ATKV-Skrywersalbum | Writers

 
Chris Lombard (1929–)
Gebore en getoë

Chris Johannes Lombard is op 21 Januarie 1929 op Heidelberg in die Wes-Kaap gebore, dieselfde omgewing waar sy Hugenote-voorouers aan vaderskant geslagte lank gewoon het. Sy ouma Lombard was ’n nooi Scott uit ’n familie wat oorspronklik van Skotland gekom het. Sy ma het uit die Van Wyks, die Du Plessis’s en die Janse van Rensburgs van die Klein Karoo gestam.

Chris het aan die Hoërskool Heidelberg gematrikuleer en die akteur Jannie Gildenhuys was vanaf standerd een (graad drie) een van sy maats en een van die mense wat ’n groot invloed op hom gehad het..

Verdere studies en werk

Na skool is Chris na die Universiteit Stellenbosch, waar hy sy BA-graad met Nederlands en Afrikaans en Duits as hoofvakke behaal het. Hy het ook ’n driejarige diploma in spraakleer en drama voltooi en sy Sekondêre Onderwysdiploma verwerf. Na voltooiing van sy voltydse studie het Chris sy honneursgraad in Afrikaans en Nederlands, sowel as sy M-graad in drama (albei aan die Universiteit Stellenbosch) ontvang.

In 1952 het Chris gaan onderwys gee (onder andere aan die St Martini Schule in Kaapstad) en is daarna as joernalis aangestel by Die Transvaler in Johannesburg. Hy het hom daarna tot die tersiêre onderwys gewend en was vanaf 1955 tot 1958 dosent in spraakleer en drama aan die Bloemfonteinse Onderwyskollege. Gedurende sy verblyf in Bloemfontein was hy baie aktief betrokke by die amateurtoneel en het hy, benewens radiowerk, ook self toneel gespeel en verskeie opvoerings geregisseer, onder meer vir die Teatergroep.

Ná Bloemfontein is Chris in 1959 na Europa, waar hy ’n jaar lank rondgereis het. In Hilversum het hy radiowerk gedoen, en het ook voordragprogramme oor die Afrikaanse letterkunde in Nederland en België aangebied. Hy het gereeld artikels oor kunsaangeleenthede vir WEG Louw se kunsblad in Die Burger geskryf. Saam met Jannie Gildenhuys en Cobus Rossouw het Chris in Londen baie toneelwerk gesien en is hy blootgestel aan ’n verskeidenheid teaterwerk, nie net in Londen nie, maar ook in Europa. Die drie van hulle het veral onder die invloed van Joan Littlewood se teaterstyl gekom. Hy het ook ’n tyd lank in Spanje gewoon en ’n besondere liefde vir die land ontwikkel – trouens vir die hele Latynse leefwyse, wat later neerslag in sy gedigte gevind het en ’n prikkeling in sy skryfwerk gebly het.

Chris is aan die begin van 1961 aangestel as lektor en later senior lektor in die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit van Kaapstad, ’n posisie wat hy twintig jaar lank beklee het. Gedurende hierdie tyd het hy verskillende toneelprogramme vir skole aangebied, ’n enkele keer vir Kruik toneel gespeel, en dikwels by kunswedstryde as beoordelaar opgetree. Hy het ook toneel- en taalkursusse vir diensdoende onderwysers aangebied. Wanneer hy studieverlof gehad het, het hy dit altyd in Europa deurgebring; daar het hy onder andere taal-opvoedkundige instellings besoek, simposiums bygewoon en ’n kursus in Italiaans aan die Universiteit van Perugia gevolg. Tydens hierdie studiereise het hy taal- en drama-onderrig in Engeland, Duitsland, Denemarke en Frankryk ondersoek.

Hoewel Chris gedurende sy universiteitsjare gediggies geskryf het wat in die studenteblad verskyn het en in sy eerste werksjare ook af en toe ’n gedig geskryf het, het hy algaande belangstelling verloor en geen poging aangewend om ’n bundel saam te stel nie. Dit was eers weer in Windhoek, veral in die jaar voor onafhanklikheidswording, dat hy ernstig begin skryf het.

