Chris Chameleon het pas ’n CD- en DVD-stel, Droomland, uitgereik, waarin hy saam met die Drakensberg Seunskoor te hoor is. Hy beantwoord enkele vrae oor dié projek.
Goeiedag, Chris. Hoe gaan dit?
Voortreflik! Gisteraand die laaste konsert van my Nederlandse toer uitgevoer, voel soos ’n kokkedoor en vlieg môre terug somer toe.
Eerstens, geluk met die vrystelling van die Droomland-CD en -DVD. Noudat dit vrygestel is, hoe voel jy oor die finale produk(te)?
Dankie Henry. Ek is baie tevrede met Droomland. Dis ’n goeie weergawe van wat daar afgespeel het en bied ’n puik blik op die vermoëns van sowel die Drakensberg Seunskoor as ek self.
Wat het gelei tot die idee vir die album en hoe het die konseptualisering daarvan verloop?
Innibos het my genader en gevra of ek ’n produksie saam met die Drakensbergse Seunskoor in die Sudwala-grotte sal aanbied – alle eer vir die idee kom hulle toe! Dit is al van kindsbeen af ’n groot wens van my om in die Drakensbergse Seunskoor te kan sing en ofskoon dit nou ’n bietjie laat is daarvoor, het dit ineens vir my moontlik geword om sáám met hulle te sing. Ek besluit toe om die konsep om die gedagte van drome te ontwikkel, omdat dit die verwesenliking van baie van my drome is en ook omdat die tema van drome nogal dikwels in my werk voorkom.
Die album bevat ’n wye verskeidenheid liedere waarvan die styl en aanslag besonder divers is – van ’n weergawe van "Pie Jesu" tot jou eie liedjies, soos "Droomland". Hoe het jy of julle te werk gegaan met die kies van liedjies wat uitgevoer sou word?
Ek het die liede gekies op grond van hoe hulle met die tema van my persoonlike droomwêreld strook. Op die DVD onthul ek dan telkens in die vertellings voor of na die liede die verbintenisse.
Die weergawe van die Boo!-lied "Champion" word beskryf as "koorpunk". Wat ’n lekker term! Kan jy uitbrei oor hoe die lied verwerk is vir die koor, en sou jy wou spekuleer oor of dié genre binnekort ’n bloeitydperk kan beleef?
Koorpunk ... ja, ek het gedink dit sal ’n prettige term wees! Maar die krediet vir die verwerkings met betrekking tot die koor kom Johann van der Sandt toe – self het ek nie voldoende kennis van hierdie dinge om dit eens ’n halwe sukses te maak nie! Johann is ’n puik verwerker en het ’n besonder diepgaande kennis van musiek. Die seuns het dit baie geniet (soos duidelik te sien op die DVD!). Ek streef al my hele loopbaan daarna om die kunsmatige grense tussen genres af te takel. Hierdie grense word dikwels deur markte bepaal en dwing resepmatigheid op musiek af. Of dit in ’n nuwe stroming sal ontaard, kan ek nie sê nie, maar ek glo in elk geval dit sal nog ’n klein stuiwertjie in die armbeurs van die stryd teen genrefisering en die beperking van kuns ter wille van bemarking wees.
Sedert die vrystelling van Ek herhaal jou in 2005 het jou vrystellings byna soos ’n sin-grafiek gewissel tussen Afrikaans en Engels. Is dit ’n manier om jou kreatiewe uitdrukking afwisselend en uitdagend vir jouself te hou, of beskou jy dit as ’n manier om die onderskeie markte honger te hou? (Die twee elemente is seker nie wedersyds uitsluitend nie.)
Ek dink min aan markte. Trouens, dis ’n lelike woord vir my sover dit enige kuns betref. Ja, ek weet dis ’n mens se werk en jy moet ’n inkomste genereer, maar ek glo ook dat die loon voortspruitend uit opregte toewyding tot jou talent (of vaardigheid) voldoende sal wees om na jou aardse behoeftes om te sien. Daarmee gaan ek nie sê ek het nog nooit markgerig gedink nie – daar is maar altyd daardie oomblikkies in die ateljee wanneer jy jou byvoorbeeld by die musiekregisseur se raad oor ’n weglating of toevoeging berus met inagneming van hoe luisteraars dit sal ervaar, maar daar kan die lyn eweneens tussen mark en produk as tussen selfsug en sosiaal getrek word. Ek maak plate soos my gees my lei. Eintlik, plate klop by my aan om hulle te maak. ’n Lied skree op my om die reg tot uitdrukking en noop my tot vormgewing.
