Die dood van ’n droster is die verhaal van Jan Smit wat in ’n militêre hof moet verduidelik waarom hy gedros het. In sy sel beleef hy weer die drie krisisdae wat sy gevangeneming voorafgegaan het. Kritiek op die boek was uiteenlopend, met een resensie wat gemeld het dat dit geslaag is as ’n roman met ’n satiriese toonaard.

Sewe jaar na sy eerste digbundel, Die uur van die aap, is Chris se tweede bundel, Afro-ditto, gepubliseer. Vir Joan Hambidge verteenwoordig hierdie tweede bundel ’n gewisse vooruitgang op die eerste. Soos die titel suggereer, is dit ’n intellektuele spel met die liefde (Afrodite is die Griekse godin van die liefde).

Die breuk in die titel, Afro (suggereer liefde/Afrodite) en ditto (Latyn vir herhaling/dieselfde), kondig volgens Hambidge ook ’n skisma aan wat hom in hierdie bundel voltrek, naamlik tussen dit wat die persona ervaar en die inkantiewe herhaling van die liefde se naam in vers na vers. Hoewel die bundel klein in omvang is, getuig dit van poëtiese ontwikkeling. Soms word ’n gedig nog bederf deur ’n té swoele aanslag, ’n verbete poging om poëties te klink, maar op sy beste is Chris Pelser se Afro-ditto ’n leesbare bundel.

In 1990 het HAUM-Literêr Chris se volgende roman, Don de Ridder, gepubliseer. Chris het aan Theunis Engelbrecht vertel dat dit handel oor die klein “heldedade” van ’n hedendaagse Don Quichote wat Suid-Afrika saam met sy swart agterryer deurkruis. Aanvanklik is sy soektog dié na ’n vrou wat hom verlaat het, maar later word dit ’n meer universele soeke na dit wat werklik sin in die lewe gee en, uiteindelik, ’n soeke na die eie self wat op niks uitloop nie.

“Soos Cervantes in sy groot werk afgereken het met die avonture en die wonderwêreld van die Middeleeuse ridderromans, wou ek in my satire hekel en ’n wêreld ontheroïseer wat nie meer mites waardig is nie, ’n wêreld waarin ’n eietydse ‘ridder’ op sy seëvierende kruistog reeds by voorbaat deur die motorfiets as voertuig tot die burgerlike verklein word,” het Chris vertel.

In Don de Ridder verskyn daar redelik skerp satire. Hieroor sê Chris: “Dat die satire in my roman opvallend mag wees, waardeer ek. Dit is immers waaroor die hele teks gaan. En, nee, dit is nie ’n nuwe rigting vir my nie. In my debuutroman, Engel op die stofpad, het ek reeds gevoel-voel aan die satire, in toenemender mate in my tweede roman, Die dood van ’n droster. Sommige van my verse staan ook in die teken van die satire. Maar miskien is Don de Ridder my eerste werklike deurbraak.

“Dat daar moontlik vergelykings tussen my werk en dié van Etienne Leroux getref sal word, is jammer - aan die ander kant is dit seker onvermydelik. Beide van ons was of is deur dieselfde mites geïnteresseer. Dat hy ’n voorganger van my is, is seker waar. Maar hy had ook sy voorgangers, al is dit dan nie in Afrikaans nie - Jung, byvoorbeeld. En die klassieke skrywers. Ek het, miskien nie aanvanklik doelbewus nie, ’n intertekstuele gesprek met Leroux aangeknoop. ’n Leser van my werk het onlangs teenoor my opgemerk: ‘Don de Ridder begin waar Onse Hymie opgehou het.’ Ek sal ook toegee dat ek Magersfontein, o Magersfontein! in my teks betrek het. Maar dit was so bedoel. En as ek dit bereik het, is ek dankbaar daarvoor.”