In 1983 is Chris aangestel as departementshoof van die afdeling Spraakleer en Drama in die Fakulteit Opvoedkunde aan die Windhoekse Onderwyskollege in Namibië, ’n pos wat hy tot 1991 beklee het. Na sy aftrede het hy na Heidelberg teruggekeer, waar hy sedertdien woon.

Chris het die hele opwindende oorgangstydperk van Suidwes-Afrika tot Namibië meegemaak. “Met al die kosmopolitiese Untags daar, was Windhoek soos ’n internasionale stad, kleurryk en bruisend. As iemand van ‘buite’ kon ek ook die hele oorgangsproses soos van ’n afstand betrag en het sterk onder die indruk gekom van ’n hele lewenswyse wat verander; vir my ook ’n voorspel van wat op die Republiek van Suid-Afrika gewag het. Ek meen dit was die sterkste prikkeling wat tot die ontstaan van Tussen die malgasse op die kaai aanleiding gegee het.”

Hy het ook oor die jare toenemend in die godsdiens begin belangstel en het hom ernstig aan die studie daarvan toegewy. Hoewel hy nie ’n Katoliek is nie, hou die Rooms-Katolieke Kerk vir hom ’n “besondere allure” in, veral die lewens van die “heiliges” – soos ook uit sy gedigte blyk.

Tussen die malgasse op die kaai, Chris se eerste digbundel, verskyn by Human & Rousseau terwyl Chris nog in Windhoek bly. Die bundel was op die kortlys vir die CNA Debuutprys vir 1992.

In Tydskrif vir Geesteswetenskappe (September 1992) skryf die resensent (onbekend) dat toe hy die eerste keer die bundel, wat toe nog in manuskripvorm was, onder oë gekry het, hy nie vermoed het dat dit ’n debuutwerk is nie. Die poësie het die indruk gewek van ewewig en besonnenheid wat nie met ’n debuutwerk geassosieer word nie.

Die poësie kan aktueel genoem word, maar dit is ’n aktualiteit wat niks met die sogenaamde struggle te make het nie. Wat hierdie bundel aktueel maak, is die byna seismografiese fyn aanvoeling vir getyskokke, veranderings, veral kultuurskuddings, wat besig was om rondom ons voelbaar te word. Die gedigte is op Suider-Afrika gerig en meer bepaald op Namibië, soos “Windhoek-restaurant 1989”, “Vooraand van verkiesing” en “Swakop-Sondag”. In elkeen van die gedigte word die Europese kultuur en invloed as afgedaan en daarmee saam die blanke as vreemdeling, ’n ontheemde.

Dit is egter nie ’n politieke bundel nie, aangesien daar ook voorbeelde is van wat ons liefdes- of reisgedigte sou kon noem. Maar ook dié twee onderwerpe staan nie op die voorgrond nie. In die bundel gaan dit om die idee van verandering, ’n wending wat hom op ’n breë front van die menslike bestaan voelbaar maak.

Die leser word in Tussen die malgasse op die kaai nie geboei deur die stoutmoedige taalontginning of verrassende beeldvondste nie, maar die krag van die werk lê, ten spyte van ’n eenselwige ritme, in die sin vir die dramatiese soos geopenbaar in die vindingryke organisasie van die materiaal. Die gedigte kyk skerp, neem waar, luister waar mense praat, en bring dan objektief, bloot deur die rangskikking van die gegewens, die sin van die geheel treffend in ’n byna epigrammatiese slot tot spreke. Die gevolg is dat gedig tot gedig ’n gevormde, afgeronde indruk maak.

Op die agterblad het AP Grové geskryf dat wat ’n mens veral tref, is die feitelik-konkrete onderbou van die gedigte. Lombard laat die feite praat en dit verhoog die geloofwaardigheid en oortuigingskrag van sy werk. Daarby het hy ’n sterk sin vir die dramatiese, en menige gedig verloop gespanne tot by ’n sterk, treffende slot.

