Briewe van Andan

  • 0

Vind jou pad in Parys se hart in tot by rue Vieille du Temple, of soos Andan dit genoem het, De Oude Tempelweg. Sleep jou koffer trap vir trap vyf verdiepings na bowe tot in Andan en Estelle se grenier-woonstel, iets soos die spreekwoordelike "garret" waarin verhongerende kunstenaars of skrywers sit en wroeg oor waar die volgende week se huur gaan vandaan kom.

Ek en Andan – so genaamd omdat sy peutersustertjie Elbie in die begindae nog nie "André" kon sê nie – was vroeër medestudente op die Puk, ’n omgewing wat nie ons natuurlike habitat was nie, en boonop was ons nie mense wat eintlik maklik vriendskappe aanknoop nie. Albei maar ’n bietjie beskimmeld, en veel anders as die gebore Doppers by wie ons moes probeer inpas. Maar dalk juis omdat ons anders was, was dit maklik om maters te word in ons betrokkenheid by die toneelvereniging.

Ek was ’n raps ouer as André (laat ek hom nou maar so noem) maar ek het meer as net ’n bietjie wêreldwys teenoor hom gevoel, want die kêrel was darem waaragtig onskuldig. Hy het tot ouderdom sewentien nog nooit in ’n hysbak gery of ’n meisie gesoen nie. Sy latere onthullings van kleintydse kattemaaiery tussen die meelsakke agter die negosiewinkel met die eienaar se dogter is versinsel (veral as jy jou probeer voorstel hoe twee mense sal lyk wat in meelsakke rondgerol het). Ek sweer oor die volgende: hy't eenkeer daar in die vyftigerjare op ’n trein wat ’n verhoogstuk van die universiteit na plattelandse dorpe geneem het, by ’n kompartement ingebars en ’n onskuldig vryende paartjie heftig berispe oor hulle ontug. Dít ondanks die feit dat hy toe al in ’n hysbak gery het.

Die vriendskap het eers behoorlik op dreef gekom toe ek ’n vakleerling-diplomaat in Pretoria geword het en André in Potch agtergebly het om ’n tweede meestersgraad te voltooi. Ek kon my voorstel hoe hy die groter vryheid van nagraadse lewe sou geniet, want hy't altyd maar die gewoonte gehad om in vry periodes in te glip by watse klasse ook al aan die gang was – Latyn, wysbegeerte, geskiedenis, enigiets. Die kêrel was ’n spons wat kennis opgesuig en behou het. Heel gou het dogma van hom weggeval, maar nie sonder wat die oumense ’n "stryd" sou genoem het nie. Hy het die Skrifkennis behou, maar helaas is hy nie sonder meer bevry van hokus-pokus nie: hy was al mooi groot toe hy ’n beoogde reis Portugal toe kanselleer omdat die I Ching se strooitjies waarsku die tyd is nie reg nie.

Intussen raak hy sy Sterretjie ryker – Estelle, wat ná haar plantkundegraad Pretoria toe trek. As André naweke vir haar kom kuier, gaan hy by ons tuis. Ek en hy gaan fliek toe, en met die terugkom druk ek die hysbak se knoppie vir die tweede verdieping. (Ons woonstel is op die derde.) Die hyser stop, ek staan vir André terug, hy maak die deur van "my" woonstel oop en stap onweifelend binne. Ek laat my skroomvallige vriend voorgaan, en wag buite vir wat na nogal ’n lang tyd voel. Eers hoor ek hom ’n hoflike "goeiemiddag" uiter teenoor die oorblufte vreemdelinge in die sitkamer (niks ongewoon nie, het hy natuurlik gedink, want daar is altyd ’n aanloop mense by Naas en Sarie), dan – soos hy dit later beskryf – stap hy luiters deur na "sy" kamer, waar ’n poedelkaal vrou besig is om haar onderklere uit te soek. Let nou op hoe sy sang froid blykbaar werk. Hy sê "Goeiemiddag," draai om, stap verby die stomgeslane vreemdelinge met ’n hoflike kopknik, en loop weer by die deur uit na waar ek hom inwag, net-net in staat om my in te hou. Rooi soos ’n kalkoen prewel hy: "Bliksem!"

Wanneer hy nie by Estelle kuier of saam met my gaan fliek nie, kraam hy een kortverhaal na die ander uit. Vlytigheid was vir Andan so natuurlik soos asemhaal. Vroeg reeds het sy werkywer en vlotheid vir hom geld begin verdien, wat hom in staat stel om Estelle as bruid Parys toe te neem pas nadat ek en Sarie in 1959 Londen toe verplaas is.

Werk, sê die groot Jung-dissipel Marié-Louise von Franz, is maklik wanneer jy nie opdraande swoeg in opposisie tot jou energievloei nie. Totdat sy pas hier in die laaste paar jaar verlangsaam het, het André se energie immer opwaarts gebruis, elke kilojoule gerig op sy raison d’être – skryf. (Hy sou eens met ’n verjaardag ’n pen present kry met die inskripsie J’écrit, donc je suis.)

Dat hy ’n skrywer sou word was vir hom voorafbestem, en die harde werk wat dit verg, bloot ’n lewenswyse. Met die aankomslag in Parys in die daeraad van Sestig het hy sy naam in die ambassade se besoekersboek gaan teken, met daarnaas: “Skrywer/student”. Onverwyld het hy ingeval in ’n patroon van werk en verkenning van dié bedwelmende stad. Maar selfs Parys kon nie tussen hom en sy draagbare Olivetti kom nie, en Sterretjie moes maar genoeë neem met die patroon van verbete staptogte en dan ure van ewe verbete skrywe. Die alleenwees met ’n boek-in-wording was immer vir Andan gesellig, mits daar musiek is. Vandaar dat hy een van sy werke opdra aan onder meer “Wolfgang Amadeus Mozart”. Ons gemeenskaplike held Voltaire se werk verwyder ons van drie groot ondeugde: verveling, ontug, en behoefte. Ek sou André nooit verveeld sien nie.