Soos in Die dood van ’n droster het Chris met Don de Ridder ’n basiese idee gehad van wat hy wou sê, maar in hierdie geval het Cervantes se Don Quijote ’n basiese raamwerk vir Chris se verhaal voorsien. Maar sy eie Don en sy agterryer moes hul eie tog aanpak en vanaf bladsy een tot die einde self hul pad vind. “Die voordeel van so ’n procédé,” vertel Chris, “is dat die skrywer nooit werklik weet wat vooraf gaan gebeur nie. Die verhaal skryf hom dus self, en uiteindelik word die skrywer ’n karakter in sy eie verhaal. Dit is miskien juis as gevolg van al hierdie elemente en veral hierdie prosedure dat ek van al my boeke dit miskien die meeste geniet het om Don de Ridder te skryf.

“Hierdie prosedure werk nie altyd nie. Daarom is dit in my geval dan ook so dat die tema van my stof nie net die medium nie, maar ook die skryfprosedure bepaal.”

Die kritici het verskil oor die meriete van Don de Ridder. Die indruk wat dit by Joan Hambidge gelaat het, was een van tamheid en die teks mis die dwingendheid van ’n Etienne Leroux-teks. By Pelser bly die boodskap sielig en is die swart agterryer se gesprekke ongeloofwaardig, want selfs binne die opset van ’n satire moet mense nogtans oortuig. Die hiperbool vergewe nie swak karaktertekening nie. Die teks is onbeholpe en dit het veral te make met die ruwe aanslag of toon daarvan. Ook is dit afgesaagd, wat die oersonde van die letterkunde is, asook voorspelbaar, wat die doodsonde is.

JC Kannemeyer was baie meer positief. Hy het sy bespreking in Die Burger as volg afgesluit: “Met hierdie indrukwekkende werk lewer Pelser iets nuuts na die reeks romans van sy groot voorganger (Leroux) en skep hy nuwe moontlikhede vir die Afrikaanse romankuns in die tragiese vakuum wat die dood van Etienne Leroux gelaat het.”

In Zuid-Afrika het Hans Ester geskryf: “Don de Ridder is meer dan alleen een boek dat een roman van Etienne Leroux nog eens dunnetjes wil overdoen. Het is in laatste instantie een poging om de literair gevormde lezer die dit alles moeiteloos in literair-historisch verband weet te brengen, te overtroeven. Met wat? Ik denk, met een groteske ervaring dit dicht bij de werkelijkheid van Zuidafrika staat.”

Ia van Zyl het gemeen dat Pelser as skrywer wel deeglik kán, maar dat waarop presies hierdie teks afstuur, die leser ontwyk.

’n Belangrike ooreenkoms tussen Don de Ridder en Don Quichote het te doen met die deureenspeling van fiksie en werklikheid, van kuns en lewe, volgens Etienne Britz. Don Quichote interpreteer die wêreld in terme van sy storieboeke. So het Cervantes ’n tipies moderne tema in verband met die menslike psigologie – naamlik dat die wêreld “getekstualiseer” ervaar word, dat die lewe deur die kuns gevorm of voorgespieël word – aan die orde gestel.

Pelser neem hierdie tema en ontwikkel dit vir satiriese doeleindes in ’n radikaal-postmodernistiese rigting. Die twee hoofkarakters in Don de Ridder weet dat hulle fiktiewe figure is wat in ’n geskrewe wêreld leef. Maar op hulle bisarre soektog na Dulsie en haar verleier ontmoet hulle juis persoonlikhede uit die empiriese werklikheid, veral Afrikaanse skrywers soos Etienne Leroux. Hierdie deureenspeling van ekstreem-selfbewuste fiktiwiteit en herkenbare werklikheid groei dan uit tot ’n soort draakstekery met die postmodernisme en met die Afrikaanse tagtigerroman. Don de Ridder voer ’n kenmerkende spel van die postmodernisme so ver dat die “waansin” daarvan as ’t ware laggend gedemonstreer word.