Vir Joan Hambidge is daar ’n gawe digterskap-in-wording in die bundel, met heelparty treffende verse. Die digter het nie net iets te sê nie; die verse is tegnies goed afgerond. Ook beïndruk die verwysingsveld in die gedigte, hoewel die prekerigheid in sommige verse mens “erger”. Maar, skryf Hambidge, “op sy beste is dié debuut nie mis te kyk nie. Veral wanneer die digter skryf oor:

Die aarde hou geen seismografiese register
van selfs die felste trillinge van pyn,
maar vee versigtig soos die reën in winternagte
oor elke afdruk van die hart, en senugrein.” (44)

Daniel Hugo meen dat hierdie toeganklike, goed-gestruktureerde verse ’n hartverwarmende elegansie het. Die opvallendste, terugkerende motief in die bundel is dié van reis. Die bundel maak die leser van meet af aan daarop attent. Die kaai is ’n plek van afskeid en vertrek, en die malgas is ’n swerwervoël. Die toon van hierdie formele en vrye verse spreek van sofistikasie, van ’n estetiese (soms homoërotiese) belewing van die wêreld. Al wat vir Hugo pla, is die totale afwesigheid van enige ordening, van ’n gestruktureerde samehang. Die verse is op lukrake en losse wyse saamgegooi, sodat die boek ten onregte die indruk van ’n hutspot skep.

In 1994, drie jaar ná sy debuut, kom Millennium, 39 verse wat in inhoud en styl van sy eerste werk verskil. Chris bied die leser hier ’n kykie in sy binnelewe, en net soos met Tussen die malgasse op die kaai was die akteur en jare lange vriend van Chris, Jannie Gildenhuys, sy raadgewer en strengste kritikus voordat die manuskrip na die uitgewers is.

Kannemeyer het gevind dat ’n mens dieselfde tegniese afgewerktheid van Chris se eerste bundel in Millennium vind wat verse bevat wat beïndruk met die woord- en klankgevoeligheid. Soos in Tussen die malgasse op die kaai is daar in hierdie bundel ook verse met ’n politieke strekking, maar wat nou betrekking het op Suid-Afrika en die politieke veranderinge van 1994. Daar is ook verse wat ’n somber toekomsvisioen het wat herinner aan dié van JC Steyn oor ’n verlore taal.

Maar nie al die verse is somber nie. Die “Intermezzo”-gedeelte van die bundel, wat met die rymende koeplette en kwatryne ’n teenstelling vorm met die vryer verse en sporadiese ryme van die eerste afdeling, het ’n ligte, spottende aanslag wat ’n verwantskap met die kabaret toon. Hierdie verse is meestal geplaas in die suidelike Mediterreense wêreld van Frankryk, Spanje en Italië.

Nostalgie en heimwee oor jeugdige skoonheid wat verlore moet gaan, is die belangrikste motief in die derde afdeling van die bundel, waar die sprekers vanuit ’n beleë, gestileerde beskaafdheid op ’n verre jeug terugkyk.

Met Millennium lewer Lombard fyn afgewerkte en meestal maklik toeganklike verse wat ’n besliste bydrae tot die Afrikaanse poësie lewer.

Die bundel is vir Joan Hambidge eweneens een oor die melancholie, oor die besef dat die lewe ’n soektog na die ónmoontlike is: ’n soort à la recherche du temps perdu.

“Die bundeltitel is ook ’n soort bestekopname van ons tyd, van die wete dat die moderne mens nie opgewasse is om die eise èn onsekerhede van die fin-de-siècle te begryp nie.

“Daar is vele reisgedigte, en die reisgedig in essensie jukstaponeer altyd die hier met die nou, die soektog met die verganklike. Dit is verse van die mineurstem, maar die digter verval nie in bitterheid óf selfbejammering nie; daarvoor is daar ’n heerlike stuk ironie aanwesig èn vanselfsprekend: Versbeheer. Die gedigte is gepoleer: Húlle blink, lyk eenvoudig (met die eerste, en selfs tweede oogopslag) totdat ’n mens fyn rympatrone en gedigstrukture ontrafel.

“Daar is ook baldadige ballade-agtige verse. Maar die oorwegende indruk wat Millennium laat, is een van verloopte hartstog(te), verspeelde kanse en sinvolle historiese toespelings op die huidige gebeure. Eweneens opvallend is die gebruik van die argaïese, dog poëties-funksionele woord. Dit vestig bepaald die aandag op woorde en hul poëtiese funksies. (...)

“Om saam te praat in die idioom van die bundel: Die misére word nooit effektief gekis nie, maar juis hierom kan die leser aansluiting vind by ’n digter wat die lewensuitkyk met meer as ’n ligte vers besweer, soos ‘Arles se kafeeterras’.

