ATKV Skrywersalbum | Writers

 
Charles J Fourie (1965– )

Sêgoed van Charles J Fourie

In 2011: “Die afgelope tyd skryf ek stadiger, want ek het ander verpligtinge. En dit het boonop baie duur geword om stukke op die planke te bring. Toe ek in die negentigs in Kaapstad gewoon het, het ek vier of vyf produksies ’n jaar gedoen omdat jy akteurs gehad het wat sê: ‘Let’s do it.’ Vandag as jy akteurs bel, vra hulle heel eerste vir jou: ‘Wat is die salaris?’ Dit plaas ’n moerse demper op jou output. Dis ’n moerse skok as jy op 45 skielik besef jy’t die beste twintig jaar van jou lewe gegee aan iets wat nie eintlik ’n werklikheid is in terme van finansies nie ...”

“Ek’t nog altyd gesê dis net mense met geld wat tyd het vir romanse en terapeute. In aansluiting met die werke van Augusto Boal en Bertolt Brecht glo ek teater het dit eerstens ten doel om die gehoor op te voed en van hulle protagoniste te maak om in samewerking met dit wat hulle in die teater ervaar, teenkanting te bied teen vorme van onderdrukking en middelmatigheid. As Boal praat van daardie grens wat jy oorsteek van fiksie na werklikheid, is dit die verskil tussen ’n episode van 7de Laan kyk en ’n stuk soos Agterplaas.”

Wat inspireer hom?

“Menslikheid. God se hand in die natuur. Goeie geselskap en my wynmaker-vriend Anton Bredell se port.”

“Ek skryf soos ek kos maak – sonder ’n resep, terwyl ek probeer onthou hoe die gereg uiteindelik moet proe. Dag, nag, potlood, bandopnemer, plakboek, kamera, drome, boeke, reise, verlange en stories rondom die braaivleisvuur. Uiteindelik word alles in woorde omskryf.”

“Om te skryf, is gelukkig ’n vorm van genesing.”

Het hy vrede met kritici? “Nie altyd gehad nie. Soos ’n mentor dit gestel het: ‘Gelukkig is die meeste van dié resensente óf al dood óf skryf hulle nie meer resensies nie en ek skryf darem nog dramas.’ Deesdae weet ek jy ontgroei goddank kritiek en berus jou by jou eie genialiteit.”

Wat maak Suid-Afrikaanse teater uniek? “Afrika self. Jy kan nie die Suid-Afrikaanse landskap van sy teater skei nie. Selfs al doen ons ’n Tsjechof of ’n Beckett in Suid-Afrika, is jy bewus van die natuur, die grond, die mense en ons eie geskiedenis. Dis ’n soort vibrasie wat deur alles trek. Die toneelteks, die akteurs, die visuele ...”

In 1995: “Ek is nie baie kleurryk nie. Maar dan, ’n skrywer hoef nie kleurryk te wees nie. Sy werk moet wees. En hy moet ’n honger hê om te soek. Ek het dit gekry toe ek sewentien was. Dis nog nie weg nie.”

“Ek dink nie ek is mallerig nie. ’n Skrywer kan dit nie bekostig nie. Miskien is skryf die beweeg van ’n mallerigheid na ’n normaliteit. ’n Chaotiese soektog na dit wat sin maak. Selfs William Burroughs se chaos maak sin.”

Oor kunstefeeste: “Die feit dat ons by kunstefeeste ons land se skisofreniese kulturele gedaantes kan koester, is wonderbaarlik. In watter land sal jy Patricia Lewis se tietieboem-musiek, tradisionele Afrikadanse en ’n Marthinus Basson-produksie op dieselfde kunsfees teëkom? Dit terwyl almal lekker dopsteek, koeksisters en sosaties eet en moer plesierig raak – dis mos nou kuns wat mooi van boosheid is.”

In 1992 oor die toekoms van Suid-Afrika: “Ek hou van hoop, miskien omdat ek uit ’n Christelike perspektief kyk. Ek is ’n Afrikaner, ek praat ’n sekere taal en kom uit ’n sekere agtergrond en ’n sekere geskiedenis, dis al. Ek is siek en sat vir Afrikanerdiskriminasie, nie net op die vlak van die velkleur nie, maar ook op die vlak van taal en kultuur.”

“Ek dink die KKNK het baie gedoen om die tradisie van poësievoorlesings te laat herleef. Dit het dalk iets te doen met die bewuswording rondom Afrikaans. Mense gryp weer na die poësie. Poësie is die diamant van die taal.”

Gebore en getoë

Charles J Fourie is in 1965 in Potchefstroom gebore. Die J staan vir Johannes, ’n familienaam wat van sy grootjie, sy oupa en pa afkom. Charles het twee broers: André, wat ’n liggaamsbouer was en sy Springbokkleure met gewigoptel verwerf het, en Pierre, wat volgens Charles ’n uitstekende gholfspeler is wanneer hy nie in die rough is nie.

Sy pa het hard in die mynbou gewerk, van Potchefstroom, Zambië, Botswana, Beaufort-Wes en Randfontein tot in die Karoo ... al die plekke waarheen sy pa getrek het toe Charles nog ’n kind was. Sy ma was ’n huisvrou en het later in haar vrye tyd begin skilder.

Tot in standerd sewe was Charles in dertien skole. Hy meen dis van die rondtrek dat ’n mens sy vermoë ontwikkel om dinge te begin raaksien, om te soek en aan te pas. “Jy kom by ’n nuwe skool aan met jou ou skool se kleurbaadjie en das en jy bly eintlik maar ’n buitestander,” vertel hy aan Suzaan Steyn. “Mind you, ek was darem op laerskool hoofprefek en krieketkaptein op Randfontein. Daar was tyd vir sport, maar nie vir skryf nie.

“Ek was nie een van daai ouens vir wie die onderwyser in die klas geprys het oor sy interessante opstelle nie. Die een keer wat ek wel op hoërskool ’n Engelse gedig geskryf het, wou die onderwyser nie glo dis ek wat dit geskryf het nie.

“Ek was nie juis slim nie. Ek het altyd een van daai Charles-kan-beter-doen-notas gekry. In plattelandse skole destyds kon jy nie slim én rebels wees nie. Ek was rebels. Ek het geweier om kadette te doen en ek kon nie verstaan wat skooldrag, blink skoene en ’n das met ’n mens se opvoeding te doen het nie.”

Die Fourie-gesin het op ’n stadium in Koffiefontein in die Vrystaat gebly. “Ons bly toe in die hotel vir so ’n week en ’n half en ons wag vir die treklorrie om nou af te kom met ons meubels,” vertel Charles aan Charl Blignaut, “en voor die treklorrie daar aankom, dan besluit hulle nee, hulle gaan nou weer die pad vat en ek is so ’n week en ’n half in die skool. Tops gespin. Koffiefonteiners het nog nooit tops in hulle lewe gesien nie en ek het so ’n sak vol gehad.

“Later jare, toe’s ek by Sukovs, toe gaan ons op ’n toer en beland ons op Koffiefontein. Toe gaan ek terug na die hotel waar my ma-hulle gebly het, toe stap ek in die kroeg in en gaan sit op die stoel in die hoek en bestel ’n dop. En die kroegman, dink hy’s ’n Portugees of so iets, sê vir my, klim asseblief af. Toe sê ek fucking OK, jy weet, en gaan sit op ’n ander stoel. En dis net ek en hy in die kroeg, toe vra ek hoekom ek nie op die stoel mag sit nie. Toe sê hy nee, dis Etienne Leroux se stoel.”