Maar, skryf Britz, daar is ’n probleem met hierdie tegniek, aangesien ’n mens tot die kontemporêre gemeenskap van Afrikaanse skrywers en letterkundiges van daardie jare moes behoort het om die skrywer se toespelings te kan volg. Volgens Britz is Pelser ’n geroetineerde skrywer en ’n vlot verteller, maar dit hang van die smaak van die leser af of die boek as grappige en grillige fantasie slaag.

Hettie Scholtz se uitgewery, Queillerie, se eerste boek wat hulle in 1991 uitgegee het, was Chris se bundel kortverhale, Soveel nagte plotseling. Vir Chris was dit ’n nuwe genre, maar dié een wat dalk sy ideale medium kon word. “Ons leef in ’n gejaagde lewe en ofskoon lang, uitgesponne romans skielik aan die orde van die dag is, voel ek deesdae ’n mens moet kort en klaar jou storie vertel. Uit en gedaan,” het Chris aan JC Kannemeyer vertel.

En hy het gevoel dat daar wel ’n verband tussen sy poësie, romans en kortverhale is. “Dikwels kies ’n tema self die medium. Wat in ’n gedig slaag, slaag nie noodwendig in ’n roman nie. En ook die kortverhaal het sy eie eise. Verbande is daar egter wel, hoofsaaklik tematies. Ook in my kortverhale is daar sprake van die liefde en reise, soos veral ten opsigte van my poësie.”

Die bundel se ontstaan is grootliks bepaal deur omstandighede buite Chris se beheer. ’n Uitgewer het hom gevra om ’n bydrae te lewer vir ’n kortverhaalbundel wat hulle wou uitgee. Sy eerste reaksie was dat hy nie ’n kortverhaalskrywer is nie, maar dat hy dit sou oorweeg. Hy was nie werklik van plan om ’n bydrae te lewer nie, veral vanweë sy ongelukkige herinnerings aan Die Huisgenoot jare gelede.

“’n Maand of wat later het ek een nag ’n droom gehad wat my bygebly het. Ek het gevoel ek moet iets daarvan maak, maar dit het in geen medium wat ek normaalweg beoefen, ingepas nie. Toe dink ek daaraan: die stof kies die medium; nie andersom nie. Ek het gaan sit en ’n kortkortverhaal oor my droom geskryf. Die titel daarvan was “Die skoene”. Die samestellers van die betrokke bundel het my verhaal aanvaar. Later het ek weer oor my storie gedink. As kortverhaal was “Die skoene” sekerlik afgerond, maar daar het nog iets gekort. Hierdie storie was nog nie klaar vertel nie.

“’n Rukkie het ek dit oorweeg om die storie uit te bou tot ’n novelle, maar besef dat ook dit nie sou werk nie. Die enigste oplossing was nog ’n kortverhaal om as ’n teenhanger vir ‘Die skoene te dien. Sodoende is die tweede verhaal, “Laatsomerdroom”, gebore. Nog was die gegewe nog nie heeltemal afgerond nie, en ’n derde verhaal, “Niks is ooit fiksie nie”, het ontstaan. Hierdie drie verhale het ’n eenheid gevorm en is as ’n trilogie in Kort-kort opgeneem.

“My loopbaan as kortverhaalskrywer kon net sowel hier geëindig het, want ek het in hierdie drie kortverhale alles gesê wat ek wou sê. Só het ek altans gedink. Die basiese gegewe in die drie verhale het by my bly spook. Al hoe meer moontlikhede het hulleself voorgedoen, al hoe meer intriges kon ontgin word. En die beste manier om dit te doen, het dit later geblyk, was om nie chronologies te werk nie. Sodoende kon een verhaal ’n spieël word waarin die ander verhale beelde van hulleself weerkaats. Maar steeds moes elke verhaal as kortverhaal op sy eie voete staan.

“Met hierdie selfopgelegde opdrag het ek toe aan die res van die verhale in Soveel nagte plotseling begin werk, en ook nie noodwendig in ’n chronologiese volgorde nie. Die finale ordening van die verhale het eers op die laaste geskied. Die eindproduk was toe nie slegs ’n bundel met kortverhale nie, maar ’n bundel wat soos ’n novelle gelees kan word. Die verhale pas in mekaar, skuif oormekaar en sluit deurentyd by mekaar in.”

