Brink – tydig en tydloos

  • 0

Die boek, toegedraai in ’n serp en verseël in ’n plastieksak, was weggesteek agter die groot toolbox onder die tafel. Dit was glad nie sigbaar van bo nie, maar ’n 11-jarige dogtertjie wat onder die gereedskaptafel wegkruip, kon dit maklik sien. “Kennis van die aand” het op die donkerblou omslag gestaan. Ek het nie al die woorde verstaan nie, maar toe ek die boek oopmaak en begin lees, het ek heeltemal vergeet van die speletjie wat ek en my maats besig was om te speel.

Dit het my die grootste deel van twee maande geneem om in gesteelde tydjies die blou boek klaar te lees. Ek was salig onbewus dat die boek verban was, maar ek het instinktief geweet die boek sou verdwyn as ek iemand laat agterkom ek het die wegsteekplek ontdek.

Dit was my eerste kennismaking, ’n tipe kennis van die aand as jy wil, met André P Brink se skryfwerk. Apartheid was in volle swang. Soms, laatnag wanneer my pa-hulle gedink het ons slaap, het ek gehoor hoedat hulle praat oor die land en wat aan die gang is. Rassespanning was die draad wat elke gesprek deurloop het. Ek het nie toe besef hoe uitsonderlik dapper Kennis van die aand was nie, en ek het eers met ’n tweede deurlees ’n hele aantal jare later die fyner nuanses van die boek verstaan. Wat ek wel verstaan het op 11, was dat daar nie baie boeke soos syne is nie. Ek kon dit nie toe verwoord nie, maar min boeke kon die kollig so treffend en selfs skokkend laat skyn op die aanvaarde en grootliks unchallenged, vanuit eie geledere, waansin van die tye. Daar was iets idealisties, amper Don Quichot-agtig, aan Brink se geloof dat hy die siektes van die samelewing kon oopskryf.

Hy was my eerste kennismaking met skryfwerk wat nie net ten doel het om te entertain nie, maar ook kritiese kommentaar te lewer. Hy het nie geaarsel om sosiale en politieke oordeel met sy skryfwerk te fel nie. ’n Mens kan natuurlik al sy apartheidsera-skrywes lys, maar vir my het Gerugte van reën, ’n Droë wit seisoen, Houd-den-Bek en Die muur van die pes saam met Kennis van die aand besondere impak gehad. Hy het verstaan dat hy in Afrikaans en as Afrikaner-insider meer effektief kommentaar kon lewer op die magsvergrype van die regering van die dag as wat ’n buitestander ooit kon droom om te doen. Terselfdertyd, en ek weet nie of dit ooit doelbewus was nie, kon hy vir baie bruin mense in hulle eie taal hoop gee dat daar whiteys is wat verstaan, en bereid is om hulle nekke uit te steek om te sê dat apartheid onmenslik is en nooit kan werk nie.

Hy’t begryp dat die pen magtiger as die swaard is, dat mense se denkwêreld inderdaad verbreed kan word deur boeke. Hy was sy tye ver vooruit, maar hy’t ’n duur prys betaal daarvoor. Internasionaal was hy ’n gerespekteerde literator, maar tuis was hy in omstredenheid gehul en soos ’n pariah behandel.

Sy sosiale kommentaar was nie net tot apartheid beperk nie. In die tydperk vanaf die 1990’s het hy ook, ontgogeld met die breuke in die fondament van demokrasie, die postapartheid samelewing kritiseer. Die Kreef raak gewoond daaraan en Bidsprinkaan is twee werke wat vir my uit hierdie tydperk uitstaan.

Brink se invloed op Afrikaans en die literêre wêreld het egter veel verder gestrek as net sy eie skeppende werk. Ook in die digkuns, ’n arena waar hy nie self aktief was nie, het sy skaduwee ver gestrek. Toe Brink die samestel van die Groot verseboek oorgeneem het, het hy die vir die tyd ongewone besluit geneem om ook digters wat nog nie hulle eie bundels gepubliseer het, in te sluit. Dit het minder bekende digters ’n geleentheid gegun om op ’n breër verhoog blootstelling te kry.

Hy’t selfs verder gegaan en, tekenend van die begrip dat Afrikaans goeie PR broodnodig het, sy naam en steun verleen om PEN Afrikaans, ’n onafhanklike skrywersorganisasie wat die belange van Afrikaans en Afrikaanse woordkunstenaars op die hart dra, op die been te bring.

Brink was een van daai rare wesens: ’n skrywer wie se werk beide tydig en tydloos is. Die literêre landskap is veel ryker as gevolg van sy invloed. My hoop is dat sy legacy van sosiale betrokkenheid en literêre aktivisme op een of ander manier erken en onder woordkunstenaars aangemoedig sal word.

Ek vermoed Brink sou my staaltjie van die onwettige gelees tussen die toolbokse geniet. Ek het hom egter nooit ontmoet nie. Die een geleentheid waar ek myself sou kon voorgestel het, by PEN Afrikaans se 2012-jaarvergadering, het my moed my begewe. Ek het gedink daar sal ’n volgende keer wees, maar daar was nie.

’n Seder het geval. Hamba kahle.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top