Dit was op Potchefstroom in die Laerskool Mooirivier waar hy sy eerste toneelervaring gehad het toe sy pa hom afgerig het om “Mabalêl” voor te dra en hy met die eerste prys weggeloop het ondanks die feit dat hy daardie tyd sy tong gesleep het.

“Dis ook daar voor oom Totius se huis,” vertel hy aan MC Botha, “waar ek smiddags met sakke vol albasters huis toe is om na Springbokradio-stories te gaan luister by ouma Hester. Dis om haar kombuistafel met dik snye brood en moerkoffie waar die toneelskrywery sy oorsprong gehad het.

“Op hoërskool op Beaufort-Wes het ek egter betrokke geraak by toneelspel om kadette te ontwyk en later op Jan van Riebeeck in Kaapstad het ek Jona van die walvis-faam gespeel.”

In standerd 8 het hy, soos baie van sy vriende wat destyds wash-outs genoem is, “plein gatvol” vir skool geraak en op die myne in Odendaalsrus en op Stilfontein gaan werk. Later het hy in ’n klooster in Potchefstroom gaan bly en sy matriek met “een van daai korrespondensie-kursusse waar hulle N1 en N2 doen” behaal.

Terug na bo

Verdere studie en werk

Na matriek is Charles terug myne toe om ’n ingenieurskursus te doen. Hy het ook in Welkom in die myn gewerk, waar hy insulation werk gedoen het, verkoelingspype ondergronds gelê het. En in Stilfontein het hy ’n leerlingmynerskursus gedoen. “Na so twee maande toe vat hulle ons regtig diep af. Die plek was 50 tot 55 sentimeter hoog en die ouens lê so op hul rûe en grawe, jy doen alles op jou rug of op jou maag. Nou die hele prinsiep van ’n leerlingmyner is dat jy so diep moontlik afgaan saam met die regte myners. Toe begin my neus bloei. Toe skrik ek.”

Charles het net twee maande in die myne gehou, toe is hy na die onderwyskollege. “Daar was ek net ses weke. Ons moes ’n das en ’n baadjie dra en ek het weer besef om kennis op te doen in dié land, moet jy ’n uniform dra.”

’n Meisie het hom oortuig om drama te swot. En daar in Potchefstroom se dramadepartement het ’n nuwe wêreld vir Charles oopgevou. John Osborne se Look back in anger, Samuel Beckett se Waiting for Godot ...

“As kind het ek Keur gelees. Toe gebeur Osborne en Beckett met my. En skielik besef jy dis nie net jy wat in isolasie op Beaufort-Wes of Koffiefontein of moer-weet-waar op ’n klein plattelandse dorpie in ’n konserwatiewe gemeenskap gesit en gevoel het asof jy nie op hierdie planeet hoort nie. Jou kinderjare, die ewige gebaklei en gesukkel, is universeel. Daar is mense wat boeke daaroor skryf. Ek het gedink miskien, net miskien, het ek ook iets om te sê,” vertel hy aan Suzaan Steyn.

En dit is presies wat hy in sy agtiende jaar doen, met sy eerste drama, Speel-speel, ’n stuk politieke kommentaar oor die driekamer-parlement waarvoor hy die Henk Wybenga-beurs vir toneelskryf gekry het.

“Dit was vir my ’n wonderlike erkenning, ’n helse kans vir ’n ou soos ek. Ek het myself as ’n groot skrywer beskou, maar my drome is nou al ’n bietjie geshatter.”

Aan die einde van sy eerste jaar (in 1984) is Charles met Isabel Mostert getroud en na hulle gegradueer het, sluit hulle by Sukovs aan as akteurs. Terwyl hy by Sukovs was, het hy aanhou skryf. “Ek was nooit verskriklik aangegryp deur die tradisionele soort goedgemaakte toneelstuk nie. Ek is nog steeds nie (in 1995 aan De Kat), hoewel ek nou al in die tussentyd twee van hulle geskryf het.

“’n Sekere professor het eendag oor my gesê: hierdie man se stem behoort stilgemaak te word, omdat ek volgens die riglyne van die absurde teater geskryf het. Ek het destyds ’n studie gemaak van hoe mense soos Beckett en Ionesco met dialoog omgaan. Ek dink net daar het sedertdien nog niks gebeur wat die teater so geskud het nie.”

’n Jaar later is Charles opgeroep vir militêre diensplig. Hy het vrede gemaak met die weermag en het homself as gelukkig geag omdat sy militêre diens meestal daaruit  bestaan het om draaiboeke te skryf vir opleidingsfilms.

In 1993, ná sy egskeiding, het Charles vir die eerste keer op Pringlebaai, nie ver van Hermanus af nie, gaan woon en uiteindelik sy permanente intrek daar geneem. “Die winde, see, fynbos, ons bedreigde bobbejane en die geestige mense wat hier rond woon, sal my telkens laat terugkeer na die skuiltes van Hangklipberg.”

In 1985 skryf Charles Grot van die kaalkoppe in vir Truk se Pot-Pourri en tot sy verbasing aanvaar die beoordelaars dit. Sy vrou, Isabel, was die regisseur van die stuk waarin Charles die rol van Gustav speel, Pieter de Villiers die rol van Siegfried en Gerhard Pieters, ’n derdejaar-kommunikasiestudent, die rol van die versiende Waldo.

Oor die bisarre drama vertel Charles aan Adrienne Sichel dat hy, met sy agtergrond en sy houding teenoor die skool, wou wys hoe jongmense dissipline en gesag ervaar. “I wanted an original way of saying it. As I was writing it, the concept grew, it became more universal. I got the idea of the Kaalkoppe when I read Jan Rabie’s ‘Drie kaalkoppe eet tesame’. These three bareheaded men devour people and then each other. The two ideas met.”

Sy karakters is egter nie kannibale nie. Hy het probeer om die kontras tussen algehele primitivisme aan die een kant en ’n hoogs ontwikkelde kultuur aan die ander kant te skep.

“The ‘niet’, the perfect state the Kaalkoppe strive for, is a word I saw in Breyten Breytenbach’s ‘Lotus’. The lines are ‘Die Groot Taak is om van hondedrolle sterre te maak en die Groot Niet te vertrap.’

“To me it means to try and attain something that is nothing and at the same time everything. In Eastern philosophy one aims to become one with the universe. The movement is very oriental.”

Die grot is ’n heenkome vir drie adolessente wat ontsnap het van die verwoesting van die werklike wêreld en vertroosting gesoek het in ’n wêreld van hul eie. Om die beurt kan nie een van hulle hoor, sien of praat nie. Hulle oorkom hulle onderskeie teisterings deur “Die Niet” – ’n gedissiplineerde verkleefdheid aan ’n Oosterse mistisisme wat aan hulle die krag van telepatie en ekstrasensoriese persepsie gee.

In Junie 1988 word Charles se drama Die papegaai vrou by die Dalro-teater opgevoer met Michelle Burgers en Hannes Muller in die hoofrolle en Leon Cloete as regisseur. Hierdie stuk speel af in 1900 in ’n konsentrasiekamp in die Bethulie-distrik in die Suid-Vrystaat. ’n Vrou word aangehou in ’n hok nadat sy tussen die lyke van haar man en kinders gevind is. Sy word aangekla van hulle moord. Deur gesprekke tussen haar en haar bewaarder, wat ’n hanskakie is, ontbloot Fourie die gebeurtenisse wat tot die dood van haar familie gelei het. Die bewaarder staan voor ’n vuurpeloton en die verhouding tussen die vrou en haar familie flits voor sy oë verby wanneer hy geskiet word.

