Carina Stander se raad aan voornemende digters

  • 0

Carina Stander se raad aan voornemende digters

  • As jy net lank genoeg kan lewe om een gedig te skryf, waaroor sal dit gaan? Skryf vandag nog daardie gedig. Só keer jy dat die groot vonk binne jou geblus word deur ’n uitstellery en, uiteindelik, ’n afstellery.
  • Maak dadelik ’n nota van daardie sterk sin of beeld wat by jou opkom wanneer jy by die vliegtuig uitkyk, ’n openbarende droom of brief ontvang, of ’n blaargeraamte sien as die son by jou kamer inskyn. Dalk omskep jy dit eers jare later in ’n gedig, maar as jy die oomblik van inspirasie nie  neerpen nie, is dit water deur jou vingers. Vir altyd verlore.
  • Poësie is klankkuns: lees jou vers hardop. Hóór of die ritme en klank aansluit by die inhoud van jou gedig.
  • Publiseer ’n gedig slegs as jy bereid is om dit in lewende lywe voor ’n gehoor te lees; as jy jouself ten nouste aan daardie vers kan koppel.
  • Moenie jou onklaar gedigte sommerso verloën nie. Op my rekenaar is ’n lêer met die heerlike dubbelsinnige titel, “Gedigte om te verwerk”. Dit is 117 bladsye lank.
  • Skryf binne en buite seisoen. Dus: of jy nou lus is of nie. Op 11 het ek vir myself die reël gemaak dat ek elke tweede Sondagmiddag ’n gedig moet skryf – ’n ritueel wat ek volgehou het totdat ek 17 jaar oud was. Dit het my selfdissipline geleer.
  • Wees groeigereed, nie kleinserig nie.
  • Omring jouself met reuse: op hoërskool het ek vir drie jaar die ATKV-Skryfskool op Potchefstroom bygewoon. Die eerste twee jaar was ek die enigste skoolkind – totaal verskrik én verwonderd. Om regte skrywers soos Antjie Krog in aksie te sien, het my laat besef hoe ontsettend baie ek moet leer. Dié besef het my uit die fase van tienerpoësie geklap – iets wat my andersins dalk dekades sou geneem het. Met die MA in Kreatiewe Skryfwerk by Kaapstad het Joan Hambidge my gewys op hebbelikhede waarvoor ek in my pasoppens moet wees en natuurlike sterk punte waarmee ek kan woeker.
  • As jy regtig wil groei, bestaan daar nie iets soos om vir ontspanning te lees nie. Selfs al lees jy ook ’n slapstick komedie. Of jy nou blaai deur ’n mediese joernaal, ’n vakkundige natuurboek, ’n atlas, resepteboek, spreekwoordeboek of kinderboek, koerant en veral ’n digbundel: lees altyd met ’n pen in die hand, besig om die tricks of the trade te ontsyfer.
  • Luister musiek wat die onbewuste oopmaak. Wanneer ek skryf, luister ek soms klassieke musiek (Rachmaninov, Satie, Beethoven) of world music van Bulgarye, Frankryk, Kenia, Ierland, Brasilië.
  • Gaan lééf. Gooi jou deure oop. Snorkel kaal in die see. Besoek jou grootwordplek. Bid op ’n berg. Luister stip hoe mense gesels, na hul taal en lyftaal, veral na dit wat ongesê bly. Keer dan terug na jou binnekamer. En skryf met al duisend jou sintuie. Jou eie storie in jou eie stem.

Carina Stander beveel die volgende boeke aan:

Lees van ewigheid tot amen.

  • In Afrikaans ten minste Groot verseboek en Poskaarte; ook De Afrikaanse poëzie in 1000 en enige gedichten. Só leer jy wat die ooreenkomste en verskille tussen jou en jou literêre voormense is.
  • Betowerende Breytenbach vir vrye vlug, metamorfose, spontane wording. BB is ’n regte skilderdigter – hy skryf met sy oë.
  • Uys Krige se Spaanse Dans, veral sy vertaling van Lorca, Neruda en Jiménez se verse.
  • Sheila Cussons se ’n Engel deur my kop. Sy skryf met verstommende helderheid oor spiritualiteit daarin.
  • HJ Pieterse se Die burg van hertog Bloubaard – ’n briljante eenheidsbundel.
  • Die magtige “prose poets” van die wêreldletterkunde: Anne Michaels (Fugitive Pieces), Michael Ondaatje (The English Patient) en Clarissa Pinkola Estés (Women who run with wolves).
  • Die Hebreeuse digter, Yehuda Amichai se hele oeuvre.
  • Vir metaforiese taal wat meesleur: Pablo Neruda. Hy openbaar die psige van die Latino wêreld.
  • Die bybelboek Jesaja; dis ’n pragtige stuk poësie. Dit laat mens verstaan waarom die Hebreeuse werkwoord vir dig en profeteer dieselfde is: naba.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top