Dit neem ons nie lank om ’n patroon van heneweerkuiery in te stel nie. André het ’n onlesbare dors na die sielswaters van Londen se museums, galerye en biblioteke, en hy kom kuier dikwels, met of sonder Estelle. Ek, eweneens, gryp elke kans aan om, met of sonder Sarie, in Parys te kom. Ook in Parys sit my mede-Suidwester, Bröder Gaerdes, derde sekretaris by die ambassade daar, wat sterk in ons lewens sou figureer.

Parys is soos boom. As hy jou bedwelm, roer al jou sinne in afwagting. Alles smaak, ruik, proe, voel, lyk en klink anders. Intenser. Kameraadskap en bonhomie blom. Talent ontwaak. Genialiteit bloei.

Sou André P Brink sonder Parys die skrywer kon word wat hy wel geword het? Skrywer gewis, ja, maar nie die een wat ons ken nie. Dalk sou hy "Parys", met alles wat die woord suggereer, wel later ervaar het, maar dit sou dan te laat gewees het. Parys het op net die regte tyd gekom vir sy onklaar vorming, en in presies die regte idioom vir juis sý gemoed. Dit was ook die "regte" tyd en plek omdat hy toe die sakvol illusies wat hy op sy rug gedra het (ek gebruik sy woorde), in die boulevards en bistro’s kon uitskud soos ek my nie kan voorstel elders ewe natuurlik sou kon gebeur het nie. Sekerlik nie in Londen nie.

In Parys, omgeef van klank en kleur en wýe horisonne, het hy die lewe verken en begin omsien na die behoeftes van die hart, die liggaam en die siel, en deurentyd wat hy sien en beleef herskep in woorde, woorde, woorde. O, die verrukking van ontdekking in daardie lighoofdige dae, van die bloot bekoorlike tot die sublieme, van Au claire de la lune tot Le petit prince, en daarná die uitspansel van die Franse lettere en denke waarin Andan hom verlustig het! Daardie oorgangsjare tussen die vyftigs en die sestigs was ’n eie belle époque, en die twee kultuurjuweeltjies wat ek pas genoem het, was vir ons onuitputlike, gedeelde vermaak. Nóg ek nóg hy kon sing (hy kon wel nogal mooi klavier speel), maar die blote resiteer van "Au claire de la lune/Mon ami Pierrot/Prête-moi ta plûme/pou écrire un mot" was betowering. Andan se vroeë narratiewe uit Parys is gou binnegedring deur die romantiese Lubin, wat sy vriend Pierrot in die nagtelike ure wakkerklop ("Maak oop, om die liefde van God") om ’n pen en vuurhoutjies te leen, want hy het lig nodig om ’n ietsie te skryf, maar sy vriend Pierrot sê, gaan klop langsaan aan, by die brunet, ek dink sy's daar en sy't ’n tonteldosie. Lubin gaan klop aan ("Maak oop, vir die god van liefde"), en dan volg die spannende soektog in die halfdonker kombuis na die tonteldosie. Stel jou die twee voor waar hulle op die vloer rondkruip en rondtas, en dan: "So in die soek," sê Lubin, "weet ek nie wat hulle gekry het nie, maar ek weet dat die deur agter hulle toegegaan het!" Meesleurend! Betowerend! Ag!, Lubin, ag! Die brunet! Ag! en die skryfwerk wat agterna in dié lig gedoen is! Dis rondom dié tyd dat Andan kennis maak met Lawrence Durrell se aforisme "Love is a form of metaphysical enquiry", en dit gee toe ’n knaende gesoek na die tonteldosie af.

In veel van die skryfwerk wat uit sy klein Olivetti gevloei het, waaraan hy soos ’n honger hen met sy regter-middelvinger pik terwyl hy die rol-stel reël vir reël met sy linkerhand aanskuif, was hierdie soeke die leitmotief: die soeke waarin jy nie weet wat jy gevind het nie omdat jy nie verstaan het waarna jy op soek was nie. Die dryfveer was immers net die sug na lig "pour écrire un mot" – ’n lig waarby ’n woord of wat geskryf kan word.

Ook Le petit prince sou hom diep tref. Die prinslike ruimtereisiger, wat ’n gestrande vlieënier in die middel van die Sahara-woestyn vra om vir hom ’n skaap te teken wat hy nodig het omdat sy klein asteroïed oorgroei word deur ’n bose plantindringer – ’n kremetart – wat kortgeknip moet word sodra hy kop uitsteek. Hiervoor het hy ’n skaap nodig wat – o wee! – dalk sy rosie sal eet, sy kosbare klein rosie soos wie of wat daar niks anders in die wye heelal is nie. Dis hoe die baie lastige situasie ontstaan, een waarby binnekort nie alleen die gestrande vlieënier betrokke is nie, maar ook ’n boakonstriktor, ’n olifant, ’n vos, hoenders (in ondersteunende rolletjies), en ’n slang. Andan is meergevoer, en vertaal die beroemde moderne sprokie in pragtige, liriese Afrikaans, onbewus (meen ek) van die vertolking wat Carl Gustav Jung en sy dissipel Marié-Louise von Franz daaraan sou heg.

Die klein prinsie, sê Von Franz, is ’n outobiografiese metafoor wat deur sy skepper, Antoine de Saint-Exupéry, gebruik word omdat hy self puer aeternus is, ’n soort jongeling met ’n uitstaande moederkompleks, die ewige knaap, die Peter Pan ewig soekend na sy verlore smoormoederliefde, soos Andan se karakters eendag in duisende en duisende woorde sou doen. Pueri knoop verhoudings aan "wetende dat die einde ’n skeiding sal wees. Hulle berei hulle op die einde voor selfs voordat hulle daar uitkom, sodat hulle nooit heelhartig kan gee nie – die lewe, meen hulle, is te vervlietend. Saint-Exupéry se genialiteit is daardie goddelike kind in hom." Die goddelike kind, dus, is die stuwende dinamo van kreatiwiteit.

