Ek glo nie ek het al hieroor geskryf nie, maar dit was iets wat my baie sleg geraak het.
In die tagtigerjare het die dokter in ons voorstad begin om my inspuitings te gee ipv pille. Die inspuitings hou tot drie weke voor jy weer een moet kry.
Op 'n dag by die werk, toe ek weer die inspuiting moes kry, besluit ek om sommer na 'n ander dokter in die stad te gaan, binne loopafstand van die werk. Sy kamers was in 'n hoë gebou naby die stadsaal. Hy sê die verpleegster om my die inspuiting gee, wat sy toe doen.
Of sy 'n te groot dosis gegee het, of die verkeerde inspuiting, weet ek nie, maar ek het gou baie sleg begin voel. Ek was soos 'n zombie, half dood. Snags kon ek nie eintlik slaap nie, dis of ek net op die bed gelê en oppervlakkig geslaap het, met sweet en ongemak. Ek kon ook nie juis eet nie, kon nie konsentreer nie en skaars praat. Ook baie depressief gevoel.
Op daardie tydstip moes ek saam met 'n meer senior persoon gaan om ander beamptes te evalueer vir prestasie. Dit was op twee dorpe in die platteland en een kantoor in die stad. Ek kon nie eintlik 'n bydrae maak nie en het basies net daar gesit en voor my uitgestaar, darem hier en daar probeer iets sê. Daardie ander man het toe seker 'n swak indruk van my gekry en dit waarskynlik in sy verslag geskryf.
Terug in die stad is ek weer na die dokter toe en het hom gesê ek voel verskriklik sleg, of daar nie 'n "teenmiddel" vir die inspuiting was nie. Sy houding was vir my arrogant. Hy het gesê hy gee baie mense die inspuiting en daar is nie 'n teenmiddel nie en ek moes toe maar weer terug werk toe.
Die volgende dag is ek weer na hom toe. Toe ek by hom in sy groot spreekkamer kom, stap ek na 'n oop venster wat op die ander geboue kyk, met 'n "afgrond" tussen die geboue. Ek sê toe vir hom as hy nie iets doen nie, gaan ek by die venster uitspring. Hy het nie juis ontsteld gelyk nie, maar sê toe ek moet in die wagkamer gaan wag, en toe ek uitstap hoor ek hy vra die skakelbord om 'n sekere psigiater te bel.
Later roep hy my weer en gee my 'n middel wat die psigiater seker vir hom voorgesê het. Dit het my gou beter laat voel.
Ek dink nog steeds soms aan hierdie gebeurtenis , veral as ek baie diep depressief begin voel. Ek dink dis pateties dat dokters middels kan voorskryf en hulle weet nie hoe om die newe-effekte te behandel nie.
Ek verstaan daar is slim mense op hierdie webwerf en wil graag weet of een van julle kan verduidelik hoekom die inspuiting my so sleg laat voel het.
Groete,
Voormalige Pasiënt
Kommentaar
Jy sê nie waarvoor die inspuitings was nie, en ook nie watse middel nie. Het die ander dokter dieselfde middel gebruik ? Lyk my afgronde is maar jou probleem, vandaar dat die psigiater nader geroep is. Raai, om 'n dokter te dreig met afspring indie hy sou weier, smaak vir my na dit wat verslaafdes doen.
Hope beterskap
Raed-na-Gael
Jy was seker nie goed met begripstoetse op skool nie.
Die dokter was veronderstel om dieselfde middel te gebruik.
Die inspuiting was Fluanxol, 'n anti-psigotiese middel, wat hoofsaaklik vir skisofrenie gebruik word. In lae dosisse help dit ook tydelik vir depressie. Later is ek deur psigiaters meegedeel dat ek verkeerdelik as skisofreen gediagnoseer is. Algemene praktisyns moet maar liewer hierdie tipe diagnose aan psigiaters oorlaat.
Die "teenmiddel" was Akineton, wat vir Parkinsonisme gebruik word. Dit help ook vir die slegte newe-effekte van middels soos Fluanxol en soortgelyke middels, weet ek nou vandag na soveel jare.
Dit was die eerste keer in my lewe dat ek Akineton ontvang het, so ek kon beswaarlik daaraan verslaaf gewees het. Dankie vir jou vriendelike belediging, dit maak my net sterker. Ek het gedreig om te spring, soos ek probeer verduidelik het, omdat ek uiters sleg gevoel het na die inspuiting en die dokter wou dwing om iets te doen.
Voormalige pasiënt.