Die titel van Soveel nagte plotseling is ’n vervorming van ’n reël uit ’n Paul Éluard-gedig, “Le front couvert”. Die betrokke reël lui: “Hoeveel nagte plotseling” en wat daarop volg. Chris het dit verander na Soveel nagte plotseling, omdat dit tematies op feitlik al die verhale in die bundel betrekking kan hê. Hy het ook ’n strofe uit hierdie gedig van Éluard as een van die motto’s in die bundel gebruik. In die verhale kom die liefde en die erotiese sy daarvan dikwels ter sprake – en dis iets wat veral snags aan die orde kom. Daarom dan die woord nagte.

In Soveel nagte plotseling het Chris in die loop van sy verhale baie gebruik gemaak van literêre verwysings, soos na Kundera en Éluard in die motto’s van die bundel, en na Eliot, Conrad, Opperman en Marié Blomerus. Oor die funksie van hierdie verwysings en die wyse waarop die tekste van ander skrywers op sy verhale inspeel, het Chris aan Kannemeyer gesê dat elke mens die produk is van sy eie lewe, miskien ook van dit wat dit voorafgegaan het. “Daarom het alles wat ’n mens lees betrekking. En omdat geen mens werklik uniek is nie, is dit interessant om na te gaan hoe ander mense, veral skrywers, met dieselfde probleme as jy geworstel het en tot watter insigte hulle gekom het.

“Indien dít sinvol van toepassing op ’n mens se eie werk gemaak kan word, is dit ’n bate, maar basies worstel elke skrywer daagliks met sy eie probleme en verwerk hy sy vreugdes en vrese op sy eie manier.”

Die motto’s en aanhalings het hy versigtig gekies en elkeen van hulle het betrekking, hoe ook al, op sy teks. Maar hy hoop dat die teks bowenal vir homself sal spreek: “Anders kon ek net sowel nie skeppend geskryf het nie, maar eerder ’n soort handleiding bestaande uit aanhalings uit ander mense se werk, insluitend jou eie.”

Chris het gevoel dat al die verhale in die bundel met mekaar verband hou. Dit is egter ook so dat die verhale kruis en dwars en heen en weer gelees moet word ten einde eindelik en hopelik ’n volledige geheel te verkry. In daardie sin vertoon sy verhale novellistiese trekke. Tog sou hy graag wou sien dat elke afsonderlike verhaal vir homself moet spreek en ’n skepping van sy eie moet wees. “Ek sou graag wou hê die leser moet uiteindelik die boek as geheel onthou, nie net hier en daar ’n enkele kortverhaal nie.”

Kannemeyer het gemeen dat die basiese gegewe in die verhale dié van ’n man tussen twee liefdes is (’n ou gegewe in die letterkunde) en wou weet in watter opsig Chris se bundel ’n nuwe toevoeging tot hierdie geykte gegewe is. Chris het saamgestem dat die driehoekverhouding ’n baie ou konvensie in die verhaalkuns is, maar dat daar haas geen nuwe temas in die letterkunde is nie en dat al wat bly, die proses van skep en herskep is.

“Miskien is dit wat ek hier probeer doen het – om nuwe lewe te probeer gee aan ’n eeue-oue konvensie. In die proses van skryf en herskryf, kom ’n mens dalk tot nuwe insigte en waarhede. Tragiek is so oud soos die mens self. Dit hang seker alles daarvan af hoe ’n mens dit beskou. En dan wil ek darem ook byvoeg hierdie bundel kortverhale gaan om meer as net ’n sogenaamde driehoekverhouding. Ek is reeds in die verlede ’n betrokke skrywer genoem – ek hou nie van dié woord nie – maar dit gaan hier ook om meer ‘betrokkenhede’ as die opvallende liefdesdriehoek. Byvoorbeeld ’n politieke soort betrokkenheid al gaan dít dan ook net daarom om in ’n soort geestelike ‘noodtoestand’
te oorleef.”