Met sy besoeke aan Londen het Andan altyd drie items in sy baadjiesak: ’n notaboekie, ’n kort potloodjie, en ’n naelskêrtjie. Terwyl ons in die sitkamer by 29 Lennox Gardens sit en klets, voel-voel hy aan sy groeiende hare, en kort-kort knip hy ’n klossie af en plaas dit versigtig in ’n asbakkie; om vir ’n haarkapper te betaal, is beslis nie in sy beperkte begroting nie. Soms glip hy stilweg in die gang af, en ek wonder oor die toestand van sy blaas totdat ek hom in die kombuis verras, waar hy aantekeninge maak oor iets uit ons sitkamer-kletsery. Hy het mettertyd sy hare maar laat bos om harder te kan konsentreer op die temas wat oral om hom blom. Hy was toé al ’n visuele vraat wat waarneem, onthou, verwerk, hersikleer. Dit het amper-amper sy belowende loopbaan (en sy lewe) in die kiem kortgeknip.

Agter ons victoriaanse terrashuis-woonstel in Knightsbridge was wat die Engelse ’n "mews" noem, ’n smal straatjie tussen die dubbele ry stalhuisies. Van ons woonstel af kon ons aan die oorkant by die agtervensters van woonstelle inkyk wat meesal deur jongmense bewoon is. In een van hulle, op ’n dubbelbed voor ’n dubbelvenster wat altyd wawyd oop was, is ’n immer kopulerende paartjie. Eintlik moes die woonstel een verdieping laer gewees het, dan sou mens beter kon sien. Ek vertel Andan daarvan, en in navolging van die "metaphysical enquiry" vind hy ’n weg uit die badkamervenster bokant die loodregte vierverdieping-afgrond van die "well", en uit op die steil teëldak. Daar sit hy in stilte agter die skoorsteen en waarneem, vermoedelik besig om sy notaboekie vol te skryf.

Dan ... ’n skraapgeluid, ’n glibbering, twee sekondes gelade stilte gevolg deur ’n dawerende slag diep in die "well" wanneer ’n dakteël die beton tref. Ek kyk angsbevange by die badkamervenster uit die skemerende diepte in. Geen bloedspatsels teen die mure daar benede nie. Dan verskyn Andan se voete oor die rand van die geut, gevolg deur die res van sy lang lyf, en op een of ander manier maneuvreer hy sy weg terug in die badkamer in, effe bleek om die kiewe, swart van die roet. Die waarde van die afloerkuns – wat eintlik maar ’n slegte naam het – is dat André P Brink daarna met heelwat meer gesag oor kopulatoriese praktyke kan skryf, ter stigting en vermaak van sy lesers. Sulke dinge kan jy immers nie uit jou duim suig nie.

Ek praat van die rol wat Parys in sý lewe gespeel het. Die rol wat die stad in mý lewe gespeel het, sou nooit kon gewees het as Andan nie my kompas was nie. Soms besluit ons die twee eggenotes sal hulself wel kan vermaak, dan vaar ons die strate in om aan ons opvoeding te werk, al pratende, pratende, pratende. Ek leer oor Parys en Sartre, Joyce, Beckett, Camus – veral laasgenoemde twee, oor wie Andan in vervoering verkeer. (In die jaar van ons mees intense ontdekkingstogte, op 4 Januarie 1960, sterf Camus in ’n motorongeluk: een van die mees perverse noodlotstreke denkbaar.) Ek staan meegevoer by plekke waar die gebeure van die verlede jou derms draai. Ons sluik die rosig-gloeiende skemertes van Pigalle binne op ’n verkenningstog waarvoor ons ons franke in ’n hoed gegooi het. Ons word gou raakgesien deur die geoefende oog van ’n dame in ’n pelsjas wat voor die winkelvensters verbydrentel. Na ’n kort, saaklike onderhandeling volg ons haar teen ’n smal trappie op. Op die oorloop gooi sy ongeërg die pelsjas af, en ontbloot frillerige onderklere met fyn kantvalletjies, pienk kousophalers, en niks anders nie. "Michèlle!", roep sy in die gangetjie af. "Kliënte!"

Die twee wêreldwyse avonturiers is lam van verleentheid by die aanskoue van die exhibition amusante wat in die klein vertrekkie opgedis word deur die geoefende filles de joie. Na ’n nonchalante rondrollery op die vloer, in ’n verskeidenheid posisies en met gebruik van allerlei hulpmiddele, vra Pelsjas wat die messieurs volgende verlang, aangesien die fooi wat ons betaal het, ’n wye menu van dienste dek – dus, wie wil nou vir wie hê? Ons stotter ons ekskusies. Michèlle haal haar geplukte potloodstreep-wenkbroue op en protesteer: "Maar messieurs, julle is albei so ernstig!" Nie een van ons twee kan aan ’n paslike respons dink nie. Nou maar dan, sê Pelsjas, kom ons wys vir julle ’n toertjie. Het julle enige munte aan julle? Ons vroetel en haal ons laaste paar franke uit. Ons word die toertjie gewys, wat tot hede toe bo-aan my lys vir virtuositeit staan. Ons kry die munte nie terug nie. Op pad uit stel Andan my in kennis dat, toertjie en al, die toneel oorkant die mews in Londen stukke beter was, en heelwat goedkoper (as mens die byna noodlottige aftuimeling die dieptes in nie in berekening bring nie).

Ons bekeer ons tot gesanksioneerde dinge, soos die Romantici, Uys Krige (wat in Parys kom kuier en land, see en sand praat), Baudelaire en die eksistensialisme en Simone de Beauvoir en Brigitte Bardot, en verwonder ons aan die aangrypende storie van Cleopatra en Julius Caesar en Markus Antonius. Andan begin dadelik skryf aan die drama Caesar, en later sou nog ’n boek uit dié verwondering spruit (ek sit nog met die kosbare handgeskrewe manuskrip in ’n oranje skooloefenboek). En intussen, wat van die studie waarvoor hy by die Sorbonne ingeskryf het? Literêre navorsers kan eendag met vrug die belangrikheid van dié gebeurtenis – of nie-gebeurtenis – in die skrywersloopbaan van André P Brink probeer evalueer. Nadat hy hom by die Institut de Littérature Comparée ingeskryf het vir ’n doktoraat oor die absurde in die letterkunde, word van Andan vereis dat hy ’n toelatingseksamen skryf om bewys te lewer dat hy Fransvaardig genoeg is. Wat gebeur, is beide tragies en absurd. My briljante vriend, wat Franse digters en skrywers en filosowe amper met die gemak van ’n Uys Krige kan aanhaal,druip die toelatingseksamen.Eers later sou hy ontdek dat hy ’n akademiese vergryp gepleeg het deur sy antwoord te skryf met gebruik van albei die soorte skryfpapier wat hulle in die eksamenlokaal tot sy beskikking gestel het: die korrekte eksamenvelle, maar ook die krabbelvelle wat ewe hulpvaardig aangebied word vir die uitwerk van die antwoorde. Protes is vergeefs teen ’n burokratiese mentaliteit wat die Sorbonne reeds volstoom op pad het na die krisis van '68, toe studente die strate sou invaar en alle hel sou losbars.

