Woorde van wysheid (Pasop, eksplisiete taal)

  • 5

Ek skryf al vir 'n geruime tyd nie meer fiksie of grappige sketse nie. Die lus daarvoor ontbreek en ek voel dit dra nie eintlik by om die wêreld 'n beter plek te maak nie. Ek moet op my ouderdom eerder raad gee oor hoe om te leef, sodat die jeug dalk daarby kan baat vind en miskien eendag (lank na my dood) vrede in die ganse wêreld kan hê.

Lag maar as julle wil en beskou my as simpel, maar ek wil graag soos volg meedeel.

Jagsheid by die man is 'n soort aanval wat hy kry, dit is gewoonlik van korte duur en nadat hy bevredig is keer hy weer terug na normaal tot volgende keer. Hoewel, sommige mans wil sommer 'n paar keer per dag 'n orgasme hê. Nou, vir jong mense wil ek sê moenie skuldig voel daaroor nie, veral nie as jy soms masturbeer nie, omtrent almal doen dit. Maar moet ook nie toelaat dat dit jou lewe oorheers nie, dit kan dalk jou gesondheid benadeel as jy dit te veel doen. Kies jou lewensmaat versigtig, nie omdat hy of sy "sexy" is nie, maar omdat julle belangstellings en oortuigings deel en jare lank in harmonie kan saamleef.

Eet en drink gesond en doen matige oefening. Om jou liggaam te ooreis en te oefen totdat jy spiere het so groot soos waatlemoene is nie net onooglik nie, maar is ook ongesond en dit gaan jou later in jou lewe kwel. Drank verwoes baie mense se lewens, hou altyd matigheid voor oë.

Begin vroeg al spaar vir jou oudag, baie mense ly omdat hulle nie genoeg voorsiening gemaak het nie. Skakel
eerder party van jou vakansies en nagklubsessies uit en spaar daardie geld.

Mense verskil in baie opsigte en daar sal sekerlik nooit konsensus oor alles tussen almal wees nie. Aanvaar dat die ander ou 'n reg het op sy mening, al stem jy nie daarmee saam nie. Moet veral nie in stryerye en vuisgevegte betrokke raak oor onbenullighede nie. Selfs 'n persoon se luim, hoe hy op die oomblik voel, soos as hy bv te veel gedrink het en geïrriteerd voel die volgende oggend, gaan bepaal hoe hy optree. Godsdiens is een rede vir baie twis, moord en doodslag, soos ons nou weer sien. So, moenie jou geloof in ander se kele probeer afdruk nie. As jy jou saak gestel het, aanvaar dat die ander persoon op sy eie tyd sal besluit om dit te aanvaar al dan nie. Moet hom geensins probeer dwing nie. Want hoe kan ons werklik weet watter godsdiens is reg? Ek self glo dat daar net een God is en baie maniere om hom te aanbid. Ou geskrifte van duisende jare gelede wat deur betreklik primitiewe en onkundige mense geskryf is, moet met 'n knippie sout geneem word.

Ongelukkig is daar mense wat baie lieg en ander wat die leuens glo en daarvolgens leef. Tans vlieg baie leuens rond oor hoe erg apartheid glo was en watter bose dinge die ou NP en sy beamptes alles gedoen het. Moenie alles glo nie, daardie regering het geglo hulle doen die regte ding in die belang van almal, al was hulle mislei en al het van die amptenare bose dinge gedoen. Daardie jare het net soveel leuens rondgevlieg, met baie vae bewerings en innuendo's. Glo dit nie, volg jou eie kop, die beleid was nie bedoel om kwaad te doen nie. Deesdae, in die nuwe situasie, is daar ook diegene wat die euwels van die nuwe regering oordryf. Hoewel baie van hulle verkeerde dinge doen, hou in gedagte dat die beleid in den brede is om inderdaad goed te doen. Weereens is hulle mislei en doen baie van die beamptes nie wat hulle veronderstel is om te doen nie, maar kies hulle die duiwelse weg, soos bv om hulself te verryk.

Wel dis al vir vandag, miskien skryf ek later weer hieroor.

Mag dit met julle almal goed gaan.

MW Pretorius

  • 5

Kommentaar

  • Beste Tiens, ek het op jou naam gekliek en as SêNet se rekord korrek is, is dit jou vyfde brief.

    Dis waar wat jy sê: 'n man is amper net soos 'n foksterrier - hoe skaam raak ek nou! Al was van jou vorige pogings in die kol, moet jy my die vrypostigheid vergewe as ek sê dat jou aanslag, hierdie keer, nie honderd persent in die kol is nie. Ek is self aan die verkeerde kant van 50 (grappie - my ouderdom is besig om 'n sensitiewe saak te raak!!!) en ons is werklik nou in die groep wat aansienlike lewensondervinding het. Ongelukkig is daar erg min mense wat na ons lewenswysheid wil luister. As ons die laaste paar pêlle wil behou is die enigste genade om min oor onsself te praat en 'n punt daarvan te maak, om die ander ou uit te vra en na hom te luister. Nou is dit sowaar ek, wat vir die tweede keer met lewenswyshede kom!

    Miskien kan jy vir ons meer van die Petoorse (ouers, grootouers) vertel, of selfs van die oorspronklike M W Pretorius, wat met trots sy naam kon skryf. Dis nie toevallig dat ek die informele vorm van Pretorius gebruik nie. Dit word gedoen om aan te toon dat ons onsself nie te ernstig moet opneem nie. Ek weet waar die uitdrukking "Skote Petoors" vandaan kom en miskien kan jy dit met ons deel?