Die haplustigheid van Arles-brakke
om jou esel het gekwyl van nyd;
daarsonder, trieste ventjie, was ons straks
dié sonblomsterre
bo die nagsteeg kwyt.”

En weer was AP Grové positief oor ’n bundel van Chris. Hy het sy resensie in Insig van Maart 1995 só afgesluit: “Lombard kyk oop-oog na die wêreld om hom en hy bring in hierdie bundel poësie uit ons tyd en vir ons tyd, maar dis poësie wat op verskillende maniere skeppend uitreik bo die neerdrukkende werklikhede van ons tyd.”

In Chris se derde publikasie, Vanuit ’n ou dorpshuis (Human & Rousseau, 1996), wyk hy af van die poësie as genre. Hierdie twaalftal verhale (vertellings, karaktersketse) vertel van ’n vol lewe en sluit ’n reisverhaal of twee in, geselsies oor kos in die ou Kaapstad en in verre lande, asook amusante stories oor familielede en dorpspersoonlikhede uit sy tuisdorp. Die terugkeer na sy geboortedorp, Heidelberg, was dan ook die aanleiding vir die skryf van hierdie boek.

Oor sy terugkeer na sy tuisdorp skryf Chris in Vanuit ’n ou dorpshuis: “Ook mý mense het geslagte lank hier gewoon, maar ek het intussen ver weggedwaal tot in die uithoeke van die land en oorsee. Toe dit nou so kom dat ek ’n verposing in my lewe kon maak, het ek besluit om in ons dorpshuis van vroeër in te trek en ’n ruk lank weer kleindorpsbewoner te word.”

Vir Madeleine van Biljon was dit egter die skrywer, meer as die verhale, wat haar geboei het. Want dit moet ’n man met ’n standvastige karakter wees wat ’n inmekaarsakkende huis kan betrek én hom weinig daaraan steur. Chris is aan die woord oor die onderwerp: “In die jare dat die huis leeggestaan het, het die verwildering buite en die mot en roes binne toegeneem.

“Die tuin het in die tyd dat daar geen hand aan was nie, uit sy nate begin bars met bougainvillea, eiloof en wingerd wat reënwoudgewys in- en oormekaar rank. Binne het die vloerplanke begin ingee, en op die dak het plate deurgeroes.”

Dan volg daar nog beskrywings van dié Afrikaanse House of Usher (volgens Van Biljon), maar dan ook die skrywer se houding teenoor verval: “Ek laat opsetlik alle aftakelings links en regs aan my verbygaan en baai my maar in wat die vol Februariedae na my toe aanspoel ...”

Vanuit ’n ou dorpshuis is geen groot literêre werk nie, en dit was ook nie wat Chris in gedagte gehad het toe hy dit geskryf het nie. Maar dit is ’n boek wat ’n mens proe-proe lees, nie heel insluk nie. Dit is vir optel, een essay lees en dit geniet, en dan neer te sit vir ’n volgende keer.

Vir Henriette Grové was dit interessant hoe mens die digter van Tussen die malgasse op die kaai en Millennium in die verhale herken. Nie net omdat die stofgegewe dikwels oorvleuel nie, maar veral om die belangstelling in ou kulture en die besef van tyd en tye wat onherroeplik verby is. Verder ook Chris se toegeneentheid teenoor mense. Vir haar was dit ’n verrykende boek wat die ruimtes waaroor dit gaan, vir die leser oopmaak.

Hans Ester sien Chris Lombard nie as ’n man van die moderne tyd nie, en juis dít maak sy verhale vir Ester so boeiend. Lombard pas eerder in die tradisie van die Poëtiese Realisme van die 19de eeu met sy voorliefde vir die “kadervertelling”. Die funksie wat Vanuit ’n ou dorpshuis vervul, is om vas te hou aan “menselijke maar gesneden cultuur”. Hier word verdraagsaamheid, lewensberusting en humor gepredik en dit is aangename, onderhoudende leesstof.

Vanuit ’n ou dorpshuis herinner Wium van Zyl (ook ’n boorling van Heidelberg) nogal sterk aan Con de Villiers – dieselfde soort wisseling tussen die streek en ’n wye wêreldervaring, dieselfde liefdevolle belangstelling en nuuskierigheid omtrent die heimat, dieselfde afwisseling tussen essay en verhaal.