Hierdie "druiping" sou ’n beslissende invloed op André se lewe hê – en ook nie net soos uitgedruk in die simpatie wat hy vir die oproerige studente sou toon nie. My herinnering is dat dit juis hierdie oënskynlike mislukking was wat sy outodidaktiese drif sou ontketen, en hom op sy opgewonde verkenningstogte gedryf het om alles te leer en te ervaar wat Parys so mildelik bied. Juis dít het sy gedagtes sonder verdere omhaal direk na sy roeping as skrywer laat keer.

Ná ons empiriese navorsing na sonde in Pigalle, is ek terug Londen toe, waar ek Andan se volgende besoek afwag. Wanneer hy kom, is hy die draer van groot nuus. Hy het nou, na die intense konsentrasie op Caesar en na ’n besoek aan Spanje, ’n blink idee vir ’n roman, sê hy op sy beskeie manier. Laat ek hoor sê, ek, en ek luister na die tema. "Ag heretjie-piet," sê ek, "’n simpel moordverhaal! Die berg baar ’n muis!"

As ek sy gevoelens gekrenk het, het hy niks getoon nie. Andan die Ordentlike het nooit sy siel op sy mou gedra nie. Nooit enige heftigheid of teatrale gebare van hom nie. Hy sou sy passies opkrop totdat hy sy middelvinger aan die werk kon kry op sy Olivetti.

Terug in Parys val hy dadelik weg. ’n Week na sy besoek aan Londen skryf hy "... ek is dol aan die werk, dag en nag ... Op soek na iets ’nuuts', daar is onteenseglik prikkels van Joyce, maar ek glo nie ’navolging' nie. Dit kán ek nie. (Kan iemand?) Eksperimenteel, miskien, maar nietemin ’n baie hewig beleefde ding." Nog twee weke later skryf hy: "Roman klaar, drie-vier dae gelede, en ek lewe nog steeds in sy 'dampkring'. Ons het snags twee-uur gaan slaap, en die laaste ure het my liewe vrou my aan die lewe gehou met pannekoek en pampoenkoekies (eens ook ’n poging tot sjokoladekoek, maar dít bêre ons tans om honde en katte en wederstrewige bure mee dood te gooi)."

Dit het goed gegaan, vertel hy. "Not that I love Caesar less, but I love Rome the more. Ek besef nou eers dat Caesar se groot betekenis die oopmaak van ’n noodsaaklike deur was; en dat Spanje so gou op sy hakke gevolg het, was ’n bestiering. Tot troos kan ek jou verseker dat die tema aansienlik verander het vanaf die fasiele kortverhaal-buitelyn wat ek daardie aand tussen tandeborsel en kettingtrek vir jou geteken het. Invloede? Joyce het my oë oopgemaak, Beckett en die Franse nouvelle vaguehet ’n koers gesuggereer, Hemingway het verhoed dat ek die spoor byster raak; maar hoofsaaklik het oubaas Picasso kleur en lyn verskaf ... Hoofprobleem gaan ons ou volkie se ongeskrewe maar bitter sensorskap wees. Want daar is min grense wat ek nie oorsteek tov Afrikaanse taboes nie."

Ons gaan kuier vir die Brinks in Parys, ek steeds ewe skepties oor wat uit sy tematjie kon gekom het. Estelle het ’n koek gebak om ons te verwelkom (sjokoladekoek?), en ek bied een van my digterlike juwele: "Estelle bak ’n koek, André kak ’n boek". Ek kon my werklik nie indink dat hy van sy moordtematjie iets kon maak wat drie weke se pannekoek en pampoenkoekies sou kon regverdig nie. Wie sou dit lees, al het die boek nogal ’n kielierige titel – Naakfiguur, kers en ruit?

Ek lees die manuskrip in een sitting deur, en het hoendervleis langs my rug en bene af wanneer ek die laaste vel omblaai. "Jy het iets hier beet, amice," sê ek vir Andan, "iets groots". Hy is ingenome wanneer hy "Naakfiguur" vir sy uitgewer stuur.

Maar die aanvanklike oordeel oor die manuskrip is nie bemoedigend nie. Die uitgewer se gekontrakteerde leser "wil oor die werk as sodanig nie ’n opinie gee nie", maar dit klink vir hom asof ek "die baba te pront op sy naam noem vir die Afrikaanse leserspubliek". Die manuskrip wag nog op die besluit van die keurders, maar daar word ook verwys na die komende Wet op Publikasies, en hy berei hom voor vir ’n groot teleurstelling. "Maar wat dan? Hoe kon ek die ding anders geskryf het? As hulle die manuskrip om dáárdie rede sou terugstuur, sou ek dalk die sprong moes waag en dit self laat druk. En dan – die Wet? Ek skud dus maar my vere reg vir nog ’n Lady Chatterley là-bas, maar dié keer sonder die rumoer oor ’n wêreldbekende skrywer."

Ek kan sy intense gesig voor my sien as hy sê: "Dis lewensbelangrik dat ek deurdruk met die boek. Ek is heeltemal voorbereid op enige soort snydende kommentaar – mens kan skaars iets anders verwag – maar dit gaan om ander dinge as erkenning. Dit gaan om die vryheid om te dink en te sê; om eerlikheid. En dit sal my dwing om die pad end-uit te loop."

