Bydrae

  • 1

Ons hier in Hermanus het die voordeel dat ’n “plattelandse-vlagskip”-tak van Woolworths in ’n prima ligging van die sentralesakegebied eersdaags open.

Baie van die inwoners (nou hier) was deur die jare betrokke by omgewings- en maatskaplike aangeleenthede in die areas waar hulle hul brood verdien het. Hulle  het dikwels swaarde gekruis in robuuste debat wat deur koerantredakteurs graag geakkommodeer is in onder andere florerende briewekolomme. Helaas die tyd is verby. 

Die beste verwagting tans is dat gum bites (tandelose byte) oor sagte (!) onderwerpe soos  rugby, bobbejane, evolusie, godsdiens (of nie) om te frack of nie, die leserskolomme haal. Potensi?le vuurwerke word vermy. Hier het Die Burger "Die Weg" van dit alles geword.

Ons brom maar onder mekaar – met Hermanus Times en Noseweek as die enigste rapportering in die gedrukte media beskikbaar vir wat ons oor ’n onderwerp wat van uiterse belang op beide streeksvlak en nasionale vlak is te sê het.

Woolworths gun ons die geleentheid om die toepassing van demografiese verpligtinge eerstehands te beskou. Die verpligtinge is tweërlei – om swart ekonomiese bemagting (SEB) te bevredig, en aangesien Woolworths ’n privaat maatskappy is, kan dit verwag word dat hulle ook (veral) die “demografie van hul kliëntebasis” sal bevredig.

Woolworths se interpretasie van SEB is ook ’n turksvy. Volg hulle die voorskrifte van die “nasionale demografie” of is hulle gevoelig vir die besondere aanspraak van “Wes-Kaapse demografie”?

In die debat daaroor word dié streeksdemografie dikwels bloot afgemaak deur sommige nasionale maghebbers: “Daar woon te veel bruines in die Wes-Kaap – hulle kan na ander provinsies verhuis en daar hul ‘regmatige demografiese werksgeleenthede’ gaan opeis”.

Onafwendbaar in die “Woolworths-debat” word geniepsige klappe na wittes uitgedeel omdat hulle durf om die blatante diskriminasie in die advertensies van Woolworths uit te wys. Ek ondersteun Solidariteit se betrokkenheid by die aangeleentheid, maar nie enige oproep van wie ookal om Woolworths te boikot nie.

Boikot is ’n emosionele uitlaatklep en nie volhoubaar nie. Baie op die voorpunt van die beoogde aksie sal, as hulle dink niemand sien hulle nie, terugsluip vir hul goodies.

Naas Viljoen

  • 1

Kommentaar

  • Johannes Comestor

     Naas

    Baie sal terugsluip na ’n Woolworths-winkel maar nie almal nie. Jou standpunt is egter heelwat gesonder as die van Charl Linde (11 en 15 deser), wat van die Woolworths-skande ’n Afrikaner-skande maak. Hy maak selfs ’n draai by slawerny. Woolworths se beleid is gewoon ’n immorele skande, maar nie meer skandalig as die van talle ander ondernemings wat dieselfde drakoniese wette met oorgawe toepas nie. Dit is hoe die nuwe nie-rassistiese Suid-Afrika lyk. ’n Gedagte wat nog nie eens by mense soos Linde opgekom het nie, is dat die koerante stil oor die saak is omdat hulle nie hulle advertensie-inkomste uit Woolworths wil ontbeer nie.

    Johannes Comestor 

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top