In Beeld skryf PC van der Westhuizen: “Goeie herinneringe is straks die sif waardeur die lewe se verskillende fasette, fases en prosesse gegiet word; en die opbrengs ’n stuk genade wat die ambivalensies van ons bestaan moeiteloos aan mekaar lym en tydelik ontvlugting bied.

“Gevoed deur die verbeelding word die geheue dan ’n reisgenoot sonder gelyke, ’n bosinnelike teenwoordigheid waardeur die sintuie nogmaals plekke, mense en gebeurtenisse kan ervaar. Dit is in der waarheid ’n séance met die self, ’n oproep van beelde waarvan ’n mens net eenvoudig nie kan of wil losgemaak word nie. Om dit anders te stel: Herinneringe het voete wat geen versuim ken nie, veral wanneer dit in die kop van ’n bedrewe verteller soos Chris Lombard gestalte kry.

“’n Mens se sintuie werk oortyd terwyl jy die twaalfstuks kortverhale in Vanuit ’n ou dorpshuis lees. Soveel van geure, kleure, smake en gestaltes het hierdie leser lanklaas agter die ink op papier raakgelees.

“Aanvanklik is die oordadigheid van die sintuiglike aanbod ietwat oorweldigend, selfs hinderlik, maar dit is net totdat jy jou op die ‘golflengte’ van die loom vertelling ingeskakel het. Daarom hierdie opmerking sommer heel vroeg: Vanuit ’n ou dorpshuis is nou nie juis wat ’n mens sou bestempel as ’n bundel kortverhale vol hoogspanning, ingewikkelde intriges, of die bykans gebruiklike verrekening van belangrike kwessies nie. ’n Mens het hier véél eerder te doen met ’n viering van alledaagse besonderhede soos dit in bekende en onbekende uithoeke van die aarde voorkom. Elke besonderheid word hier heimlik iets besonders, soos iets of iemand wat die leser ook wil leer ken.

“Daar is ’n paar temas wat sterk deur die bundel loop. Hiervan is die fokus op alles wat rondom ’n etenstafel gebeur en kán gebeur, sekerlik die noemenswaardigste. Vanaf die openingsverhaal, ‘Verlangse familiebesoek’, tot by die slotverhaal, ‘Anna bring weer Ibiza’, word nogmaals gekrui en gekook. Feitlik elke verhaal bevat ’n ‘Babette’s Feast’ in die kleine waardeur talle kleurvolle herinneringe aan ander feesmale opgeroep word. (Die leser met ’n goeie aptyt moet hom werklik inhou, want die behendige wyse waarop die beskrywing van selfs die eenvoudigste gereg byna ’n erotiese dimensie verkry, sorg vir alte gereelde verposings in die kombuis!)

“Die feestelike tafel in die ou dorpshuis word deurgaans, by wyse van spreke, in verhaal na verhaal ook vir die leser gedek om by aan te sit. Dit is immers die rendezvous van stemme en gesigte, dié plek waar die verlede en die hede vir die verteller byeenkom. Kos is egter nie maar net ’n manier om vriende en/of verskillende kulture gesellig in ’n klein radius saam te snoer nie, dit word ook ’n interessante draer, ofte wel vehicle, waardeur uiteenlopende emosies aan die kaak gestel word.

“Die hoofsaak in die verhale is telkens die herinnering aan ’n oomblik, dikwels ’n oomblik toe ’n storie hom ontvou het. Dit is duidelik die verteller se oogmerk om die werklikheid soos hy dit ervaar, asook die karakters wat hierdie werklikheid inklee, slegs ten dele af te spieël. Die ander helfte van die spreekwoordelike heerlikheid word doelbewus, en op ’n geslaagde wyse, verswyg. Juis daarom is die vertelling in vele opsigte verfynd. Dit streef hoegenaamd nie na ingewikkelde klemverskuiwings, tydspronge en dies meer nie. Elke verhaal in Vanuit ’n dorpshuis lees ewe maklik en spreek van daardie afgeskeepte aspekte van ons bestaan: sensitiwiteit, deernis, (naaste)liefde en ’n positiewe lewensuitkyk. Die poëtiese pen van ’n bedrewe digter soos Chris Lombard verleen aan hierdie bundel nostalgiese kortverhale ’n kwaliteit wat waarskynlik wye aanklank by lesers sal vind.”