In hierdie dae erken André teenoor my dat hy ’n ontdekking gemaak het. Hy het tot die besef gekom, sê hy, dat Suid-Afrika nie ’n land is van drie miljoen mense nie, maar van agtien miljoen. So begin die loopbaan van die struggle-skrywer, aangepor deur die provokatiewe individualisme van die sestiger-Fransman wat in hom begin blom. Boonop het hy nou ’n charismatiese jong Afrikaanse skilder-digter in Parys ontmoet met die onwaarskynlike naam Breyten Breytenbach, wat spoedig ’n radikaliserende invloed in sy lewe sou word. En Andan se epifanie daar in Parys beklemtoon net vir my die onhoudbaarheid van die lewe wanneer jou denke en jou werk so sleg bymekaar pas soos myne. Maar dis ’n ander storie, oor mý, nie oor André nie. Genoeg dat ek sê my diplomatieke loopbaan het toe nie veel langer oorleef nie.

André se talent om van enigiets letterkunde te maak word nêrens beter gedemonstreer nie as toe ons gemeenskaplike vriendin Ina Stiglingh om hulp vra met die aanstuur van ’n koffer wat sy by hulle gelaat het. Dit sou toe wees dat Andan die volle mag van Franse rompslomp sou ontdek. Die ondervinding dryf hom byna tot raserny, en hy soek troos in sy Olivetti, waaruit ’n Ionescoaanse eenakter, Die Koffer, vloei. Dit groei mettertyd tot ’n triptiek genaamd Bagasie, ’n "allegoriese tragi-komedie", verwittig Andan my. Ongelooflik, maar dit sou teaters in Suid-Afrika volmaak.

Ek word op die hoogte gehou met "Naakfiguur" se lotgevalle. Die boek, skryf Andan, "begin my amuseer. Dit lyk of Human [dis nou Koos, geagte leser] hom rêrig wil publiseer – maar nou wil die drukker die ding nie druk nie! Ek het hom vanslewe laat weet dat ek intussen ’n paar kleiner wysigingkies aangebring het, en nou vra hy dringend dié lys. Ek sal maar stuur; maar ek het die gedagte dat ek op die boot terug nog ’n paar grondiger stukkies herskrywing gaan doen. Bill [WA de Klerk] het ook ’n paar interessante dinge gesuggereer. En dat hy skynbaar nogal hou van die werk, is ’n troos, veral omdat hy niks hou van die hele moderne neiging van Osborne, Beckett (spesifiek Godot) ens nie."

Intussen, ondanks Andan se natuurlike krenterigheid en sy desperate uitkraam van om-den-brode-stories vir Afrikaanse tydskrifte – gewoonlik onder ’n skuilnaam – is daar ’n immer kwylende wolf voor die deur in De Oude Tempelweg. In Januarie 1961 doen hy verslag oor ’n reeks ekonomiese katastrofes wat die besef tuisgebring het dat hulle die verblyf in Frankryk sal moet kortknip. Ten eerste kom daar niks van ’n beurs wat hy gemeen het hy sal wel kry nie. Ten tweede sink die "Saturday Evening Post-skip" (hy't gehoop hulle sal sy verhaal The Punching Professor aanvaar). Die derde noem hy nie, maar ek weet dis die cambrioleur(wat ’n pragtige woord vir ’n inbreker). Hy en Estelle het hulle woonstel vir ons geleen terwyl hulle in Spanje gaan vakansie hou het, met streng opdragte oor hoe en waar die sleutel weggesteek moes word. Iewers het daar blykbaar fout gekom, want nadat ons vort is, het die dief toegang verkry en A en E van al hulle draagbare kosbaarhede verlos. Al hoor ek nie die geringste verwyt nie, dra dit daartoe by dat hulle nie meer die middele het om in Parys aan te bly nie. Hulle sal teen Augustus moet teruggaan, nie meer Desember soos beplan was nie, wat darem die vooruitsig vir ’n lektoraat by Rhodes rooskleuriger sal maak (wat hy dan ook teen Maart kry).

Die dag van hulle vertrek kom nader. Caesar is op pad pers toe. "Twee weke om treurend ons afskeid te neem. En dis ’n groot skeid dié, glo my. Ons gaan lang, nat spore agter ons laat. Ons besittings – wat oorgebly het na die diefstal – is al verpak. Weet nie hoe lank dit gaan duur voordat ons, soos ander in ons geliefde land, in ’n spesiale nuwe –stan gaan beland vir mense met swart of gekleurde of buitelands-geöriënteerde opinies nie. Einde Junie ontruim ons die woonstelletjie."

Laat September 1961 bly Andan en Estelle twee weke by ons in Londen, en dan gaan besorg ons hulle by die dokke in Southampton. Die bootvaart waarna hulle so uitgesien het, is ’n beproewing, "maar op ’n koue, kwartsklaar môre, donkerblou-nag nog, toe staan Tafelberg teen die horison met festoene liggies opgeslinger teen sy kante, flikker-flikker in die see; en na ’n rukkie word jou oë mistig en jy sê vir jouself dis maar die klam seelug (maar meantime weet jy dêm goed dit is nie). Vir daardie uur was die voorafgaandeje-m'en-fout-isme verby. Toe't ek baie sekerlik geweet: wát ander mense en ekself ook al sê en dink – dis mý land dié.

"En jy kom op die kaai en ’n geplooide ou bruin gesig staan jou lag-lag en inwag en vra 'Dag Oubaas, en wat kan ek vir oubaas doen'? (Dan pla die seelug skielik weer.)

"Die eerste dag is ’n pelgrimstog deur die stad, godsalig bont. En jou hart spring sonderling elke slag as jy Afrikaans so op sy sappigste hoor van waar die gamatjies in die sonkolletjies staan of slenter. Maar tussenin ... nou-ja, ek het nie geweet sulke dinge slaat jou tussen die oë nie. NET BLANKES. NET VIR NIE-BLANKES. Soek jou malle maai af vir ’n têksie waar jy mag inklim – al staan daar rye en rye en wag (NET VIR NIE-BLANKES). Loop draaie om jou bagasie juis by die regte toonbank in te gee, jou seëls by die regte guichet te koop. En verwonder jou telkens aan jou eie kleinserigheid.