In die verhale is daar telkens terugkerende motiewe, soos die bad, prop en skoene en die kontras tussen die geweld in Praag en Suid-Afrika. Kannemeyer wou weet hoekom Praag, en wat die funksie van dié sirkulerende motiewe is.

Chris het geantwoord: “Daar is al gesê Praag is die moeder van alle stede. Miskien juis daarom, want die mens soek altyd na ’n bron of ’n oorsprong. En dan Suid-Afrika andersyds. Vir my, juis omdat ek hier en nêrens elders nie, woon, is dit die keersy van die munt. Hier lê my lot en dalk ook my noodlot. Hier is my begin en moontlik my einde. Hier moet ek leef en oorleef. Daar is ook ander raakpunte, die Praagse Lente van 1968,
byvoorbeeld, teenoor die onlangse (vroeë 1990’s) noodtoestand en die huidige situasie in die nuwe Suid-Afrika. Maar tog ... Die terugkerende motiewe? Miskien ’n kwessie van perspektiefverskuiwings.

“Verskillende mense – ook karakters in ’n boek – heg verskillende waardes aan simbole. En mense reageer verskillend op een en dieselfde impuls. Ek sal dit aan die kritici oorlaat om betekenis aan my verskillende simbole te gee, maar as ’n skrywer is dit my taak om toe te sien dat my karakters elk op sy of haar eie manier reageer.

“Ook het ons in hierdie verhale met verskeie ek-vertellers te doen en elkeen kyk met ’n bepaalde oog na die lewe rondom hom. Water kan vir een mens ’n reinigingsproses vergestalt, vir die ander hou dieselfde simbool ’n bedreiging in.”

Die karakters in die verhale word slegs aangedui as ’n manlike C, H met wie hy getroud is, en M, met wie hy ’n verhouding het. Die gebruik van voorletters om ’n karakter aan te dui, is ook ’n ou tradisie in die literatuur en op die vraag of hy met hierdie benoemings ’n sfeer van outentisiteit wou skep, het Chris geantwoord: “Wat is in elk geval in ’n naam? Nee, ek wou niks meer bereik as om slegs my karakters te noem en te benoem nie. Outentisiteit? Ja en nee. Enige verhaal behoort eg aan te doen. Dit het ek probeer bereik. Outentiek in die sin van waarheid of verdigsel? Laat die leser maar self oordeel. Die lees van ’n boek is ook vir die leser ’n avontuur soos wat dit vir die skrywer ’n avontuur was om dit te skryf.”

Indien ’n leser oor moraliteit en skurke wil lees, moet hy nie Soveel nagte plotseling aandurf nie, en indien hy buiteliterêr gaan lees, fouteer hy, want dié boek is ’n suiwer literêre verbeeldingsvlug.

Indien enigeen wel so ver sou gaan om die C-karakter te veroordeel, sou hy dié verhale buite konteks lees en buitendien ook die ander twee karakters moet betrek. In hierdie verhale gaan dit nie om skuldig wees nie. Chris sou eerder sê dis aan ’n stuk tragiek wat gestalte gegee word en dus kan dit toegepas word op ander gebeure waarvan die leser kennis dra. Dit sal verwarring skep vir ’n leser wat net ’n storie wil lees, en daarby nog een wat op die werklikheid gegrond is. Verwarring is hier moontlik die sleutelwoord.

Vir Etienne Britz was Soveel nagte plotseling feitlik ’n nuwe genre: ’n reeks kortverhale wat byna soos die hoofstukke van ’n roman op mekaar volg en talle motiewe met mekaar deel. Die terugkerende voëlmotief is byvoorbeeld kenmerkend van ’n intertekstuele spel in die bundel wat Britz telkens verras en geprikkel het om weer ’n keer na te dink. As hy ’n punt van kritiek moes uitsonder, was dit dat die morbiede weekheid van die stemming in sommige verhale vir hom effens te sterk op die styl inwerk. Die styl is helder, maar dis plek-plek liries, effens dromerig, ’n styl van die gekoesterde verdriet. Die styl gee toe aan die stof, eerder as om die stof in bedwang te hou soos in ’n gedig van Elisabeth Eybers. Soveel nagte plotseling bly egter vir hom ’n besonderse kortverhaalbundel, ’n boek wat ’n mens minstens twee keer moet lees om te begin snap wat alles daarin opgesluit lê.