Andrea Vinassa meen dat Fourie ’n totaal oorspronklike en ingewikkelde geskiedkundige lig werp op die familiemoorde wat op daardie tydstip so endemies was in die Afrikaanse gemeenskap. Sy fragmentariese skryfstyl hou jou op jou tone tydens hierdie opvoering. Hy terg, hou jou aan die raai en vereis van die gehoor om op verskillende vlakke gelyk te dink. Die stuk is nie naastenby perfek nie, maar die ruwe kwaliteit daarvan spreek tot die toeskouer.

Fourie het in 1989 aan Barbara Ludman van die Weekly Mail gesê: “I could have gone and said ‘Listen, I’m not doing my national service’ and gone to jail for six years – but why? For me it’s not worth it. In terms of being a writer, there are people there that form a part of our society and in a certain way I’ve come to understand a lot about them. I don’t say I agree with what society has forced them to do. But for me to ignore them, to say that they don’t exist, I’m going to jail for six years because I don’t want anything to do with them – it’s not going to help me to understand the people who sit here in the audience.

“I have a duty towards the people who sit here every night to understand as many things as possible about my own society. Otherwise why do I write?”

Dit het hy vertel tydens die opvoering van sy eerste Engelse toneelstuk, Big boys, wat in 1988 ’n Amstel-toekenning ontvang het en in 1989 in die Markteater in Johannesburg op die planke gebring is. Die beoordelaars van die toekenning, wat destyds R10 000 beloop het, was Barry Ronge en Nomsa Nene.

Big boys het ontstaan na sy blootstelling aan die politieke teater wat tydens die Grahamstadse Kunstefees van 1987 ontpop het. “I realised that underneath all that I saw on the stage, people portraying structures of ideologies that they see within our society, there were people. There’s a human being there, whether he’s a security policeman or an activist; he’s got a family, he’s got a car, he’s got a kid, he watches TV, he reads the newspaper. The kind of car the man drives is as revealing as the banner he may or may not be marching behind.”

Big boys speel af in ’n plattelandse polisiestasie waar twee jong tieners hulle in die tronk bevind. In die beperkte ruimte van die sel deel die swart en wit seuns hul lewenservaringe. Die jong kleurlingpolisieman wat oor hulle toesig hou, worstel met teenstrydige gevoelens oor die aard van sy werk, wat hy tog ten alle koste wil behou.

Oorspronklik was daar net drie karakters, maar die regisseur Gerrit Schoonhoven het, in oorleg met Charles, besluit om die “stem” in ’n lewende wese te verander. Chris van Niekerk het in 1989 dié rol vertolk, terwyl die seuns deur Jamie Bartlett, Zane Meas en Tulanie Xgbanie vertolk is.

Die strokiesprent vorm ’n belangrike element van Big boys; dit is duidelik deel van Charles se verwysingsveld. “Die drama het gespruit uit Grahamstad ’87, toe alles net slagspreuke was. Agter dit lê daar ’n wêreld waar rassisme nie tel nie. Die strokiesprent het ’n gevoel van onwerklikheid.”

Drie van Charles se dramas wat saam in boekvorm verskyn het, is Vrygrond, Die eend en Don Gxubane onner die Boere, wat in 1994 deur Tafelberg gepubliseer is.

Charles is in 1992 bekroon met die Amstel Dramaturg van die Jaar-toekenning vir Vrygrond. Dit was die eerste Afrikaanse stuk wat dié gesogte prys kon wen. Vrygrond is ’n menslike drama oor die haglike lewensomstandighede van ’n swart Afrikaanse gesin in ’n plakkerskamp neffens ’n wit begraafplaas wat ’n lewe bymekaar skraap op ’n lap grond wat die regering sê nie hul eie is nie. Die politiek van die grond word deurgaans geopper. Die stuk speel hom in ’n aand af teen die agtergrond van die voortslepende geweld en die hoop op ’n demokratiese verkiesing. Die leë retoriek van politiek koggel deurgaans die gebeure, skryf Laetitia Pople oor die opvoering in die Markteater in Johannesburg in April 1993.

Die karakter Ma is ’n vrou wat “binne stry”, ’n verpersoonliking van die ouer geslag wat sy lot gelate en verdraagsaam deurleef. Daarteenoor is Terrence “soos ’n bottel waarvan die prop wil skiet”. Hy verpersoonlik die verlore geslag wat sy skoolopleiding prysgegee het vir die stryd. Nou, in die jare negentig, het hy nie rigting in sy lewe nie. En sy swaer Livingstone heul met die blankes om homself te bevorder en ’n hoër lewenstyl te handhaaf. Die spanning tussen die twee mans is plofbaar en dreig vanaf die aanvang van die toneelstuk om uit te bars. Wanneer die geheime van die verlede dus op die lappe kom, ontspoor die gesin se lewens en neem Vrygrond tragiese afmetings aan.

Die vroulike karakters is almal sterk. Florrie is die vrou wat haar identiteit verloor en haar man se menings as haar eie aanvaar. Die karakter ontwikkel en groei egter nadat sy haar man konfronteer. Daarteenoor is Nadine die loslopende, mooi vrou wat matriek agter haar naam wil skryf.

Oem Faan is die buitestander wat in die skemerwêreld tussen die twee gemeenskappe beweeg. Hy is nêrens tuis nie en uiter allerhande profetiese woorde. Soms is sy dialoog, volgens Pople, net te dik vir ’n daalder. Hy verpersoonlik die onskuldige faktor.

Vrygrond ondersoek geweld en toon hoe dit ook die uitvloeisel van ’n bitter familietwis kan wees. As voorbereiding vir die skryfproses het Charles twee weke in ’n plakkerskamp naby Milnerton in die Kaap geplak. Eers het hy net in die sjebien gekuier totdat hy vriende gemaak het en in een van die huise gebly het. “’n Plakkerskamp is net ’n twintigste-eeuse voortsetting van die Dingaan-kraal wat met twintigste-eeuse gemors vasgesit is: sinkplate en plastiek.”

Daar was ’n hewige polemiek oor Vrygrond nadat ‘n ander dramaturg, Andrew Nel, beweer het dit is gebaseer op sy gelyknamige stuk wat hy in 1979 geskryf het. Charles se reaksie hierop was dat dit belaglik is. “[E]k vind dit skrikwekkend dat my integriteit so bevraagteken word. Dit maak seer. Maar die een of ander tyd gaan die waarheid uitkom. Dan sal dié persoon moet wys waar hy op sý kamstige Vrygrond afgekom het.”

Nel het beweer dat hy sy drama in 1991 herverwerk en dit Vrygrond 102B genoem het. Hy het sy drama aan Andries Oliphant van die Congress of South African Writers(Cosaw) gegee en versoek dat hy dit met Fourie s’n vergelyk. Oliphant het in sy verslag gesê met die eerste lees lyk dit nie of die werk oorgeneem is nie, maar die dieper dramatiese patrone is bykans identies. Al blyk die hoofgegewens nie dieselfde te wees nie, is hulle te groot om aan toeval af te maak en dat een van die dramaturge gevolglik met die ander se werk vertroud moes gewees het.

In reaksie op Oliphant se verslag het Gerrit Olivier van Wits gesê dat die twee dramas glad nie vergelykbaar is nie. Olivier het gemeen dat die verslag “ernstige insinuasies bevat oor die oorspronklikheid van Fourie se werk, en dus ook oor sy integriteit as dramaturg. In reaksie op die ooreenkomste wat volgens die verslag om verduideliking vra, kan ’n mens sê dat hulle in die meeste gevalle niksseggend is en daarby kan ’n mens ’n lang lys wesenlike verskille noem.” Die dramatiese situasie is in belangrike opsigte heeltemal verskillend. Die verkragting, die boemelaar en die seksuele taal funksioneer binne ’n ander dinamiek en met ’n ander doel. Dan gaan Olivier nie eens in op die politieke problematiek in Fourie se stuk nie, naamlik die kwessie van besitreg op die grond, die stryd tussen die kollaborateur en die jeugdige opstandeling, die historiese dimensie wat deur die rondloper gesuggereer word, ensovoorts. Olivier is oortuig dat die aanklag teen Charles ongegrond was.