Varkspek, my simpatie met jou. Dit moes inderdaad 'n onaangename ondervinding gewees het, as die herinneringe jou nog steeds pla. Ongelukkig of dalk gelukkig is ek nie een van die slim ouens wat hulleself 'n 'wetenskaplike' noem nie. As 'n mens 'n keuse tussen 'n pil of 'n inspuiting het is dit die beste om die pil te kies, in terme van koste en die getal medikasie wat op een keer ingeneem word. Daar is ongelukkig middels waarop die pasiënt beter reageer as dit ingespuit word. Miskien was die grootste fout wat jy gemaak het om nie na die eerste slegte ondervinding na jou oorspronklike dokter terug te gaan nie.
Eintlik moet 'n mens maar altyd uiters versigtig wees as dit by mediese sake kom. Hier dink ek veral aan die farmaseutiese industrie waarvan dokters grootliks afhanklik is/die gevangenes is. Ons liggame is organies en die inspuitings of ander medikasies wat die dokter ons gee is byna deurgaans anorganies. Dis nie dat plante in die veld jou nie gesond kan maak nie, dis net dat hierdie produkte nie patenteerbaar is nie. As vasgestel word dat plant X of 'n sekere krui jou pyn 'waar ook al' genees word navorsing gedoen totdat 'n anorganiese, toksiese produk saamgestel is wat goed genoeg werk om geld mee in te samel. Dit werk nie so goed as die plant waarop dit gebaseer is nie, maar die medikasie kan gepatenteer word en mag dus groot geld 'verdien'.
Die grootste en absoluut onetiese mediese streek is egter dat nie meer probeer word om jou kwaal te genees nie – 'n gesonde pasiënt hoef nie langer medisyne te koop nie en lewer geen inkomste nie. Gevolglik word daar nie probeer om jou gesond te maak nie. Net jou simptome word (hopelik) onder bedwang gehou. Jy is nou 'n kroniese geval wat die res van sy lewe medikasie moet gebruik. Vermenigvuldig nou 'n paar honderd rand per maand met 12 met die getal jare wat jy nog gaan leef met die getal mense wêreldwyd wat soos skape agter hulle dokter aanloop en jy sien die grootste en briljantste poging ooit om miljarde in te samel. Ons is nou nog nie by die einde van die briljante skema nie. Die meeste ouens ly aan 'n aantal chroniese siektes, so die miljarde (lw dollars) moet nog weer met twee of drie of vier vermenigvuldig word. Dis nog nie die einde nie. Met so 'n klomp pille kry jy newe-effekte wat die getal medikasies verder laat toeneem. Ouer mense en die regerings van die wêreld kreun onder hierdie las.
Miskien moet jy self 'n bietjie navorsing doen. Tik 'alternative' op jou soekenjin plus 'n chroniese siekte soos 'diabetes' en kyk wat kom daaruit. Dis ernstige sake waarmee 'n mens nou te doen het en as jy die kennis prakties wil aanwend sal jy aansienlik tyd aan die saak moet bestee, maar jy sal antwoorde kry. Daar is mense wat dadelik sal wegskram van die moeite en die gevare en by hulle dokter wil bly. Vir hulle is die nuus dalk meer ontstellend as vir ander want hulle sal agterkom dat min mense aan artritis as sodanig sterf maar dat letterlik derduisende jaarliks weens die doktersbehandeling omkom.
Gesondheid!
Varkspek. Ek het gelukkig nog nie 'n onlekker ervaring met 'n dokter gehad nie. Ek is geseënd dat ek nie op enige medikasie is nie. Ek het gelukkig 'n vriend wat 'n mediese dokter is wat nie meer "praktiseer" nie, maar aan holistiese genesing glo. Hy adviseer my van tyd tot tyd en ek stel ook baie in alternatiewe genesing belang soos bv akupunktuur. Daar is natuurlik gebreke wat jy na 'n mediese spesialis toe moet gaan maar oor die algemeen "dokter" ek maar myself. Ek het gevind dat die "regte" dieet ook wondere verrig. My vrou het die "Rooi boek" van Tim Noakes onder hande gehad en sedert die 8ste Mei 2014 het ek reeds agt en 'n halwe kilogram verloor. Ek speel ook liga muurbal en ondervind sedert ek op die dieet is, ek minder spierpyne het. Ek wonder of dieet ook nie dalk sal help met sielkundige probleme nie. Dit is tog chemiese reaksies wat in jou lyf plaasvind. Sal wag tot die slim manne daarop kan antwoord.