’n Lang publikasiestilte van Chris se kant word in 2004 onderbreek met die verskyning van die poësiebundel Driemaster by Protea Boekhuis.

Lucas Malan het gemeen dat die titel enersyds kan slaan op die drie afdelings daarin, maar waarskynlik eerder kan dui op die voltooiing van ’n drieluik wat in terme van die skeepvaart meermale in Lombard se poësie voorkom. Op die voorblad is ’n treffende afbeelding van so ’n “driemaster” in die Namibiese woestyn, deur die landskapkunstenaar Strijdom van der Merwe. Die leser word dus vooraf bewus gemaak van alles wat “’n boot in die woestyn” kan inhou: die volle vaart in gunstige getye, die weerstand van maste en die groot ruimtes van die geheue. Vir Malan is Driemaster ’n bundel vol hegte verse wat met kreatiewe taal ’n wye historiese gebied dek, en sonder “diepsinnige” pretensies sy reeds beduidende bydrae tot die Afrikaanse poësie versterk.

Joan Hambidge skryf dat Chris in Driemaster die lot van die enkeling en alleenreisiger ondersoek. Dit is verse oor verlange, verworpenheid, die gevoel dat die lewe ’n soort “verspeelde lente” is, sonder kinders en die geborgenheid van die gesin. Maar dit is juis die krag van die digterlike blik: dat hierdie buitetoestand tot digterlike winste aanleiding gee. In die manjifieke slotvers, “Take off”, word die lansering van ’n vuurpyl gelykgestel aan seksuele ontdekking en ervaring. Dit word ook op ’n slim wyse ’n spel met die digproses: die efemere teenoor die durendheid van skryf.

Die titel van die bundel slaan ook op die posisie tussen verlede en hede wat in die gedig as ’n soort versoenende derde ruimte aangebied word. Die bundel bestaan uit drie afdelings. Daar is die gevoelige waarneming, die melancholiese toonaard wat so kenmerkend is van Lombard se digterlike aanslag. Ook word die verse gekenmerk deur fyn vormbeheer en knap beeldkonstruksies.

Hambidge meen ’n letterkunde benodig die bestendige bydraes van ’n digter soos Chris Lombard wat die alleenreis, die enkelmaster, die blom van die vleiroos en boonop die “iris van erbarming” so treffend kan beskryf.

Lucas Malan het as volg oor Chris en sy werk geskryf: “Chris Lombard het sy debuut as digter teruggehou tot daar genoeg ervaring was om met insig en sinvol daaroor te skryf. Sy drie digbundels is van die ‘klassieke’ soort – dit is poësie wat gerig is op kosbare dinge wat verlore gaan, die weemoed van verlies. Die verse berus grootliks op die beginsels en orde van die ou beskawings, en word dikwels deur akwatiese beelde gevoed: water, skepe en hawens van aankoms en vertrek.

“Dit is elegante poësie, maar nie week nie, want ’n intelligente waarnemer met ’n ferm greep op klank en vorm is hier aan die werk. Sy poësie kom versorg voor, maar verras ook dikwels met speelse grepe en insigte wat Lombard se digterskap uitsonder.”

Chris is onbeskaamd verslaaf aan skoonheid: van die natuur, musiek, letterkunde, rolprente, beeldende kuns en die liggaam. Nie hedonisties nie. Hy vind in alle skoonheid deernis en geestelikheid, skryf Wim Vorster.

Chris is baie lief vir die buitelewe en het vroeër jare lang tye in die natuur deurgebring.

Publikasies

Publikasie

Tussen die malgasse op die kaai

Publikasiedatum

1991

ISBN

079812734 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Millennium

Publikasiedatum

1994

ISBN

0798132655 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vanuit ’n ou dorpshuis

Publikasiedatum

1996

ISBN

0798135352 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Herinneringslektuur

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Driemaster

Publikasiedatum

2004

ISBN

1869190475 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet


Artikels oor Chris Lombard beskikbaar op die internet:

Artikels deur Chris Lombard beskikbaar op die internet:



 

Bygewerk: 2012-07-13
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za


 

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address