Charles was in 1992 die ontvanger van ’n kwartaallikse bedrag van die Stigting vir Skeppende Kunste om hom vir ’n tydperk heeltyds op sy skryfwerk toe te spits. Volgens Charles sou dit hom in staat stel om “aan die lewe te bly en met menswaardigheid te skryf”. Hy het op daardie stadium reeds ’n verwerking van Jan Rabie se kortverhaal “Die groot vrot” voltooi en was ook besig met ’n projek waarin die Markteater in Johannesburg belanggestel het.

In 1992 is Die eend tydens die ATKV se Kampustoneelfees opgevoer. Dit is ’n skreeusnaakse klug gebaseer op Tsjechof se tragiese drama The seagull. Charl Blignaut het Die eend beskryf as ’n ryk, ingewikkelde tragikomiese, romantiese klug wat op ’n hele paar vlakke werk. Uiteraard is klug ’n taal wat almal kan verstaan, maar Fourie skep ook helder karakters, en sy gemaklike taalgebruik is uit die boonste rakke.

Die stuk speel hom af op ’n plaas waar Janneman, ’n aspirantdramaturg, snaaks word en hom verbeel hy is Anton Tsjechof. Intussen is sy meisie van die naburige plaas bereid om haarself aan Roy Ruiters, ‘n besoekende TV-skrywer, af te hoer om ’n aktrise te word. Maar Ruiters se minnaar, Anna Omo, ‘n bekende reklame-aktrise, gaan nie dit of haar menopouse laat gebeur nie. Intussen moet Misoes (gebore in die tyd van die Groot Droogte) weghol, want Gert Garries, ’n swart plaaswerker, is verlief op haar. Daar’s ook haar ma, Soekie, wat deur ’n krisis gaan en jags word omdat haar lewe vervelig is. Intussen word Oompie dronk, eet mielies, strompel rond en herleef Delville-woud se oorlog. Volgens Blignaut word die intriges merkwaardig beheer deur twee enorme dramatiese gebeure – eers gaan almal bloekombome toe en later klim almal in ’n bloekomboom op ... kyk waar sit ons nou.

Die eend integreer ook Tsjechof se Die seemeeu (eintlik die hele Tsjechofiaanse estetiek) op alle tematiese vlakke, vind parallelle met die karakters en verhaallyn, en word as botsende komiese apparaat gebruik. Daar is ’n paar ooreenkomste tussen Tsjechof en Fourie se benadering raak te sien. Hulle deel ’n vermoë om tragedie en komedie te verweef en om empatie met hul karakters te toon. Daar’s die tema van konflik tussen die optimistiese jong eksperimentele skrywer wat sy gehoor na sy werk moet lok en die meer ervare dramaturg wat probeer sin maak van sy gehoor en hul werklikheid.

Tsjechof se prerevolusie-Rusland verskil nie heeltemal van Fourie se Suid-Afrika nie en Tsjechof het ook dikwels ’n mikrokosmos uit die natuur gekies. Verder het Tsjechof ook nie juis veel vir konvensionele dramatiese struktuur omgegee nie en die duidelike “begin” en “einde” van ’n drama agterweë gelaat.

Die eend satiriseer die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf, en kritici het groot lof gehad vir Charles se “asembenemende”, “briljante” vernuwing van die Afrikaanse komedie.

Ná die opvoering van Braaivleis in 1995 by die KKNK het Charles aan Suzaan Steyn gesê dat hy nog net een drama gaan skryf, dan’s hy klaar, omdat hy niks meer het om te sê nie. Toneelskryf het vir hom beperkend begin raak en dit het in sy werk begin wys, volgens Charles self. Hy het gevoel dat dit tyd geword het om aan te beweeg, tensy hy kommersieel wil begin skryf, wat hy nie wil doen nie. Hy het ook gedurende daardie tyd aan ’n roman begin werk.

Gelukkig vir die teatergehore in Suid-Afrika en ook oorsee het Charles aanhou skryf vir die verhoog, al het hy gesê dat regisseurs kla dat hy nie sy dramas ’n ordentlike einde gee nie, dat hy nie tot ’n gevolgtrekking kom nie. “Maar my karakters is nie mense wat skielik ’n moerse insig het en sê o, ek weet hoe dit gaan eindig, want ek was by die sielkundige of ek glo in Nelson Mandela nie. Dis maar net gewone mense wat gil: wanneer de f** gaan dit ophou, want hulle weet nie. Net soos nie een van ons regtig weet nie.”

In 1995 het Charles Suid-Afrika verlaat en na Spanje gegaan. Oor die redes vir hierdie besluit het hy geskryf: “Met die oog op my vertrek moes ek deur ’n boel resensies en dinge grawe wat oor die laaste nege jaar opgegaar is. Die doel om te kyk of daar nie dalk iets is wat ek kan saamneem wat sal help om ’n werkie daar anderkant los te slaan nie. Ek meen te sê, ’n resensie met die opskrif ‘Playwright with his finger on SA’s pulse’ of ‘Fourie stuk ’n treffer’ kan mos dalk help dat ’n man ’n werkie as ’n kroegman daar in die vreemde losslaan.

“Hier tuis blyk dit in elk geval nie van veel waarde te wees nie, en miskien, net miskien is die een of ander Engelsman of Spanjaard geïmponeer genoeg. Maar laat ek nie droom nie ... ‘the world is a rough and ready place’ soos iemand eenkeer gesê het. Met die deurblaaiery tref die heimwee my egter nog voor ek weg is en word ek herinner aan die ‘magtige tagtigs’ en die tyd toe teater, soos ek hom wil bedryf, nog ’n stem had. Toe daar nog gehore was wat na afloop van ’n produksie gevoel het hulle het ’n bydrae gemaak tot jou werk. Toe resensente nog opgewonde oor inheemse werk kon raak en slim daaroor skryf.

“Wat verkeerd geloop het, nou ja – almal weet dinge het verander, en dat daar nou heuning gesmeer moet word en dat teater ’n enkelvoudige doel moet dien, naamlik opvoed en vermaak. Verder moes ’n klomp teatermense oorloop televisie toe of dinge soos industriële teater begin doen om aan die lewe te bly. Alles dinge wat daartoe gelei het dat individuele stemme verdwyn en ’n koor in die nuwe Suid-Afrika begin weergalm het. Wel, ek is reeds op skool weens my valsheid aangesê om maar te maak of ek sing tydens koorsessies. Gevolglik het ek my destyds van die koor onttrek.

“My vertrek oorsee kan ek nie anders as ’n herhaling van daardie patroon sien nie. Wat ek egter van my koorsingery gemis het, was die vriende wat ek in die koor moes agterlaat. En nou weer kan mens nie help om te weet dat dit die mense is wat groot bydraes tot jou werk gemaak het wat jy die meeste gaan mis nie. Akteurs wat hul diepste menswees met jou gedurende repetisies gedeel het. Teaterbesture wat, ten spyte van foute, ondersteunend was. Ek dink hier veral aan die ou Mark Teater bestuur, en Truk se mense wat tans totale disintegrasie in die gesig staar.