AP Grové het geskryf dat mens die bundel sou kon bestempel as die weergawe
van ’n liefdesgeskiedenis, ’n geskiedenis wat in verhaal na verhaal, soms met variasies, vertel word, telkens met ander aksente en uit ’n ander hoek belig. En tog gaan dit in die boek nie om aktualiteite as sodanig nie. Ook wil die bundel nie sonder meer die verloop van ’n liefdesgeskiedenis skets nie.

Wat hier van sentrale belang is, is die verhouding waarin die aktualiteit en die liefde, die brutaliteit en die teerheid, die openbaarheid en die intimiteit teenoor mekaar te staan kom – ’n konfliksituasie waarin die mens eintlik weerloos blyk te wees.

Juis hierin kry die verwysing na Éluard en die surrealisme wat ons in die titel opgemerk het, sin en funksie, want ’n belangrike faset van die surrealisme is juis dat werklikhede soms op die mees fantastiese wyses langs mekaar geplaas word. Hierdie hantering van surrealistiese elemente maak die bundel al klaar iets besonders.

Wat verder van belang is, is die wyse waarop die skrywer hier met herhaling werk, die terugkerende motiewe, die wyse waarop verhale op mekaar inspeel, mekaar komplementeer – faktore wat, saam met die benoeming van karakters, ’n bepaalde afstand verseker en aan die stukkie ’n bo-persoonlike, universele karakter gee.

Ter illustrasie van die skrywer se werkwyse bekyk Grové die eerste twee verhale, “Die skoene” en “Laatsomerdroom”, vlugtig. In die eerste stuk word gelees hoe die verteller se minnares (H) die een na die ander skoen uit haar groot versameling deur die venster na die verbytrekkende tenkkolonne slinger – ’n futiele gebaar waarmee sy niks bereik nie. Die skrywer bereik egter veel deurdat hy daarin slaag om hierdie skoene tot oortuigende simbool uit te bou – met die een skoen het sy die eerste keer gaan dans, met ’n ander paar het sy op ’n gelukkige moment langs die see gaan stap, met loopskoene het sy ’n onvergeetlike staptoer deur Griekeland en Spanje onderneem ... Kortom, dis ’n hele verlede van geluk wat nou onder die “rusperwiele van die T34’s” vertrap word.

Maar wanneer C se vrou die verhaal lees, “dring sy om begryplike redes daarop aan” dat die storie oorgeskryf word, en so kry ons dan die tweede verhaal, “Laatsomerdroom”, ’n stuk wat in hooftrekke ’n herhaling van die eerste een is.

Tog is dit ’n verhaal wat in gees totaal van die eerste een verskil. Ten spyte van sy titel het ons hier ’n antiromantiese teenhanger van die eerste een, ’n stuk wat met sy ander simbole nugter en ontnugterend aandoen. Tweelingverhale soos dié moet vir hul volle impak saamgelees word.

Vroeër is Pelser as romanskrywer en digter teengekom. Soveel nagte plotseling is sy eerste bundel kortverhale. Met sy besondere opset, sy gevoelige uitbeelding en sy sinvolle gebruik van literêre verwysings verteenwoordig dié bundel ’n gelukkige uitstappie op die gebied van die kortverhaal, skryf Grové.