"Skrynend soms. Ry in ’n taxi met ’n kleurlingbestuurder. Gesels met hom; voel soos ’n verlore seun terug by sy broer; práát; vertel hom van hoe honger jou hart geword het. En hý betuig maar: ‘Ja, meneer.’ Soms: ‘Ja, master.’ In Grahamstad aangekom, skryf hy: "Op die oomblik kan ons nog weinig oordeel oor die houdinge, skakerings en kliekvorminge. Wel blyk dit dat ons volksgenote hier van die 'strydende' soort is – omdat hulle in die minderheid is. So is daar onlangs ’n skietklub vir vroue gestig, sonder diskriminasie tussen Engels en Afrikaans. Toe breek die Afrikaanse groep weg en stel hulle eie groep saam, met ’n konstitusie wat Christelik-nasionaal as grondslag aanvaar. Nou skiet hulle calvinisties, en apart.

"Dis nog moeilik om te sê: so en so is die land. Hierlangs is die mense bang: vlug letterlik in tientalle land-uit. In die Kaap is hulle houtgerus, selfverseker, trots op Afrikaner-nasieskap en ander ondinge, roemryk seker van opperheerskappy, lank lewe Verwoerd en blank Suid-Afrika. In Potch is daar meer van ’n onrustigheid, onsekerheid, moedeloosheid. Oú Nasionaliste begin brom." Hy verwonder hom oor die groot swaai na Verwoerd. Een van die redes is dalk "die simpatie wat Oom Eric ingeoes het na sy neerlaag overzee (maar niemand dink daaraan dat sý gal en edik dalk ’n bietjie braaksel terug verdien nie)".

Tien maande na die terugkeer praat hy van "die swartgalligheid wat my deserdae weer so graag oorval, gepaard met ’n absoluut onmoontlike, ondraaglike hunkering na Parys. Dis gevaarlik, dié verlange, want dit laat Parys vir mens soos Baudelaire se paradis enfantin verskyn, ’n welgeluksalige, godsvrye bestaan soos nooit tevore en nooit daarná nie. Dit word maar net ’n nuwe romantiese droom. En ek dink mens doen sowel Parys as jouself ’n onreg aan. Parys, omdat dit as stad (stad? Dit was nooit net ’n stad nie, want hoe kan ’n stad ’n lewe van sy eie hê wat veel meer is as die som van sy dele?) sekerlik die laaste op aarde is wat mens net in dié pienkerige waas durf beskou. Hy't ’n hardheid en genadeloosheid aan hom, wat grys en swart is soos sy geboue. (Maar mens vergeet nooit hoé wit sy dakke op ’n nat dag kan straal nie.)

"Dis een ding wat Parys nou as atavistiese aanhangsel my aangedoen het: die breekproses is voltooi. Ek het maar net altyd ’n baie burgerlike, konserwatiewe sieletjie gehad. Maar ek het ’n klein teugie vryheid in Parys geproe. Dis ’n ding wat mens nie sonder waarskuwing behoort te doen nie. Hy maak jou dronk. En nou sit ek met die kater. Die laaste breuke is, dink ek, nou klaar. Synde die Christendom, hoofsaaklik; waaraan ek altyd maar tog naarstig probeer vasklou het, omdat die ruimte alkant daarsonder alte groot voorgekom het. Dit gaan ook nie maklik om eers weer jou treetjies aan te pas by die nuwe ruimte nie. Jy voel maar grotesk, soos ’n Beckett-figuur. Jy moet eers leer om van jou dodelike erns ontslae te raak."

Die erns verdiep. Teen die einde van hulle eerste jaar terug in Suid-Afrika skryf hy: "Ons hou maar die venster na die vreemde oop om ons beurtelings gek, redelik, vry, sardonies of geesdriftig te maak. Parys het my ’n nuwe soort 'outsider' gemaak, nie sonder iets skrynends daarin nie, op soek na iets, op reis iewers heen. Eerlik, hier is genoeg om mens stapelgek te maak."

So bring sy epifanie nou ’n donker toonval in sy woorde, ’n epifanie wat nie deur Parys op sigself by André teweeggebring is nie, maar deurParys en die terugkeer daarvandaan. "Oorsee het ek gedink (of gehoop): dis op ’n sekere manier groot dae dié vir ons: dae van nuwe patroon-soek, nuwe 'vorme' vind. Maar eintlik ontdek ek nou: dis juis klein dae, toegedruis met baie modder en afloopwaters; niks is helder en oop nie; niks ondubbelsinnig nie; geen moontlikheid sonder sy smet nie. In dié gespartel is Germanicus meer as een dag ’n nuwe openbaring. In die winter van 1962 skryf hy: "Dit lyk my ons word stadig ’n klein (kreatiewe?!) gemeenskappie verstotelinge onder ’n doringboom in hierdie hemel. Mens weet nie eers aldag hoeseer jy met valshede hier te doene het en hoeseer dit eenvoudig blote onvermoë-om-te-verstaan is nie.

"Een ding leer jy gou, veral waarskynlik hier waar ek is: dis nie net die Afrikaner-kafferslater wat huigel en die bal misslaan nie, maar wragtag ook die liberaal wat al wat ’n swart vel om sy gat getrim het, as uitverkore beskou. Ons leef in ’n land wat sonderling min realiste het. En diegene wat hulle realiste waan, o.m. Bröder met sy Germaanse Uebermensch-teorieë (het ’n ware realis ooit ’n teorie?) húlle is ook maar buitekant die lig – en die 'slagreën van die toorn'. Ek glo nie dis ’n Suid-Afrikaanse prerogatief dié soort skynheiligheid nie. Ek dink gebrek aan eerlikheid is puur-menslik."

Sy ontgogeling word gestook deur die twee stukke wetgewing wat "duideliker as enigiets anders wys hoe die deure en vensters van ons gemeenskap toegemaak word": die Sabotasiewet, en natuurlik die Sensuurwet, wat so ’n diepgaande uitwerking op Andan se toekomstige skryfwerk sou hê, en trouens sou sorg vir ’n hoofmoment in ons literatuurgeskiedenis met die verbod op Kennis van die Aand. Teen Junie 1962 is dit duidelik dat sy herontwaking in Suid-Afrika in vele opsigte ’n ontnugtering is. "’n Gees van verslaenheid het die land gepak. Dit in sigself kan gevaarlik wees, omdat blote frustrasie en futiliteit giftig word. Dit sal gekanaliseer moet word. Maar hoe? La vie est un combat ... Dis maar ’n baie nugtere spreukie oor ’n baie verwarde waarheid." Intussen vertaal hy boeke uit Frans in ’n tempo van een boek per maand (daar was selfs tye dat dit ’n boek per week was!) "om kop bo water te hou". Maar metdat sy tesis nou aangepak moet word, is daar weldra nie tyd vir skryf nie.