“Dan was daar ook resensente en ander mediamense wat nie net met insiggewende kritiek na vore gekom het nie, maar ook vriende geword het. Vir hulle gaan mens mis. Maar hoekom hardloop ek? Pieter Dirk Uys het onlangs gesê dat teater nog lewendig is, maar dat dit teater moet wees wat vermaak. Vir hom wens ek alle vermaaklikheid toe. John Kani, ’n ander groot gees van teater, sê weer dat teater deur ’n nuwe omwenteling gaan en dat ons geduldig moet wees. Geduld is vir Bhudda’s en sulkes, John. Athol Fugard het by geleentheid gesê dat teater die jeug moet opvoed. Wanneer laas het mnr Fugard by ’n jeugjol gaan uithang om uit te vind of die jeug opgevoed wil word?

“En so is ek seker het die groot geeste en die komende politieke kommissars van teater hul uitgemaakte gedagtes oor waarheen teater moet gaan. Ek kan egter nie anders as om tydelik vaarwel te sê aan die koor se swanesang nie. As ek my eie stem nie kan hoor nie wil ek nie sing nie.”

Met die opvoering van Skattebol in 1996 by die KKNK het die klere letterlik op die verhoog gewaai. In dié drama van Charles het Susan Loots gewys hoe Eva voor die appel gelyk het. In die verwerking van die verhaal van Johannes die Doper en Salome gaan dit volgens Loots om bebloede lyke en oordadige seksualiteit. Sy het gemeen dat dit tyd is dat Suid-Afrikaners aan naaktheid op die verhoog gewoond moet raak. Charles het dit ’n spulse parodie genoem wat gegrond is op gebeure wat tot die dood van Johannes die Doper gelei het.

Die solostuk Cussons se kombuis het in 1998 by die KKNK sy première gehad. Hierin het Jana van Niekerk ’n dramatiese voorstelling van Cussons se poësie gegee. Charles was die regisseur van die stuk en het aan Herman Wasserman vertel dat hy aanvanklik gewonder het hoe hy aan Cussons se werk ’n struktuur sou gee wat op ’n verhoog uitgebeeld kon word. Die antwoord het instinktief gekom. Nes verskeie literatore beskou hy Cussons se “Kombuis van Hera” as ’n sleutelgedig in haar oeuvre.

“Die kombuis is die plek waar dinge bymekaarkom, soos in die alchemie, waar dinge omgeskakel word,” het Charles verduidelik. “Ek het gaan kyk na die mistieke aspek van haar werk, na die proses van skryf, en het 'n manier probeer kry om dié dinge aan die gehoor oor te dra. Ek het probeer soek na ’n draad, na gedigte wat aansluit by die
kombuisproses en ook iets van die biografiese aspek van Cussons se werk. Uiteindelik het ek uit sowat 40 gedigte ’n dramatiese struktuur gebou. Uiteindelik word 21 van hulle in die stuk aangehaal.

“Vandat die gedigte gekies is, was die proses baie instinktief. Tot en met ons eerste opvoering (op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn) het ek nie ’n idee gehad wat om te verwag nie. Uiteindelik is die produksie iets wat gebeur, ’n ritueel.”

Hoewel hy dus aanvanklik gewonder het oor hoe hy struktuur gaan gee aan afsonderlike gedigte van Cussons, was dit uiteindelik nie nodig nie. Die gedigte het self hul eie rigting ingeslaan, hul eie verbande begin vorm. “Die regie was maklik in dié opsig dat ek nie aan die geskrewe werk hoef te gepeuter het nie. En Jana het ’n sterk verhoog-teenwoordigheid wat baie van die potensiële probleme met oorgange, verbande en so meer as gevolg daarvan kon vermy.”

Dit is die eerste keer dat Fourie iemand anders se werk regisseer. “Met jou eie werk moet jy altyd eers deur ’n proses van vervreemding gaan, afstand kry, voordat jy kan regisseer. Hier was die vervreemding klaar aanwesig. Cussons se kombuis was vir my ’n eksperiment om te kyk of ek iemand se materiaal kan vat en ’n teatrale ervaring daarvan kan maak.”

’n Interessante deel van dié teatermatige verwerking was dat dit deur een van Fourie se eie stukke beïnvloed is: sowel Cussons se kombuis as sy Jobias is op die KKNK opgevoer. Bedags is aan Jobias gerepeteer, saans aan Cussons. “Die goed het mekaar beïnvloed, maar hulle is uit die staanspoor eintlik verwant,” meen Fourie.

Net soos in Cussons se poësie is daar in die Christelike verhale ook mistiek te vind, meen hy, hoewel daar “Christelike tradisie is wat die mistiek heeltemal uitsluit”.

Met Moerkind in 2001 met akteurs Gavin van den Berg en Rolanda Marais het Charles weer eens gehore laat skaterlag. Van den Bergh het ’n Kaapse fopdosser wat Marlene Dietrich naboots, gespeel. Marais het teenoor hom gespeel en haar glad nie laat intimideer deur die meer gesoute akteur nie. Sy het vir die verrassingselement in die stuk gesorg. Dit is beskryf as absurde teater op sy beste en as ’n sensitiewe produksie geskoei op die styl van Jean Genet.

In 2002 het Charles en die  Britse teaterregisseur Jeremy Bond saamgewerk aan ’n internasionale teaterprojek, Stages, waarin Suid-Afrikaanse en Britse teater mekaar ontmoet. Die Old Vic-teater se projekleier, Kate Pakenham, het ’n inisiatief van stapel gestuur, Old Vic, New Voices, waar nuwe stemme die geleentheid gekry het om hul merk in die West End te maak. Hieruit het ’n samewerkingsooreenkoms tussen Old Vic en Stages ontstaan om A Season in South Africa aan te bied met voorlesings van die voorste Suid-Afrikaanse dramaturge se werk. Die internasionale gehoor in die Old Vic-teater het Charles se werk The lighthouse keeper’s wife baie goed ontvang.

Met die drama Stander het Charles in die psige van die bankrower André Stander gaan delf en een van Suid-Afrika se beste akteurs, Albert Maritz, gekry om die rol te speel.

Francois Tredoux het as volg oor Stander geskryf: “My idees van ‘gangsters’ en slegte ouens kry ek van enkele flieks, soos seker die meeste ander mense ook. Speurverhale met hardegat ‘private investigators’ en slinkse boewe was nog nooit my tipe leesstof nie. En eenman-toneelstukke vereenselwig ek met shows oor mense wat heldeverering waardig is, soos Oscar Wilde. Ek het dus nie mooi geweet wat om te verwag van Charles Fourie se stuk oor André Stander, Suid-Afrika se mees berugte bankrower, nie.

“Wat ek nie verwag het nie, is ’n toneelstuk wat my sou boei en vermaak, en my verbaas sou laat oor die energie wat nodig is om so ’n eenmanstuk te laat slaag. Albert Maritz speel ’n groot verskeidenheid rolle, van Stander en sy makkers, tot kollegas in die polisiemag, tot die slagoffers van die Stander-bende. ’n Paar pruike, vals snorre en brille help hom in die proses om van gedaante en karakter te verwissel.

“Maar as jy ’n pruik en miskien ’n snor opsit, beteken dit nog nie dat jy in die karakter ingeklim het nie. En Maritz se vaardigheid kom juis hierin na vore: die karakters is meesal geloofwaardig, ten spyte van die teks wat party van hulle in karikature verander omdat hulle net nodig is om die plot te laat voortbeweeg en nie om die emosionele konteks uit te brei nie.

“Ongelukkig is Maritz se behendigheid met vrouerolle nie te waffers nie - maar dis seker moeilik vir ’n fors man om die regte graad van vroulikheid blitsvinnig aan te trek. Hy vaar egter uitstekend met die mansrolle. Sy uitbeelding van Stander is genuanseerd, en die teks laat hom toe om die meervlakkigheid van ’n komplekse persoonlikheid gestalte te laat kry. Veral die slottonele beïndruk. Dit verg uiteraard baie energie om so ’n verskeidenheid rolle te speel, om so vinnig van karakter te verwissel en om die aksietonele in die regte tempo te ‘pitch’; ek is seker die speelvak hou Maritz fiks.