    Party SêNetters sal na aanleiding van die laaste deel van jou brief reageer met: "Tog net nie weer apartheid nie." Tog is daar 'n aspek wat jy kan oordink en met ons kan deel (verwag ook negatiewe reaksies), nl watter voordele het die bewind wat van 1948 tot 1994 geregeer het, gebring?

    Allerbeste wense.

  • CorneliusHenn

    Beste George B,  

    Ek is oortuig dat Tiens 'n lang lys vir jou kan aanhaal in antwoord op jou laaste vraag.  

    Gun my asseblief hierdie stuiwer in die armbeurs rakende veral iets soos opvoeding; die regering waarna jy verwys het minstens TIEN universiteite gebou waarvan die meeste spesiaal vir die agtergeblewenis  ... wat nog van die getal hospitale en skole spesiaal vir die burgers wat so destyds deur die Ingelse segregasie onderdruk is ...  

    Gaan kyk maar eerder hoe die Britte se segregasie-beleid in ons buurlande afgespeel het en die gevolge vandag daarvan voordat daar oor apartheid geneul kan word ... en NEE, ek wil nie terugkeer daarna nie - ek is absoluut oortuig dat daar net versigtiger vorentoe gegaan moes word met ons land en dit nie summier aan 'n kommunistiese een-meens-een-stem oorgegee moes word nie!

    Hoeveel nuwe universiteite byvoorbeeld is indie afgelope twintig jaar gebou - wat nog van noodsaaklike infrastruktuur soos damme, kragstasies, treine en paaie?

    Die bietjie wat daar wel vandag nuut gebou word is deurgans gebedel voor en/of deur privaat maatskappye beheer.

    Konserwatiewe groete,  

    Cornelius Henn

  • Tiens Pretorius

    George,

    Ek is nie juis 'n ou vir debatvoering of oor-en-weer korrespondensie nie, maar ek sal nietemin probeer reageer op die punte wat jy aangeraak het.

    Cornelius Henn het reeds vertel van party van die prestasies van die ou NP. Die lys kan baie langer gemaak word, maar ek wil net verwys na die baie huise wat hulle vir die arm swartes gebou het, bv Mdantsane buite Oos-Londen.

    Maar vir my is die vernaamste ding wat hulle gedoen het om die Afrikaner kans te gee op herstel. Ons was stukkend en hulle het ons weer heel gemaak. Ons was flenters na die Engelse oorlog, die Rebellie,
    droogtes en die Groot Depressie. Ons is verskeur, deur die Rebellie en twee Wêreldoorloë is ons onderling verdeel, selfs baie meer as nou. Maar hulle het ons 'n blaaskans gegee sodat ons weer regop kon staan.

    Ek dink in party jong mense se koppe sal my raad wel vassteek. Ek verwag nie om die hele nasie se jeug te red nie, selfs al bereik ek net 'n paar sal ek tevrede wees.

    Ek is op 'n ander sytak van die familie as die voormalige president van die ou Transvaal. Die name Marthinus Wessel gaan baie jare terug, tot in Holland, waar ons oorspronklik vandaan kom. Terloops, ek het jare gelede gelees - ek dink dit was in 'n boek van Balpin - dat hy die vrotste president was wat die land ooit gesien het en baie was dankbaar die dag toe hy loop.

    Ek weet nie waar "Skote Petoors" vandaan kom nie, vertel ons tog, asb. Vergeet maar van my grootouers, ek het my oupa buitedien nie geken nie, hy is oorlede rondom die tyd van my geboorte - voor dit of kort daarna.
    Oor my oupa aan moederskant het ek wel al 'n lang stuk geskryf, dalk was dit onder 'n ander naam.

    Groete,

    Tiens

  • Beste Tiens, goed om 'persoonlik' van jou te hoor. Jy opper 'n aantal interessante punte wat my aan nog een laat dink. Die hooghartige wyse waarop talle Engelssprekendes teenoor Afrikaners opgetree het. Saam met die bitterheid oor die oorlog (EN 'een eeuw van onreg') het dit Afrikaners laat presteer en reeds 30/40 jaar gelede was daar meer Afrikaners as Engelssprekendes met universiteitsgrade.

  • Beste Tiens, soos versoek vertel ek die storie van 'Skote Petoors'. Dit was aan die begin van die Engelse Oorlog. L.W. dit was nie die Boereoorlog nie, want hulle was nie die oorsaak van die oorlog nie. Ladysmith aan die Natalse front is deur die Boere beleër en duisende Britse troepe is vasgekeer. Die Transvaal het oor uitstekende Duitse wapentuig beskik, soos Mauser-gewere en Krupp-kanonne (die long Tom-kanonne was ook gebruik, maar was van Franse oorsprong).

    Die Boere was uitstekende skuts en het talle teikens getref, oa die toring van die stadsaal. Of dit by hierdie geleentheid was weet ek nie, maar iemand het vir die bevelvoerder na so 'n trefskoot gesê "Skote Petoors" en dit was, volgens oorlewering, die ontstaan van hierdie uitdrukking.

    Ek het die storie probeer kontroleer maar dit gaan skynbaar tydrowend wees. Gevolglik wil ek net meld dat Henning Pretorius bekend was as die vader van die Staatsartillerie, maar hy is in 1897 oorlede. By Colenso het die Boere net 7 kanonne beskikbaar gehad, maar onder leiding van majoor J L Pretorius het die Britte swaar verliese gely. Dis moontlik dat die vermelde majoor ook die skut by Ladysmith was.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top