"Ek het nou ’n tydelike sintese bereik; ’n ewewig. Tydelik, omdat ek niks nou ooit weer ánders as tydelik sal kan ervaar of aanvaar nie. Mens se lewe word een lang snoeiproses: aan ideale, aan sotte hoop, aan streef na harmonie. Maar jy leer die filosofiese konsekwensies van Einstein se relatiwiteit op die duur. Dis g’n troos nie. Nie rede nie, maar ’n swaard."

Dan die memorabele woorde, beaming van die tema wat tien maande na sy terugkeer nes kom maak het in sy gemoed: "Ek staan daagliks nog verslae voor die ontdekking van die burgerlike, dopperse ou sieletjie wat ek nog altyd gehad het. Mens raak swaar van so iets ontslae. En die groot probleem is: dis so maklik om, nadat jy dit afgewerp het, net maar ’n angry young man te word."

Die verlange na Parys begin knaag. Hy haal Lawrence Durrell aan in Clea: "Parys is ’n plek waar die siekes van gees heensleep om wonderessens te kry en terug te kom. Daar's dié wat sê enige Europese stad sal dit aan jou doen; maar ek smeek om te verskil. Ek dink Parys is ’n beter plek om te leer sien. Al is dit ál wat hy doen: jou leer sien, álles; ook die dinge (en juis hulle) waarvoor jy vroeër jou oë vroompies toegemaak het; hy verwyder die steriele kondoom sodat bevrugting kan geskied. Juis daarom sou terugkom daarvandaan dalk so swaar wees – hiernatoe; hier waar die parras nog oë toehou en sê daar IS g’n maan nie ...

"Ek stuur jou Potpourri. Geen pretensies met dié een nie: net reportage; maar volgens reaksies lyk dit (ironies) of hy my gaan 'establish'." En wat "Naakfiguur" betref, "sy horings het nou almal kondome aan, sy te bronstige gedeeltes is gekastreer, en deo volenteverskyn hy Stimmermaand."

Ek skryf dadelik vir Andan en laat weet hom dat my suster Anita – ook ’n letterkundedosent, by Wits – sê NP van Wyk Louw vind Potpourri "baie oulik". Maar ek verskil oor die impak wat dié boek gaan hê. "Waar is ’naakfiguur'? Ek is nou baie hardlywig oor die ding se verskyning, want ek is haastig om te weet of hy my gaan raak net soos daardie keer se lees-in-een-sitting in De Oude Tempel se solderkamer. Dis hý wat jou gaan establish, nie Potpourri nie, en beslis – tot my spyt – ook nie Caesar nie."

Maar die gehana-hana oor "Naakfiguur" is nie verby nie, laat weet hy ’n ruk later. "Dit gaan nou van absurd na banaal. Ek het die proewe ’n maand gelede gekry, gedruk mos deur die Cape Times wat die enigste was wat kans gesien het vir so ’n stuk pornografie (red my siel). Hy sal nou al uit gewees het, of amper. En toe kry ek ’n noodbrief: jammer, Cape Times het skielik geskrik vir die swart-op-wit en nou moet daar samesprekings gehou word, oorweeg en gediplomatiseer word van voor af; alles dus op ’n lange baan tot volgende jaar, want die hoofpersonae dramatis sit natuurlik oorsee tans. Nou-ja, foei. Ek is bitter spyt dat ek hom nie in die eerste instansie aan ’n Nederlandse uitgewer gestuur het nie.

"Naakfiguur" sou nóg ’n ‘groteske klug’ bykry toe die Cape Times se hoofbestuurder en die uitgewer ’n onderhoud voer, eersgenoemde gewapen met ‘kru, obsene vertalings in Engels van al die “twyfelagtige” pissasies in die boek, laasgenoemde vol esels wat met gatte teen die wind staan, en vol doepas wat in kiere geplant word en dergelike sousighede uit NPvWL en Blum ... om te bewys wat wel in Afrikaans toegelaat kan word. En toe het ek, om te komplaai, Serfontein se meisietjie se kerse weggesteek, en ek het Francois junior en Maureentjie junior net so stout laat wees as vroeër, maar in ander woorde. (Onder die kombers kan enigiets in Afrikaans gebeur. Dis net as dit bó die kombers uitpeul dat dit sleg gaan. Miskien is die mense nog bang vir verkoue.) Met dié twee klein wysiginkies is almal toe tevrede. En nou gaan die saak voort. Vroeg in die nuwe jaar dus? Hopelik. Dit klink komieklik. Ís ook. Maar daar's ’n snaakse soort hartseer aan alles verbonde. ’n Dopperse gemoed (selfs in die gestalte van ’n Cape Times-man) kan selfs ’n stoelpoot obseen laat lyk en ’n inkpot geslagtelik tiekkel."

Wanneer die boek uiteindelik verskyn – onder ’n nuwe titel – is dit ’n rasende sukses. Lobola vir die lewe is ’n wenner, ’n epogmaker, stellig die begin van die Sestigerbeweging. WEG Louw, met wie Andan ’n effe wankele verhouding had, skryf: "Met dié werk het die Afrikaanse romankuns sommer ’n paar jaar ouer geword ... dit kan dalk selfs ’n keerpunt in ons prosa beteken ... As Brink so voortgaan, kan hy die Afrikaanse prosa ’n internasionale betekenis gee." Andan is sielsbly, en stuur my ’n brief waarvan die ganse eerste vel ’n enkele sin is. Daar was, onder al die borrelende reaksies, ook ’n telegram van die grote Van Wyk Louw: "Verskoon naïewe fan mail, maar geluk met Lobola."
In dieselfde brief vertel hy van die volgende boek wat hy beplan. Hy skets die buitelyne, en voeg by: "OK, ek weet my 'idees' is vir jou nooit vooraf waffers inspirerend nie." Maar vir hom is "die hele ding ’n uiterlike klimaks wat ’n lang, komende innerlike keuse net duideliker op die voorgrond gestel het". So tussendeur vra die woordmeester my (vermoedelik omdat hy my op dié gebied meer deskundig ag): "Kan jý vir my sê hoe sê mens in Afrikaans ‘to make love’ sonder dat die boek klink na ’n mediese handleiding of ’n gesprek in Gatland [’n Puk-manskoshuis] se lewwetrie? Dis vir my nogal openbarend dat ons juis dié soort term net nie het nie. Ek het wanhopig al daaraan gedink om [my volgende] roman in Ingels te skrywe."