“Dis ’n ambisieuse teks, want dit bring ’n klomp strominge in sowat anderhalfuur saam. Dis weliswaar die geskiedenis van een persoon, met groot spronge vertel, met belangrike gedeeltes wat oorgeslaan word, of tot een of twee sinne ingekort word. Maar dis ook sosiale kommentaar, en ’n analise van hoe individue geraak en gevorm word deur ’n heersende ideologie. Die beeld van Stander se pa, die generaal, wat aanhoudend vra, ‘My seun, wat maak jy daar in die donker?’ trek godsdiens, politiek en seker ook Freudiaanse sielkunde treffend saam - én dis vreesaanjaend, veral vir mense wat nog kan onthou wie PW Botha is. Dit het my tot later as gewoonlik wakker gehou, dié vraag oor hoe die politieke bestel van destyds my gevorm het.”

In Charles Fourie se Vrededorp, wat in 2005 die KKNK/Nagtegaalprys verower het, kom die onsigbare onder meer ter sprake as die spoke van die oorspronklike Moslem-inwoners van dié Johannesburgse woonbuurt wat verskuif is om vir ’n suiwer wit gemeenskap plek te maak. Die verlede laat ook sy invloed op ander maniere geld. Daar is die Joodse buurvrou van Bart Nel en sy vrou wat ’n Nazi-konsentrasiekamp oorleef het; Nel se swart vriend en mede-akteur vir wie die geskiedenis deur die apartheidservaring oorheers word; die boheemse Nel self, wat – ondanks sy aanspraak op ’n normlose individualisme – telkens na sy Afrikanererfenis teruggryp; die Chinese buurman, wat met sy vreemde en oënskynlik irrasionele gedrag ’n ondeursigtige “ander” verteenwoordig; en oom Morrie en sy vrou, wat as ’t ware hul verlede kwytgeraak het. Dié uiteenlopende historiese verwysingspunte belemmer die spontane samesyn wat al die karakters uiteindelik begeer. Onder die gemoedelike omgang skuil allerlei onoorbrugbare klowe.

Vrededorp toon ooreenkomste met Marlene van Niekerk se Triomf. Dit verskil egter ook in interessante opsigte daarvan. Nel en sy vrou is nie “agterlike Afrikaners” nie, maar belese, gekultiveerde mense wat kies om in Vrededorp te woon en in staat is om hul omgewing te ironiseer. Desondanks kan hulle nie aan tragedie ontsnap nie. Onder meer dié uitgelewerdheid aan verledes en omstandighede word in Vrededorp sigbaar gemaak –nie net in die teks nie, maar ook deur die opvoering daarvan deur Neels Coetzee, Mary Dreyer, Lida Botha, Altan Ungerer, Chris Gxalaba en Lorraine Burger. Die regie is deur Francois Toerien behartig.

In Kurtz gaan “leen” Charles weer by ’n ander skrywer vir die gegewe van die drama wat in 2005 by Aardklop sy première gehad het. Gavin van den Berg het die rol van ’n voormalige recce-soldaat, John Milton Coetzee, vertolk wat Joseph Conrad se boek Heart of darkness in die hande kry terwyl hy as huursoldaat in Angola dien.

“Hy lees die boek en begin homself al hoe meer met die protagonis in die boek, Kurtz, identifiseer en glo later dat hý werklik Kurtz is," vertel Fourie aan Pieter du Toit.

Heart of darkness het al in verskeie vorme gestalte gekry, waarvan Francis Ford Coppola se kultusfliek Apocalypse now seker die bekendste is. Fourie se Kurtz is die eerste waarin gepoog word om Conrad se donker, fatalistiese verhaal van menslike teenstrydighede en “die bloeddors wat in elke mens skuil”, soos Conrad self geskryf het, in Afrikaans te interpreteer.

“Die idee kom eintlik al ’n lang pad saam met my en is voorafgegaan deur vreeslik baie leeswerk. Darkness was een van daai boeke wat redelik prominent in postkoloniale literêre diskoers voorkom en wat baie interessante idees bevat. Die skryf daarvan was vir my, soos met Vrededorp, ’n eie proses van bevryding.”

Charles meen daar kan ’n baie sterk lyn tussen die hoofkarakters in sy stukke Vrededorp (Bart Nel), Stander (André Stander) en Kurtz (John Milton Coetzee) getrek word. “Hulle probeer almal hul verlede in perspektief stel en probeer dit op verskillende maniere regkry, soos Coetzee wat soos baie regte voormalige spesmag-soldate terugneuk bos toe. Coetzee is eintlik soos Bart Nel, net tien jaar later.”

Conrad se boek is besonder woordryk en beskrywend, en Fourie sê hy “leun en leen” baie op en by Darkness. “Die boek beskryf Marlow - in Kurtz is hy die uitgewer Thulani Maxolo - se reis tot by Kurtz en daar word in die stuk ook verwys na ander reise, soos Danté se Inferno en Nietzsche se Zarathustra om die omstandighede te belig.”

Van den Berg het “n geskiedenis van swartgallige rolle en Fourie sê hy (Van den Berg) is baie in voeling met sy donker kant as akteur. “Hy vertolk nie net die rol van Coetzee nie, maar ook van verskillende karakters wat Maxolo, gespeel deur Rimus Sebonka, op sy reis ontmoet.” Kurtz was ’n aanspraakmaker op die AngloGold Ashanti / Aardklop-Smeltkroesprys.

Met die produksie van Lawwe geluide in 2007, wat ’n verwerking is van Michael Frayn se klassieke klug Noises off, het Charles van die beste komedie-akteurs gebruik gemaak om ’n treffer daar te stel. Tobie Cronjé, Martelize Kolver en Nicole Holm was die akteurs. Noises off is op sy dag aangewys as die komedie van die jaar in Brittanje.

Gerrit Brand, resensent van Die Burger, het die stuk op die KKNK gesien en skryf só daaroor: “In die eerste bedryf sien ’n mens hoe ’n span akteurs, onder andere Kolver, Cronjé en Holm, aan ’n klug repeteer terwyl hul regisseur, ­vertolk deur Francois Toerien, al hoe meer raadop raak.

“Ná die pouse sien die gehoor die dekor van agter af en beleef van agter die skerms hoe die gerepeteerde stuk opgevoer word.

“In die derde bedryf sien die gehoor die stuk van voor, ­hierdie keer die slotopvoering van die klug.

“Waar jy in die eerste bedryf kort-kort giggel en in die tweede bedryf al lekker lag, is dit in die derde bedryf dat die skatertrane begin stroom.

“Soos altyd lê die snaakse nie ver van die tragiese nie, want dis oor alles wat so liederlik verkeerd loop dat ’n mens jou wil breek. Dis ligsinnige vermaak van die boonste rak.”

In Charles Fourie se toneelstuk Ella se Perde, wat in 2007 op Hermanus se Kalfiefees sy première beleef het, word gegewens uit die lewe van ’n besonderse Overberger verhaal. Dit handel oor die lewe van Ella Gordon Dove Colston, ’n merkwaardige vrou wat eiehandig by Karweiderskraal in die Overberg geboer het.

Ella, ’n toneelspeler, het in die 1920’s saam met ’n sirkus uit Skotland in Suid-Afrika geland en hier wortel geskiet. Sy het as die “perdevrou van die Overberg” bekend gestaan vanweë haar liefde vir haar perde en honde en hoewel sy baie geliefd was, het haar seksuele oriëntasie baie mense teen die bors gestuit.