In dieselfde asem: Hoe verskil jou benaderings in die algemeen wat die skryf en konseptualiseer van onderskeidelik ’n Afrikaanse album en ’n Engelse album betref?
Ek voel asof ek in Engels meer gewaagd is. Dis onbeplan, en waarskynlik ’n gevolg van die psigiese hoede wat ek in die onderskeie tale dra. Elke taal bring met hom saam ’n mentaliteit wat gevorm is deur die duisende jare of aantal dekades wat hierdie taal tot stand gebring is binne ’n bepaalde geografiese en sosiale konteks. Elke woord in ’n taal dra met hom saam die geskiedenis van sy totstandkoming, die energie van sy sprekers, die omvang van sy verwysingsraamwerk. (En nou weet jy sommer ook ek het ’n baie sagte plekkie vir etimologie!) Ek voel my werklik anders in Engels as in Afrikaans, as in Duits, as in Nederlands en selfs die bietjie Zoeloe wat ek kan praat. Die “Engelse ek” is rowwer. Dis die taal van my rock ’n roll. Die “Afrikaanse ek” is die een wat saam met my grootgeword het, met al die beleefdheid (en, soms, beperking) wat ek in die taal gevoer is.
Jy het op 1 Februarie 2013 vertrek op jou Nederlandse teatertoer, waartydens jy die vertoning Klank van jou oë, ’n soort huldeblyk aan Ingrid Jonker, uitgevoer het. Hoe het dit afgeloop? Vind jy dat die Nederlanders se belangstelling in Afrikaanse poësie en musiek steeds lewendig is en dalk selfs groei?
Soos bo vermeld, baie goed. Die toere hier is vir my heerlik, omdat ek hier durf doen wat ek tuis nie sommer sal nie. Die “Nederlandse ek” is ’n baie geëmansipeerde wese, vry om homself te deel. Die mense hier is alles gewoond en dis aansteeklik. Vanweë my inherente verkleurmannetjieagtigheid is ek nie immuun teen die mentaliteitstrominge van my menslike omgewing nie. Solank ek hier is, groei die belangstelling. Die Nederlanders het nie veel respek vir Afrikaans nie. Hulle het waardering daarvoor en vind dit oulik, maar respek ... ek twyfel. Hulle verwys dan ook altyd daarna as ’n “leuk taaltje”. Ek maak tot groot genot van die gehore elke aand die grappie dat Afrikaans van groot akademiese belang vir Nederland is omdat alle Nederlandse kindertjies vlot Afrikaans praat voor hulle leer om ordentlik Nederlands te praat. Wat hierdie mense egter nie besef nie, is dat Afrikaans hom in die wetenskap, filosofie, op mediese gebied, in die ingenieurswese en op nog vele ander gebiede met uitnemendheid onderskei het en internasionaal al vele bydraes gelewer het waarvan hulle nie noodwendig bewus is nie. Maar my taak is nie om deur ’n preek of lesing hulle koppe te swaai nie – ek doen wat ek doen en na afloop van my vertoning glo ek dat hulle anders na Afrikaans en Afrikaanssprekendes kyk. (Hulle meld soms na afloop van ’n vertoning in soveel woorde hierdie ommeswaai.)
Hoe beskou jy jou eie rol in die kweek van die bogenoemde belangstelling?
Dit help dat ek redelik vlot Nederlands kan praat, in so ’n mate dat ek soms my Nederlands doelbewus korrupteer om die sjarme van vreemdelingskap te onderskraag. Ek kan dus Afrikaanse poësie deur die internasionale, grenslose hartsmedium van musiek oordra met kognitiewe en dikwels humoristiese vertellings en verklarings tussenin. Hulle koop flink CD's na die vertoning en laasgenoemde sal die werk in my afwesigheid voortsit.
Wat hou die nabye toekoms vir Chris Chameleon in, as jy bereid is om dit te verklap?
Chris voer ’n merkwaardige, indien nie erg grappige nie, gedaanteverwisseling vanjaar in die mou. Die album is al klaar opgeneem en word eersdaags vrygestel.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.
Kommentaar
Een van SA se talentvolste en veelsydigste sangers.
Vat vyf!