Wanneer geesdrif uitlek

  • 0

Ontmoeting met vreemdelinge kan soms onbeperkte vermaak en verrassings oplewer. Sodra mense jou amp optel verdwyn gemaklikheid en plesierigheid.

Soms raak die gesprek meer sinvol met ‘n wedersydse geestelike band. Ander keer ruk die masker af en is daar vertwyfeling, verwarring of emosionele pyn wat uitgepak word. Ander weer dink jy kan deur mense sien, raak benoud, en ontsnap stilletjies.

Gewoonlik sien ek die spreekkamer van die huisarts baie min. Maar hierdie keer het ek gesit met ‘n ligte bekommernis, daar was ‘n hoesie wat vanaf Desember nie wou wyk, en was ek bang dit oorval my op die verkeerde tyd.

“Dokter, miskien moet jy iets voorskryf, net vir ingeval.” sê ek ontwykend.

“Ingeval?” frons hy.

“Ek’ s bang my stem laat my in die steek – ek moet oor die naweek  ... voor ‘n groep staan.” fluister ek en sluk amper die laaste gedeelte van die sin in.

“Watse groep?” Nou wat het dit met hom te doen, wonder ek en systap vrae. Op die ondersoek bed, gehoorstuk in die ore, tuur hy egter weer in my oë. “Watse interkerklike kampe is dit?”

“Emosionele goed ...”

Nou begin sy houding teenoor my te verander. “My vrou was ook al daar ...”

Hyself is ‘n geheel ander soort ateïs – ‘n Christen-ateïs. Hulle kom voor in alle kerke: Katolieke, Baptiste, Pinkster, Charismate ens. Sommige lees selfs die bybel elke dag, woon kweekskole en bybelstudies by. Inteendeel, kan selfs op die kansel staan ...

Hulle probeer aan hul geloof in God vashou, maar verval maklik weer in ou weë. Daarom word die stoel waarop hul sit teenoor jou, ‘n biegstoel, wat donker geheime openbaar.

Ander weer sal sê: “Ek glo in God – maar my lewe spreek nie daarvan nie.”

Christen-ateïsme kom oral voor. Ek doen dit ook soms – om te leef asof die Here nie bestaan nie. Daar is die wat dink dit is onmoontlik dat ek daarmee kan worstel: ‘n lewe van skynheiligheid en afvalligheid. Ek kan ook voorgee wat ek nie is nie, ‘n lewe leef wat nie eer aan Jesus bring nie.

Ek meen – ons is almal mense, sukkel ook maar met sonde, moet ook maar die lewe dag vir dag aanpak. Swik ook maar voor materiële dinge nou en dan, kan ook myself bloedig vererg, net om agterna my hoof in skaamte te laat sak ...

‘n Geestelike amp maak nie van jou ‘n supermens nie. Dis ook nie dat jy doelbewus wegdryf nie, maar kan jou geestelike passie begin uitlek soos ‘n binneband met ‘n klein lekplekkie.

Is dit genoeg om in Jesus te glo? Dit maak nie van jou ‘n gelowige nie. Selfs satan glo en sidder. Waarom “gee ons voor dat ons God ken, maar ons dade weerspreek dit.” Titus 1:16

As ons nie werklik as volgelinge van Jesus leef nie, sus ons onsself tot ‘n vals gerustheid. Word dan maklik mislei deur agnostiese sieninge of word gewoonweg net kulturele saamloop Christene.

Daar is net een antwoord – ons moet gewillig wees om eie sieninge en ons lewe te verloor. Toe te laat dat net die Woord in nederigheid ons denke vorm: “Want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry. Wat sal dit ‘n mens help as hy die hele wêreld as wins verkry maar sy lewe verloor, of wat sal ‘n mens gee in ruil vir sy lewe?” Matt 16:25-26

Ek het geleer, om alles aan Hom oor te gee, laat vrees en kommer verdwyn.

Trienie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top