Wanneer die manuskrip kom, is dit nie alleen in Afrikaans nie, maar sit ek alweer die ding in een sitting en lees – in dié geval deur die nag. Saam met die ms kom ’n versoek dat ek as "diplomatieke konsultant" optree wanneer dit kom by "hierdie besondere vorm van rompslomp". Die Ambassadeur veroorsaak ’n helse geroesemoes in die buitelandse diens, en koorsagtige bespiegeling oor wie moontlik die sjablone vir die onderskeie karakters kon gewees het. Daar was wel mense wat netjiese patrone vir sommige van die karakters was. Maar nou, ’n halfeeu later, is dit sekerlik nie meer van belang nie. Ons vriend Bröder, stellig die model vir die derde sekretaris, is nie meer nie. Die ambassadeur is nie bereid om enigiets te erken nie.

Om en by sy dertigste verjaardag (in Mei 1965) bieg Andan in ’n brief uit Grahamstad dat hy die "thirty-blues" beleef, sekerlik ietwat van ’n gevoel van insinking na die suksesse waarmee hy homself verras het. Hy haal Bill de Klerk se geliefkoosde vragies aan: Waar kom ek vandaan? Wat is ek? En quo vadis? Dan, na ’n lang vel vol dermtrekkery, pleit hy: "Skrywe: ek dink ek kan nog taamlik eerlik sê ek het nêrens moedswilliglik gedoen wat ek gedoen het nie, maar ek voel dit word tyd vir iets wat solied genoeg gaan wees om my verby dieenfant terrible-stadium te bring (al is dit dan net in 'ander oë'). En dan die effense benoudigheid van die vra: kán ek?

"Ek het ook maar my 'sense of destiny'. Op my arrogantste dae dink ek: die dag as ek met prosa klaar is, moet sy grense ten minste bietjie wyer wees as vroeër; en dan praat ek nie van Afrikaanse prosa nie. Maar op gewoner, meer realistiese dae moet mens wonder: hoeveel daarvan is lekker dagdromery? Hoeveel 'sukses' was maar ry op ’n golf wat toevallig nét op die regte oomblik aan die swel was? Hoe weet mens dinge se régte waarde? Was alles nie bluf nie, hoofsaaklik van mens self? Dis die geneuk van ’n sense of destiny: hy skop so lekker agterop. Dis die verskil tussen Julius Caesar en ’n man wat dink hy's Julius Caesar. En laasgenoemde is nie net pateties nie, maar meer as net halfpad belaglik.

"Wat ek nou nodig het, is ’n nuwe stukkie lewe in Parys. Ek peusel stadig aan ’n plan om Desember te gaan, sy dit net vir twee-drie maande."

Binne-in my kopie van Potpourri het Andan geskryf: "Ter herinnering aan die solderkamerdae (‘iets liefs dat men verloort en niet meer vondt?’). Profetiese woorde. Ek het Potpourri tot vandag toe nog nooit kon lees nie. Dit word vertel deur ’n Andan wat in Parys was met die skryf maar wat nou nie meer daar is nie. Watter sin maak dit om so iets te lees? Ek wil mos die dingetjies waaroor hy skryf, al die episodetjies en waarneminkies, met hom deel, of ten minste bespreek, in Parys, volgende keer.

Maar daar sou nie weer ’n volgende keer wees nie. Ek was al telkemale sedertdien in Parys, en het ’n nuwe, anderse verhouding met die stad. Ek is steeds vatbaar vir haar lente én haar herfs, haar sjarme én haar patos. Maar ek kan nooit daar wees sonder om ’n sielsvaalheid te beleef nie. Daar is nie meer ’n solderkamer in De Oude Tempelweg nie, en die stad se koketterie is vir my dié van ’n straatwandelaar in ’n pelsjas, op die uitkyk na iemand wie se euro's sy kan afstroop (eers die note, dan die munte). As die stad ’n binne-belewenis is – soos so vele al gesê het – het sy self nie staties gebly nie. Andan sou met sy herbesoek skryf: "Parys tot dusver is ’n sonderlinge ondervinding. Ek kom swaarder 'in hom in' as vroeër. Ek is onvermydelik daarvan bewus dat ek ouer is as met die eerste intuimeling, destyds. My reaksies anders. Heelwat van die romantiese opgetoënheid is weg – wat goed is, en treurig. Daar sit ’n snaakse malaise in die stad deesdae. Ek dink daar is ’n min of meer omlynde 'epog' verby, en nuwe beginne is altyd rafelrig."

Beginne, en eindes. Daar sou nog baie, baie dinge gebeur, maar "ons Parys" was verby. Vir my selfs meer as vir hom. Parys het sedertdien vir my "ander" dinge geword: ja, meesal genotvolle dinge, heuglike dinge, maar ánderse dinge. En ek kon nog nooit weer die blou, die kobalt-blou, daar vind nie.

Parys ken wel deeglik mense soos ek, en soos Andan. Sy laat Charles Aznavour vir ons sing:

Rien n'a changé, et pourtant
Tout est différent  
Rien n'est pareil, et pourtant 
Tout est comme avant
Niks het verander nie, en tog
is alles anders
Niks is dieselfde nie, en tog
alles is soos eens

In al Andan se boeke is twee temas vervleg: reis, in al sy letterlike en metaforiese betekenisse; en gebondenheid. Paslik dat sy eie reis op reis geëindig het. Onbegryplik, onvatbaar, dat hy nie meer daar is nie. Niks sal ooit weer dieselfde wees nie.

 

* Die bronmateriaal, in vertaalde vorm, is ook gebruik is in Karina Magdalena Szczurek se Encounters with André Brink (Human & Rousseau, 2010).
* Foto: FAK-versameling

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top