Charles het aan Anton Krueger een en ander oor Ella vertel: “She started picking up problems with the local farmers because they found her too masculine. She was very independent and did all the work herself and this was the late 1800s. She moved to Hermanus, but she left the dorp because she was politically liberal and gay and didn’t really fit in there. So eventually she bought this farm and built a school and a church for the people who worked for her. What was also interesting about her was that she had this incredible love for animals, especially horses. She left the farm to the Monrovian mission and I’ve developed a hypothetical conflict between her and the priest who helps her to draw up her will, where they disagree about the role of animals in the after-life.”

Ella is as eksentriek beskou, wat maar beteken het dat sy buite die kring van die kleindorpgemeenskap van die 1800’s moes leef om onbelemmerd haarself te wees. Die rapport tussen Neels Coetzee as die dominee en Mary Dreyer as Ella, wat in die gesprek oor haar testament wik en weeg oor hoe haar perde hemel toe sal kan gaan, begin eenvoudig en mooi.

“God se liefde is wyd, maar is dit wyd genoeg om honde, perde en lesbiërs in die hemel toe te laat?” was die tema van die stuk.

Charles se toneelstuk Agterplaas is op 17 Junie 2011 in die Duitse Klub in Tuine, Kaapstad, op­gevoer. Dit was die eerste opvoering daarvan nadat die stuk vroeër op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) gloeiend ontvang is.

Charles praat oor sy motief agter die skryf van Agterplaas: “Ek het die teks allermins geskryf om armblankes as voorwerpe vir bespotting uit te beeld. Daar’s sekere mense wat common mense mos gebruik om aandag te trek ... Dis soos die fliek wat hulle oor Triomf van Marlene van Niekerk gemaak het – hulle het dit totaal opgedonner. Dis vir my altyd so ironies dat buitelanders kan kom en ons stories vertel, en hulle het geen begrip van die mense of hul gegewens nie. In Agterplaas is daar méér as net ’n tentoonstelling van armoede. Ons werk met empatie, en die fokus is op die storie en die mense en hul dilemma. Ek het nie Agterplaas geskryf bloot om mense te vermaak nie. Dit gaan oor die bewusmaking van ’n sosiale probleem wat daarop dui dat ons nie meer ’n damn vir ons medemens omgee nie. Veral gesien in die lig van hierdie narcistiese tye waarin ons leef.”

Die rolverdeling het ­bestaan uit Deon Lotz, wie se vertolking in die rolprent Skoonheid besing is in al wat resensie was oor dié prent op die onlangse Cannes-rolprentfees, asook Deidre Wolhuter en Esther von Walts­leben van kykNET se Proesstraat-faam.

Agterplaas bied ’n rou, ­nerf­af blik op armoedigheid en ’n wit gesin met min voor­uit­sigte, wat in tannie Klets se ­agterplaas plak. Ma en Pa is op die waterkar, Sus het nie ­matriek nie en broer Pietertjie is die sprankie hoop.

Die aand se bedrywighede het ’n “zef-toonkleur”, aldus Fourie, die sameroeper van die malse aand wat benewens vuur- en buikdanse van die Psychedelic-teatergroep ook ’n vertoning insluit van die rapper en raconteur Jack ­Parow se modereeks, Parowphernalia, en ’n optrede van ’n platejoggie, Vince Ladd.

Die unieke aanbieding van ’n toneelstuk is ’n poging om ­teater uit sy borstrok te ruk, sê Fourie. “Ons probeer om teater aan ’n jonger gehoor bekend te stel deur ander vermaak ook te bied. Mense kan ook lekker kom dans.”

Die gesin plak by ’n halfweg­stasie tussen nou en nêrens in tannie Klets se agterplaas. Jy vóél vir hierdie mense. Fourie vertel sy verhaal met die diepste deernis en trefseker waarneming. Hy het respekte en hy weet dat komedie ook daar lê waar mense die seerste het.

Ons het dit al raakgelees in Marlene van Niekerk se ­Triomf, gehoor by Jack Parow en Die Antwoord. Maar hier in Oudtshoorn, neffens ’n pakskuur op ’n stowwerige ­heuwel met ’n treurige ­peper­boom en honde wat veraf blaf, word dit vir jou werklik. Die snaaksigheid van die zef-faktor is weg, jy voel vir hierdie mense. Pa en Ma is op die waterkar. Tussen hulle en die afgrond staan die pastoor en die AA. Sus het nie matriek nie, en ’n “moerbroer” met baie geld lok haar na die ­verderf. Die sprankie hoop is Pietertjie, ’n bright spark wat vir ­seker universiteit toe gaan. Die daaglikse sepies en die ­belofte om op die Laan se stel te verskyn – ’n allerlaaste strooihalm. Hulle skel, huil en skerts met mekaar. Hulle maak nog geraas. Fugard se People are ­Living there meld vlugtig by jou aan. Fourie skep, soos Fugard, warmbloedige karakters en nie karikature nie. Deur jou groeiende verhouding met hulle ondergaan jý ’n om­wenteling. Agterplaas verdien om op elke verhoog in Suid-Afrika gesien te word.

Op 45 (in 2011) is Charles immers ietwat meer besadig as vroeër. Hy vertel aan Willemien Brümmer dat Agterplaas deel is van ’n tweeluik met Boplaas, wat op ’n wynlandgoed afspeel. Daarom dat tant Klets al snikkende in ’n skewe verwysing na DJ Opperman sê: “Dis so blêrrie sad ... wat anders is ons ou lewentjies maar as ’n gehunker verby die zeflike na ’n Boplaas?”

Agterplaas is ook ’n soort vervolg op Fourie se Vrygrond en Vrededorp (2005), sy mees outobiografiese drama, oor die tyd toe hy in die destydse Fietas aan die “holkant van Johannesburg” gewoon het. “Iemand het nou die dag vir my gevra: ‘Kan jy nie iets anders skryf nie? Are you not busy rewriting yourself?’”

Hy het dié keer die fokus op wit armoede geplaas en wel om die volgende redes: “Vrygrond (oor ’n swart plakkersgemeenskap) het ek in die oorgangstyd (1993) geskryf, en die ironie is dat daar steeds net soveel armoede is. Maar ek dink nie in die laat tagtigs en vroeë negentigs het enigiemand hulle daarop voorberei dat blanke armoede so vinnig kon toeneem en op só ’n enorme skaal nie.

“Die werklikheid daar buite is in sommige opsigte gelyk aan wat in die 1930’s in die Depressiejare gebeur het, waar blanke meisies as prostitute gewerk het om hul families aan die gang te hou, en die pa’s op die myne meegeding het met die swart werkersklas.”

Die armoede wat hy beskryf, kom immers van ver. In dié opsig tree Agterplaas in gesprek met ouer tekste soos PG du Plessis se Siener in die Suburbs, oor armoede in die jare sewentig in die suidelike voorstede van Johannesburg. Dis ook ’n herskrywing van die volksvertelling oor Racheltjie de Beer, wat in 1843 in ’n snerpende koue winternag ’n miershoop uitgehol het en haar boetie met haar naakte liggaampie beskerm het.

Tant Klets sê juis vir ma Sannie: “Die ding van ons kom al daar van agter die Boere-oorlog en hy loop deur die depressiejare tot in die hier en nou. Ons skaamte was nog altyd hier.”

“Dis nie asof die Afrikaner soseer destyds ’n middelklas-identiteit gehad het nie. Hulle was Trekkers. Hulle was mense wat goed gaan opbou het, en binne daai konteks het hulle beslis nie daar aangekom met ’n Porsche en ’n vier-by-vier en al daai gadgets nie.”