In 1998 het Chris die lewensverhaal van Lane Flint getiteld Reënboog oor die vlakte geskryf. Dit vertel die verhaal van Lane Flint wat as ’n matriekseun op 13 April 1966 op die Hoërskool Clocolan se rugbyveld vir die Plaasspan teen die Dorpspan uitgedraf het. Die bal het in die Dorpspan se doelgebied beland en daar stil gelê. Lane, wat flank gespeel het, het rieme neergelê, geduik en die bal skrams geraak. Maar toe klap die slag in sy nek. En by wyse van spreke is dit waar Lane se wedstryd begin het. Een wat op bogenoemde galop tot op 25 Junie 1988 geduur het. Dit was die dag waarop hy met Alice getrou het, skryf Thys Uys.

Maar tussen daardie twee datums het Henry James Lane Flint sy matrieksertifikaat gekry, geleer om met ’n stokkie in die mond te tik (eers met ’n ou meganiese tikmasjien en later met elektriese masjiene), sy BA-graad met sielkunde as hoofvak aan Unisa behaal, nege boeke en baie, baie koerant- en tydskrifartikels geskryf. Die hele boek is ’n verhaal van iemand wat bo sy omstandighede uitgestyg het. Vir wie daar, half onverstaanbaar, steeds ’n glimlag in die lewe was, steeds dinge wat gedoen moes word, struikelblokke wat oorwin moes word, omstandighede wat moes verbeter, alleenheid wat ongedaan gemaak moes word.

Dis ’n storieboek oor ’n seun en sy ouers op ’n dorpie in die Oos-Vrystaat. ’n Seun wat weer moes leer om te sit, om sonder hande en bene klaar te kom, om elke dag deur ander mense versorg te word. ’n Jong man wat in die spinale eenheid in die destydse HF Verwoerd-hospitaal nuuskierig geraak het oor die moontlikheid van seks in sy lewe, en hoe hy en twee jong medepasiënte gekonkel het om meer hieroor uit te vind en hard moes werk om die inligting volledig in die hande te kry. ’n Storieboek waarin mettertyd ’n geestelike diepte ontstaan, wat die werklikheid van God en sy hedendaagse wonders baie reguit oordra. Die werklikheid van God se kommunikasie met ’n klein mensie wat Hom vertrou. Uys kon die boek nie neersit nie.

In Augustus 2007 is Chris oorlede nadat hy geruime tyd ongesteld was weens emfiseem. Hy het ’n broer, drie kinders en vyf kleinseuns agtergelaat.

Publikasies:

Publikasie

Die gekruisigdes

Publikasiedatum

1971

ISBN

(sb)

Uitgewer

Kaapstad: Pluim-boeke

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Engel op die stofpad

Publikasiedatum

1972

ISBN

062400127X (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Die ander wenpaal

Publikasiedatum

  • 1977
  • 1980
  • 1998

ISBN

  • 0799302783 (hb)
  • 0628036841 (sb)

Uitgewer

  • Pretoria: Van der Walt
  • Halfway House: Perskor

Literêre vorm

Jeugverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

As pa eendag huis toe kom

Publikasiedatum

1978

ISBN

0799303488 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Uur van die aap

Publikasiedatum

1979

ISBN

0628016719 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Die dood van ’n droster

Publikasiedatum

1980

ISBN

0628018150 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Hoor hoe sing die reënboog

Publikasiedatum

  • 1983
  • 1987

ISBN

0799307173 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Jeugverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engelse vertaling in 1985 deur Kagiso uitgegee

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

-

 

Publikasie

Afro-ditto

Publikasiedatum

1986

ISBN

0798119853 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Don de Ridder

Publikasiedatum

1990

ISBN

0798630698 (sb)

Uitgewer

Pretoria: HAUM-Literêr

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Soveel nagte plotseling

Publikasiedatum

1991

ISBN

0620161213 (hb)

Uitgewer

Somerset-Wes: Queillerie

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 


Publikasie

Reënboog oor die vlakte: die verhaal van Lane Flint

Publikasiedatum

1998

ISBN

1868921026 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Benedic

Literêre vorm

Biografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Artikels oor Chris Pelser beskikbaar op die internet:

 

Bygewerk: 2012-07-05
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address