Charles is steeds in murg en been ’n betrokke skrywer, ’n soort Afrikaanse Athol Fugard wat hom genoop voel om te skryf oor “daar waar mense swaarkry”.

“Die ding vir my oor armoede ... Ek was nou onlangs weer daar; ’n jaar lank werkloos en het hulpbehoewendheid self ervaar. Mense is geneig om armoede as ’n skaamte te sien, veral in ons samelewing waar die fokus so op die verbruikerskultuur is. Met Agterplaas wil ek mense bewus maak van die armoede en sê kom ons dóén iets daaromtrent.”

“Dis vir my altyd ironies dat wanneer Afrikaners in ’n dilemma is, ons nie die vermoë het om onsself te aktiveer nie. Ons is skaam om te sê wat ons wil hê. Jy’t politieke ekstreme, en dis maklik, maar ek praat van sosiale kwessies. Ek dink die enigste ou wat dit werklik op ’n manier regkry om ’n nie-politiese groep mense te aktiveer – of jy nou daarmee saamstem of nie – is Angus Buchan en sy Mighty Men.”

Hoekom kies hy gewoonlik om self die regie van sy tekste te doen? Dink hy nie ’n skrywer word dan ’n té magtige man nie? “Ek dink daar is regisseurs wat glo ’n produksie is net geslaagd as daar mooi visuele prentjies is. My gevoel is daar word soms te veel tyd bestee aan prentjies maak en te min aan die teks en akteurs, en ek hou in elk geval daarvan om nog aan die teks te werk tydens repetisies en om nog dialoog in te bring en goed rond te skuif. Veral as dit die eerste keer is dat ’n teks opgevoer word.”

Charles weet waarvan hy praat. Hy is steeds een van die produktiefste dramaturge in Suid-Afrika. En een van die seldsame voëls wat hom daarop kan roem dat dit sy wérk is – al meen hy toneelskryf is “die stiefboetie van die literatuur in Afrikaans”.


Toekennings

  • Henk Wybenga-beurs – Speel-speel 1985
  • Amstel Dramaturg van die jaar – Big Boys 1988
  • Vita Beste nuwe toneelstuk van die jaar – Big Boys 1989
  • Vita Beste produksie van ’n nuwe toneelstuk – Big Boys 1989
  • Salpetersbekerkompetisie in Port Elizabeth vir beste opvoering, akteur en aktrise – Parrot Woman 1993
  • Amstel Dramaturg van die jaar – Vrygrond 1993
  • Sakruk beste nuwe toneelstuk van die jaar – Don Gxubane onner die Boere 1994
  • Fleur du Cap Beste nuwe toneelstuk (Finalis) – Sodom 1998
  • Sanlam/RSG Radiodrama-toekenning in die beginnerkategorie (Derde plek) – Praatmaar 2000
  • KKNK/Nagtegaal Beste drama-toekenning – Vrededorp 2005
  • Maskew Miller Longman Drama Award – The Lighthouse Keeper’s Wife 2008
  • KKNK/Nagtegaal Beste drama-toekenning (Finalis) – Agterplaas 2009
  • ATKV Woordveertjie Drama-toekenning (Finalis) – Agterplaas 2010

Afrikaanse en Engelse produksies met datum en plek van eerste opvoering

  • Speel-speel – 1984 Potchefstroom Universiteitsteater
  • Ek is wat ek is – 1985 Potchefstroom Universiteitsteater
  • Grot van die Kaalkoppe – 1985 Windybrow-teater, Johannesburg; Staatsteater, Pretoria
  • Langs ’n spoorweg – 1985 Grahamstadse Kunstefees
  • Ringe ringe rêrig – 1986 ATKV Kunsfees, Pretoria
  • Doekelmanse – 1987 Blacksun-teater, Pretoria
  • Die Crazer – 1987 Windybrow-teater, Johannesburg; Staatsteater, Pretoria
  • Die Papegaaivrou – 1988 Windybrow-teater, Johannesburg; Staatsteater, Pretoria
  • Hier’s Vannermerwe – 1988 Sand du Plessis-teater, Bloemfontein
  • Big boys – Markteater, Johannesburg
  • The parrot woman – Markteater, Johannesburg
  • Diesel and dust – 1990 Grahamstadse Kunstefees
  • Rainbow Electric Roadhouse – 1991 Grahamstadse Kunstefees
  • Smiling Iona – 1992 Rockspider, Kaapstad
  • Demjanjuk – 1992 Kleinteater, Kaapstad en 2004 by KKNK
  • Cut ups – 1993 Riverside-teater, Kaapstad
  • Vrygrond – 1993 Markteater, Johannesburg
  • Die groot vrot – 1993 Grahamstadse Kunstefees
  • Mouthpieces – 1994 Langstraat-teater, Kaapstad
  • Die eend – 1994 Staatsteater, Pretoria
  • Don Gxubane onner die boere – 1995 Staatsteater, Pretoria
  • Braaivleis – 1995 KKNK
  • Hier’s Vannermerwe II – 1996 KKNK
  • Skattebol – 1996 KKNK
  • Crimebabies – 1997 Markteater
  • Jobias – 1998 Kunstekaap, Kaapstad
  • Cussons se “kombuis” – 1998
  • Goddess of song – 1999 Kunstekaap, Kaapstad
  • Stander – 1999 KKNK
  • The Lighthouse Keeper’s wife – 1999 Baxter-teater, Kaapstad en 2001 Old Vic-Teater, Londen (Aanvanklik uitgevoer as Sodom: a love story)
  • Moerkind – 2001
  • My Verwoerd – 2001 KKNK
  • Stywe lyne – 2003 KKNK
  • Tussen hemel en aarde – 2004 Stadskouburg, Hermanus
  • Stander (Engelse weergawe) – 2004 Baxter-teater, Kaapstad
  • Eiland – 2005 kykNET se reeks Van die verhoog af
  • Vrededorp – 2005 KKNK
  • Trourock – 2005
  • Kurtz – 2005 Aardklop Kunstefees, Potchefstroom
  • Ella se perde – 2007 Kalfiefees, Hermanus
  • Lawwe geluide – 2007 KKNK
  • Inferno – 2010 middagvervolgverhaal op RSG
  • Agterplaas – 2011 KKNK
  • Die soet trane van Petrus Pansegrouw – 2012 KKNK

Radiodramas

  • Praatmaar  – RSG 2000
  • Beseringstyd – RSG 2004
  • Selfportret – nie uitgesaai nie

Film- en televisieproduksies

  • A report after apartheid – 1993, kortfilm nie uitgesaai nie
  • The sandbox – 1994 kortfilm, nie uitgesaai nie
  • Desire – 1996 kortfilm, vertoon by die Sithengi Filmfees
  • A reel life – 1997 dokumentêre film SABC3
  • Stander – 2005 60 minute film kykNET
  • Eiland – 2005 60 minute film kykNET
  • Deeltitel Dames – 2010 Afrikaanse situasiekomedie kykNET (Draaiboekskrywer)

 
Publikasies

Publikasie

Vrygrond; Die eend; Don Gxubane onner die Boere

Publikasiedatum

1994

ISBN

0624033589 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet


Publikasie

The lighthouse keeper’s wife

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780636085909 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Maskew Miller Longman

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Maskew Miller Longman Literature Awards for Youth Dramas English Category 2008

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet


Publikasie

Vrededorp

Publikasiedatum

2011

ISBN

9781869195922 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

KKNK/Nagtegaal-toekenning vir Beste Nuwe Drama 2005

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Charles J Fourie as redakteur

Artikels oor Charles J Fourie op die internet


Artikels deur Charles J Fourie op die internet

 


Terug na bo

Bygewerk: 2011-02-10
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur ’n e-pos aan album@litnet.co.za

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment